Dinsdag 28 Maart 2017

Dinsdag 28 Maart 2017

Hier by ons begin die weer te verander. Soos ek hier sit vandag weet ek nie of dit warm of koud is nie, want die oggende is die temperatuur al klaar hier by 4 of 6 grade C. Dit sit so ‘n byt in die oggendlug, en dan is daar so ‘n skraal windjie wat so regdeur jou probeer waai. So dit lyk of ons op pad is vir ‘n vroeë winter wat ook koud gaan wees.

Gelukkig het ons redelik reën gehad en is daar in die distrik plekke wat oor die 600mm reën van Januarie af gehad het. Van die plaas damme, gronddamme, in die omgewing het ook maar meegegee en is selfs ‘n gedeelte van die dorp oorspoel toe die wal van ‘n dam net bokant die dorp uiteindelik meegegee het.

Met Hettie gaan dit fisies baie goed. Haar operasie se wonde het fantasties genees, maar sy het ook ‘n plaaslikke persoon gehad wat haar gehelp het. Die dame wat by die ouetehuis werk, het gespesialiseer in wond behandeling voor sy hier by ons aangekom het, so dit was nooit eers ‘n probleem om te dink wat moet ons maak nie. Sy was maar net altyd daar en het Hettie onder hande geneem en selfs vandag nog kom sy so elke nou en dan in om te kyk of ons nog olie aansit om die wond beter te laat lyk. Hettie het haar eerste chemo agter die rug en volgende Maandag is dit haar tweede een. Volgens die wat weet is dit dan wanneer die hare begin uitval en het sy klaar gesê dan steek sy maar die knipper voor in en trek hom agter uit. Sy het dit moeilik gehad vir die eerste paar dae maar deesdae voel sy redelik goed. Sy hou tot my dop sodat ek nie probeer om te veel goed te doen op ‘n dag nie, so alles is reg. Dit is maar ‘n moeilike tyd wat vir haar voorlê, maar ons weet gelukkig dat ons krag nie uit ons self is nie, maar uit die HERE wat alle krag besit. Die mense in die dorp kan nie glo dat ons, maar meer net sy, die dorp volloop van winkel na winkel elke dag. Volgens hulle moet ons albei in die bed wees en siek lyk. Ongelukkig is dit nie een van ons twee se kenmerke nie.

Self is dit maar moeilik. Dan het ek ‘n paar goeie dae, en dan skielik kom daar net ‘n insinking en is ek regtig niks werd nie. Dan sit ek maar soos nou in die sitkamer sommer met die rekenaar op my skoot en skryf. En gelukkig het ek nogsteeds daardie gawe van die HERE waar Hy soveel goed vir ‘n mens net oopmaak. En dit partykeer sonder dat ek eers vra dat Hy my sal wys hoe om gedeeltes te interpreteer.

So het ek dan vroeër vandag ook klaar gemaak met my jongste stuk oor die boek van Romeine. Daar is sovele mense wat sovele verskillende teologiese standpunte daar uitgehaal het oor die eeue dat dit maar moeilik was om daaroor te skryf. Vir die een is die een gedeelte belangrik en vir die ander een is dit weer ‘n ander gedeelte, en dan kyk ek maar op die Christelike forums op die internet en staan jy verstom hoeveel verskille daar uit een sin kan uitvloei. En dan wonder ek maar net stilweg hoe is dit moontlik om almal te kry om te glo in die boodskap van geregtigheid wat die Bybel vir ons skets as ons nie eers oor een sin kan saamstem nie.

So ek het maar die boek op my webtuiste gesit en sal seker later die week begin met die vertaling daarvan in Engels. Gewoonlik is dit op die ou einde ‘n oorskryf eerder as ‘n vertaling, want om idiome te vertaal is partykeer maar moeilik. U kan dit hier gratis aflaai.

So, die naweek is ons weer op die plaas en ry ons Maandag vroeg deur Bloemfontein toe om agtuur daar te wees vir Hettie se volgende chemo en vir my CTscan. Dan slaap ons oor en sal ek Dinsdag middag uitvind wat hulle beoog met my, of hulle iets kan doen of nie. Al wat hulle maar kan doen is probeer om die gewas kleiner te kry sodat hy minder seretonin en histamien in my ligaam pomp, en dalk kyk of die regterkant se hartklep nog reg funksioneer en of dit die oorsaak is van my moegheid. Indien hulle net so ‘n bietjie meer spasie kan maak sal dit ook help, want dit is nogal ongemaklik om na elke maaltyd eers toilet toe moet gaan om plek te maak vir dit wat jy nou net geëet het, en om die pyn so ‘n bietjie te laat daal, so van ‘n nege na ‘n sewe sal nogal baie help. En dan is daar die uitsaaïng na die kop wat maak dat my regteroor doof is, en dat die kliere by my kake altyd seer is, so asof ek pampoentjies het. Gelukkig het dit darem nie die nagevolge van pampoentjies nie, want dit moes ek deurgaan toe die kinders van die skool af met pampoentjies huis toe gekom het.

