Maandag 14 November 2016

Maandag 14 November 2016

En so is daar al weer ‘n paar weke verby. Tye wat ons maar redelik moedeloos gevoel het, tye van blydskap, maar ook tye wat jy nie kan dink wat voorlê nie.

Die dag wat ek die vorige stuk geplaas het, was dit al klaar geskryf en geplaas voor ons Burgersdorp toe is om die dokter te gaan sien. Die keer nie vir my nie, maar die keer vir Hettie wat my so getrou bystaan. Sy het ‘n knop op die regterbors gevoel en was ons skoon uit die veld geslaan toe die dokter ons verwys na Bloemfontein want soos hy dit stel is die moontlikheid 90% dat sy borskanker het, en dat daar alreeds metastases na die kliere onder die ander arm en selfs ander kliere is.

So het ons verlede week by die hospitaal opgedaag en het die dokter weer gevoel dit is nie so erg nie, maar is sy darem geboek om 1 Desember ‘n mammogram te kry en dan ook sommer biopsies te doen van alles wat die mammogram uitwys. So dit is waar ons huidiglik is. Al wat ek kan vra is dat ons almal maar vir haar sal dra in gebed en dat daar ons vinnig uitsluitsel sal kry oor wat met haar aangaan. En dit het ook beteken dat ons weer op die plaas was en kon sien hoe lammers vinnig kan leer om uit ‘n bottel te drink en te dink Su-Hannie is mamma. Sover het sy darem vier lammers deurgetrek en een verloor, maar dit is so lekker om te sien dat tot die diere na jou as mens opsien.

Ek sal regtig jok as ek sê dat dit ons nie beïnvloed nie. Maar een ding wat ek maar die afgelope 21 jaar geleer het is dat die HERE nog altyd daar is vir ons, ongeag die omstandighede. So sy het ook maar terug geskaal op haar aktiwiteite en waar ek die week voor ons van haar uitgevind het dat sy moet terug skaal en net weer doen wat sy lus voor is, moet sy dit nou doen. Sy hou van klere ontwerp en maak, maar dit werk ook maar op haar so dit is die eerste ding wat sy gelos het. Nou het sy vir Esthee ‘n baba kombers en truitjie gehekel en brei, so sy weet die laaitie sal ook darem iets van sy ouma kry. Hy sal so begin Maart gebore word, maar as grootouers voel jy alreeds die band tussen hom en ons. Dan wil sy graag weer aangaan met haar profetiese skilder. Daar is soveel gesigte wat sy nog graag wil verf, en almal vertel maar ‘n storie, so dit sal haar ook goed doen om haar aandag af te lei. Haar kunsklas sal sy mee aangaan, want om studente se gesigte te sien wanneer hulle iets klaar het en te hoor van hulle dat hulle nie kan glo hulle het dit gedoen nie, gee ‘n mens die rede om aan te gaan. So dit is maar die twee areas wat sy op sal toelê, die kuns en haar hekel en breiwerk.

Self gaan dit maar nie altyd lekker nie. Die nek pla baie want ek kan net so 70 grade beweeg. Dan is die uitsaaïng na die skedel by die oor maar moeilik want dit het maar met tye my heeltemal doof, en weet ek nie hoe om te slaap nie. Een kussing is te laag en twee te hoog. Dan kry die skedel seer as ek op die regterkant lê en dan kla die gewas weer wanneer ek op die linker sy lê, want danhang hy in die lug en trek aan alles. Dan gee die rug my baie opdraande want hy is maar seer soos voor ek my rug operasie seker 25 jaar terug gehad het. Verder is dit maar die gewone elke dag se pyne en moegheid.

Gelukkig hou die HERE my gedagtes ook maar besig met goed wat ek nooit eers aan gedink het in die Bybel nie. So kry ek net ‘n gedagte en dan vat dit maar dae of selfs weke om dit vir myself uit te werk. Maar dit is my lewe. En dan staan jy maar net in verwondering oor dit wat Hy my leer. 

Daarvoor sal ek ewig bly wees, want dit is regtig my grootste begeerte dat almal die volledige verlossings boodskap sal verstaan en kan verduidelik uit enige gedeelte in die Bybel.

So dit is maar wat by ons aan die gang is.
My lied vir vandag is een wat my na aan die hart lê: “Here is love –Robin Mark