Dinsdag 28 Januarie 2014

28 Januarie 2014.

En so is nog ‘n week verby. Die week het ek dit maar baie stil en rustig gevat. Ek het darem elke dag die groentetuin nat gegooi, en redelik baie keer niks gedoen nie. Ek was maar bietjie moegerig gewees en het net een keer saam met Hettie winkel toe gegaan. Verder het ek maar die plante in die potte skoon gemaak net om uit te vind dat my een disa wat baie mooi geblom het, twee saadpeule gemaak het. Ongelukkig het die een klaar oop gemaak. Ek neem aan die saad is verlore want dit is ‘n baie fyn stof. Die ander saadpeul het ek darem gekry. So nou moet ek maar wag tot so middel Maart om te sien hoeveel ek aan die groei kan kry. Die saad vat so ses weke voor hulle ontkiem, en dan is die plantjie nie eers ‘n millimeter groot nie. Om die waarheid te sê is hulle so groot soos ‘n speld se punt. Verlede jaar het ek 15 plantjies gekry maar met die trekkery het almal gedooi. So ek hoop ek sal darem ‘n paar aan die groei kry.


Met die gesondheid is dit maar moeilik met tye. As dit nie diarieë is nie, voel dit of ek verstop is. En as die ou stelsel weer reg werk dan is dit weer brandboude. Ek het die afgelope week ook op ‘n nuwe verslag afgekom wat ‘n bietjie meer lig werp op wat al die newe effekte van die sindroom is. In die verlede het die meeste verslae net gewys oor wat die meeste voorkom, terwyl die nuwe verslag so ‘n paar ander simptome ook uitwys. Nou verstaan ek ook meer oor wat met my aan die gang is. Dit veroorsaak ontwatering, wat natuurlik tot die gevolg het dat ek baie toilet toe moet gaan om van die water ontslae te raak. Dit maak weer op sy beurt maak dat ek met ‘n droë mond rondloop en seker vyf keer per dag handeroom moet aansit want die vel op my hande en voete is ontsettend droog. En dan die ongemaklikste een is winde. Ek is seker as hulle my by ‘n protes optog loslaat sal al die mense uitmekaar spat as ek die dag winderig is. Ek moes al self na ‘n ander vertrek in die huis gegaan het nadat een van daai winde uitgekom het. Dit ruik of daar iets dood is in die vertrek. Met die ander simptome gaan dit goed. Hulle is maar heeldag byderhand om die lewe maar moeilik te maak. Vanoggend het ek nogal baie seer. Skielik is dit seer van my bekkenbeen omgewing tot teen die ribbebene. Nogal snaaks. Gelukkig het ek darem pynpille. Maar ongelukkig is daar nie iets vir die moegheid wat so skielik op my afkom, of die gloede nie. Wanneer die goeters kom is dit maar net aanhou en uithou.

Dinsdag 21 Januarie 2014

Dinsdag 21 Januarie 2014

En so het nog ‘n paar dae verbygegaan. Die karoo is maar warm die tyd van die jaar, en wanneer daar hittegolf toestande heers is dit regtig warm.  Ons soek nou so ‘n bietjie reën en afkoeling. Die wereld raak nou droog, en die reën behoort ook die grond ‘n bietjie af te koel. Maar ek sien die voorspelling sê darem dat ons so ‘n kansie het op donderweer. Gister het daar so ‘n groot slag geslaan wat ek nie verwag het nie, en toe ons buite kyk is dit so ‘n paar wolke wat verbytrek sonder water wat so ‘n groot lawaai gemaak het. Sondag het ons ‘n baie lekker diens gehad. Dit was die eerste keer dat daar so baie mense was, en was dit my voorreg om die diens te lei. Ek het toe gepraat oor geregtigheid en die krag van die HERE. Lekker om te sien hoe liggies aangaan by mense wanneer jy die skrif vir hulle duidelik maak.

