Woensdag 23 April 2014

Winter vandag Woensdag 23 April 2014

En daar het ons weer winter vandag. Die koue het so skelmpies tussen 9:00 en 10:00 hier aangekom. Vroegoggend het ek gedink die voorspelling mag dalk verkeerd wees, maar toe kom die koue wind hier aan. Die tyd van die jaar is die weer mos maar wisselvallig. Al wat ek weet is dat ons vandag se weer in Junie/Julie gekry het, dit dalk teen die tyd wit buite gewees het. Dit is sulke regte kapok wolke vandag, maar dit is nog ‘n bietjie warm, nie dat 9 grade juis warm is nie.

Self gaan dit maar baie wisselvallig, soos die weer. Verlede week het ek regtig gesukkel met diarieë. Daar was so ‘n hele paar dae wat ek nie aan die maag kon raak nie, en was hy so opgeblaas dat my hemde gespan het oor my maag. Nou is dit darem beter, maar dit beteken maar net dat die hemde nie meer so span nie en dat ek nie so baie seer het nie. Die een geluk van die seer maag is dat ek nie baie rondbeweeg nie, en dit maak dat ek nie moeg word nie. En wanneer dit so seer is, pla die hittegolwe nie so baie nie.

Hier by ons is daar sedert verlede week weer 2 persone oorlede, een tannie van die ouetehuis, en ‘n boer van hier tussen ons en Burgersdorp. So weet nie een van ons wat more gaan gebeur nie.

Ek kan nou amper nie meer wag vir die 5de nie want dan kom Esthee kuier en sal ons almal saam by Su-Hannie op die plaas wees.

Dinsdag 15 April 2014

Dinsdag 15 April 2014 terug by die huis.


Na ‘n lekker naweek by Su-Hannie hulle is ons weer by die huis. Vandag is net koud en renerig. Laat my skoon voel of ek weer in Jeffreysbaai is, want daar was die weer wat ons vandag het, winter. Ons het darem so amper 10mm reën gehad en dit lyk of ons nog kan verwag. Ek het so afgekoel dat ek skoene moes aantrek en nie met sandale kan rondloop nie. Ek het sommer ook ‘n baadjie aan.

Die naweek het ons lekker gekuier. Die kleinkinders was baie bly om ons te sien en dit het nogal gehelp sodat ma en pa hulle aandag by die winkel kon vestig. Vrydagaand het vier diewe by Su-Hannie se winkel ingebreek en het hulle maar ‘n moeilike tydjie deur gegaan, veral vir Bani wat die nag in die winkel moes waghou sodat ander diewe nie hulle self kom help aan die winkel se voorraad nie. Gelukkig het die bure gehoor toe die voorste venster gebreek het en was die polisie net om die draai en kon hulle 3 van die 4 voorkeer, en amper al die gesteelde goed terug kry wat die inbrekers net om die draai van haar winkel af weggesteek het. Die klomp het sommer haar mandjies gevat en hulle gesteelde worsies en ander vleis daarin gedra. Op die ou einde het hulle net met ‘n pak okkerneute weg gekom, en is hulle weer opgesluit. Hulle is glo net ‘n week of wat vroeër vrygelaat sodat hulle paasnaweek by die huis kan wees, en nou sit hulle alweer in die tronk.

Gesondheids gewys is dit maar seer. Net toe ek dink my ou groot pens is nou weg toe raak die ingewande weer kwaad vir my en nou lyk ek of ek verwagtend is. Die enigste baba wat daarin is is ‘n meneer van ‘n pyn. Dit sal nou seker weer ‘n paar dae vat om af te blaas en dan behoort ek weer ‘n paar goeie dae te hê. Dit is maar hoe diarieë is. Maar liewer dit as wat alles verstop is. Ek was gisteraand verbaas dat ek weer so ‘n kwaai bronchospasma aanval gehad het. Dit is ‘n pyn wat net bokant die maag begin en dan kramp die hele sluk derm van onder na bo. Ek onthou die eerste keer toe dit gebeur het het ek gedink dit is ‘n hartaanval want dit is hoe ek gedink het dit moet voel. Gelukkig het ek gegaan vir stres EKG’s en alles en kon hulle niks opspoor nie. Ek het eers verlede jaar uitgevind dat bronchospasma een van die gevolge van carcinoid sindroom is. Na twee glase koue water is die pyn toe weg, maar dit laat ‘n mens nogal skrik.

