Dinsdag 21 Julie 2015

Dinsdag 21 Julie 2015

Die terugvoer van die troue is dat almal dit geniet het, en het verskeie mense vir my gesê dat dit spesiaal was, en dat die koue weer tog dit baie “cozy” laat voel het. Alles was werklik uit die boonste rakke uit. Dan moet ek ook sê dat Su-Hannie se fotos baie goeie terugvoer gekry het, en het een van Hettie se facebook vriende selfs gevra of dit ‘n “photo shoot” vir ‘n tydskrif was.

En so het die kleinkinders ook hulle vakansie oorslaap by oupa en ouma gehad, en het hulle dit so geniet om vir my te help met die rose steggies wat ek geplant het. Altesaam het ek nou so net oor die negentig steggies in, en vertrou dat ek so sewentig sal kry om te groei. Waar ek hulle gaan plant weet ek nie, want my tuin kan verseker nie soveel plante vat nie. Miskien sal ek maar ‘n kwekery moet begin, want die rose is almal die Karoo weer bestand. En dan is daar nog ‘n tannie wat haar rose moet snoei en dan moet ek nog kyk om van die takke steggies te maak. Sy is ‘n bietjie laat want ek hou daarvan om teen op die laaste middel Julie die werkie klaar te hê, maar dan het sy ook baie mooi rose.

En nou het die winter ook sommer gekom. Ons het verlede week ons tweede sneeu kombers gehad, en die keer het van die sneeu twee dae later nog op die berge gelê. Dit het vroeg die oggend, so net na twaalf die nag begin en sommer vinnig geval. Teen die oggend was van die paaie al gesmelt, behalwe in die pas op die pad uit na Burgersdorp/Molteno toe waar die sneeu nog negeuur die oggend die kar se onderstel geraak het. Hettie en twee vriendinne was Burgersdorp toe Vrydag oggend toe hulle dit beleef het.

Hettie het die foto Vrydagoggend geneem.


Van my kant af gaan dit maar soos gewoonlik, partye dae nie so goed nie, en dan ander dae waar dit nie so goed gaan soos op die dae wat dit nie goed gaan nie. Die maag is darem so ‘n bietjie beter aangesien ek nie meer elke dag 25+ kere toilet toe hoef te hardloop nie, maar die pille wil nie meer die pyn so kry dat dit gemaklik is nie. Dit lyk my of die gewas maar kwaai stoei met die res van die ingewande en dat die lewer en regter nier op die verloor kant is. Die twee goed kla maar amper aanhoudend dat hulle seer is, tenspyte van die pyn medikasie. Dit is veral die nier wat regtig seer is en voel of iemand ‘n mes hier agter indruk en dit so lekker in die rondte draai. Nogal seer. Verder is daar maar die gewone moeg wat party dae nogal erg is en maak dat ek sommer gaan lê, maar dan is dit sommer binne ‘n uur weer beter. En dan is dit maar die warm gloede in die gesig en nek, en o ja ek het al genoem, die seer.

Die boek vat so ‘n bietjie langer as wat ek gedink het, want die naslaan werk is maar baie, en om van die punte saam te vat in ‘n bladsy is nogal moeilik. Party van die onderwerpe is sommer ‘n hele hoofstuk lank, terwyl van die ander ‘n mens sommer ‘n hele boek oor kan skryf. En vir my wat gewoont is om baie van die profete se insigte te gebruik, is dit partykeer moeilik om dit in dieselfde volgorde as Johannes se Openbaring oor te skryf. Maar ek gaan maar aan. Net sodra ek dink ek weet nie hoe nie, dan val al die gebeure skielik in orde en dan kan ek maar weer aangaan. Dit is immers vir my die belangrikste boek wat ek al geskryf het en nog sal skryf. Soos ek verlede keer ook uitgelig het is daar soveel stories al die wêreld ingestuur oor die boek, en probeer ek net weer om die mense terug te kry om eerder te glo wat die Bybel vir ons gee, as wat die en daai persoon daaroor geskryf het. Vir my sal my skrywes suksesvol wees as ek mense net weer kan kry om hulle Bybel te gaan lees en nie wat deur mense vir ons opgedis word nie. Maar dan weet ek mense hou daarvan om hulle te stel onder konings en te glo wat hulle koning vir hulle opdis, eerder as om net die HERE as hulle koning te wil hê. Ja ons is maar net soos Israel in Samuel se tyd. Ons luister eerder en lees mense se werk as dit wat vir ons almal beskikbaar is in die Bybel.

Groetnis en seën vir elkeen op sy weg vorentoe. Tot volgende keer.

Maandag 06 Julie 2015

Nou is Barney en Debbie se troue ook agter die rug

Maandag 6 Julie 2015

Ek het in die vorige skrywe gesê dat ek eers na die troue weer iets sal deel, en nou is dit al ‘n week later voordat ek die tyd en krag kry om dit te doen.