So ‘n uur of twee nadat ek Vrydag se stukkie geplaas het toe tref die ongerief my met mening. Die bloeddruk het geval en die volgende oomblik kon ek nie my arms oplig nie. Ek kon nie eers ‘n koppie met beide hande vashou om koffie te drink nie. My pols het gedaal tot net oor die veertig per minuut. Dit was nogal “scary”. Ek het toe maar gaan lê en so drie ure later kon ek dit toe weer waag om op te staan en te beweeg. Dit is maar een van die neweeffekte waarmee ek maar sukkel. Dit veroorsaak dat die bloeddruk baie wissel aangesien die hart nie bloed by al die dele van die liggaam nie kan uitkry. So ek vat dit maar rustig want om so ‘n “Carcinoid krises” deur te gaan is nie baie lekker nie. Wat blykbaar gebeur is dat die serotonin wat die gewas afskei veroorsaak dat die kleppe aan die regterkant van die hart ‘n aanpaksel kry soos ‘n mens se tanda plaak kry. Dit veroorsaak dan weer dat wanneer die hart klop, van die bloed weer terugvloei waar dit vandaan kom omdat die kleppe nie kan sluit nie en te min bloed gaan na waar dit eintlik moes gaan. Dit is veral geneig om te gebeur nadat ek op my hurke gesit het, of wanneer ek redelik lank rustiggesit of gelê het. Maar nou moet ek sê dat daar nie juis ‘n patroon is nie. Met die res van die simptome gaan dit goed. Dit pyn is maar altyd daar en wissel maar net in intensiteit, en soos vandag wil die bloed nie by die regter nier uitkom nie, so die ou nier is ook maar seer. Na die vorige diarieë is alles darem weer normaal. Dit is net die serotonin wat maak dat ek elke dag brandboude het.

Vrydag 17 Januarie 2014

Vrydag 17 Januarie 2014.

Ek sit nou lekker voor die waaier en skryf. Netnou toe ons gekyk het was dit al oor die 30 grade Celcius binne die kombuis, so ek week nie wat die temperatuur buite is nie. Gelukkig is ek nie in Melbourne nie. Esthee sê gister vir my dat dit nog 40grade was seweuur die aand toe ons gepraat het. Al wat ek weet is dat al die groentes se blare hang van die hitte. Maar dit lyk darem nie of dit die groente te veel benadeel nie. Hier teen vyfuur in die middag begin alles hulle koppe weer optel, en na ek hulle natgegooi het staan alles weer regop en lus vir die lewe. Ek kan net nogsteeds nie glo hoe vinnig die groente groei nie. Woensdag het ek vir ons skorsies gepluk, en toe ek vanoggend gaan kyk toe is daar al weer skorsies vir die volgende keer.

Ek en Hettie was gou dokter toe vanoggend en hy het toe die een pynpil se dosis verhoog vir my. So ek glo ek sal nou minder pyn hoef te verduur. Dit is nogal lastig wanneer die pyn jou kniehalter en jy nie kans sien vir alles wat jy vroeër kon doen nie. Gelukkig het ek nou rede om elke nou en dan ‘n bietjie te rus. Die dokter wat ek gesien het vanoggend sê vir my nadat ek hom nou vertel het wat aan die gang is dat een proffie vir hulle op universiteit gesê het dat daar ‘n ding is soos Carcinoid, en dat hulle maar moet oplees oor die kanker wanneer hulle ‘n pasiënt kry wat dit het, want hy kan nie verder daaroor uitwy nie. Daar is glo te min inligting tot hulle beskikking. Die apteker het toe ook eers weer met die dokter gaan praat oor die pynpil want dit is gewoontevormend van aard. Ek glo sy antwoord was maar dieselfde as wat die apteker by ons sel vir sy vrou gegee het. “Die man het dit nodig, so daar is nie ‘n ander opsie nie”. Verder het ek ‘n baie goeie week gehad. Die ou normale gloede, bloeddruk en pyn was daar, maar dit het nie alles oorheers nie.

Woensdag 15 Januarie 2014

Woensdag 15 Januarie 2014.