Ek het nou net by Hettie gehoor dat daar drie persone die naweek oorlede is terwyl ons weg was. Die omie van die supermark is glo verlede Vrydag oorlede, dan ‘n ou tannie van die oue tehuis op 97, en dan een van Hettie se studente by die oue tehuis op 69. Dit wys maar net weer hoe vinnig die lewe kan eindig. Groete

Dinsdag 08 April 2014

Dinsdag 8 April 2014

Vandag is dit weer ‘n baie lekker Karoo herfsdag. Daar is so ‘n lekker byt in die lug in die koelte, en in die son is dit warm. Dit is nou te sê as die wind nie waai nie want dan is dit orals koud. Die afgelope week het ons vir die eerstekeer die seisoen ryp gehad. Dit het glo wit gelê. Ek het gelukkig nie nodig om my kop voor so agtuur die oggend buite te sit nie, so ek het dit nie gesien nie.

Met die gesondheid was dit nie ‘n goeie week gewees nie. Saterdag het ek maar die meeste van die tyd gelê want ek kon nie die pyn baas raak nie. Dit is so of dit net weer ‘n nuwe fase ingaan waar dit maar moeilik is om die pyn te bowe te kom. Ek het so gewoont geword dat ek so nou en dan ‘n dag gehad het waar ek die volle dosis pyn medikasie gevat het, maar die afgelope week is daar amper nie ‘n dag wat ek dalk een van die pynpille kon los nie. Met die ander newe effekte gaan dit ook goed. Ek bly maar moeg en die gloede wil ook nie ophou nie.

Vir die mense wie se inkomste gebasseer is op ‘n maandelikste inkomste is die maand ‘n lekker maand met al die vakansie dae, maar vir die wie se inkomste afhang van besigheid kan ek maar net sterkte toewens en hoop dat die vakansiedae nie te veel invloed sal hê nie.

Dinsdag 01 April 2014

Dinsdag 1 April 2014. En dit is nie 'n grap nie.

En daar begin ‘n nuwe maand en is ‘n kwart van die jaar verby. Ek en Hettie is so bly vandag want Esthee kom volgende maand kuier. Sy gaan by Su-Hannie tuis, maar ons gaan almal lekker saam kan kuier. Ons sien so uit te om haar weer vir ‘n paar dae te sien voor hulle weer terug moet gaan Melbourne toe. Ons almal is ‘n jaar ouer sedert ons mekaar laas gesien het, en dan het daar soveel goed gebeur. So ons kan nie wag nie.

Vanoggend het dit so ‘n bietjie hier by ons gereën, en was dit redelik koud met ‘n baie sterk wind wat gewaai het. So teen tien uur het dit begin om oop te trek en het dit darem so ‘n bietjie warmer geword. Ek kon ook vandag my een orgidie in die huis bring wat begin blom het. Die plant is verseker die getrouste plant wat ek nog gehad het. In die twintig jaar wat ek hom het, het hy amper elke jaar geblom. Verder het van my Disa saailinge al hul tweede stel blaartjies gemaak en kan ‘n mens hulle nou al met die blote oog maklik sien. Ek hoop nou maar net hulle gaan die koue van Steynsburg se winter kan trotseer.

Met die gesondheid is dit maar soos gewoonlik. Die een dag is dit redelik en dan is daar weer ‘n dag of vier wat dit maar moeilik is. Ek het gister eers gesien dat die statistiek wat ek 12 Maart genoem het so ‘n klein foutjie gehad het. Daar is nie 5 mense uit elke 100,000 wat met carcinoid geïdentifiseer word nie, maar 5 uit elke 1,000,000 mense. Ek het net een nulletjie uitgelaat, maar dit maak nogal ‘n groot verskil. Die grootste probleem vir my naas die pyn is maar die effek op die hart en bloeddruk. Dit voel maar so nou en dan of die hart skielik uitgevind het dat hy te stadig geklop het en dan gaan hy so tekere dat ek wonder of hy nou al die kloppe wat hy moes klop, probeer inhaal. Gelukkig word ‘n mens maar ook daaraan gewoont, en gaan ek maar aan met alles.

Ek is net baie bly dat ek nou geleentheid kry om alles wat binne my was, alles wat die Heilige Gees my geleer het die afgelope seker 18 jaar, dat ek dit kan neerskryf en met die mense hier by ons in die selgroep en ander kere by ons byeenkoms op ‘n Sondag kan deel. Hierdie Sondag is dit juis weer my geleentheid om met die mense te kan deel rondom wat Jesus gedoen het die drie dae wat Hy dood was. En dan is ek ook besig om so ‘n inleiding van alles wat ek geleer het, op video vas te lê. Ek het gedag dit sal so ‘n uur lange sessie wees, maar nou sien ek dit gaan nader aan drie ure wees. Miskien gaan ek dalk langer wees, maar ons sal maar sien.