Saterdag 24 Oktober 2015

Saterdag 24 Oktober 2015

Na ‘n week op die plaas is ek en Hettie weer by die huis. Bani (skoonseun) was weg vir besigheid en Su-Hannie het twee vraestelle gehad om te skryf, so toe kon ons bietjie sorg dat sy genoeg tyd kry om te leer. En dan was Theuns se konsert en jaarafsluiting ook Dinsdagaand gewees, hy gaan nou mos graad 1 toe in 2016, maar ek het maar by die huis gebly.

En natuurlik was dit lekker om op die plaas te kuier. Al was die weer nogal lekker lyk dit vir my ek het my liefde vir swem verloor. Hulle swembad is al baie warm met die seil op, seker lag lag hier laat twintigs, maar ek het nie eers lus gevoel om te swem nie. Ons het wel twee middae gesit ek kyk hoe die kleintjies swem maar ek het nie eers gevoel om swemklere aan te trek nie. En al die jare was ek die voorbok as dit by swem gekom het. Maar so het dit maar met meeste goed gebeur.

Gelukkig is die plaas nie kuier nie, want ons is so tuis dat dit half voel of ek daar bly want ek kan maak soos wat ek by die huis maak sonder dat ek voel dat ek moet voorgee dat ek nie seer het of moeg is nie. Almal praat maar van ons kamer as oupa en ouma se kamer. Eintlik is dit seker die gastekamer, maar niemand praat van die gastekamer nie.

Ek het selfs probeer om ‘n bietjie by ander mense te kuier of soos gister saam met Hettie dorp toe te gaan, maar die volgende dag betaal ek maar vir die vorige dag se kapperjolle.

So die gesondheid is maar moeilik. Alhoewel die diarieë baie beter is, is dit maar omtrent al wat beter is. My gemiddelde besoeke is darem nou af na so tussen 8 en 16 keer per dag toilet toe, en die winde is meer beheers. Daar is maar dae wat ek soos ‘n blaasoppie lyk en voel, maar wanneer die winde uit is sien ek vir baie kans, maar het nie die krag om iets te doen nie. Maar dit is maar die pyn wat nou versprei het na die linkerkant van die buik toe ook, die lewer wat maar seer bly en die regter nier wat nou selde nie meer voel of iemand probeer om dit lewendig met ‘n mes uit te sny of net te steek nie. 

En dan kuier ons nogal baie met Esthee oor die foon en internet in Melbourne. Sy is nou besig met ‘n projek om nuwe sagteware by hulle staat(provinsie) se hospitale te implementeer en geniet dit verskriklik baie. Vinnig uitgevind dat dit baie lekkerder is as projekbestuurder as om tegniese skrywer handleiding na handleiding te skryf en te verseker dat die goed werk soos wat die spesifikasies dit uitgestippel het. Nou sien sy ook baie van die platteland in Australië. Die een dorp wat sy nou mee besig is het ‘n rivier wat in die middel van die dorp deurloop. Die rivier is ook die skeidslyn tussen twee state, so die dorp het twee name, een vir die een staat en een vir die ander staat.

Die weer is nou regte Karoo weer. Warm in die dag maar tog koel dit baie af in die aand. Die reen is net skaars.


Tot volgende keer.

Donderdag 01 Oktober 2015

Donderdag 1 Oktober 2015 Dit is nou amptelik lente, voel net nie so nie.


Snaaks om te dink my pa sou more 97 jaar oud wees. Maar ongelukkig het hy net 66 gehaal. So my kinders ken nie een van hulle oupa’s nie. Hulle ander oupa is al oorlede to Barney net 18 maande oud was en nie een van die dogters was toe al gebore nie. Hulle kan darem vir Ouma Hannie onthou want dit was hulle enigste grootouer waarmee hulle grootgeword het.

Met ons hier in die Karoo hou ons maar uit. Dit het skielik van winter die Vrydag, met sneeu op die hoë pieke, verander na somer, met temperature van in die dertigs binne drie dae. Vandag is dit weer koel hier op die plaas met die temperatuur hier by die lae 12’s, terwyl dit eergister seker 33 geslaan het.

