Saterdag 27 Augustus 2016

Saterdag 27 Augustus 2016

En so is ‘n hele paar weke weer verby. ‘n Hele klomp besoeke hospitaal toe en terug vir toetse, en gedurende die tyd tussen die besoeke weer by Su-Hannie op die plaas gekuier. Nou is ons weer terug by ons huis, en nou kan ek maar weer aangaan met dit wat ek geniet. Dit is nou maar om my tuin reg te kry vir die somer, en dan nie veel meer te doen nie, behalwe om te skryf. Ek maak so 'n paar veranderings aan Teologie vir Jan Alleman om dit makliker en meer leesbaar te maak, en sal maar weer op Facebook laat weet wanneer ek klaar is.

Die uitslae van al die toetse was nie altyd wat ek graag wou hoor nie, maar dit is maar wat dit is. Die been scan het so ‘n paar verrassings ingehou. Die regter sleutelbeen is nie goed nie want die kanker het maar daarheen versprei en dit is wat die pyn daar veroorsaak. Dit is sommer so ‘n groot kol op die scan. Dan is daar ook twee ribbes wat lyk of hulle ook uitsaaïngs het, een aan die linker en die ander aan die regterkant. In albei gevalle is dit die onderste ribbebene.

Dan is daar kolle op die nek aan albei kante, en een agter die regteroor wat hulle ook opgetel het. Soos ek verlede keer genoem het sukkel ek maar met “extreme rumatoid arthritus”, so dit is hoekom ek nie meer so soepel is soos vroeërjare nie. Die ou proffie wou nog toetse voorstel maar die chirurg wat ek gesien het, het nie eers by die opsie uitgekom nie. Die prof wou nog dat hulle ‘n octreoscan gedoen het om te sien wat natuurlike “wear en tear” is en wat kanker is, maar die koste beloop so R38000 vir die toets, en soos die chirurg ook sê dit is maar al medikasie wat hulle my kan gee teen dieselfde koste per maand, en siende dat ek ‘n staatspasiënt is sal dit nie goedgekeur word nie.

Die eerste dokter wat ek by chirurgie gesien het het nie juis vertroue ingeboesem nie. Hy het na die CT Scan gekyk en toe sien ek hy kyk na die een van drie jaar gelede. Toe sê hy hy kan seker na die DVD kyk wat al die x-strale bevat, maar toe weet hy nie hoe om dit te doen nie. Ek moes hom toe eers wys hoe om dit op die rekenaar aan die gang te kry. Toe moet ek nou eers nog die regte studie vir hom kry want hy sien toe net die buik s’n en nie die bors nie. Uiteindelik het ek hom gekry dat hy weet dat hy nou na my bors kyk. Ek het by Su-Hannie se huis deur die DVD gewerk, maar ek is nou nie ‘n radioloog nie, so ek verstaan die basiese maar nie die detail nie. Ek weet die donker is weefsel en die been wys wit. Nou sien ek goed (kolle) op die plaat hier in die middel van die regter long en vra vir hom wat dit is. Dan kry jy die antwoord dat dit ‘n aar is. Dit maak net nie sin dat jou longe wat vol are is net so hier en daar ‘n kolletjie het wat are is nie. Toe ek hom vra waar die hoof gewas en limfnode is toe wys hy na ‘n area, net ek kon dit nie raak sien nie.

Uiteindelik het die dokter Black die chirurg gekry wat belowe het hy sal my sien by die kliniek, en toe vra hy my wat ek nou eintlik wil weet. Toe ek nou met my vrae begin is sy antwoord elke keer dieselfde. Jy het Carcinoid kanker en dit is wat dit veroorsaak, om die waarheid te sê, was hy baie verbaas die vorige week toe hy my gesien het toe hy die gastroskopie moes doen, want hy het gedink ek is lankal oorlede.

So het ons dag toe maar geëindig, met geen nuwe oplossings of raad nie. Ek het darem meer gekry as wat ek twee maande plus vir die HERE gevra het. Ek het gevra dat ons net weer ‘n CT scan kan doen, en toe kry ek sommer ‘n been scan by, so verseker meer as wat ek gevra het. Nou is dit maar net elke dag, soos in die verlede, aangaan en Sy beeld na almal om my uit te straal sodat die HERE se naam daardeur verheerlik kan word.

