Dinsdag 09 Desember 2014

Dinsdag 9 Desember 2014

Ek kan nie glo dat ek al meer as ‘n jaar die blog skryf nie. Ek moet sê daar was tye wat ek gedink het ek sal gelukkig wees om dit vir 3 maande te kon doen, en nou sien ek daarna uit om dit sommer nog ‘n lang tyd te doen.

Die afgelope ruk is die gesondheid maar soos vroeër, dan ‘n bietjie op en dan ‘n bietjie af. Een van die redes dat ek so nou en dan af voel is dat die kos maar die pad van minste weerstand vat, wat beteken hulle vermy die gewas gedeelte van die dunderm. Dit het weer die gevolg dat ek nie baie serotonin vervaardig nie, en serotonin is dit wat jou “happy” maak. So waar ek voor die operasie ‘n oormaat serotonin vervaardig het, (vir elke deel serotonin wat ek moes maak het die gewas 70 dele gemaak), is dit nou seker by normaal of selfs onder normaal.

Die operasie vir my was ‘n reuse sukses, aangesien so baie van die ou slegte gevolge of weg of baie minder invloed het op my lewe. Die Pellagra wat dit op die arms veroorsaak het deurdat ek nie vitamien B3 opgeneem het nie is weg. Die arms raak nou selfs van die ou aangetaste vel ontslae, en natuurlik is die jeuk waarmee dit gepaard gegaan het, ook weg. En dan kan ek nie verduidelik hoekom my sinus ook weg is nie. Ek moes daagliks in die oggende en aande antihistamien tablette geneem het, en nou is dit glad nie nodig nie. Ek sien net in die bloedtoetse dat die histamien vlakke baie gedaal het. Dit beteken ek kan weer ruik, wat nogal goed is vral as jy kos maak. Voorheen moes Hettie en Barney vir my sê hoe die kos geproe en geruik het, en nou kan ek dit self doen. Wonderlik. Die diarieë is maar die grootste probleem, en dan natuurlik die ou pyn waaraan hulle niks kan doen nie. Dit raak maar woes party dae wanneer die niere en veral die regter nier kla dat sy bloedvloei afgesny is.

Dan is dit ook nou die tyd waar almal met vakansie gaan. Ek moet sê ek sien ook uit na die volgende paar weke. Volgende week gaan ons saam met Su-Hannie en Bani see toe, en met die terug kom slag bly ons sommer daar op die plaas tot na Kersdag. Gelukkig is hulle swembad darem al in gebruik so die warm Karoo dae kan ons darem afkoel.

Dinsdag 25 November 2014

En so kom nog 'n maand nader aan sy einde

Dinsdag 25 November 2015

En so het nog ‘n paar weke verby gegaan. Dalk nie die maklikste tye in my lewe nie, maar daar was vordering. Die wond is genees so dit is al iets om oor bly te wees. Dit was maar moeilik met die plek wat oopgebars het om die gedeelte weer geheg te kry, maar jou liggaam is gemaak daarvoor om sulke terugslae te hanteer en te homself te heel. So daar is darem een minder bekommernis.

Verlede Woensdag is ek Bloemfontein toe vir my opvolg besoek na die operasie. Dit was vir my nogal verbasend dat tussen al die mense wat daar was, seker 50+ mense, die dokter na my toe loop en kom groet en te sê dat ek vir hom goed lyk. Seker ‘n uur of wat later was dit toe my beurt om hom te sien. Voor ek in is het ek gehoor hy vra die suster by ontvangs of haar rekenaar se netwerk reg is want hy kry nie toegang tot inligting nie. So moes ek maar ‘n rukkie wag en eindelik het hy weer ingekom met ‘n redelike glimlag op sy gesig. Hy het goeie nuus vir my. Die gedeelte van die lewer wat hy verwyder het het gewys dat hy al die uitsaaings na die lewer uitgehaal het. Ek het oorspronklik gedink hy het net ‘n biopsie van die lewer geneem, maar toe vind ek uit dat hy ‘n redelike gedeelte moes verwyder wat vol carcinoid was.

Dit was vir my ‘n groot verligting, want dit gee my nog ‘n ruk langer om by my mense te kan wees. Die prognose vir aktiewe lewer carcinoid word in weke en in uiterste gevalle in maande gemeet.

Die operasie het werklik ‘n groot verskil in my lewe gemaak. Die dokter staan ook verbaas oor wat alles veroorsaak was deur die oordosis histamien en seretonin wat die gewas afskei. My reuk is terug soos wat dit in jare nie gewees het nie, en die amper voltydse sinus is weg. So het die arms ook herstel van die pellagra (dermititus) en is al die gejeuk weg. Met die omlyning van die dunderm kry die gewas dit nie meer reg om al die goeters vry te stel nie aangesien die kos die kortste paadjie, en ook die een met die minste weerstand, kies. So meeste van my kos gaan maar deur die stukkie dunderm wat oorgebly het wat skoon is, eerder as die pad te vat wat deur die gewas versper word.

Maar soos alles is daar maar ook newe effekte. Aangesien die kos maar net 90 cm derm het om deur te gaan en al die voedingsstowwe te absorbeer, gaan baie van wat ek eet verlore. Waar dit in die verlede ‘n paadjie van net so oor die 6 meter gehad het is dit nou verkort na 90cm. En dit dit is die groot probleem. Dit veroorsaak erge diarieë wat beteken dat sodra ek wakker word in die oggende dat ek sommer onmiddelik Immodium neem. En dan bestyg ek nogsteeds die troon so tussen 5 op ‘n goeie dag na 18 keer op ‘n slegte dag. Verder het ek maar min krag. Ek vind dit moeilik om 200 meter te stap want dan is ek poegaai, en my gewig het sover met so net oor die 18kg verminder. Klere wat ek verlede maand gekoop het in Cradock wat ek bang was dat te klein gaan wees, is skielik te groot vir my.

Maar een ding wat soos ‘n paal bo water staan, is dat ek die episode oorleef het. So het ons ook tot die besef gekom dat die HERE altyd daar is vir ‘n mens. Waar hy oorspronklik 19 jaar gelede toegelaat het dat ek akute blindederm ontsteking gekry het sodat die medici die oorspronklike carcinoid kon opspoor, so het die keer se blokkasie van die derms weer die gevolg gehad dat die dokters die metatsis (uitsaaings) na die lewer kon opspoor. En dit is die HERE wat ek ken, wat soos ‘n Dawid kan sê in Psalm 23: “Al gaan ek ook in ‘n dal van dood skaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my.”

Woensdag 05 November 2014

Na 'n maand weer by die huis

Met die laaste skrywe het ek gewag vir die operasie. Nou is dit ook agter die rug maar nog lank nie verby nie. Die Maandagoggend is ek toe midde in hierdie moeilike verdowing geopereer. Hulle het toe so min as moontlik verdowingsmiddels gebruik aangesien hulle glad nie morfien kan gebruik nie.
Op die ou einde was dit toe 'n epidural met al hul snaakse goed by.

Al wat ek weet is dat ek baie seer gehad het. Net deur asem te haal het die buik die derms in 'n spasma laat saamtrek. Die staf was nogal raadop maar toe die sjirurg vir hulle die rede gee was hulle baie meer simpatiek teenoor my.

So wat het hulle gevind? Beide derms was totaal verstop aangesien die gewas alles wat hy in die hande kan kry met sy tentakels nader trek en keer dat daar enige iets deur hul laat gaan. Op die ou einde het die span 'n gedeelte van 90cm gekry wat hulle toe kon gebruik om 'n nuwe paadjie te maak om by die dukderm uit te kom. Die kos kan nog steeds die normale paadjie neem, maar daar is 'n skoon pad wat dit ook kan neem. Die paadjie is nou net baie korter as normaal maar hy kan dalk ook 'n bietjie groei. Die een probleem waarmee dit my los is dat die hoofaar van die dunderm na die lewer wat alles vervoer sal moet sukkel om voeding in die hande te kry omrede hy buite hierdie omlyning is. Die dikderm kom hulle gelukkig los sny en die verdunning verwyder.

Die res was egter nie wat ons wou hoor nie. Die are na die niere loop ook deur die gewas en is ook besig om toe geknyp te word, so die niere gaan maar met tye seer word, soos vandag. En dan is daar die metastatis na die lewer. Hoe erg hierdie uitsaaing is sal ons eers teen 19 November weet.

Wat doen ons nou? Kuier by Su-Hannie op die plaas tot die steke uitkom, en dan vat ons dit maar dag vir dag. Die HERE is mos nog steeds in beheer. Vanoggend is die steke uitgehaal en is ek en Hettie weer terug na ons huisie  hier in die Karoo.

Vrydag 24 Oktober 2014

Wat n moeilike 2 weker

En so is dit Vrydag. Meer as twee weke na die vorige skrywe. Maar, wat 'n tydjie was dit nie en is ons nog steeds midde hierdie geveg.

Dit het alles begin met 'n naweek van die ou maag wat nie tot ruste wou kom nie. Die Maandag het ek gedink my lewe staan vir my einde se kant toe. Teen elfuur is ons hospitaal toe en daar 'n klomp inspuitings gekry. Die het toe nogal gehelp, die pyn het minder geraak en ek het ook kalmer geword. Maar soos dit gewoonlik is het die pyn terug gekeer hier by sesuur die aand en het ek besluit ek sal maar terug gaan Dinsdagoggend.

Dinsdag is ons toe saam met Su-Hannie sommer na haar dokter toe aangesien ons in elk geval twee dae later sou gaan vir die somerfees en naweek. Nog medikasie en nog 'n swaar dag later is ek toe by hulle opgeneem vir waarneming en is besluit dat daar 'n algehele obstruksie in die derm is. So is ek toe verwys na Pelonomi in Bloemfontein vir 'n operasie om die obstruksie te verwyder.

Nou moet ek 'n lansie breek vir hulle peroneel. Almal was so behulpsaam en het my bederf. Hulle was hulpvaardig, die dokters fantasties en vriendelike personeel. Net skoonmaak is nie groot nie. Dit is maar 'n worsmasjien en 'n vinnige een daarby. Na 'n paar x-strale, CTscan en dreineeringspyp deur die neus, het ek sommer vinnig beter gevoel.

Die plan was om Maandag te opereer en dan teen Vrydag te kon huistoe gaan. Dit was totdat die narkotiseer Sondag met my kom gesels het. Ek was sy eerste carcinoid geval so hy was nogal skrikkerig. Maandagoggend hoor ek toe ek word oorgeplaas na Universitas aangesien dit die enigste plek is waar ICU ingerig is om my geval te kan hanteer. Die proffies wil self die narkose hanteer, aangesien ek 'n carcinoid krisis kan beleef gedurende die operasie en dit kan noodlottig wees. Selfs met die regte omstandighede en medikasie is die mortaliteits indeks nogsteeds hoog by 15 - 16 persent.

So nou is dit die wagspeletjie speel tot Maandag. Die gewas het ook redelik gegroei die afgelope jaar aangesien hy nou ook om die dukderm is. So hulle gaan nou 'n omlyning doen van beide die dun en dukderm om verby die verstoppings to kom.