Die week kuier ons weer op die plaas en gaan more weer terug huistoe. Theuns se laaste kleuterskool konsert was Maandagaand, so oupa en ouma moes kom kyk. Volgende jaar is dit regte skool, so ons kon nie die laaste kleuterskool konsert mis nie. Dit was net te snaaks om die outjie te sien dans met sy arm nog om die nek vas, maar gisteraand het hy darem al sonder die “sling” geslaap. So eersdaags het hy weer vergeet dat die arm met drie penne vasgesit was vir ses weke.

Die ou lyf weet nie wat hom getref het Saterdag nie. Ek moes ‘n troue waarneem waar die bruid sommer ‘n uur laat was, maar toe ek by die huis kom was ek poegaai. En so is dit nog die hele week. So dit is regtig nie lekker om te voel of daar ‘n dolk hier in jou lewer gesteek word nie, en dat jy soos Sondagaand, so tussen 9 uur en 5 uur Maandagoggend, oor die twintigkeer toilet toe moes gaan met diarieë nie. Die afgelope paar aande was dit beter, maar die dae is maar nogsteeds dieselfde. Ek dink ek weet nou al waar elke patroon op elke teel is in die toilet. En dan maak die diarieë dat jy nie krag het nie. So ek verkeer maar rustig, skryf so ‘n bietjie, seker meer vertaal, en hou my so besig.

Gelukkig is die groot skryf werk agter die rug. Vir die wat wil kan hulle my eboek oor Openbaring – Die openbaring van die Openbaring van Johannes - die naweek by Amazon Kindle gratis aflaai by http://www.amazon.com/gp/product/B015FUB238?*Version*=1&*entries*=0 . Indien jy wil sien waaroor dit gaan kan jy so ‘n bietjie rondblaai deur die eerste paar bladsye. Al wat jy moet doen is om die voorblad van die boek te druk. Dit gee jou so ‘n kort voorskou en sluit die hele indeks in. Albei eboek en gedrukte boek is op die skakel beskikbaar. Die gedrukte een is nie gratis nie.

Die wat nie weet hoe om die eboek af te laai nie of nie ‘n eboek leser sagteware het nie, kan my maar net epos by louwrens@shama.org.za en dan stuur ek die eboek vir julle in PDF formaat. Die boek is eintlik maklik om te verstaan as jy net die regte begin of sleutel kry, maar baie mense glo ongelukkig eerder wat iemand anders vir hulle opdien as wat hulle self gaan kyk wat daar staan.

Met al hierdie voorspellings rondom die vier bloedmane en mense wat voorspel het dat daar ‘n wegraping moet wees en dat dit glo op 24 September sou plaasvind, gee my boek ‘n heel ander opsomming van wat al gebeur het, en wat nog gaan gebeur. Ons moet onthou dat die Bybel is geskryf vir Christene en dat dit nie gaan oor fortuin vertellings nie. Ek wonder hoeveel mense wat John Hagee se boek oor die vier bloed mane gekoop het nou uitgevind het dat hy hulle met ‘n slap riem gevang het en miljoene dollars gemaak het met sy stories, hom nou gaan aanvat oor sy leuens. Hy self verklaar dat hy 80 miljoen volgelinge het, maar nou wonder ek net of daardie 80 miljoen mense weet wat Moses gesê het oor vals profete. “Maar die profeet wat so vermetel is om ‘n woord in my Naam te spreek wat Ek hom nie beveel het om te spreek nie, of wat in die naam van ander gode spreek, dié profeet moet sterwe. En as jy in jou hart sê: Hoe sal ons die woord weet wat die HERE nie gespreek het nie? — as die profeet in die Naam van die HERE spreek, en wat hy gesê het, gebeur nie en kom nie uit nie, dan is dit die woord wat die HERE nie gespreek het nie; deur vermetelheid het die profeet dit gespreek; jy mag vir hom nie bang wees nie.”(Deu 18:20-22) Net vroeër in die hoofstuk word die volk selfs beveel om so ‘n persoon dood te maak. So dit is nogal moeilik.

Maar ons sal maar seker soos gewoonlik niks doen nie. Die ou het seker maar dit net met iets anders verwar, en nou kan hy mos nog 80 miljoen boeke verkoop om te verduidelik wat hy eintlik gesê het. Maar die skrywers en leraars wat hom en sy gespuis aanvat, is mos maar die wat net jaloers is omdat hulle nie soveel geld maak nie.


Gelukkig weet ek waar ek gaan wees wanneer ek my kop finaal neerlê. ‘n Plek waar ek dink nie baie van hierdie geldmakers gaan wees nie.