En daar is sommer nog ‘n hele paar dae verby. Geluk aan al die mammas en pappas en oupas en oumas wie se kroos weer vandag skool toe is. Ek is seker van die mammas is nou baie bly dat die vakansie verby is. Ek weet as kind het ons verseker nie uitgesien om terug skool toe te gaan nie, maar dit het maar redelik vervelig geraak hier teen die einde van die lang vakansie. Die karoo is maar warm en die afgelope week baie droog. Ek moet amper elke dag die orgidië twee keer op ‘n dag natgooi, anders gaan hulle skade kry. Maar met die groentes gaan dit goed. Die pattypans en skorsies groei so vinnig ek kan nie voor bly met die gebruik nie. Net as jy dink daar is nie vir vandag vars groente nie, dan sien ek dat daar vir die volgende week groente is, en alles moet gebruik word. Die spinasie groei so vinnig dat ek vandag die hele plant se blare afsny en oor ‘n week kan ek dit alweer doen. En dan sit jy met so 12 stoele spinasie.

Gesondheid die afgelope paar dae was nogal goed. Die diarieë is vir die oomblik oor, maar nou het dit omgesit in hardlywigheid wat weer pyn in die derm veroorsaak. Met my maatjie, die gewas, gaan dit goed tot redelik. Hy probeer darem nie meer die afgelope paar dae om alles te oorheers nie, en is redelik op sy plek en kla nie te veel nie. Die pynpille hou hom maar stiller. Hy kla baie in die aand as ek so half op hom lê, maar gelukkig wen ek altyd die geveg omdat die slaappil my uit sit en ek nie enige iets voel tot so 5 uur in die morê nie. Die omval storie is net erg. Hettie hou nogal daarvan want nou kry sy baie meer drukkies as in die verlede. Meeste kere is sy binne gryp afstand wanneer ek op my hurke sit en gou ‘n bossie uittrek in die tuin. Met die opstaan slag is dit wanneer die bloed net in die voete is en die kop net swart sien. Dit is dan wat ek maar gryp na enige iets wat my regop kan hou, of ek sak maar weer vinnig af na ‘n hurkende posisie.
Die gemoed is ook nogal goed die afgelope ruk. Ek voel ek kan sommer nog baie doen en sien nogal uit na elke dag om iets te kan doen, om te skryf, of sommer net lekker kos te maak en almal te bederf.

Vrydag 10 Januarie 2014

Vrydag 10 Januarie 2014.

En nou is die naweek oppad. Nie dat die verskillende dae ‘n impak op my lewe meer het nie. Gister is dieselfde as vandag, en is weer dieselfde as more. Ek let net die verskil op in die tye wat die winkels oop is. Dan weet ek darem ons moet Saterdag genoeg melk kry om te hou tot Maandag want die melkery is soos al die ander winkels behalwe die kafee toe op Sondag. So dit is maar hoe ons die dae ervaar.

Jana het gister en vandag ‘n bietjie by ouma en oupa kom kuier. Theuns was ook geboek om oor te slaap maar teen die tyd dat mamma moes terug ry plaas toe was sy tassie alreeds weer terug in die kar om saam met mamma terug te ry. Die kuiertjie was baie lekker. Ouma het lekker met Jana gespeel en haar besig gehou. Soveel so dat toe mamma bel om te sê sy is oppad, dat Jana vra of mamma nie bietjie later kan kom nie want daar was nog soveel wat ouma gesê het wat hulle nog moes doen. Gelukkig is daar altyd ‘n volgende keer om alles te probeer in pas, maar dit sal maar moet wag tot dit weer skool vakansie is.

Wat die gesondheid aanbetref is dit maar woes. Ek raak nie ontslae van die pyn in die sy nie, en dit het nou versprei na die  linkerkant van die buik ook. En dan is die ou pens ook aan die gang met diarieë. En die warmgloede wil ook nie ophou nie. Ek het nog Woensdagoggend saam met Hettie winkel toe gegaan, maar die afgelope twee dae was dit nie moontlik nie. Met elke tree wat ek gee voel dit of iemand ‘n dolk hier in my ingewande indruk en dan so ‘n lekker ou draai gee. En dan is daar die omval ook. Ek moet so stadig opstaan dat ek eers seker maak dat daar bloed in die kop is, dat dit vir my voel ek is nou oud. Maar dit gebeur ook sommer so terwyl ek sit of lê dat die bloed net wegraak.