Met die res van die huishouding gaan dit goed. Hettie sukkel soos ek maar hierdie jaar met griep, maar dit sal hopelik een van die dae agter die rug wees. Met Esthee en haar baba gaan dit goed. Sy het netnou gesê sy is Maandag 12 weke so dan is haar eerste trimester verby. Sy het nogal ‘n goeie uitdrukking gebruik. Sy sê haar gemoedstemming is nou soos Melbourne se weer. As jy nie van die weer nou hou nie, gee 30 minute kans en dan is dit heel anders. So Francois weet darem wanneer daar donker wolke is of wanneer die son skyn.

Met Jana en Theuns het dit baie goed afgeloop by hul Eistedfod. Jana het sommer ‘n paar sertifikate met triple goud gekry vir viool, Engelse voordrag en Engelse lees. Soveel so dat van die beoordeelaars wou weet of sy by die regte groep ingedeel was. Toe sê sy vir hulle dat sy Engels kon lees voordat sy Afrikaans kon lees, want sy moes dit kon doen vir die ses maande wat hulle in Engeland was terwyl Bani op ‘n projek daar gewerk het. So tussen hulle het Jana so 7 sertifikate gekry en Theuns 3. So hulle albei sien uit na Maandagoggend se saal byeenkoms om hul sertifikate te kan kry. Verlede jaar het hulle haar onder die Engelse kinders ingedeel en het sy toe nogsteeds goud gekry, maar die jaar het die skool dit reggekry dat haar huistaal Afrikaans is, al klink sy nou nie juis soos ‘n karoo dogtertjie wat Engels praat nie. Dit sal enige oupa sommer trots maak.

Bani self was vir ‘n week darem by die huis maar gaan alweer Maandag vir ‘n week Cameroon toe vir ‘n projek waar hulle aan werk, so Su-Hannie is nou weer alleen op die plaas.

Dan begin die weer darem beter te word. Dit raak nou regtig lekker buite, maar met die ou huise is dit maar nogsteeds koud binne al is dit buite warm. En ons huisie kry net oggend son so dit vat maar tyd om op te warm.

En dan was dit ons troudag herdenking en my verjaarsdag ook nog. So dit is darem lekker om terug te kan kyk en te sien jy is nog net so lief vir jou vrou as wat jy 45 jaar terug was. En dan is haar ondersteuning vir my net absoluut wonderlik. Sy verstaan my, weet wanneer ek af is, goed voel, of watter bui ek ookal in is deur net na my te kyk. Dan kom sy sommer met die regte diagnose, of dit nou nierpyn, warm gloede, dermititus of wat ookal is. Kan maar net dankie sê vir die HERE dat Hy ons twee saam gevoeg het. Hy het presies geweet wat ek nodig het, en wat sy nodig het.

So tot volgende keer. Geniet elke oomblik wat die HERE jou die geleentheid gee om Sy dissipel te wees.


Al weet ek vandag die paadjie wat voorlê is maar donker met geen uitdraaipaaie nie, weet ek wel dat daar dalk nie meer lig op hierdie aardse paadjie is nie, maar weet ek dat daar ‘n heerlike heilige lig wag aan die einde van hierdie pad vir my. En vir die wat my ondersteun op die pad, baie dankie, julle weet nie wat dit vir my beteken nie. My lied vir vandag kom van Scott Wesley Brown. Hy het dit geskryf nadat hy ‘n groot operasie moes ondergaan. https://www.youtube.com/watch?v=BOZKc8CyaaQ

Dinsdag 09 Augustus 2016

Dinsdag 9 Augustus 2016

Dit was nogal ‘n hele paar weke gelede wat ek laas iets laat weet het. Die groot rede is maar dat daar werklik min nuus is. Die winter het regtig kwaai koue gebring, maar net so ‘n bietjie sneeu die een dag. Dit was vroeg die oggend en teen 11 uur was alles weg, toe het net die berge om ons nog wit gelê. Dit is maar ‘n mooi gesig met ons dorpie wat so tussen die berge lê. Daar is werklik nie een kant wat nie berge het nie, so wanneer dit regtig sneeu hier by ons is dit prentjie mooi. Barney het ook die oggend laat weet dat al die paaie in en uit Steynsburg gesluit was. So hulle was baie stil by hul werk ook tot later die dag toe mense weer gewaag het om te ry.

Maar soos alles is daar ook maar negatiewe aan verbonde. Sodra die sneeu smelt is alles so ‘n modderige spul dat jy nie weet waar om te trap nie. En ons dorp het net drie teerpaaie. Die grootpad wat deur die dorp loop, Kerkstraat wat al die besighede en die Gereformeerde Kerk het, en dan die straat wat uitgaan na die plase aan die suide van die dorp en by die skool verby gaan. Die res is maar grondpaaie en ‘n groot gemors na reën en sneeu.