Vir die mense wat wonder of ek nie bekommerd is oor wat sal gebeur nie, nie eintlik nie. Ek weet waar ek sal heengaan as dit dalk die einde is, en die HERE staan my nogsteeds by van die eerste keer wat ek kanker gekry het 30 jaar gelede, so hoekom sal Hy nou ophou? Hy gebruik my nogsteeds selfs hier in die hospitaal deur vir mense hier te bid vir herstel, vir pyn en net om hulle te ondersteun. En die ergste is hulle kom na my toe. Indien jy gelei voel om vir my te bid vir die operasie, baie dankie.
En die somerfees? Sal maar volgende jaar kyk.

Hierdie is die eerstekeer wat ek 'n skrywe epos vanmy foon af en hoop alles werk.

Donderdag 09 Oktober 2014

Donderdag 9 Oktober

En so het daar sommer ‘n rukkie verloop sedert die vorige skrywe. Ons het baie lekker gekuier by Su-Hannie en Bani, Theuns se konsert geniet, en is al weer amper drie weke by die huis. Gelukkig is volgende naweek al weer oppad en dan kuier ons weer daar. Die keer is dit die Somerfees se beurt.

En so het die oorslaap partytjie van die jeuk en al die ander goeters (newe effekte) oorgesit in ‘n uitspan by my. Dit lyk nie of dit vinnig ‘n blaaskansie gee nie, maar dit is my paadjie. Dit is hoekom ek so stadig is om te skryf, want die gesondheid is nie lekker nie. Met die terug kom van Su-Hannie hulle af was ek te bly om by die huis te kom want elke klippie op die grondpad en duikie in die teerpad het gevoel of iemand ‘n dolk hier in die ingewande steek. Dan voel ek verstop en dan is dit diarieë wat weer terug is, so ek weet nie altyd wat die dag gaan gebeur nie.

Nou wil dit ook lyk of die res van die lyf ook wil begin jeuk. Gisteroggend was dit die bene, voete en bo-arms se beurt. Dit was nogal erg maar gelukkig werk die Mylocort room daarvoor, en was dit binne ‘n uur of wat onder beheer.

Dinsdag was ons vir die dag saam met bvriende Cradock toe. Dit was nou nogal ‘n lekker uitstappie, en het ons so kuier kuier terug gekom en eers gemmerbier gedrink op Hofmeyr, en sommer daar wildspastei gekry vir aandete. Die weer was nogal regte Karoo weer, warm (38C)  en toe later winderig. Gister het ek dit rustig geneem want so ‘n dag uit maak my nogal moeg. Dit was net lekker om in die natuur te wees en vir die arende  en al die verskillende plantegroei te kyk.

Vandag was dit die groentetuin se beurt. So meeste van die groente is in want dit wil nou begin lyk of die ryp oor is vir die jaar. So ‘n week of wat laas ryp gehad, so ons vertrou maar dat die somer oppad is.

Dinsdag 23 September 2014

Dinsdag 23 September 2014, vanaf 'n winderige Steynsburg vandag.


Wat ‘n dol paar weke. Wat die weer aanbetref was dit somer en winter. Ons het so ‘n paar dae van hier by die 30C en dan sommer oornag val dit na 13C maksimum vir die volgende dag. Die een dag besluit jy om die warmkombers weg te pak net om twee dae later weer te wonder hoekom jy dit gedoen het. Gister en vandag is dit sommer altwee seisoene in een.

Verlede week was dit ook baie deurmekaar. Barney het skielik vroeg Dinsdag middag by die huis gekom met ‘n baie erge seer by sy naeltjie rond. Woensdag aand was hy in die operasiesaal in Queenstown met ‘n nood breuk operasie. Daar het glo ‘n derm deur die naelbreuk gedruk en is toe vasgeknyp. Dit was baie seer. So ons het saam met Su-Hannie vir hom gaan kuier Donderdag en is hy toe gister ontslaan. Hy is nou af tot die 1ste Oktober. Hierdie Donderdag wat kom gaan ons na Su-Hannie vir die res van die week en naweek. Nogal iets om na uit te sien.

Nou moet ek sê dat die plaaslike mense nie kan verstaan dat ek en Hettie sommer maklik winkels toe stap hier by ons nie. Maar, nou het ons weer gesien toe ons in Queenstown was dat net ‘n besoek aan hulle nuwe “mall” beteken dat ek seker driekeer dorp toe kan stap voordat ek eenkeer deur die sentrum gestap het. En nou moet ek nog terug stap. Net om van die parkeering af tot by die ingang te stap is al amper winkels toe.

Wat die gesondheid aanbetref was dit maar goed deurmekaar. Ek het ‘n hele paar dae gehad wat ek self verbaas was vir alles wat ek kon doen. Ek het net so ‘n paar slegte nagte agter die rug waar die ou arms my sommer tweemaal per nag wakker maak van die jeuk. En toe begin die ou diarië weer en besluit om al sy maatjies te nooi vir ‘n partytjie. So vandag is dit maar seer, lighoofdig, jeukkerig, en moeg. Hoop net hierdie is nie ‘n oorslaap of week lange kuier nie. O, om nie te vergeet van die spelde in die vingers en bene nie, en dat ek maar mooi moet sit om nie weer seer niere ook nog by te kry nie. So die res van die dag sal ek dit maar moet rustig vat. Nie dat ek juis krag het om iets te doen nie. So dit sal nogal maklik wees om niks te doen nie.

Vir die mense wat more ‘n vleisie gaan braai, geniet dit. Ek dink ek sal vir ons ‘n vissie of wat op die kole gooi en dit ‘n bietjie rook.

Donderdag 11 September 2014

11 September 2014

Die weer hier in die Karoo kan lekker vinnig verander. Nog nie eers 2 weke na die sneeu van Augustus nie, en ons het al ‘n paar dae van by die 30C agter die rug. Tog is daar nog so ‘n koel wind wat die aanvoelbare temperatuur so ‘n bietjie laer dwing.

Die afgelope week of wat het daar nie veel nuwe goed by ons gebeur nie. Een gebeurtenis wat bo alles uittroon is dat Carel kom kuier het vir so ‘n paar dae. Dit was weer lekker om soos in ons kinderdae saam te kon kuier as broers. Baie dankie, dit was so lekker. En so is ook nuwe herinneringe daar geskep toe ons saam na die Visrivier tonnel se beheerstasie hier by ons is, en oud President Paul Kruger se geboorte plaas kon besoek. Weereens net baie dankie.

Die gesondheid is maar op en af. Die probleem wat nou al hoe meer kop uitsteek is die dat die niere baie seer raak wanneer ek sit. Dit is nogal moeilik om te verduidelik wat gebeur, maar omrede ek vroeër jare baie gesukkel het met my blaas en niere voor die eerste gewas verwyder is, voel dit of die niere seer is soos gedurende daardie tyd wanneer daar refux was terug in die niere in. Gelukkig weet ek darem ek kan opstaan en ‘n draai gaan stap om ontslae te raak van die pyn. Dit is seker maar die gewas wat of teen die niere druk en dan weer minder druk sodra ek weer regop kom, of dat die gewas bloed verhoed om by die niere uit te kom. Dit is nie iets nuuts nie, maar waar dit vroeër dalk een of twee keer per week gebeur het, is dit nou sommer ‘n hele paar keer per dag.

Die een ding waaroor ek baie bly is, is dat ek nou met kort moue kan rondloop sonder om koud te kry. Dit doen wondere vir die arms. Saam met die Niacin (Vit B3), sukkel ek nie meer so met die juk gedurende die dag nie. Vroeg oggende is dit nogsteeds ‘n probleem maar dit is maar moeilik om aan te leer om met jou arms bo op die duvet te slaap sodat hulle nie te warm word nie en natuurlik dat niks aan die voorarms raak nie. Dit is maar iets wat ek of moet aanleer of aan gewoont raak.

Ons sien nogal uit na die volgende paar weke om weer op die plaas te gaan kuier. Eers is dit Theuns se konsert by die skool wat ons moet gaan bywoon, en dan is dit weer Burgersdorp se fees so ‘n paar weke later. En dan nog so tussen al die goed gaan daar nog ander familie ook kom kuier gedurende die skoolvakansie. Nogal baie lekker vooruitsigte.

Vrydag 29 Augustus 2014

Vrydag 29 Augustus 2014

Augustus is ‘n maand van herinnering vir my. Behalwe vir die verjaarsdae, is daar nog ons troudag herdenking, en ja dit was 42 jaar op Dinsdag. En dan is daar die “verkeerde” herinnerings. Op die 31ste sal dit 19 jaar terug was dat die dokters die blindederm verwyder het met kanker en die eerste gewas aan die dunderm gekry het. Dan is daar verledejaar se carcinoid krises wat ek moes deurveg van die 18de tot die 26ste. Alhoewel ek dit as verkeerde hierbo genoem het, is dit eintlik wonderbaarlik. Met die operasie het hulle my ‘n jaar gegee om te lewe indien hulle dit nie opgespoor het nie, en verledejaar se episode het gemaak dat ek weet waarteen my geveg is. Maar ek weet verseker dat die HERE my nog geleentheid gee om dit klaar te maak waarmee ek besig is.

Hy het na die eerste operasie begin om my te leer van geloof, van verbond, en van sovele ander onderwerpe. Ek is nou nog besig om die Engelse gedeeltes op video vas te lê terwyl die eerste Afrikaanse gedeelte oor die verbond klaar en reg is. Ek vertrou dat ek teen einde September sal klaar wees met die videos, en dat die kontrak met On The Dot Digital ook geteken sal wees. Dit gaan maak dat my skrywes op Carpe Diem, CUM, Exclusive Books, Future Managers, Kalahari, Kobo, Kwarts, Leisure Books, Little White Bakkie, Myafrikaans, Mybooks, Oxford Univeristy Press en PNA se eboek platforms beskikbaar wees, met die DVD’s op Kalahari. Dit is nogal iets waarna ek uitsien.

Die ou lyf vind dit deesdae maar moeilik. Die jeuk gee my darem so nou en dan ‘n breuk as dit koud is, maar die pyn en sleg voel van die buik raak erger. Dan het die bloeddruk gevolge weer kop uitgesteek wat maak dat my bloeddruk dramaties val en dan so ‘n halfuur of uur vat om weer aanvaarbaar te word. Die gewas self en die onmiddelike omgewing is maar erg seer, maar daarvoor is daar pynpille.

Die naweek by die kinders was baie lekker. Saterdag kon ons saam gaan na die jaarlikse skole sportdag tussen Aliwal en Burgersdorp. Gelukkig was dit redelik warm met ‘n maksimum van so om en by 16C.

En nou is ons nog verder bederf met gister se sneeu wat so ‘n pragtige gesig gewees het vroeg oggend. Hettie het ‘n klomp fotos op Facebook gesit saam met baie van die vriende. Die enigste gevolg is natuurlik dat dit koud is vandag. So teen 11 uur was dit net onder 4C, maar met die wind wat waai is die aanvoelbare temperatuur seker hier by die -9C. Maar, die sprokieswêreld maak op daarvoor.