Net so vir interesantheid. As gevolg van die raarheid van carcinoid sindroom is daar min gevalle studies beskikbaar, en verskil behandelings van een spesialis na die ander. Van die studies wat wel beskikbaar is, was chemoterapie suksesvol op gewasse van 10mm en kleiner. Dan word suksesvol gereken op ‘n beterskap van 32% van die pasiente. In die studie het chemo die gewas se groei gestuit, of selfs vernietig. Op groter gewasse, soos myne van 60mm+, is die kans baie skraal dat chemo enigsins kan werk. Die beste behandeling bly maar nogsteeds om die gewas of uit te haal, of sy massa te verminder. Ongelukkig vir my is myne op so ‘n plek waar daar geen kans op oorlewing is as hulle dit wil verwyder of probeer om die massa te verlaag nie. Verder veroorsaak die oormaat serotonin, (dit is wat die carcinoid sindroom in die eerste plek veroorsaak) wat die gewas afskei, dat ek heel moontlik nie eers narkose sal oorleef nie. So dit is maar ‘n siekte waaroor daar nog baie min navorsing gedoen is, en in die meeste gevalle is dit maar die pasiënt self wat moet besluit wat die behandeling is. Vir baie mense is oorlewing so belangrik dat hulle enige behandeling sal probeer, en vir ander moet die lewe maar sy loop neem.

Woensdag 08 Januarie 2014

Woensdag 8 Januarie 2014.


En daar is sommer nog twee dae verby. Ek is baie bly oor die reën die afgelope paar dae. Maandag sommer 17mm binne 20 minute, gister nog ‘n bietjie, en so terwyl ek hier nou sit het dit weer begin reën. Vanoggend het ek ons eerste pattypans gepluk, en môre is dit die skorsies se beurt. Dit is darem baie lekker om so jou eie ou groentetjie te kan eet.

Gisteraand het ons die jaar se selgroep byeenkomste by ons huis afgeskop. Dit wat ek gedink het ons oor gaan praat is toe glad nie bespreek nie. Ek moes omtrent bontstaan om al die antwoorde vir mense kon gee. Dit het net weer vir my gewys dat daar baie mense is wat nie weet wat in die Bybel staan nie. Soos die een persoon vir my sê het hy sy buurman ‘n vraag gevra oor ‘n onderwerp, en die sê toe vir hom wat sy standpunt is. Toe die persoon sy buurman vra waar dit in die Bybel gestaaf kan word toe erken die buurman dat hy nie eintlik die Bybel ken nie, want hy gaan kerk toe om te hoor wat die Bybel sê. Nogal interesant.


Met die gesondheid is dit maar nogsteeds op en af. Gister het ek seker net vir so ‘n halfuur leë blombakke reggepak en die skadunet in nuwe sakke gesit, toe oorverhit ek alweer. Soveel so dat ek ‘n koue stort gaan vat het en toe vir ‘n halfuur voor die waaier moes sit om weer normale temperatuur te bereik. Vanoggend was ons net winkel toe en terug toe is dit weer waaier tyd. Die ander simptome is maar altyd in die rondte. Die moeilikste een is maar seker die pyn. Soos vroeër vandag het dit gevoel dat met elke treë wat ek loop of iemand ‘n mes hier regs van die naeltjie insteek. En dan is die omval storie ook aan die gang. Vanoggend was Hettie gelukkig by my en het ek haar sommer skielik om die hals gaval toe ek opstaan van ‘n gebukkende posisie. Maar dit is ook sommer net lekker om haar ook ‘n lekker drukkie te gee.

Maandag 06 Januarie 2014

Die eerste week van 2014

Woensdag 1 Januarie 2014

En so begin ‘n nuwe jaar met nuwe dinge. Gisteraand was dit vir my maar woes. Selfs met my slaappil kon ek nie slaap nie. Gelukkig was die nuwejaar feeste maar afgewater hier by ons. Daar het so ‘n paar klappers afgegaan en een motorkar het met sy toeter aangery vir so tweehonderd meter. En toe is dit stil.

Van nuwejaarsdag weet ek nie veel nie. Ek moet sê ek hou nogal van die HERE se humorsin. Toe ek nie kon slaap die vorige aand nie het ek gevra dat ek net weer ‘n dag sal hê waar ek nie so pyn sal hê nie, en toe gebeur dit sommer die volgende dag. Net ek het nie gedink ek sal die dag om slaap nie, maar van pyn het ek toe nie geweet nie. Gisteraand was die pyn toe glad nie erg nie, maar was ek verskriklik gasvry. Sjoe dit het sommer net geborrel soos dit uitkom. Ek kon nie waag om anders te sit nie, want dan het al hierdie gasvryheid ontsnap. Ten spyte van die baie slaap in die dag het ek verbasend vinnig en lekker geslaap gister.

