Maandag 15 Februarie 2016

Maandag 15 Februarie 2016

En daar is sommer nog twee weke verby. Ek weet met my laaste skrywe het dit nie juis goed gegaan nie, maar dan skrik die ou kanker en gee my weer ‘n bietjie van ‘n blaaskans. Hettie spot my juis vandag dat ek vir mense sê dit gaan goed maar eintlik gaan dit nie so goed nie, maar vandag kan ek werklik sê ek het ‘n paar goeie dae agter die rug. Op ‘n manier is die bloedvloei tussen die dunderm en die lewer beter, en maak dit die regter nier gelukkiger en sommer ook beter voel. Ek weet ook daar is baie gebede wat vir my opgaan, so dankievir elkeen

Waar ek twee weke gelede soos ‘n ou man gaan sit het en nie geweet het hoe om te sit sonder dat my regter nier verskriklik seer was nie, sit ek nou die afgelope paar dae sommer gemaklik. Die seer is nog daar, maar die pille verdoof dit darem, so dan voel ‘n mens sommer soos iemand anders.

En ‘n mens raak maar ook gewoont aan sekere goed en dan pla dit nie meer so nie. En dit gee sommer weer baie moed om aan te gaan met die lewe. Nou is dit nie meer ‘n berg wat voor jou lê nie maar sommer net so ‘n ou hoogtetjie. Nou moet ek darem byvoeg wat vir my nou dalk lyk en voel soos ‘n hoogtetjie kan dalk vir iemand anders lyk soos die Drakensberge, dit hang maar van jouself af. Ek het maar geleer om nie altyd die volle probleem in die oog te kyk nie maar net die gedeelte waarvoor ek kans sien, en dan skielik voor jy jou kan kry is jy oor die berg wat voor jou gewees het. Dit is nie dat ek in ontkenning leef nie, maar na die afgelope 20 jaar plus met hierdie kanker weet ek wat vir my werk.

En sodra jy fisies beter voel dan lig jou hele gemoed.  So het ek verlede week weer aan ou Petrus van die Bybel gedink en iets wat hy kwytgeraak het in sy tweede brief, en toe ek my weer kan kry was die skrywer in my sommer weer vinnig aan die gang en dan vergeet jy van wat rondom jou aangaan. So ek wil so oor die volgende paar dae elke dag so ‘n ietsie pos op my ander blog oor die agt deugde wat Petrus vir ons uit lig wat ons sal help in ons lewe hier op aarde, maar wat ook ewigheidswaarde vir ons inhou.

Geniet die res van die maand wat voorlê en ek bid regtig vir al ons mense wat deur hierdie droogte geraak word, dat die HERE vir mens en dier sal voorsien dat daar reën sal kom nie net om die grond en damme vol te maak nie, maar dat die veld ook kan herstel voor die winter kom. Seën vir elkeen.


Die eerste gedeelte van my gedeelte oor Petrus se deugde kan julle hier kry: http://shamaministries.blogspot.com.tr/2016/02/die-agt-deugde-van-die-mees.html