So het ek dalk nou al my “best before” datum verby gesteek, maar my “expiry” dag is nog in die toekoms.

Dinsdag 12 Augustus 2014

Dinsdag 12 Augustus 2014.

Vanoggend gun ek myself weer ‘n bietjie tyd om almal op hoogte te bring wat hier by ons aan die gang is. Hettie is besig met haar Dinsdag kunsklas hier by die huis, so ek is baie rustig. Nou net vir hulle koffie geneem en myself hier voor die rekenaar kom neersit om ook my koffie te drink en die stukkie te skryf.

Ons het uitgevind hier op die klein dorpie is dit maar moeilik om nie te weet wat in ander mense se huise aangaan. Jy hoef net by die supermark in te stap en dan weet jy alles, dit is nogal soos in die ou dae se telefoon sentrale. Daar word sommer vir jou gesê dat dit lyk of jy lekker eet want die pens raak groot. Dan kan ek maar stry maar kort voor lank loop die storie die dorp vol dat ek los klere aantrek om my pens weg te steek.

En ja, dit is seker so dat my pens hier aan die bokant groter word aangesien die gewas alles boontoe druk om vir homself plek te maak. Maar in werklikheid dra ek ‘n kleiner nommer broek, en is my belt tot op sy nouste stelling. Ek sien nogal uit na die warmer weer wat hopelik een van die dae sal begin kop uit steek aangesien die moue ook maar maak dat die arms juk, en stoot ek maar baie keer net die moue op om die jeuk onder beheer te kry.

Verder is dit maar die gewone ou pyne en simptome. Ek het so ‘n paar weke gelede die een perskeboom gesnoei, maar dit was nogal ‘n stryd. Die boom is geplant en gelos seker die afgelope vier jaar. So dit het gekos dat ek vyf of ses stamme in die boom moes uitsaag net om te kry dat die boom na ‘n vrugteboom lyk, maar die episode het my meer as ‘n week besig gehou. Alhoewel die takke net so 10mm in dikte was, moes ek maar dood eenvoudig partykeer drie probeerslae vat om deur te saag, en dit met ‘n skerp snoeisaag. So die energie is maar min en die moegheid sommer baie vlak. Ek het vanoggend gou eiers gaan koop, en net die stap en dra van die plaat eiers in ‘n sak het gehad dat ek pootuit was toe ek by die huis kom. Vir die wat nie weet nie, die winkel is seker so tussen 150 en 200 meter van ons huis af. Een van die bydraende faktore is maar diarië. Verlede week het dit gelyk asof daar iets gebloei het maar gelukkig is dit nou weg, maar om aanhoudende pyn te hê en drie of viermaal per dag toilet toe te gaan, is nie maklik nie. Gelukkig is dit nie elke dag nie, maar was dit driekeer die afgelope week.

Ek het nou ook al meer gewoont geraak aan die warmgloede aangesien dit nie meer so ‘n erge invloed het nie. Die ou nek en kop raak maar warm, maar ek neem nou maar minder notisie daarvan. Ek dink ook maar dat die bloeddruk se wispeltuurigheid maar maak dat ek meer aandag daaraan spandeer as aan die gloede. Die pyn raak nou ook meer intens, maar daarvoor is daar pille. Die een gevolg wat nou weer al hoe meer en meer kop uitsteek is maar die emosionele toestand. Waar dit vroeër nogal mooi onder beheer gehou is deur die medikasie voel dit maar party dae of ek nie my medisyne geneem het nie. Maar ek sal seker ook maar leer om daar mee saam te leef.

Vrydag gaan ons na Su-Hannie se plaas vir haar verjaarsdag Sondag, so dit is iets om na uit te sien. Dit het altyd so ‘n kalmeerende effek, en natuurlik word ons ook bederf, en dan is daar die twee kindertjies wat ook uitsien na oupa en ouma se kuier.

Donderdag 24 Julie 2014

Donderdag 24 Julie 2014

En so kruip die einde van nog ‘n maand aan. Hierdie was ‘n baie koue maand hier by ons, met minimum temperature van -13C tot vanoggend se baie warm 6C. Maar nou maak ons alweer reg vir die volgende koue front wat more of Saterdag ons gaan tref. Van my plante is daar nie veel oor nie. Hierdie koue het sy tol geëis. Ek sal maar sien wat loop uit in die lente, maar ek sal seker eers hier middel Oktober verseker weet want dit is wanneer ons ryp seisoen ophou.

En dan was dit skoolvakansie ook. En dit het beteken dat Jana en Theunis ook kon oorslaap by oupa en ouma. Dit is lekker met hulle wat nou groter word en hulleself ook kan besig hou, maar dit is maar nogsteeds lekker om op oupa en ouma se skoot te kan sit. Nou wonder ek net wie het dit die meeste geniet, ons of hulle.

Die gesondheid is maar baie wisselvallig. Die room wat ek vir die sere op die arms gekry het werk darem. Dit maak dat die sere op die arms nie so groot word nie, en dan saam met die ander buis room is die jeuk baie beter. En dan weet ek dat die ekstra vitamien pille ook weer maak dat ek nie so ‘n groot tekort aan vitamien B3 het nie, wat op sy beurt ook help dat die sere nie so erg is nie. Die bene jeuk maar nog so nou en dan maar dit is glad nie erg nie. Daar is wel baie meer kolle op as op die arms maar sover het dit nog nie sere gevorm nie.

Die ou hart lyk my sukkel maar elke nou en dan om bloed orals te kry. Vanoggend het my hande gelyk of ek met koper gewerk het want hulle was amper heeltemal blou, met strepe op die arms tot so halfpad elmboog toe. Die gewas het ook maar sy nukke. Die afgelope week het dit ‘n hele paar kere gevoel of hy iewers in die buik los skeur. Dit is nogal seer.  En dan lyk dit vir my probeer hy ook die bloedvloei na die regter nier te wil stop. Dan manipuleer ek hom maar so ‘n bietjie en dan is die nier weer gelukkig. Ek neem aan die gewas word maar groter want hy druk nou nogal erg op die lewer wat maak dat die pyn nie sommer wil ophou nie.

En so terwyl ek ‘n bietjie kla is daar ook die ou skaniere in die liggaam wat besig is om uit te werk. Die vingers en al hulle maatjies dink hulle het olie nodig om te beweeg, maar ek weet nou nie waar ek sulke olie kan kry nie. So totdat ek dit kry is dit maar seer om op te staan en om die ledemate te gebruik.

Woensdag 09 Julie 2014

Dis winter

Die winter is verseker hier by ons. Dit is al wat die mense hier in Steynsburg oor praat die afgelope week. Gister is die laagste temperatuur nog hier naby ons by Molteno gemeet van -19.5C. Dit was ook die dag met die laagste maksimum van 4.5C daar. Volgens die radio verslag is dit die koudste tydperk die afgelope 38 jaar. Ek het dieselfde maksimum gemeet maar ons minimum was darem net -8.5C. Ander mense op die dorp het tot by -13C gemeet. Ek weet nie wat die aanvoelbare temperatuur is nie, maar ek weet dit is koud. Soos ek nou hier sit en skryf 4 uur in die middag is dit tans 6C. Ons het nou al geleer om water in bakke in die kombuis te hou oornag want die pype vries elke nag. Vandag het ek eers teen 11:40 water in die kombuis gekry, waar dit ander dae darem so ‘n bietjie vroeër was, al was dit net 10 minute vroeër. Ek sien ook nie kans om met die pype te sukkel wanneer dit so koud is nie. Gelukkig het ons water in die badkamer en waskamer. So ek mag dalk koud wees maar ek weet darem ek is skoon want ek kan elke oggend ‘n warm stort vat. En gelukkig het ons lekker warm klere wat die ergste koue uithou. Ek het so ‘n lekker dons baadjie by Su-Hannie gekry en as ek buite loop winkel toe kan die koue nie deurkom nie. Ek wens sommer ek is ‘n hoender dat ek my hele lyf kan toekry onder ‘n lekker vere kombers.


Met die gesondheid is daar nie baie verandering nie. Ek was net ‘n bietjie moedeloos toe die bene vanoggend ook begin juk hier by die maarmerries rond. Ek het maar net dieselfde room aangesit wat ek vir die arms gebruik en sover is die juk darem weg. Ek hoop maar net dat dit nie die paadjie van die arms gaan volg nie, want dan gaan die mense regtig dink al my varkies is nie tuis as ek in hierdie weer met ‘n kortbroek rondloop nie. Dit is maar wat ek elke nou en dan met die arms moet maak om te verseker dat ek nie juk nie aangesien enige kontak met klere maak dat dit juk.

Dinsdag 01 Julie 2014

Dinsdag 1 Julie 2014

En so is nog ‘n week of wat verby. Die huis is skoon stil met Barney wat vir die volgende week nog huis oppas by sy werkgewers. Gelukkig lyk dit darem of hy dit nog geniet. Hettie se kunsklasse maak haar nogsteeds opgewonde. Dit is vir haar so lekker om te sien hoe die tannies by die ouetehuis vorder. Die een kon nie eers meer haar naam geskryf het nie maar nou kan sy nie net skilder nie, maar selfs weer skryf. Hettie het ook die afgelope week ‘n lesing gegee by Hofmeyr se tuinbouklub, en die was mense nogal ingenome met wat sy hulle gewys het.

Die werk aan die huis is klaar. Die ekstra vertrek maak ‘n baie groot verskil. En dan is daar die “toolshed” buite wat al die gereedskap kan vat, en die dak lyk my heel reg. Ek glo nie daar sal weer water kan lek nie want amper elke naat is geseël.

Met die ou gesondheid is dit maar soos gewoonlik deurmekaar. Die ekstra Niacin saam met die standaard vitamiene pille en die twee rome wat ek aan die arms smeer help darem dat die juk baie beter is. Su-Hannie het ook gister gesê dat sy sommer ‘n verandering sien van Vrydag af. Verder is dit maar soos gewoonlik. Die ou gewas stoei maar erg met al die organe in die buik om vir hom plek te maak, en dit maak dat hulle almal by my kla. Gelukkig kan ek hulle darem stil kry met pynpille. Die enigste ander klagte is dat die ou pens net groter word en die klere al hoe stywer sit. En natuurlik met die gevegte hier binne my maak dit my nogal moeg.

Ek sien ons gaan die naweek so ‘n bietjie koud kry. Saterdag en Sondag se aanvoelbare temperatuur gaan nie een dag oor vriespunt kom nie. So dit lyk vir my soos lekker sop weer, en dalk sal ek nog ‘n rannekoek of twee ook bak.

