Sondag 31 Januarie 2016

Sondag 31 Januarie 2016

En so kom ons aan die einde van die eerste maand van die nuwe jaar. Vir die mense wat werk of studeer is meeste seker alreeds weer gewoond aan die normale roetine. Ek moet sê vir my is dit maar vandag is dieselfde as die vorige dag en seker ook dieselfde die volgende dag. Dit is nogal snaaks wanneer Hettie vir my sê dat ons moet alles by die winkels kry voor daar nie geld in die ATM’s is nie, en die winkels leeg gekoop is nie. Dan besef ek eers dit is einde van die maand, en dit beteken net ‘n deurmekaarspul.

Die weer is so halfpad terug na normaal toe, behalwe dat ons nog kan doen met baie reën. Ons het so twee weke gelede ‘n lekker 50mm binne ‘n paar uur gehad en dit het so ‘n skielike effek op alles gehad dat jy amper nie kan terug dink aan die begin van die maand toe ons elke dag met 42C gesukkel het nie en niks gegroei het nie. My gras is sommer oornag weer groen, en moes sommer vinnig weer gesny word. By ons agterdeur is daar so ‘n stuk daisylawn wat regdeur die jaar groen is. Nie die ryp of sneeu kry dit dood nie, maar dit was ook weg, en binne ‘n week na die reen weer grasgroen. Ons kan maar natgooi met kraanwater soveel ons wil, maar die reen uit die Vader se hand laat sommer net alles groei. Ek hoop ons kry hierdie naweek weer reen want dit is sommer vinnig weer droog. En die boere se damme is nog leeg. En my roos steggies groei mooi, sommer baie van hulle het al geblom, maar nou is dit oorplant tyd na grote bakke om dan in September reg te wees vir die tuin. En dit is ‘n missie.

Ek weet oorspronklik was my rede vir die skrywe om almal te laat weet hoe dit met my en my geveg gaan teen hierdie snaakse kanker. Deesdae voel ek nie meer lus om dit te doen nie, want dit maak my sommer morbied. Jy word wakker en lê in die bed of sit op die bank en dink jy gaan nou al hierdie goed doen en dan het jy nie die krag om eers op te staan nie. En waar die pille nog gehelp het vroeër, werk hulle nogsteeds, ek dink, maar dit vat nie meer die pyn weg nie. Die ou regter nier voel heeltyd of iemand my met ‘n dolk steek, en is dit regtig moeite en baie seer om my lyf te buig om iets agter my te sien. So as ek stil raak is dit maar omdat ek nie juis iets kan sê nie.

Gelukkig het ek ‘n vroulief wat my bystaan en my toelaat om nog goed te doen wat ek regtig wil, maar ook streng genoeg is om my te keer wanneer ek goed wil aanpak wat ek nie meer kan doen nie. Dankie tog daarvoor. En dan is ons twee nog steeds beste vriende, en iemand wat jou vang wanneer jy val en bystaan wanneer jy nie meer moed het om aan te gaan nie. En dit geld na allbei kante.

Donderdag 14 Januarie 2016

14 Januarie 2016 En so begin 'n nuwe kalender jaar vir almal.

En so het nog ‘n nuwe lewensjaar vir ons almal begin. ‘n Jaar wat baie verrassings nog gaan inhou, maar ook ‘n jaar waar elkeen van ons anders gaan eindig as wat die jaar mee begin het. Hoekom? Elke dag bring nuwe goed vir ons voort, en sal ons heel moontlik besluite neem en wanneer ons terug kyk met die inligting tot ons beskikking dan, ons dalk heel ander besluite sou neem. Indien ons nie groei hierdie jaar nie, is ons of alreeds dood of besig om te sterf, want waar daar lewe is, moet daar groei wees.

Vir ons was dit ‘n baie rustige tyd gewees, lekker by vriende en familie gekuier, en baie keer net rustig verkeer. Veral met die temperatuur hier in die Karoo was dit partykeer al wat ons kon doen, want met temperature van 40+ elke dag vir meer as twee weke na mekaar, was dit regtig moeilik om iets te doen. Waar Desember gewoonlik ‘n maand is waar alles groei het ek net in die begin van die maand my grasperkie eenkeer gesny, en toe nooit weer tot verlede week nie, en toe was dit net om die gedeeltes waar my blomtuin en groente tuin was wat ek elke dag moes natgooi. Ten spyte daarvan was my sweet corn ‘n mislukking want ek het 4 koppe van 22 plante gekry, en dan was die grootste kop 10cm lank. Hettie was juis vanoggend by Oom Willem se begrafnis hier by die ouetehuis wat verlede week oorlede is nadat hy sonsteek opgedoen het. Sy was ook vanoggend by die gebedsgeleentheid wat gereël was vir reën, beide vir nog en om dankie te sê vir dit wat ons die afgelope twee dae gehad het. Sy het dit baie geniet. Sy sê jy kon die HERE se teenwoordigheid voel, veral toe die manne wat daar was die Onse Vader gesing het, en geharde boere die trane afgevee het. Die vrouens het glo ook gesing maar die mans het hulle vêr oorheers.

Gelukkig kon ek my vertaling van my boek oor Openbaring na Engels klaar kry, en het ek ook die tyd gebruik om die video opnames wat ek gemaak het van my boek oor die verbond na YouTube op te laai vir mense om na te kyk en te geniet en hopelik te leer. Ek het dit as ‘n “playlist” op gestel en bestaan uit 9 individueele videos, en dit is in ‘n spesifieke volgorde opgesit aangesien jy nie sommer sal verstaan wat in nommer 9 aangaan as jy nie die voorafgaande gedeelte gekyk het nie. Die playlist is by https://www.youtube.com/playlist?list=PL4uenUs3KsehcBxvUCAL0exc9F5H0zTce en sluit goed in soos my eie getuienis, en begin met ‘n inleiding wat ek eers verlede week opgestel het. So mense wat wil sien hoe ek nou lyk kan maar gaan kyk. Gedeeltes is opgeneem voor my operasie in 2014 en dan is daar so ‘n paar stukke aangesit na my operasie, en sal mense sommer kan sien dat ek so 20kg verloor het gedurende die tyd. Dit gee ook die redes waaroor ek skryf en spesifiek oor die redes hoekom ek so skryf oor die verbond en soos my laaste boek oor Openbaring.

Wat die gesondheid aangaan wil ek nie graag baie uitwei nie aangesien dit maar nie goed is nie. Dinge wat 2 maande nog die uitsondering was, is nou ‘n daaglikse gebeurtenis, en pyne wat darem beheerbaar was met medikasie is nou so dat die medikasie nie meer help nie. Die gewas druk so stadig maar seker die hoofbloedvat na die lewer en ander organe heeltemal toe en waar die regternier en lewer so elke nou en dan gekla het is dit nou ‘n aanhoudende klaery en het die linkernier maar besluit dat hy ook kan begin kla.

So gaan geniet maar die videos, wys dit vir jou vriende as jy wil en saamstem, of ignoreer dit maar indien jy anders geleer is, die keuse is joune. Ek is aan die einde van my paadjie hier op aarde en het klaar my keuse gemaak en geboekstaaf. Lekker dag verder.