Donderdag 2 Januarie 2014

Vanoggend het nogal goed begin. Ek het net gevind dat ek so ‘n bietjie seer het waar die gewas is, maar verder was ek redelik. En toe besluit ek en Hettie om winkel toe te gaan. Nou lyk dit vir my of ek ‘n gasket of iets geblaas het, want ek bly net oorverhit. En dit is nogal lastig. Daar is gelukkig ook nogal baie min op die lysie om te doen vandag. Dit bestaan maar uit sit, en as ek moeg gesit is kan ek die waaier aansit en verder sit. Ek sal seker maar later vanmiddag weer die tuin natgooi soos elke vorige dag. Gelukkig is dit die plek waar die goeters gebeur. Ek kon Dinsdagaand die eerste keer van ons eie spinasie gaarmaak, en nou sal ons moet eet om voor te bly. Ek weet net nie wat ons met die skorsies, butternuts, komkommer en pattypans gaan maak nie, want elke saadjie het opgekom en nou rank hulle deurmekaar.

Saterdag 4 Januarie 2014.

Nou het ek eers weer tyd gemaak om ietsie neer te skryf. Vanoggend net weer uitgevind ons bly op ‘n klein dorpie. Ek en Hettie het winkel toe geloop en wou by die bank ingaan, toe vind ons uit dat die bank net een Saterdag ‘n maand oop is. So die banksake moet maar wag tot Maandag. En net ingeval julle dalk dink ek moet van bank verander, dit is die enigste bank wat nog ‘n tak het in ons ou dorpie. Al die ander banke het net ‘n ATM, met FNB s’n wat binne ‘n winkeltjie is wat amper niks aanhou nie, en sommer vroegdag al sluit.

Die groente gaan baie goed aan. Die pattypans se eerste drag begin al regkom, en die skorsies is al groter as golfballe. So dit is nogal lekker om te sien hoe die goed aangaan. Die weer is net erg die week. Gistermiddag vyfuur was die aanvoelbare temperatuur 36C. Snaaks genoeg kla almal oor die hitte wat ons die afgelope week gehad het, so dit is nie normale weer nie.

Die gesondheid is maar wisselvallig. Net as ek dink ek het ‘n goeie dag dan vind ek uit dit is nie een nie. Die afgelope paar dae was dit nogal rof, maar daar is darem pynpille wat ek kan drink. Wat ek uitgevind het is dat ek party dae nie die gloede so erg voel nie, maar toe vind ek uit dit is die dae wat die pyn ‘n bietjie erg is. En so gaan ek maar aan elke dag. ‘n Bed is gelukkig ‘n lekker ding waarop jy horisontaal kan verkeer tot jy beter voel, en dit doen ek nogal gereeld.

Maandag 6 Januarie 2014.

Die naweek is verby en dit bring ook ‘n nuwe week met nuwe dinge. Ons het darem so ‘n bietjie reen gehad gister, en dit het so effe afgekoel. Ek hoor gister by die diens dat mense wat al 38 jaar hier bly sê dit is die warmste wat hulle nog hier gehad het. So ek mag maar dink dit is warm.


Ek is seker ek het ‘n gasket geblaas iewers. Ek en Barney het vanoggend gou die stoorkamer/garage ‘n bietjie beter gepak, en toe oorverhit ek al weer. En ek het nie eers fisies gewerk nie. Ek het maar net gesê wat moet waar gaan. Verder is die gesondheid maar baie wisselvallig. Verlede week het ek amper nie winkel toe kon loop nie en het ek maar meeste van die tyd gerus. En dan het die ou simptome van diarieë ook nog kop uitgesteek. Met die ander ou simptome gaan dit goed. Hulle kom kuier maar gereeld ‘n paar keer per dag, en partykeer slaap hulle sommer oor. Gelukkig kan ek darem vir een van hulle pille drink om ‘n ruskansie te kry vir ‘n paar uur, of hom darem net te kry dat hy alles oorheers nie.