Dinsdag 17 Junie 2014

Dinsdag 17 Junie 2014

Hier by ons in die karoo is dit maar koud. Ons het toe nie swaar kapok gehad nie, maar die swartryp wat daarop gevolg het was erger as die kapok. Ons het nou al seker drie of vier oggende gehad wat dit gebeur het, en hoop ek maar van die plante sal weer uitloop in die lente alhoewel baie vrekieënsis gekry het. Verlede week het almal gespog hoe koud dit by hulle geword het. Su-Hannie het -10C op die plaas gemeet, ‘n vriendin van haar -14C, en ek hoor Sondag by ‘n boer in ons gemeente, -18.5C anderkant Molteno. By hom op sy plaas was die sementdam verlede week Woensdag teen 2 uur die middag nog toe onder ‘n laag ys. Die hele dorp het gekla dat die waterpype net ys was. Ek het ons water so teen 10:30 die oggend aan die gang gekry, terwyl mense wat gewag het vir die natuur om dit te doen eers vroegmiddag water gehad het. En so het dit maar aangegaan die afgelope paar dae. Alhoewel die termometer hoër temperature wys as die koue dae, is dit verseker nie die geval as die wind waai nie. En hy het gewaai.

Die huis vorder ook goed. Die ryp en koue maak dit ook maar moeilik om op die dak te werk en verf. Gelukkig kon ons gister die laaste goedjies uitdra na die stoor buite. Hettie kon nou vanoggend vir die eerste keer in haar nuwe studio kuns klas aanbied. Daar is sommer baie lig in die vertrek wat dit baie makliker maak vir die studente om die regte kleure en effekte te kry.

Met die gesondheid gaan dit redelik goed. Ek is nou so amper ‘n maand op Niacin om die vitamien B3 tekort aan te vul, en is ek bly dat dit werk. Die uitslag op die arms het nie juis verbeter nie, inteendeel dit is erger, maar die erge gejuk is beter. Die Niacin veroorsaak wel ook dat ek meer warm gloede kry, maar wanneer dit so koud is gee ek nie daarvoor om nie. En die gloede is ek al gewoont aan, want dit was een van die eerste simptome van die Carcinoid. Die ander simptome is maar daar, maar met tyd raak ek ook gewoont daaraan, en gelukkig is daar pille vir die pyn en die diarieë, en water vir ontwatering. Die een ding wat wel baie pla en wat ek nie medisyne voor kan neem nie is die gewas wat groter word en probeer om al die organe in my buik uit hulle plekke te druk om vir hom plek te maak.

En dan was dit ook vadersdag verlede Sondag. Ek is ook bederf. Al die vrouens in my lewe het my bederf met mooi boodskappe die afgelope paar dae, en dit maak dat ek sommer almal nog meer lief het.

Donderdag 05 Junie 2014

Donderdag 5 Junie 2014

En so het die koue gewyk en het ons ‘n paar lekker dae gehad wat die weer aanbetref, en was ons nogal verbaas dat dit nie so baie koud is nie. Gedurende die dag was dit lekker buite, maar in die oggend en aand het dit maar koud geword, maar net nie so koud soos ek verwag het nie. En toe kom die koue met mening gisteroggend. Vroeg oggend vandag het daar so ‘n paar vlokkies kapok geval maar nie genoeg om te wys op die grond nie. Soos ek nou hier sit sien ek weer so ‘n paar vlokkies voor die venster verby gaan.

Die veranderinge by die huis is in volle gang. Die spaar vertrek het nou ‘n lekker groot skuifdeur gekry, en buite het hulle ‘n stoortjie vir ons te gebou om al die tuin gereedskap en goeters in te kan stoor. Die huis lyk nou skoon anders van die tuin agter se kant af want waar eens ‘n motorhuis deur was is nou ‘n skuifdeur, en die deur is nou ‘n lekker afdak. Dit maak sommer ook ‘n groot verskil binne die huis want die wind en koue het by die deur ingekom en dan by die binnedeur na die sitkamer gegaan om seker te maak dat die hele huis koud was. Nou kan alles mooi toemaak en is die vertrek sommer lig en warm.

Ek moet sê die koue gee my ‘n breek van die jeuk arms en bene. Sodra hulle ‘n bietjie warm word dan jeuk die ou uitslag en maak dit sere. Gelukkig as dit koud is soos vandag is die gejeukery beter. Ek hoop net dat die ekstra vitamien B3 wat ek nou elke dag neem binnekort resultate sal lewer. Met die res van die gesondheid is dit redelik. Dit lyk nou of die ander organe in die buik besluit het hulle sal nou maar moet plek maak vir die gewas by hulle en is die seer minder. Dit is net ongemaklik met die ding hier in die buik wat die idee gee dat ek ‘n groot boepens het. Ek weet ek het een maar nie so groot soos wat dit nou is nie. Die diarieë is redelik onder beheer en die derm kry dit reg om nie te verstop nie. So dit lyk redelik goed. Ek het lank laas pyn in die niere gehad, so die bloedstoevoer is nou weer reg totdat die ou ding weer omval. Met die verloop van tyd raak ek ook gewoont aan die feit dat ek maar rustig moet wees, en nie probeer om alles te doen soos in die verlede nie.

As julle lus is vir koek sal daar more by ons koek wees. Barney verjaar.

Dinsdag 20 Mei 2014

Dinsdag 20 Mei 2014

En so is amper ‘n maand verby sedert die vorige skrywe. Daar het so baie gebeur en dan het die rekenaar sagteware ook geglo ek is ‘n indringer en kon ek nie by my eie goed uitkom nie. Gelukkig is darem gister na amper twee weke opgelos en kan ek nou weer toegang kry tot al my inligting en goeters.

Esthee het gekom en gegaan. Dit was werklik so ‘n groot seën om haar weer persoonlik te kon sien en ‘n drukkie te kon gee. En om almal saam weer op die plaas bymekaar te kon wees, was regtig ‘n groot voorreg. En daar gee die regering ook nog die Woensdag met die stemmery ‘n vakansie dag vir ons sodat almal die hele dag saam kon kuier, wat ‘n fees. Maar nou is alles alweer net herinneringe, en gaan die lewe aan en wag vir niemand nie.

Vandag is dit regtig winter. Die dae was maar koud verlede week, maar hier oor die naweek het dit al hoe kouer geword. Gister het ons ook nog reën gehad die hele oggend, en in die middag het die son geskyn maar het ‘n baie koue sterk wind gewaai. Vandag is dit koud en heeltemal bewolk, met so ‘n regte suidwestelike wind wat baie koud is. Die wolke lyk so half na kapok/sneeuwolke, maar miskien is dit te koud daarvoor.

Met die gesondheid is dit maar moeilik. Ek het in Desember by Su-Hannie twee “bytmerke” op my regter arm gekry, en het ek dit maar toegeskryf aan ‘n steekvlieg of muskiet. Die kolle het so elke nou en dan gejuk, maar het my regtig nie juis gepla nie. Ek was net skrikkerig dat daar dalk steekvlieg eiertjies hier in my regter voorarm was. Skielik die naweek nadat ons terug was by die huis van die kuier op die plaas het die arm begin om baie te jeuk en het daar sommer baie plekke begin opswel op die arm. Dit is toe dat ek uitvind dat die ou gewas se afskeidings keer dat ek vitamiene B3 opneem, en het ek skielik dermitites opgedoen. Dit is soos wintersvingers of voete, maar slaan oral uit waar die are na aan die vel kom. So ek loop nou rond met altwee arms wat vol knoppe is en verskriklik jeuk sodra die arms warm word. Dit maak dit nogal moeilik want sodra ek iets oor die arms aanhet wat ‘n bietjie warm maak dan moet ek weer die moue opskuif sodat die jeuk kan weggaan en dan vries die arms weer. So dit is maar ‘n kringloop van moue af, op en dan weer af, en so gaan die dag verby.

Woensdag 23 April 2014

Winter vandag Woensdag 23 April 2014

En daar het ons weer winter vandag. Die koue het so skelmpies tussen 9:00 en 10:00 hier aangekom. Vroegoggend het ek gedink die voorspelling mag dalk verkeerd wees, maar toe kom die koue wind hier aan. Die tyd van die jaar is die weer mos maar wisselvallig. Al wat ek weet is dat ons vandag se weer in Junie/Julie gekry het, dit dalk teen die tyd wit buite gewees het. Dit is sulke regte kapok wolke vandag, maar dit is nog ‘n bietjie warm, nie dat 9 grade juis warm is nie.

Self gaan dit maar baie wisselvallig, soos die weer. Verlede week het ek regtig gesukkel met diarieë. Daar was so ‘n hele paar dae wat ek nie aan die maag kon raak nie, en was hy so opgeblaas dat my hemde gespan het oor my maag. Nou is dit darem beter, maar dit beteken maar net dat die hemde nie meer so span nie en dat ek nie so baie seer het nie. Die een geluk van die seer maag is dat ek nie baie rondbeweeg nie, en dit maak dat ek nie moeg word nie. En wanneer dit so seer is, pla die hittegolwe nie so baie nie.

Hier by ons is daar sedert verlede week weer 2 persone oorlede, een tannie van die ouetehuis, en ‘n boer van hier tussen ons en Burgersdorp. So weet nie een van ons wat more gaan gebeur nie.

Ek kan nou amper nie meer wag vir die 5de nie want dan kom Esthee kuier en sal ons almal saam by Su-Hannie op die plaas wees.

Dinsdag 15 April 2014

Dinsdag 15 April 2014 terug by die huis.


Na ‘n lekker naweek by Su-Hannie hulle is ons weer by die huis. Vandag is net koud en renerig. Laat my skoon voel of ek weer in Jeffreysbaai is, want daar was die weer wat ons vandag het, winter. Ons het darem so amper 10mm reën gehad en dit lyk of ons nog kan verwag. Ek het so afgekoel dat ek skoene moes aantrek en nie met sandale kan rondloop nie. Ek het sommer ook ‘n baadjie aan.

Die naweek het ons lekker gekuier. Die kleinkinders was baie bly om ons te sien en dit het nogal gehelp sodat ma en pa hulle aandag by die winkel kon vestig. Vrydagaand het vier diewe by Su-Hannie se winkel ingebreek en het hulle maar ‘n moeilike tydjie deur gegaan, veral vir Bani wat die nag in die winkel moes waghou sodat ander diewe nie hulle self kom help aan die winkel se voorraad nie. Gelukkig het die bure gehoor toe die voorste venster gebreek het en was die polisie net om die draai en kon hulle 3 van die 4 voorkeer, en amper al die gesteelde goed terug kry wat die inbrekers net om die draai van haar winkel af weggesteek het. Die klomp het sommer haar mandjies gevat en hulle gesteelde worsies en ander vleis daarin gedra. Op die ou einde het hulle net met ‘n pak okkerneute weg gekom, en is hulle weer opgesluit. Hulle is glo net ‘n week of wat vroeër vrygelaat sodat hulle paasnaweek by die huis kan wees, en nou sit hulle alweer in die tronk.

