Woensdag 27 Mei 2015

Woensdag 27 Mei 2015

En so het nog ‘n maand verby gevlieg. Ek kan amper nie glo dat dit al ‘n maand later is nie, maar dit beteken ook darem dat ek besig was, en dat ek aan die gang was die tyd.

Esthee se kuier was baie lekker gewees. Ek het die Maandag saam Bloemfontein toe gery om haar by die lughawe te gaan haal. Dit is nou iets wat ek seker nie moes gedoen het nie want dit het my hele week omver gegooi. Waar ek die vorige week nogal ‘n baie rustige week gehad het, was die ou gewas maar goed aan die gang, en het hy nie tussen wakkertyd en slaaptyd onderskei nie. Dit was nogal moeilik want die ding het mos nie ‘n verstand om mee te redeneer nie. Hy doen net wat hy wil, en al wat ek kan doen is om pynpille te vat om die pyn te kan beheer. Sou lekker gewees het indien ek met hom kon debateer sodat hy kon insien dat indien hy aangaan om te groei en dit moeilik te maak vir my, dit op die ou einde ons albei se lewens gaan kos. En wat maak hy dan?

Gelukkig was die tyd by Su-Hannie hulle op die plaas baie lekker. Daar was ook geleentheid om hulle nuwe lapa in te wy. Kan net sien dat hulle die plek nog baie gaan gebruik. Daar was genoeg tyd om saam te kuier, en so ‘n bietjie van Esthee se kos te proe. Dit was so lekker dat ek sommer al die oorskiet gevries het en saam huis toe gebring het. So ek en Hettie kon toe verlede week die res van die vleisie eet en terug dink aan die kuier. En nou is sy en Francois al weer amper twee weke terug in Melbourne.

Gedurende die kuier was ons ook een dag na ons huisie toe en het ons toe saam met Barney en Debbie gaan eet op die dorp. Die diens was nou nie juis van die beste nie, maar dan is Steynsburg maar ook ‘n klein dorpie. Ek het gewonder of die kok nie eers gou slaghuis toe moes loop om die vleis te gaan koop nie.

Verder is alles maar goed aan die gang. Hettie is uitgenooi om volgende week met die maandelikse mark op ‘n plaas net buite die dorp van haar en haar studente se kunswerke te kom uitstal. Sy sien nogal uit daarna aangesien dit net eksta blootstelling vir haar is. En dan is sy maar aan die gang met klas gee hier by die huis en ook een keer per week waar sy van die ouetehuis mense leer om te skilder.

Die weer is nogal warm vir die tyd van die jaar. Die oggende vroeg is dit maar koud, maar dan word dit redelik lekker in die dag behalwe as die wind waai. Gelukkig het ons nog nie verlede jaar se kouefronte hier oor ons gehad nie. Dit is so lekker dat ons selfs verlede Saterdag by Barney se nuwe blyplek buite kon sit terwyl ons die vleisie gebraai het. Hy het ‘n lekker plekkie wat goed weggesteek is waar die koue nie sommer kan pla nie.

Met die gesondheid oor die algemeen is dit maar dieselfde. Die winde het nou darem besluit om so elke nou en dan te konsolideer, so dit is nie meer elke 2 minute toilet toe hardloop nie. Wanneer hulle wel kom dan klink dit nogal aardig. En dan weet ek amper nie of dit net winde is en of daar iets by is nie. Al wat regtig toeneem is die moegheid en krampe. Omdat die gewas baie keer die oorspronklike dunderm blokkeer, volg die kos maar die kortpad wat deur die omlyning gaan en kan die stukkie derm nie die nodige vitamines en voeding opneem nie. En dan met die groei van die gewas veroorsaak hy baiemaal dat die bloed nie van die dunderm na die lewer en niere kan vloei nie wat maar maak dat die organe nogal erg kan pyn omrede hulle nie bloed het om te funksioneer nie.


Verder hou ek myself maar besig met skryf en wat ek voel ek nog kan doen elke dag. Soos vandag wat ek so ‘n bietjie tyd in die tuin wil spandeer om die gras en bossies uit die groente tuin te haal. Ek glo ek sal die bietjie werk darem kan doen want die stukkie grond is maar skaars 2m . So tot volgende keer, geniet jou lewe en onthou om die beste van elke dag te maak.