Vrydag 23 September 2016

Vrydag 23 September 2016

En so het vier weke verby gegaan voordat ek weer iets laat weet. Wel, dit voel regtig nie soos vier weke nie, maar wanneer jy nie meer elke dag moet werk nie, verloor jy partykeer maar tred met watter dag van die week dit is.

By ons het die lente gekom, al die bome is of was oortrek van die blomme, en toe weer so ‘n vinnige koue maar gelukkig het dit nie veroorsaak dat die bome die blomme afgegooi het nie. So die gras slaan so kol kol groen uit, en die rose wil nou net uitgeplant word. Nou vir die wat weet hoe groot ons stukkie grond is, sal julle verstaan wanneer ek sê dat ek ‘n probleem het om 50 rose uit te plant. Maar waar daar ‘n wil is, is daar altyd ‘n weg. So die tuin sal so ‘n bietjie verander en ‘n bruggie of twee kry, en die tuin sal maar net moet groter word. Ek het alreeds probleme met die wortels van die rose wat onder uitgroei, so die week wat kom en seker die een daarna sal Andries maar moet kom werk. (Dit is nou die tuinjong).

Dit is lekker om die lente in die tuin en weer te sien, maar ongelukkig ervaar ek dit nie in my lewe nie. Om die waarheid te sê is die winter nog volstoom aan die gang. Dan sukkel ek met diarieë, dan met hardlywige diarieë, dit is nou wanneer ek so ‘n bietjie verstop is, en so gaan ons maar aan. Die arms en bene begin al klaar te juk so ek weet nie hoe hulle die somer gaan lyk nie want ek juk mos op plekke sonder rede. Dan is daar maar altyd die stryd hier in die ingewande oor wie nou watter parkeer plek het. Die niere kla dat die gewas hulle plek wil vat, en so ook die lewer. En dan blaas ek op soos ‘n blaasoppie vissie, en dan kla alles oor spasie.

Dan gaan al die kleppe oop wat moet oop en loots ek myself van die toiletsitplek af en na die spul sit ek en moet ek maar rus, want dan het al die ou lewe saam met die turbo lading ontsnap. Maar dan word alles weer rustig en kan ek weer aangaan vir ‘n paar ure, en dan is dit maar weer dieselfde ou geveg van voor. Partydae raak dit erg as die kleppe nie wil oop nie en ek vir drie dae moet loop met alles wat net plek soek of net wil uit, maar die derm wil nie saamwerk nie. Dan is dit nogal moeilik.

Maar dan ontplof alles weer en keer dit weer na die normale siklus toe terug. Dit is maar net moeilik om so te kyk na alles wat jy wil doen en weet jy het nie die krag om dit te doen nie. Dan dink jy nog jy kan goeters doen of saamstap winkels toe, en vind jy uit jou ou enjin wil dit nie doen nie. En dan wanneer ek by die huis kom voel ek hoe onfiks ek werklik is aangesien alles, arms, bene voete en hande, net dorings het omdat die spiere suurstof soek en nie genoeg kry nie.

Dan word die uitsaaïngs elke dag groter as voorheen, en dit is nou die wat ek kan voel, en wonder ek maar net wat gebeur met die wat ek nie kan voel nie. Maar genoeg oor die negatiewe. Ek lewe nog en kan net bly wees dat ek ‘n familie het wat baie ondersteunend is, en maar net daar is vir my. Gelukkig weet ‘n mens ook dat die HERE altyd daar is vir jou, en vind ek maar dat ou Paulus seker maar ook soos ek gevoel het so nou en dan. Broeders, ek bid julle, word soos ek, want ek is ook soos julle. Julle het my geen onreg aangedoen nie; maar julle weet dat ek ten gevolge van krankheid van die vlees die eerste keer die evangelie aan julle verkondig het; en julle het my beproewing in my vlees nie verag of verfoei nie, maar julle het my ontvang as ‘n engel van God, ja, as Christus Jesus.” (Gal 4:12-14)

Gelukkig hou ek myself maar besig met skryf, want my kop is nog 100%, en redenasie is maar my sterkpunt. So dit maak en hou die lewe interessant. Dan lees ek maar wat ander se opinies is oor hedendaagse kwessies is veral in die Kerk, en dan vind jy dat mense wat die Bybel so kan aanpas dat dit hul siening regverdig, maar nie strook met die res van die Bybel nie. En dan vind ek skielik dat ek ‘n stuk lees, of in die Bybel of kommentare, en skielik is dit agt bladsye later voordat ek die saak uitgeredeneer het. Maar dit is maar wie ek is en hang maar nou saam met my agtergrond en opleiding. Ek het dit nogal baie geniet om na ander persone se programmeering te kyk en te probeer verstaan. Ek moes eers in hulle kop klim om hulle denkrigting te verstaan, en dan was dit altyd maklik om veranderings of regstellings te maak. Of om met ‘n persoon te gaan sit wat weet wat prakties gebeur, en dit dan op ‘n rekenaar te doen. Dit is maar hoe ek mense standpunte oor Bybelse onderwerpe ook benader, en vind ek somtyds dat ek nie die persoon se logika kan volg nie, en dan is dit maar moeilik om dit te weerlê of die foute uit te wys want dit is net ‘n gebabbel sonder enige denke. Die grootste probleem wat ek gewoonlik vind is maar die relevante gebruik van die Bybel. Die versie kan baie sê, maar wanneer jy dit in geheel sien, is dit ‘n perd van ‘n ander kleur. En ons mos deesdae versie Christene. Ons moet net altyd ‘n versie hê om te deel of om ons standpunt mee te verdedig.

Die week het Hettie se suster en dié se dogter, nog ‘n Hester, so een dag gekuier hier by ons en oorgeslaap. Goed om hulle te sien maar Vienie raak maar oud en dit begin te wys. Ons verwag maar dat wanneer sy nou weer by die ouetehuis in Joubertina kom dat sy na die siekeboeg sal gaan en nie meer toegelaat word om in haar woonstel te bly nie. Op 82 moet jy maar aanvaar dat ander mense namens jou besluite moet neem. Sy besef darem ook nou dat indien sy val sal die mense dit dalk eers die volgende middag uitvind en kan dit te laat wees. Net vir die wat nie weet nie sy het al ‘n paar ligte beroertes gehad wat nou deesdae hulle invloed al hoe meer wys.

Soos gewoonlik sluit ek maar af met ‘n skakel na ‘n lied. Dit is seker die bekendste Psalm onder alle mense, maar verseker die mooiste bereiming wat ek in al my jare gehoor het.

Groetnis tot volgende keer.