Gesondheids gewys is dit maar seer. Net toe ek dink my ou groot pens is nou weg toe raak die ingewande weer kwaad vir my en nou lyk ek of ek verwagtend is. Die enigste baba wat daarin is is ‘n meneer van ‘n pyn. Dit sal nou seker weer ‘n paar dae vat om af te blaas en dan behoort ek weer ‘n paar goeie dae te hê. Dit is maar hoe diarieë is. Maar liewer dit as wat alles verstop is. Ek was gisteraand verbaas dat ek weer so ‘n kwaai bronchospasma aanval gehad het. Dit is ‘n pyn wat net bokant die maag begin en dan kramp die hele sluk derm van onder na bo. Ek onthou die eerste keer toe dit gebeur het het ek gedink dit is ‘n hartaanval want dit is hoe ek gedink het dit moet voel. Gelukkig het ek gegaan vir stres EKG’s en alles en kon hulle niks opspoor nie. Ek het eers verlede jaar uitgevind dat bronchospasma een van die gevolge van carcinoid sindroom is. Na twee glase koue water is die pyn toe weg, maar dit laat ‘n mens nogal skrik.

Ek het nou net by Hettie gehoor dat daar drie persone die naweek oorlede is terwyl ons weg was. Die omie van die supermark is glo verlede Vrydag oorlede, dan ‘n ou tannie van die oue tehuis op 97, en dan een van Hettie se studente by die oue tehuis op 69. Dit wys maar net weer hoe vinnig die lewe kan eindig. Groete

Dinsdag 08 April 2014

Dinsdag 8 April 2014

Vandag is dit weer ‘n baie lekker Karoo herfsdag. Daar is so ‘n lekker byt in die lug in die koelte, en in die son is dit warm. Dit is nou te sê as die wind nie waai nie want dan is dit orals koud. Die afgelope week het ons vir die eerstekeer die seisoen ryp gehad. Dit het glo wit gelê. Ek het gelukkig nie nodig om my kop voor so agtuur die oggend buite te sit nie, so ek het dit nie gesien nie.

Met die gesondheid was dit nie ‘n goeie week gewees nie. Saterdag het ek maar die meeste van die tyd gelê want ek kon nie die pyn baas raak nie. Dit is so of dit net weer ‘n nuwe fase ingaan waar dit maar moeilik is om die pyn te bowe te kom. Ek het so gewoont geword dat ek so nou en dan ‘n dag gehad het waar ek die volle dosis pyn medikasie gevat het, maar die afgelope week is daar amper nie ‘n dag wat ek dalk een van die pynpille kon los nie. Met die ander newe effekte gaan dit ook goed. Ek bly maar moeg en die gloede wil ook nie ophou nie.

Vir die mense wie se inkomste gebasseer is op ‘n maandelikste inkomste is die maand ‘n lekker maand met al die vakansie dae, maar vir die wie se inkomste afhang van besigheid kan ek maar net sterkte toewens en hoop dat die vakansiedae nie te veel invloed sal hê nie.

Dinsdag 01 April 2014

Dinsdag 1 April 2014. En dit is nie 'n grap nie.

En daar begin ‘n nuwe maand en is ‘n kwart van die jaar verby. Ek en Hettie is so bly vandag want Esthee kom volgende maand kuier. Sy gaan by Su-Hannie tuis, maar ons gaan almal lekker saam kan kuier. Ons sien so uit te om haar weer vir ‘n paar dae te sien voor hulle weer terug moet gaan Melbourne toe. Ons almal is ‘n jaar ouer sedert ons mekaar laas gesien het, en dan het daar soveel goed gebeur. So ons kan nie wag nie.

Vanoggend het dit so ‘n bietjie hier by ons gereën, en was dit redelik koud met ‘n baie sterk wind wat gewaai het. So teen tien uur het dit begin om oop te trek en het dit darem so ‘n bietjie warmer geword. Ek kon ook vandag my een orgidie in die huis bring wat begin blom het. Die plant is verseker die getrouste plant wat ek nog gehad het. In die twintig jaar wat ek hom het, het hy amper elke jaar geblom. Verder het van my Disa saailinge al hul tweede stel blaartjies gemaak en kan ‘n mens hulle nou al met die blote oog maklik sien. Ek hoop nou maar net hulle gaan die koue van Steynsburg se winter kan trotseer.

Met die gesondheid is dit maar soos gewoonlik. Die een dag is dit redelik en dan is daar weer ‘n dag of vier wat dit maar moeilik is. Ek het gister eers gesien dat die statistiek wat ek 12 Maart genoem het so ‘n klein foutjie gehad het. Daar is nie 5 mense uit elke 100,000 wat met carcinoid geïdentifiseer word nie, maar 5 uit elke 1,000,000 mense. Ek het net een nulletjie uitgelaat, maar dit maak nogal ‘n groot verskil. Die grootste probleem vir my naas die pyn is maar die effek op die hart en bloeddruk. Dit voel maar so nou en dan of die hart skielik uitgevind het dat hy te stadig geklop het en dan gaan hy so tekere dat ek wonder of hy nou al die kloppe wat hy moes klop, probeer inhaal. Gelukkig word ‘n mens maar ook daaraan gewoont, en gaan ek maar aan met alles.

Ek is net baie bly dat ek nou geleentheid kry om alles wat binne my was, alles wat die Heilige Gees my geleer het die afgelope seker 18 jaar, dat ek dit kan neerskryf en met die mense hier by ons in die selgroep en ander kere by ons byeenkoms op ‘n Sondag kan deel. Hierdie Sondag is dit juis weer my geleentheid om met die mense te kan deel rondom wat Jesus gedoen het die drie dae wat Hy dood was. En dan is ek ook besig om so ‘n inleiding van alles wat ek geleer het, op video vas te lê. Ek het gedag dit sal so ‘n uur lange sessie wees, maar nou sien ek dit gaan nader aan drie ure wees. Miskien gaan ek dalk langer wees, maar ons sal maar sien.

Dinsdag 25 Maart 2014

Dinsdag 25 Maart 2013 Nog tien dae is verby

Voor ek my oë kon uitvee is daar sommer 10 dae verby. Daar was soveel wat gebeur het, maar elke keer wanneer ek iets wou neer pen het dit net nie gebeur nie. Ons weer het verseker verander. In die oggende en aande kan jy sommer voel dat daar so ‘n koeligheid in die lug is, en wanneer die wind waai soos vandag, weet jy verseker dit is nie meer somer nie. Vriende van ons het verlede week Donderdag selfs tekens van ryp op hulle rose gehad.

Die groente is amper alles uit behalwe die spinasie. Gelukkig het ek nou soveel groente dat ek amper ‘n vegatariër kan word en dan sal ek nog oorleef tot volgende somer. Ek sal net moet onthou om volgende seisoen die vrugte en van die groente te spuit sodat die vrugtevlieg nie weer al die perskes vir hulleself vat nie. Die arbeie wat ons by Su-Hannie gekry het begin nou ook te dra, en is dit nogal lekker om elke dag ‘n arbei te kan eet. Hulle is nog nie genoeg om ‘n bak vol te maak nie, so ons eet hulle maar so vars van die plant af. En dan het ons ook ‘n lekker kuier by Su-Hannie en Bani gehad en was dit lekker om weer die kleinkinders te sien, veral met Jana se verjaarsdag Sondag. Sy was sommer vroeg by ouma en oupa op die bed, soos wat haar gewoonte maar is.

Iets waaroor ek baie opgewonde is, is dat ek dink my boek wat ek so oor die jare aan geskryf het, staan nou einde se kant toe. Dit het my ook nogal besig gehou maar het in die laaste paar maande ook darem my aandag weggevat van die gesondheid. Ek kyk nou maar so elke dag of ek nog iets kan byvoeg, maar ek kan nou eerlikwaar nie dink dat ek nog onderwerpe kan dek nie. Maar net wanneer ek dink ek is nou reg dan gebeur dit soos gister dat ek nog skielik iets ontdek wat ek nie van geweet het nie. Ek het begin om die boek te skryf so agtien jaar gelede. Die boek is nou so net oor die 250 A4 bladsye en het as tema Jeremia 30 verse twee en drie. “So spreek die HERE, die God van Israel: Skryf vir jou in ‘n boek al die woorde wat Ek met jou gespreek het; want kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek die lot van my volk Israel en Juda sal verander, sê die HERE; en Ek sal hulle terugbring in die land wat Ek aan hulle vaders gegee het, en hulle sal dit in besit neem.” So die boek handel oor ons as Christene, hoe ons een word en bly, en wat vir ons wag die dag wanneer ons ons laaste asem uitblaas. Volgende week sal ek seker aan die Engelse weergawe werk om dit in lyn met die Afrikaanse weergawe te bring.

Ek wens ek kon so opgewonde gewees oor die gesondheid. Dit is maar een van die redes hoekom daar nie iets die afgelope 10 dae gepos is nie. Ek is seker as ek ‘n binnebrand enjin was het ek  iewers ‘n gat in die verkoelingstelsel gehad. Ek loop skaars 10 meter dan oorverhit ek. Ek neem aan dit gaan dalk die winter help dat ek nie baie koud gaan kry nie, maar ongelukkig gaan dit gepaard met bloeddruk wat nie kan besluit of dit hoog of laag moet wees nie, en ‘n hart wat by tye voel of hy uit die borskas wil klim, en dan die ewige moegheid. Gelukkig reageer die pyn darem op die pille, so dit is onder beheer. Net jammer ek kan nie meer vir Hettie ‘n lekker drukkie gee nie want die ou gewas is in die pad en kry dan seer.

Woensdag 12 Maart 2014

Woensdag 12 Maart 2013

En so is nog ‘n week verby. Die weer het hier by ons al klaar verander. Selfs as die son lekker skyn, voel ‘n mens die herfs is in die lug. Ons het nou nie so baie reën gehad soos ander plekke nie maar Hettie spot my vanoggend en sê sy aanvaar my verskoning dat die “land” te nat is om groente te pluk aangesien ek vasval sodra ek in die groente tuin kom. Nou weet ek net nie hoe groot die pattypans gaan wees wanneer ek weer tussen hulle kan inkom nie. Ek sien net die spinasie is so groot soos wat ek nog nie gesien het nie. Maar, dit is baie lekker om jou eie groente te kan pluk en sommer genoeg te hê om sommer die hele winter ook elke dag van jou eie groente te kan eet.

Met die gesondheid is dit maar soos gewoonlik op en af. Daar was maar dae die week dat ek nie lekker gevoel het nie, en ander wat weer aanvaarbaar was. Ek het so ‘n tinteling oor my hele liggaam gehad wat net in vlae gekom en gegaan het sonder ophou. En wanneer dit gebeur het was ek so moeg dat ek nie my arms kon oplig nie, soos wanneer ‘n mens iets swaar gedra het en jou arms niks wil doen nie. Dit het nou Sondag regtig kop uitgesteek en dit wil net nie ophou nie. Vroeër was dit daar maar nie so aanhoudend nie. En dan is daar die ou omval storie wanneer ek opstaan nadat ek op my hurke gesit het. Elke keer moet ek maar net gryp na iets naby my tot ek weer bloed in my kop kry.

