Woensdag 18 Mei 2016

18 Mei 2016 Groete van die plaas af.

En so is daar weer ‘n hele paar weke verby. Die koue het gekom om te bly, en na die naweek waar daar baie sneeu meer na Natal se kant geval het, het ons nog nie weer ‘n warm dag gehad nie. So ‘n paar oggende darem bokant 4C gedraai, maar die swart ryp het al kom kuier, en vir so ‘n paar oggende daarna het die minimum so by -4C gedraai. My gras was binne 3 dae geel, so dit help darem met die instandhouding van ons tuin.

Ons kuier so ‘n bietjie op die plaas die week en verlede naweek en sal weer Maandag huistoe gaan. Su-Hannie skryf gedurende die paar dae, vandag, Vrydag en Maandag eksamen, en nou is die kinders ook nog siek. Nogal ‘n strawwe program om ma te wees, plaas te bly en nog regte te studeer.Ek is regtig baie trots op haar. Ek het ook al sommer so ‘n bietjie geleer, veral met inheemse wetgewing, en dan goed wat ek mee gewerk het voor ek moes ophou soos boedelbeplanning, trusts en alles wat ‘n finansieële adviseur maar mee werk. Hettie was saam met die kinders Bloemfontein toe Maandag vir hulle optrede by die Eistedfodd en het hulle met ‘n A en A+ huistoe gekom. So die kinders geniet die viool speel baie.

Met die ander projekte wat ek wou aanpak het ek maar besluit om nie mee aan te gaan nie. Alhoewel dit na aan my hart lê moet ‘n mens maar ook berus by dit wat jy kan doen, teenoor dit wat jy nog graag wou doen. So ek sal maar nie verder gaan met die twee goed vir Carcinoid pasiënte nie, want ek moet maar sorg dat daar so min as moontlik stres in my eie lewe is, want dit is seker een van die grootste bydraers van newe effekte van die siekte. Ek sukkel genoeg met net die ou gewas en sy invloed in my lewe dat ek nog myself moet blootstel aan ander se probleme ook. Die gewas doen mos maar net wat hy wil en het ek maar besluit om maar self so nou en dan ekstra pyn medikasie te vat aangesien die ou lewer en niere al klaar sukkel, so om nog te dink aan newe effekte op die twee organe teenoor pyn, wen pyn elke keer, en is die newe effekte maar ‘n bysaak.

So terwyl ek nou skryf luister ek na een van die liedjies wat my nogal na aan die hart lê. So kliek maar hier om daarna te luister en te kyk. Dit is ‘n vraag waat ons maar almal het. Maar ek dink my antwoord daarop is “Ja, ek glo so”. En dan is daar nog een wat 'n mens ook oor wonder 


So hoe voel ek deesdae? Dit is ‘n vraag wat ek nie eers mee aan dink deesdae nie. Ek staan maar op, stort, eet en doen waarvoor ek kans sien, en dan rus ek maar. Vir my is rus baie maal lees. Lees oor die ou siekte sodat ek meer kan leer en weet hoe om op te tree wanneer sekere goed gebeur, en dan maar meeste van die tyd oor ander gelowiges se standpunte, en of ek gate daarin sien of nie. Dit is maar wat my besig hou, want dan leer jy nog meer oor die HERE en hoe Hy werk. Ek luister nie juis ander preke nie, want ongelukkig met die internet vandag is meeste boodskappe van vandag is iemand anders se boodskap wat dit op die internet geplaas het, so daar is maar min oorspronklike werk. En dan kry jy mos maar al hierdie “goed vol” ouens van die internet, wat net ‘n boodskap bring om mense se ego’s te streel en hulle geld te vat. So het ek nou die dag op een van die ouens se youtube boodskap uitgelig hoe hy die mense mislei en toe skielik word kommentaar gesluit op die boodskap. Dit was ‘n wêreld bekende ou wat skielik saam met ander gepraat het oor hoe die antichris hom op 5 Mei sou ontbloot, en toe skielik is dit verander op 6 Mei na 30 Augustus toe. Toe ek gaan soek op Google hoeveel mense videos en preke het oor die antichris wat op 5 Mei sou kon verlede week, was daar meer as 166,000 valse predikers. Hulle het almal hulle opskrifte verander na 30 Augustus, maar nooit hulle “tags” verander nie. Ek het nou net weer die datum opgesoek en nog steeds meer as 371,000 verwysings op Google gekry. So my eerste soek was dalk verkeerd of het ek dalk verkeerd onthou.

So dit is maar my lewe. So moenie jou geloof bou op wat jy lees of hoor van die preekstoel af nie. Die enigste manier om die HERE werklik te ken is om Sy Woord, die Bybel te ken en die Heilige Gees se openbaring van die Bybel in jou lewe te ken. Hy werk met elke persoon op sy eie vlak, dit wat jy verwag. Hy gee altyd, elke dag vir ons dit wat ons nodig het.