Dit wil lyk of die maksimum temperature nou begin klim. Dit is nou maar min dat die maksimum onder 8 grade is, en die minimum verder as -4 gaan. Maar jy weet nooit wat die volgende week dalk inhou nie. Twee jaar gelede het dit op 31 Augustus baie gesneeu, so ek praat maar nie te vinnig nie. Vanoggend was weer een van daardie -5/-6 oggende gewees. Selfs ons slaapkamer venster was heeltemal opgewasem, so groot was die verskil in temperatuur tussen binne die huis en buite op die stoep.

Die gesondheid is maar soos gewoonlik. So ‘n paar dae waar ek nogal redelik voel en kans sien vir baie, en dan skielik vind jy uit jy het nie krag om dit te doen nie. Hettie het Vrydag hier ‘n paar roos stokke aangedra wat ek moes steggies van maak, en waar ek gister gedink het ek kan sommer gou 18 sakkies reg kry, vol grond maak, groei hormoon aanmaak en die steggies plant wat ek al Saterdag reggesny het, vind ek toe uit dat ek eers so vir twee ure moes rus voordat ek kon klaar kry. Dit vat nogal aan ‘n mens as jy uitvind dat net sulke ou klein goetjies so lank kan vat om te doen. Soos my perske boom wat ek seker die week sal moet klaar snoei. Ek is darem nog net ‘n week en ‘n half besig met hom, so ek sal dit seker teen Vrydag klaar kan kry.

En dan het ons so ‘n groot verrassing gekry wat my sommer opgewonde laat uitsien vir volgende jaar. Esthee en Francois in Melbourne verwag hul eerste kindjie. Sy het so ‘n paar weke gelede uitgevind sy is swanger alhoewel hulle dit glad nie verwag het nie. So nou sal ons nog in die maand uitvind of dit ‘n seuntjie of dogtertjie is wanneer hulle van die vrugwater trek en na die kromosone kyk.

Dit gee vir my sommer weer soveel om voor te lewe dat ek die enetjie ook nog sal kan sien. En terwyl jy nog na iets uitsien, kan die gesondheid maar maak wat hy wil, ek weet ek kan sommer nog baie veg om die volgende klompie maande te kan oorleef.

Dan het ek ook gewerk aan ‘n boek wat ek al baie jare gelede geskryf en vertaal het, maar nou eers as ‘n nuwe boek op my webtuiste wil sit. Dit handel maar oor my gunsteling onderwerp en dit is hoe om dissipels van Jesus te maak. Die boek se naam in Afrikaans is “Teologie vir Jan Alleman”, waar ek maar probeer om dit so maklik as moontlik vir almal te stel waaroor Christenskap gaan. Dit sal seker so teen Vrydag in beide Afrikaans en Engels op my webtuiste wees waar mense dit gratis kan aflaai. So hou maar my bedienings blog en Facebook dop.

En dan is dit volgende week weer Bloemfontein toe vir al die laaste toetse, en dan die week daarna sal ons al die uitslae kry en weet wat vir my voorlê. Ek weet dat ek maar sukkel met die bors wat aanhoudend voel of ek nie genoeg asem kry nie, so ek neem aan die drie limfnodes het gegroei en begin nou maar die asemhaling aan te tas, en dan het die groot limfnode in die buik die dikderm beetgekry en trek hom nader wat maak dat ek partymaal sukkel met wat mense sal klassifiseer as hardlywigheid maar ek kan sien dat dit maar een van die tentakels is wat die derm beet het en nader trek.

En dan sal ons ook hoor waarheen die ou kanker nog versprei het na aanleiding van verledemaand se toetse. Sover weet ek dat dit wel na die skelet besig is maar waar weet ek nie alles nie, alhoewel as ek volgens pyn moet oordeel is dit maar na orals waar ek al bene gebreek het, soos die sleutelbeen, die ribbebene aan albei kante wat ek die linkerkant met krieket en die regterkant met rondspeel saam met Su-Hannie op die waterglyplank gebreek het toe ons nog in beheer was van Doxa Deo in Brooklyn Pretoria se karavaanklub en uitreiking.

So ons gaan nou volgende week weer plaas toe en kom dan eers die dag voor my verjaarsdag terug sodat die geskil met die bure agter die rug kan kom. Die finale datum is nou vir die 26e van die maand. So ons vertrou dat sy dan sal ophou met haar stories.

So tot volgende keer, geniet die lewe en maak elke dag tel. Soos gewoonlik gee ek maar weer ‘n skakel na een van my gunsteling liedere wat my elke dag ondersteun.



Through it all – Booth Brothers