Ek is maar besig om uit te vind wat die oorsaak is, maar dit is moeilik aangesien daar nie baie inligting oor carcinoid sindroom beskikbaar nie. Ek het wel een onkoloog gekry wat gesê het dat hy het gevind dat amper elke persoon verskillende simptome getoon het. Daar is selfs mense waar hulle nie enige gewas kon opspoor maar tog het die persoon gereageer op medikasie wat in toets fases is in Amerika om die simptome meer aanvaarbaar vir die pasiënt te maak. Dan is daar weer dokters wat glo dat daar eers uitsaaïng na die lewer moet wees of dat daar limfnodes moet wees voordat die toestand sal oorgaan tot vol carcinoid sindroom, en dan weet hulle ook nog nie wat al die newe effekte is van die gifstowwe wat die gewas afskei nie.

Die dokters sukkel maar om die tipe kanker te identifiseer omdat baie nie weet hoe om dit te doen nie. So is carcinoid sindroom die laaste siekte op die lys wat hulle gebruik in die VSA om die oorsake van diarië mee te diagnoseer. Ongelukkig is dit in baie gevalle te laat vir die pasient, en baie kere word carcinoid eers gedurende nadoodse ondersoeke gevind. Ek het so ‘n ruk terug statistiek gesien wat wys dat 5 gevalle per 100,000 die norm is voor dood, maar as nadoodse identifiserings ingesluit word styg die syfer na 65 per 100,000.

So het ek maar geleer om van dag tot dag te leef. Wanneer ek my oë oopmaak in die oggende is ek dankbaar dat ek nog ‘n dag gekry het om saam met my geliefdes te lewe, want ek weet verseker nie wat die volgende dag gaan oplewer nie.

Woensdag 05 Maart 2014

Woensdag 5 Maart 2014

Sjoe maar die tyd vlieg. Ek wou nog begin om nuus deur te gee toe was dit al weer naweek, en nou trek ons al weer by Woensdag. Verlede week was daar nie veel nuus by ons nie. Hettie is maar lekker besig met haar kunsklasse. Sy is nou al Dinsdag en Woensdagoggende besig, en dan ook die hele dag Saterdag. Maar, sy geniet dit vreeslik, en die studente net so. Elke week is daar nog nuwe mense wat bykom, en lyk dit vir my sommer ander dae ook. Die mense by die ouetehuis geniet dit ook baie. Elke week is daar nog mense wat kom kyk of hulle ook iets kan doen, veral omdat dit hulle niks kos nie want al die benogdighede word deur mense geborg. Hettie moet net sê wanneer die geld op is dan sal dit aangevul word. Dit is nog lekker om op so ‘n plekkie te bly waar mense nog vir mense iets doen.

Ek hou myself besig met die tuin, en om te skryf. Dit is nogal lekker om vars groente in die tuin te gaan pluk, al skrik jy elke nou en dan as jy op ‘n patty pan afkom wat vir twee of drie dae weggekruip het en nou soos ‘n groot pampoen lyk. Of soos Vrydag waar ek net vir ‘n paar minute spinasie gepluk het, maar dit ‘n uur en ‘n half geneem het om reg te kry vir die vrieskas. Ek moet juis vandag nog skorsies gaan pluk en ek is seker daar is amper ‘n sak vol. En dan is daar nog die komkommers wat ek al Maandag of selfs verlede week moes hanteer het, om nie eers te praat van die butternuts nie.

Ek het ook gister ‘n groot verrassing gekry toe ek na my Disa saadbakkie kyk en sommer ‘n hele paar groen spikkeltjies gesien het. Op die stadium lyk dit of ek so agt of meer plantjies het maar hulle is maar baie klein, seker net ‘n speld se puntjie groot. Nou is dit tyd om hulle te pamperlang want hulle vrek sommer baie maklik. Die plantjies wat verlede jaar opgekom het het sommer net gevrek omdat hulle water verander het van Jeffreys se water na dit wat ons hier kry.

Die gesondheid is maar baie wisselvallig. Die een dag soos vandag kan ek nogal redelik aangaan sonder erge pyn en moegheid, maar dan is daar dae soos gister en Maandag wat ek maar liewer wil vergeet van. Dit help darem dat my pynmedikasie verdubbel is en dat dit nie veel juis newe effekte het nie. Dan behalwe vir die pyn is dit is maar net die gloede, bloeddruk en moegheid wat my vang, en is die emosies ook nogal vlak deesdae. Ek wens party dae dat ek net ‘n bietjie binne in my lyf kan kyk wat maak dat ek so erge pyne kry in die rug, of dalk is dit die niere, maar al wat ek weet is dat dit nogal baie seer is. 

Nou is dit gelukkig tyd om ‘n bietjie te ontspan en eers ‘n lekker koppie koffie saam met vroulief te geniet voordat ek my skorsies gaan pluk.

Vrydag 21 Februarie 2014

Vrydag 21 Februarie 2014

En so is nog ‘n week en ‘n paar dae verby. Die weer was die afgelope paar dae baie lekker vir my. Dit is vandag nogsteeds bewolk en koel, wat verseker lekkerder is as vol son en temperatuur wat hier naby die middel 30’s draai, en dit selfs in die huis. Ons het nogal redelik reën gehad wat die groente natgegooi het so ek het nie nodig gehad om elke dag water te gee nie. Ek was net ontstoke Woensdagoggend gewees. Ek was besig in die kombuis toe sien ek net ons krag is af. Barney het toe al klaar na buite gegaan en die bakkie van die munisipaliteit voorgekeer voordat hulle wegry. Toe ek met hulle praat toe “erken” hulle skielik hulle het na die verkeerde nommer in die straat gekyk en moes nie ons krag afgesit het nie, maar die bure s’n. Die bure is besig om die plek te koop en die huidige eienaar het nie die munisipale rekening betaal lyk my vir die afgelope twee jaar nie, so ten spyte van die feit dat hulle hulle water en elektriesiteit betaal, sou hulle krag afgesit word. Maar nou kom die rassisme in, want die bure is kleurlinge en die man is die hoof van die Afrikaanse skool in die lokasie, so sy krag word nie afgesit nie. ‘n Vrou wat saam met ons in die kerk is en ook besig is om die plek te koop is in dieselfde bootjie maar die munisipaliteit wil niks weet nie en het haar krag afgesit tenspyte van die feit dat sy haar krag rekening op datum betaal het. Maar, dit is maar ons nuwe Suid Afrika. Die rassisme is so erg by ons dat die munisipaliteit die sypaadjies by die swart inwoners in die dorp in standhou, maar die kleurlinge en blankes wat direk langs hulle bly se sypaadjies word nie skoon gemaak nie. Nou lyk die dorp se strate skoon snaaks, en kan jy sien wie waar bly. Gelukkig is ons straat mooi aangesien al die huise in ons blok tuingemaak het op die sypaadjie en die gras instand gehou word.

Sover dit die gesondheid aangaan is dit maar woes. Waar ek vroeër so nou en dan nie nodig gehad het om medikasie te neem vir die pyn nie en ek dalk ‘n middag kon oorslaan, is dit verseker nie die afgelope week die geval nie. Dit is maar seer en moet ek maar ‘n vol dosis pynpille neem driekeer per dag en dan nog gaan lê of loop want dit is te seer om selfs te sit. Gelukkig as dit so seer is dan oorheers dit die gloede en wisselende bloeddruk dat dit nie so erg pla nie. Ek weet nou nie of van die tentakels van die gewas die bloedsomloop na veral die regter nier beperk nie, want dit voel asof iets my niere uit die rug probeer skeur. Maar nou is dit Vrydag en ‘n naweek wat voorlê . Nie dat dit juis ‘n verskil maak vir my nie. Groete

Woensdag 12 Februarie 2014

Woensdag 12 Februarie 2014.


Dit is warm hier in die Karoo, en bedompig. Gister teen vieruur die middag staan die temperatuur op 32C binne die huis. As dit so warm is dan kom ‘n mens nie by alles uit wat jy by wil uitkom nie, want jy is moeg voordat jy nog begin. Vrydagaand het ons by vriende ‘n lekker braai gehad. Die muskiete het gemaak dat ons binne moes gaan sit want hier teen agtuur was daar so baie dat ek bang was iemand sal dalk ‘n bloedoortapping moet kry so baie was daar wat bloed gedrink het. Die naweek was baie rustig. Hettie het gaan uitstal by ons plaasmark, en toe sommer ‘n hele paar kuns studente bygekry. Sy is so opgewonde daar oor. En dan was ons vanoggend gou by die ouetehuis aan om reëlings te maak vir haar klasse wat sy volgende week daar gaan begin vir die ou mense. Hulle is ook nogal opgewonde want dit hou die bejaardes besig. Hettie is so gelukkig dat iemand al die benodighede borg, so dit kos haar ‘n uur ‘n week wat sy so ‘n bietjie tyd kan terugploeg in ander mense se lewens.

En dan was daar Jana. Die kinders het vir haar ‘n epos adres geskep en toe kan sy en oupa lekker kuier sonder dat dit haar geld kos op haar selfoon. En oupa moes toe net vinnig leer dat al het sy basies die geselsie afgesluit, moet oupa nogsteeds laat weet dat hy die boodskap gekry het. En nou moet oupa en ouma maar elke dag vir haar ‘n epos stuur. Dit is hoe sy dit gestel het: Oupa oupa weet oupa en ouma kan eennige tyt iets  stuur. Liefde Jana

Ek self het nie so ‘n lekker naweek gehad nie. Iewers tussen elf uur Vrydagaand en sesuur Saterdagoggend het die gewas besluit om die dunderm of te laat buig, of verstop. Dit was nogal baie eina. Ek was net baie bly dat ek nie saam met Hettie gegaan het nie, want toe kon ek so ‘n bietjie op die bed lê en kyk of die ou derm nie weer reg kom nie. So teen Maandagoggend het ek net gehoor hoe die goed hier deur die derms gaan en teen middagete was dit weer normaal. Ek sukkel maar met ontwaterings probleme as gevolg van die gewas, maar omdat die gewas ook nie sy gifstowwe kon uitskei nie, het ek toe nie so uitgedroog soos gewoonlik die geval is nie. Nou kla ek glad nie meer dat ek so uitdroog nie, want dit is gemakliker om baie toilet toe gaan as om so seer te hê.

Woensdag 05 Februarie 2014

Woensdag 5 Februarie 2014.

Sjoe die tyd het gevlieg. Kan nie glo dat nog ‘n week al weer verby is nie. Maar dit is wat gebeur as jy jouself bewustelik besig hou. Al is dit net met klein goetjies soos varingblare  uitsny wat dood is, en bossies uittrek in die groentetuin. Die res van die tyd skryf ek maar en doen my website oor. En dan gebeur dit soos vanoggend toe ons net ‘vinnig’ winkel toe gaan en eers amper 2 ure later by die huis terug is nie. By die ko-operasie loop ons toe ‘n man raak wat so 28 jaar terug saam met my gewerk het in Durban. En nou bly hy ook hier by ons. En dan is daar nog kliënte wat skakel en vra dat ek nogsteeds vir hulle goed moet kry en aanstuur al weet hulle ek is nie meer in die Baai omgewing nie.