Die afgelope 4 weke is regtig oorheers deur Barney en Debbie se troue. Hettie het so hard gewerk om haar serp vir die troue klaar te kry, en op die dag het dit fantasties gelyk. Sy het dit deur middel van “Irish Crochet” gedoen, iets wat selfs gesoute tannies hier op die dorp net van kan onthou maar nooit self probeer het nie. En dan het sy ook die mandjies gehekel en saam met ‘n vriendin die dankie sê boekrolle gemaak het en in die mandjies gepak het. Dit was ook nogal iets besonders.

Die dag self was dit bitterlik koud. Dit het so van 3 uur die oggend gereën en was ek bang dat dit later gaan kapok, maar teen tienuur die oggend was die reën iets van die verlede en het net die koue oorgebly. Die reën het eers weer 4 uur die middag teruggekeer. Die diens was op die grasperk van die gasteplaas gehou met die mense wat op bale gesit het. Daar was darem komberse oor die bale en die mense self het ook elkeen onder komberse gesit. Dit was regtig iets besonders. Ek moes net my boodskap kortknip want die mense het regtig koud gekry. Gelukkig het ek wel die voorreg gehad om my seun se troue te behartig en is een van my begeertes wat ek nog gehad het en voor geleef het, agter die rug.

Die onthaal was gelukkig in die hase hok gehou wat onder dak is en goed toegemaak met sink is. Dit het so ‘n mooi atmosfeer geskep. Die kos was uit die boeke uit want die persoon wat dit gedoen het is opgelei as ‘n Cordon Bleu chef. Die troukoek het seker agt lae koek gehad en kon net sowel as voorbeeld in die “Koekedoor” program op Kyknet gebruik word, met elke laag verskillend.

Vir die wat fotos wil sien kan maar na Su-Hannie Greyling, ons dogter, se Faceboek blad gaan en na die fotos kyk. Sy het ‘n album daar met al die fotos. Die album se naam is Barney & Debbie Erasmus. Ek hoop die link sal werk: Trou album https://www.facebook.com/suhannie/media_set?set=a.10152942283805849.1073741859.681245848&type=3

Nou is ons weer terug in die normale gang van die lewe. Hettie het verlede week so ‘n blaaskans gevat met die kunsklasse en begin nou weer more met die eerste klomp studente by die huis. Dit gee my gelukkig kans om my volgende uitdaging, hopelik my laaste boek wat ek moet skryf, ook klaar te kan kry. Hettie het die naam vir my gegee, en gevra ek moet dit maar skryf want daar is sovele interpretasies van Johannes se Openbaring dat baie mense eerder boeke oor Openbaring lees en dit glo, as wat hulle werklik die boek lees en verstaan waaroor alles gaan. Die Left Behind reeks is ‘n tipiese voorbeeld waar ten spyte van die feit dat die skrywers dit bemark as Christen fiksie, mense dit glo as die waarheid en wat in die toekoms gaan gebeur. Vir hulle wag daar egter ‘n baie groot ontnugtering. En die skrywers wou net geld maak. Dit is hoe die reeks boeke self deur die Christelike pers uitgebeeld word: “In 2007 the Evangelical Christian Publishers Association (ECPA) recognized the Left Behind Series at its CBA & ECPA Awards Celebration in Atlanta, Georgia with the ECPA Pinnacle Award. ECPA President Mark Kuyper said, "In many ways this series established Christian fiction as a significant category in publishing in general." 

Met die gesondheid wil ek net graag duidelik maak wat ek in my een van vorige skrywes genoem het. Die kanker is in fase 4 wat beteken dat die dit versprei het na ander organe in die liggaam, en dat dit ook na die limfkliere versprei het. So in my geval het dit versprei na die lewer en is daar volgens die doktors ook verskeie limfkliere wat ook kwaadaardig is. Die hoof gewas self is ook baie groot en soos ek dit nou voel seker hier oor die 70 by 40 mm groot. Ek kan nie bepaal wat sy ander afmeting is nie, maar neem aan dit is ook al groter as die 30mm wat dit met die vorige duidelike CT scan gewees het amper 2 jaar gelede, aangesien die gewas maar baie druk teen die regter nier en ander organe in die buik, wat op hulle beurt weer baie pynlik is.

So ek leef maar so van doelwit na doelwit. Vir nou is my volgende doelwit die boek wat klaar geskryf moet word en dan moet ek nog die vertaling ook doen. Daarna weet ek nou nog nie, maar ek glo dat dit dalk ons 43 jarige huweliksherdenking sal wees, en dan dalk die somer. Die tyd sal maar leer. Soos dit deesdae voel wonder ek baie dae of ek nog die boek klaar gaan kry, maar gelukkig weet ek dat die HERE my die krag gee en nog sal gee om hierdie doelwit te kan behaal.


Groetnis hier uit die Karoo.