Hettie het ook vir my ‘n stut gemaak wat ek nou kan gebruik in die kar sodat my nek nie so seer word nie. Die ou RA is seker een van die pynlikste goed wat ‘n mens kan kry, veral wanneer dit jou amper ‘n uur in die oggende vat om aan die gang te kom, en die vingers nie meer goed wil vashou of vat nie. Of die skaniere, die heupe en die knieë wat so seer is dat ek partykeer wonder wat nou die ergste pyn veroorsaak, die RA of die kanker. Ek weet nie meer nie.

Gelukkig kan ons nog die lewe saam verder gaan, en is ons daar vir mekaar. So tot ons weer gesêls, groete vanuit Steynsburg.

Die lied wat ek vandag na verwys pas so by dit wat ek en Hettie voel is partykeer nodig om werklik te weet wie jou verlosser is.


Woensdag 08 Maart 2017

Woensdag 8 Maart 2017

Dit is nogal ‘n hele rukkie gelede wat ek laas iets gedeel het. Om die waarheid te sê het ek glad nie in Februarie iets gedeel nie, maar tog was daar baie goed wat gebeur het. Ons was al weer terug by ons huis, weer op die plaas by Su-Hannie hulle, en is al weer terug by ons huis. En dan gaan ons Sondag alweer plaas toe.

Hettie se operasie wonde is so 99% gesond, so dit is baie goeie nuus. Ons was toe Maandag by onkologie en hulle wil baie goeters doen. Vir Hettie sal sy volgende Maandag uitvind wanneer haar chemo begin. Sy moet seskeer gaan is dit elke drie weke uit mekaar. So dit is dan 18 weke van chemo. Daarna volg ‘n maand van bestraling van Maandag tot Vrydag, elke dag vir die maand. So indien hulle nou begin hoop ons sy sal so teen einde Augustus of begin September seker klaar wees met die storie, en dan is dit maar verdere toetse om te sien dat hulle alles kon dood kry. Haar kanker was baie agressief, so alhoewel hulle alles kon verwyder, weet hulle nie hoeveel nog in die bloed en beenmurg gebêre is nie.

Self moet ek ook weer onder die mes deurloop om “debulking” te doen van die gewas sodat my lewens kwaliteit kan verbeter. Dit sal baie goed wees as hulle die klok so ‘n paar jaar kan terug draai vir my. Maar, dan is daar die Rheumatiod Arthritus wat maar baie moeilik is. Die rug is so swak dat hulle bang is dat van die werwels kan breek en net so met die nek. Daaraan kan hulle nou nie juis iets doen nie. Wanneer dit sal wees sal ek nog oor moet besluit aangesien Hettie nou die grootste prioriteit is. Vir my kan ek maar seker aangaan totdat sy klaar is en dan sal ek gaan sodat sy my dan weer kan bystaan. Om albei dieselfde tyd behandeling te kry sal nie werk nie, want wie gaan na wie kyk.

Dan het Esthee en Francois so ‘n verrassing gekry toe klein Lars 4 weke vroeg sy opwagting gemaak het. Hy is te oulik en nou op 3 weke weeg hy al 3 Kg. Maar hy gee hulle soveel vreugde en dit is iets wat ek en Hettie nie gedink het ooit sal gebeur nie. Esthee en Francois het net so ‘n groot verrassing gehad toe sy verlede jaar in Julie uitgevind het sy is swanger.

Daar is een groot ligpunt en dit is dat dit Januarie begin reën het en dat jy nie kan glo hoe die natuur verander het nie. Waar verlede Desember net grond was, staan die gras kniehoogte, en damme soos by Smithfield wat vir seker 5 maande leeg was loop oor. Die groot dam op die plaas het baie water bygekry en hopelik sal die boorgate ook begin herstel. Dit het ook gemaak dat ons darem nie nou meer elke dag moet sukkel met die lokasie se bokke en beeste in die tuine op die dorp nie, want daar is weiding in die veld. Ons het hier so net oor die honderd millimeter gehad en op die plaas trek hulle oor die 200 mm. Daar is van die plase in die omgewing wat meer as 400mm gemeet het. Die een boer het nou die dag vir Barney gesê dat sy pa wat nou al 92 jaar oud is, sê dit was nog nooit so droog nie, maar ook dat dit nog nooit so baie gereën het wat hy van weet nie.Almal verwag egter ‘n baie koue winter met baie sneeu. So ons sal maar sien.

Die video wat ek graag deel vandag is een wat nogal baie na aan my hart lê. Dit is ‘n ou lied, maar pragtige opname.