Ons het nogal baie reën die afgelope week gehad. Vrydag en Saterdag goed gereën, so 15mm, en gister gedurende die dag 6mm en gisteraand nog 22mm. Ek was bekommerd gisteraand want dit was ‘n lekker harde storm wat ons hele pad oorstroom het. As die water nog so 10mm gestyg het was dit oor die trap by die stoep en binne in die huis. Maar dit sal sommer baie meer moet reën voordat dit kan gebeur.

Met die siekte gaan dit maar aan soos gewoonlik. Die diarieë is net party dae baie erg, wat maak dat die derm baie seer is. Ek het nou ook uitgevind dat dit nogal baie seer raak wanneer ek op my rug lê met net een kussing onder die kop. Gelukkig het ek al jare terug geleer na die rugoperasie om op my sye te slaap, so dit pla darem nie in die nag nie. Ek sien ook dat as gevolg van die baie gloede, my arms en bene nou sulke donker kolle kry. Dit gebeur glo omdat die are al hoe nader aan die vel kom sodat die liggaam kan afkoel. So behalwe vir die diarieë, pyn en die moegheid was dit nogal ‘n goeie week.

Dinsdag 28 Januarie 2014

28 Januarie 2014.

En so is nog ‘n week verby. Die week het ek dit maar baie stil en rustig gevat. Ek het darem elke dag die groentetuin nat gegooi, en redelik baie keer niks gedoen nie. Ek was maar bietjie moegerig gewees en het net een keer saam met Hettie winkel toe gegaan. Verder het ek maar die plante in die potte skoon gemaak net om uit te vind dat my een disa wat baie mooi geblom het, twee saadpeule gemaak het. Ongelukkig het die een klaar oop gemaak. Ek neem aan die saad is verlore want dit is ‘n baie fyn stof. Die ander saadpeul het ek darem gekry. So nou moet ek maar wag tot so middel Maart om te sien hoeveel ek aan die groei kan kry. Die saad vat so ses weke voor hulle ontkiem, en dan is die plantjie nie eers ‘n millimeter groot nie. Om die waarheid te sê is hulle so groot soos ‘n speld se punt. Verlede jaar het ek 15 plantjies gekry maar met die trekkery het almal gedooi. So ek hoop ek sal darem ‘n paar aan die groei kry.


Met die gesondheid is dit maar moeilik met tye. As dit nie diarieë is nie, voel dit of ek verstop is. En as die ou stelsel weer reg werk dan is dit weer brandboude. Ek het die afgelope week ook op ‘n nuwe verslag afgekom wat ‘n bietjie meer lig werp op wat al die newe effekte van die sindroom is. In die verlede het die meeste verslae net gewys oor wat die meeste voorkom, terwyl die nuwe verslag so ‘n paar ander simptome ook uitwys. Nou verstaan ek ook meer oor wat met my aan die gang is. Dit veroorsaak ontwatering, wat natuurlik tot die gevolg het dat ek baie toilet toe moet gaan om van die water ontslae te raak. Dit maak weer op sy beurt maak dat ek met ‘n droë mond rondloop en seker vyf keer per dag handeroom moet aansit want die vel op my hande en voete is ontsettend droog. En dan die ongemaklikste een is winde. Ek is seker as hulle my by ‘n protes optog loslaat sal al die mense uitmekaar spat as ek die dag winderig is. Ek moes al self na ‘n ander vertrek in die huis gegaan het nadat een van daai winde uitgekom het. Dit ruik of daar iets dood is in die vertrek. Met die ander simptome gaan dit goed. Hulle is maar heeldag byderhand om die lewe maar moeilik te maak. Vanoggend het ek nogal baie seer. Skielik is dit seer van my bekkenbeen omgewing tot teen die ribbebene. Nogal snaaks. Gelukkig het ek darem pynpille. Maar ongelukkig is daar nie iets vir die moegheid wat so skielik op my afkom, of die gloede nie. Wanneer die goeters kom is dit maar net aanhou en uithou.

Dinsdag 21 Januarie 2014

Dinsdag 21 Januarie 2014

En so het nog ‘n paar dae verbygegaan. Die karoo is maar warm die tyd van die jaar, en wanneer daar hittegolf toestande heers is dit regtig warm.  Ons soek nou so ‘n bietjie reën en afkoeling. Die wereld raak nou droog, en die reën behoort ook die grond ‘n bietjie af te koel. Maar ek sien die voorspelling sê darem dat ons so ‘n kansie het op donderweer. Gister het daar so ‘n groot slag geslaan wat ek nie verwag het nie, en toe ons buite kyk is dit so ‘n paar wolke wat verbytrek sonder water wat so ‘n groot lawaai gemaak het. Sondag het ons ‘n baie lekker diens gehad. Dit was die eerste keer dat daar so baie mense was, en was dit my voorreg om die diens te lei. Ek het toe gepraat oor geregtigheid en die krag van die HERE. Lekker om te sien hoe liggies aangaan by mense wanneer jy die skrif vir hulle duidelik maak.

So ‘n uur of twee nadat ek Vrydag se stukkie geplaas het toe tref die ongerief my met mening. Die bloeddruk het geval en die volgende oomblik kon ek nie my arms oplig nie. Ek kon nie eers ‘n koppie met beide hande vashou om koffie te drink nie. My pols het gedaal tot net oor die veertig per minuut. Dit was nogal “scary”. Ek het toe maar gaan lê en so drie ure later kon ek dit toe weer waag om op te staan en te beweeg. Dit is maar een van die neweeffekte waarmee ek maar sukkel. Dit veroorsaak dat die bloeddruk baie wissel aangesien die hart nie bloed by al die dele van die liggaam nie kan uitkry. So ek vat dit maar rustig want om so ‘n “Carcinoid krises” deur te gaan is nie baie lekker nie. Wat blykbaar gebeur is dat die serotonin wat die gewas afskei veroorsaak dat die kleppe aan die regterkant van die hart ‘n aanpaksel kry soos ‘n mens se tanda plaak kry. Dit veroorsaak dan weer dat wanneer die hart klop, van die bloed weer terugvloei waar dit vandaan kom omdat die kleppe nie kan sluit nie en te min bloed gaan na waar dit eintlik moes gaan. Dit is veral geneig om te gebeur nadat ek op my hurke gesit het, of wanneer ek redelik lank rustiggesit of gelê het. Maar nou moet ek sê dat daar nie juis ‘n patroon is nie. Met die res van die simptome gaan dit goed. Dit pyn is maar altyd daar en wissel maar net in intensiteit, en soos vandag wil die bloed nie by die regter nier uitkom nie, so die ou nier is ook maar seer. Na die vorige diarieë is alles darem weer normaal. Dit is net die serotonin wat maak dat ek elke dag brandboude het.

Vrydag 17 Januarie 2014

Vrydag 17 Januarie 2014.

Ek sit nou lekker voor die waaier en skryf. Netnou toe ons gekyk het was dit al oor die 30 grade Celcius binne die kombuis, so ek week nie wat die temperatuur buite is nie. Gelukkig is ek nie in Melbourne nie. Esthee sê gister vir my dat dit nog 40grade was seweuur die aand toe ons gepraat het. Al wat ek weet is dat al die groentes se blare hang van die hitte. Maar dit lyk darem nie of dit die groente te veel benadeel nie. Hier teen vyfuur in die middag begin alles hulle koppe weer optel, en na ek hulle natgegooi het staan alles weer regop en lus vir die lewe. Ek kan net nogsteeds nie glo hoe vinnig die groente groei nie. Woensdag het ek vir ons skorsies gepluk, en toe ek vanoggend gaan kyk toe is daar al weer skorsies vir die volgende keer.

Ek en Hettie was gou dokter toe vanoggend en hy het toe die een pynpil se dosis verhoog vir my. So ek glo ek sal nou minder pyn hoef te verduur. Dit is nogal lastig wanneer die pyn jou kniehalter en jy nie kans sien vir alles wat jy vroeër kon doen nie. Gelukkig het ek nou rede om elke nou en dan ‘n bietjie te rus. Die dokter wat ek gesien het vanoggend sê vir my nadat ek hom nou vertel het wat aan die gang is dat een proffie vir hulle op universiteit gesê het dat daar ‘n ding is soos Carcinoid, en dat hulle maar moet oplees oor die kanker wanneer hulle ‘n pasiënt kry wat dit het, want hy kan nie verder daaroor uitwy nie. Daar is glo te min inligting tot hulle beskikking. Die apteker het toe ook eers weer met die dokter gaan praat oor die pynpil want dit is gewoontevormend van aard. Ek glo sy antwoord was maar dieselfde as wat die apteker by ons sel vir sy vrou gegee het. “Die man het dit nodig, so daar is nie ‘n ander opsie nie”. Verder het ek ‘n baie goeie week gehad. Die ou normale gloede, bloeddruk en pyn was daar, maar dit het nie alles oorheers nie.

Woensdag 15 Januarie 2014

Woensdag 15 Januarie 2014.


En daar is sommer nog ‘n hele paar dae verby. Geluk aan al die mammas en pappas en oupas en oumas wie se kroos weer vandag skool toe is. Ek is seker van die mammas is nou baie bly dat die vakansie verby is. Ek weet as kind het ons verseker nie uitgesien om terug skool toe te gaan nie, maar dit het maar redelik vervelig geraak hier teen die einde van die lang vakansie. Die karoo is maar warm en die afgelope week baie droog. Ek moet amper elke dag die orgidië twee keer op ‘n dag natgooi, anders gaan hulle skade kry. Maar met die groentes gaan dit goed. Die pattypans en skorsies groei so vinnig ek kan nie voor bly met die gebruik nie. Net as jy dink daar is nie vir vandag vars groente nie, dan sien ek dat daar vir die volgende week groente is, en alles moet gebruik word. Die spinasie groei so vinnig dat ek vandag die hele plant se blare afsny en oor ‘n week kan ek dit alweer doen. En dan sit jy met so 12 stoele spinasie.

Gesondheid die afgelope paar dae was nogal goed. Die diarieë is vir die oomblik oor, maar nou het dit omgesit in hardlywigheid wat weer pyn in die derm veroorsaak. Met my maatjie, die gewas, gaan dit goed tot redelik. Hy probeer darem nie meer die afgelope paar dae om alles te oorheers nie, en is redelik op sy plek en kla nie te veel nie. Die pynpille hou hom maar stiller. Hy kla baie in die aand as ek so half op hom lê, maar gelukkig wen ek altyd die geveg omdat die slaappil my uit sit en ek nie enige iets voel tot so 5 uur in die morê nie. Die omval storie is net erg. Hettie hou nogal daarvan want nou kry sy baie meer drukkies as in die verlede. Meeste kere is sy binne gryp afstand wanneer ek op my hurke sit en gou ‘n bossie uittrek in die tuin. Met die opstaan slag is dit wanneer die bloed net in die voete is en die kop net swart sien. Dit is dan wat ek maar gryp na enige iets wat my regop kan hou, of ek sak maar weer vinnig af na ‘n hurkende posisie.
Die gemoed is ook nogal goed die afgelope ruk. Ek voel ek kan sommer nog baie doen en sien nogal uit na elke dag om iets te kan doen, om te skryf, of sommer net lekker kos te maak en almal te bederf.

Vrydag 10 Januarie 2014

Vrydag 10 Januarie 2014.

En nou is die naweek oppad. Nie dat die verskillende dae ‘n impak op my lewe meer het nie. Gister is dieselfde as vandag, en is weer dieselfde as more. Ek let net die verskil op in die tye wat die winkels oop is. Dan weet ek darem ons moet Saterdag genoeg melk kry om te hou tot Maandag want die melkery is soos al die ander winkels behalwe die kafee toe op Sondag. So dit is maar hoe ons die dae ervaar.

Jana het gister en vandag ‘n bietjie by ouma en oupa kom kuier. Theuns was ook geboek om oor te slaap maar teen die tyd dat mamma moes terug ry plaas toe was sy tassie alreeds weer terug in die kar om saam met mamma terug te ry. Die kuiertjie was baie lekker. Ouma het lekker met Jana gespeel en haar besig gehou. Soveel so dat toe mamma bel om te sê sy is oppad, dat Jana vra of mamma nie bietjie later kan kom nie want daar was nog soveel wat ouma gesê het wat hulle nog moes doen. Gelukkig is daar altyd ‘n volgende keer om alles te probeer in pas, maar dit sal maar moet wag tot dit weer skool vakansie is.

Wat die gesondheid aanbetref is dit maar woes. Ek raak nie ontslae van die pyn in die sy nie, en dit het nou versprei na die  linkerkant van die buik ook. En dan is die ou pens ook aan die gang met diarieë. En die warmgloede wil ook nie ophou nie. Ek het nog Woensdagoggend saam met Hettie winkel toe gegaan, maar die afgelope twee dae was dit nie moontlik nie. Met elke tree wat ek gee voel dit of iemand ‘n dolk hier in my ingewande indruk en dan so ‘n lekker ou draai gee. En dan is daar die omval ook. Ek moet so stadig opstaan dat ek eers seker maak dat daar bloed in die kop is, dat dit vir my voel ek is nou oud. Maar dit gebeur ook sommer so terwyl ek sit of lê dat die bloed net wegraak.


Net so vir interesantheid. As gevolg van die raarheid van carcinoid sindroom is daar min gevalle studies beskikbaar, en verskil behandelings van een spesialis na die ander. Van die studies wat wel beskikbaar is, was chemoterapie suksesvol op gewasse van 10mm en kleiner. Dan word suksesvol gereken op ‘n beterskap van 32% van die pasiente. In die studie het chemo die gewas se groei gestuit, of selfs vernietig. Op groter gewasse, soos myne van 60mm+, is die kans baie skraal dat chemo enigsins kan werk. Die beste behandeling bly maar nogsteeds om die gewas of uit te haal, of sy massa te verminder. Ongelukkig vir my is myne op so ‘n plek waar daar geen kans op oorlewing is as hulle dit wil verwyder of probeer om die massa te verlaag nie. Verder veroorsaak die oormaat serotonin, (dit is wat die carcinoid sindroom in die eerste plek veroorsaak) wat die gewas afskei, dat ek heel moontlik nie eers narkose sal oorleef nie. So dit is maar ‘n siekte waaroor daar nog baie min navorsing gedoen is, en in die meeste gevalle is dit maar die pasiënt self wat moet besluit wat die behandeling is. Vir baie mense is oorlewing so belangrik dat hulle enige behandeling sal probeer, en vir ander moet die lewe maar sy loop neem.

Woensdag 08 Januarie 2014

Woensdag 8 Januarie 2014.


En daar is sommer nog twee dae verby. Ek is baie bly oor die reën die afgelope paar dae. Maandag sommer 17mm binne 20 minute, gister nog ‘n bietjie, en so terwyl ek hier nou sit het dit weer begin reën. Vanoggend het ek ons eerste pattypans gepluk, en môre is dit die skorsies se beurt. Dit is darem baie lekker om so jou eie ou groentetjie te kan eet.

Gisteraand het ons die jaar se selgroep byeenkomste by ons huis afgeskop. Dit wat ek gedink het ons oor gaan praat is toe glad nie bespreek nie. Ek moes omtrent bontstaan om al die antwoorde vir mense kon gee. Dit het net weer vir my gewys dat daar baie mense is wat nie weet wat in die Bybel staan nie. Soos die een persoon vir my sê het hy sy buurman ‘n vraag gevra oor ‘n onderwerp, en die sê toe vir hom wat sy standpunt is. Toe die persoon sy buurman vra waar dit in die Bybel gestaaf kan word toe erken die buurman dat hy nie eintlik die Bybel ken nie, want hy gaan kerk toe om te hoor wat die Bybel sê. Nogal interesant.


Met die gesondheid is dit maar nogsteeds op en af. Gister het ek seker net vir so ‘n halfuur leë blombakke reggepak en die skadunet in nuwe sakke gesit, toe oorverhit ek alweer. Soveel so dat ek ‘n koue stort gaan vat het en toe vir ‘n halfuur voor die waaier moes sit om weer normale temperatuur te bereik. Vanoggend was ons net winkel toe en terug toe is dit weer waaier tyd. Die ander simptome is maar altyd in die rondte. Die moeilikste een is maar seker die pyn. Soos vroeër vandag het dit gevoel dat met elke treë wat ek loop of iemand ‘n mes hier regs van die naeltjie insteek. En dan is die omval storie ook aan die gang. Vanoggend was Hettie gelukkig by my en het ek haar sommer skielik om die hals gaval toe ek opstaan van ‘n gebukkende posisie. Maar dit is ook sommer net lekker om haar ook ‘n lekker drukkie te gee.

Maandag 06 Januarie 2014

Die eerste week van 2014

Woensdag 1 Januarie 2014

En so begin ‘n nuwe jaar met nuwe dinge. Gisteraand was dit vir my maar woes. Selfs met my slaappil kon ek nie slaap nie. Gelukkig was die nuwejaar feeste maar afgewater hier by ons. Daar het so ‘n paar klappers afgegaan en een motorkar het met sy toeter aangery vir so tweehonderd meter. En toe is dit stil.

Van nuwejaarsdag weet ek nie veel nie. Ek moet sê ek hou nogal van die HERE se humorsin. Toe ek nie kon slaap die vorige aand nie het ek gevra dat ek net weer ‘n dag sal hê waar ek nie so pyn sal hê nie, en toe gebeur dit sommer die volgende dag. Net ek het nie gedink ek sal die dag om slaap nie, maar van pyn het ek toe nie geweet nie. Gisteraand was die pyn toe glad nie erg nie, maar was ek verskriklik gasvry. Sjoe dit het sommer net geborrel soos dit uitkom. Ek kon nie waag om anders te sit nie, want dan het al hierdie gasvryheid ontsnap. Ten spyte van die baie slaap in die dag het ek verbasend vinnig en lekker geslaap gister.

Donderdag 2 Januarie 2014

Vanoggend het nogal goed begin. Ek het net gevind dat ek so ‘n bietjie seer het waar die gewas is, maar verder was ek redelik. En toe besluit ek en Hettie om winkel toe te gaan. Nou lyk dit vir my of ek ‘n gasket of iets geblaas het, want ek bly net oorverhit. En dit is nogal lastig. Daar is gelukkig ook nogal baie min op die lysie om te doen vandag. Dit bestaan maar uit sit, en as ek moeg gesit is kan ek die waaier aansit en verder sit. Ek sal seker maar later vanmiddag weer die tuin natgooi soos elke vorige dag. Gelukkig is dit die plek waar die goeters gebeur. Ek kon Dinsdagaand die eerste keer van ons eie spinasie gaarmaak, en nou sal ons moet eet om voor te bly. Ek weet net nie wat ons met die skorsies, butternuts, komkommer en pattypans gaan maak nie, want elke saadjie het opgekom en nou rank hulle deurmekaar.

Saterdag 4 Januarie 2014.

Nou het ek eers weer tyd gemaak om ietsie neer te skryf. Vanoggend net weer uitgevind ons bly op ‘n klein dorpie. Ek en Hettie het winkel toe geloop en wou by die bank ingaan, toe vind ons uit dat die bank net een Saterdag ‘n maand oop is. So die banksake moet maar wag tot Maandag. En net ingeval julle dalk dink ek moet van bank verander, dit is die enigste bank wat nog ‘n tak het in ons ou dorpie. Al die ander banke het net ‘n ATM, met FNB s’n wat binne ‘n winkeltjie is wat amper niks aanhou nie, en sommer vroegdag al sluit.

Die groente gaan baie goed aan. Die pattypans se eerste drag begin al regkom, en die skorsies is al groter as golfballe. So dit is nogal lekker om te sien hoe die goed aangaan. Die weer is net erg die week. Gistermiddag vyfuur was die aanvoelbare temperatuur 36C. Snaaks genoeg kla almal oor die hitte wat ons die afgelope week gehad het, so dit is nie normale weer nie.

Die gesondheid is maar wisselvallig. Net as ek dink ek het ‘n goeie dag dan vind ek uit dit is nie een nie. Die afgelope paar dae was dit nogal rof, maar daar is darem pynpille wat ek kan drink. Wat ek uitgevind het is dat ek party dae nie die gloede so erg voel nie, maar toe vind ek uit dit is die dae wat die pyn ‘n bietjie erg is. En so gaan ek maar aan elke dag. ‘n Bed is gelukkig ‘n lekker ding waarop jy horisontaal kan verkeer tot jy beter voel, en dit doen ek nogal gereeld.

Maandag 6 Januarie 2014.

Die naweek is verby en dit bring ook ‘n nuwe week met nuwe dinge. Ons het darem so ‘n bietjie reen gehad gister, en dit het so effe afgekoel. Ek hoor gister by die diens dat mense wat al 38 jaar hier bly sê dit is die warmste wat hulle nog hier gehad het. So ek mag maar dink dit is warm.


Ek is seker ek het ‘n gasket geblaas iewers. Ek en Barney het vanoggend gou die stoorkamer/garage ‘n bietjie beter gepak, en toe oorverhit ek al weer. En ek het nie eers fisies gewerk nie. Ek het maar net gesê wat moet waar gaan. Verder is die gesondheid maar baie wisselvallig. Verlede week het ek amper nie winkel toe kon loop nie en het ek maar meeste van die tyd gerus. En dan het die ou simptome van diarieë ook nog kop uitgesteek. Met die ander ou simptome gaan dit goed. Hulle kom kuier maar gereeld ‘n paar keer per dag, en partykeer slaap hulle sommer oor. Gelukkig kan ek darem vir een van hulle pille drink om ‘n ruskansie te kry vir ‘n paar uur, of hom darem net te kry dat hy alles oorheers nie.