Maandag 14 Desember 2015

14 Desember 2015. Laaste pos vir die jaar.


En so het ek nog ‘n jaar beleef. Nie altyd maklik nie, maar tog produktief. En dan met soveel mense om jou wat regtig vir jou omgee en liefhet. Dit is en was regtig ‘n voorreg.

Dit is ook darem baie lekker om nog deur die kinders bederf te word. Verlede week was ons weer op die plaas, en het ek regtig nie veel gedoen nie. Dit was net warm en droog. Dit is sleg om te sien dat die hele wêreld daar en hier by ons lyk of dit in die middel van die winter is. Daar is niks groen nie, en die temperatuur is aanhoudend baie warm. Die Karoo is mos maar bekend vir warm wees, maar tog is die temperatuur nie sommer bokant 40 nie. Nou is dit amper die norm elke dag, en is amper al die plaas damme leeg of het amper nie water nie. Almal moet maar bid vir reën, want sonder reën gaan kos baie duur word.

En dan gaan dit ook sommer baie goed met Esthee daar doer onder in Melbourne, en geniet sy haar werk verskriklik baie. En dit is ook sommer lekker om met haar te kan gesels en te hoor hoe opgewonde sy is. Dit maak sommer jou dag. En dan om te weet die tuin en Hettie se kanarie is in Barney se goeie hande, dan kan 'n mens net rustig wees.

Met ons gaan dit goed. Ek dink nie ek sal dit ooit anders kan beskryf nie. Party dae is dit net nie so goed soos die vorige dag of daarop volgende dag nie, maar dit is nogsteeds goed, want ek kry nog ‘n dag om saam met Hettie en almal wat ek liefhet, te spandeer. Al wat regtig wissel is die pyn en die ongemaklikheid wat die ou gewas veroorsaak. Ek vind dat ek nou deesdae baie meer op my rug slaap want dan pla die gewas maar die minste. Op die linkersy trek hy alles linkerkant toe en voel dit of my binnegoed in die lug hang. Op die regtersy probeer hy om die bloedsomloop na die niere en lewer af te sny. So dan slaap ek maar op my rug, want op die maag kan ek nie want die rug is mos maar redelik styf na die rugoperasie so 22 jaar terug.

Dit is maar baie keer moeilik vir my om te moet terugstaan dat Hettie goed doen wat ek gewoond was ek doen. Soos vandag wat sy vir ons tuin natgooi sodat ek darem krag het om vanaand vir ons aandete te kan maak. Onthou maar ek is die ou in die kombuis, want ek hou van kos maak. Net nie vir my resepte vra nie, want dit het ek nie. Elke stukkie vleis roep mos maar sy eie bykosse nader, en dit is hoe ek te werk gaan. Ek dink vanaand is dit lamtjops met dalk groot misroompies, ‘n slaai wat Hettie maak vir haarself, en ‘n aartappel vir my.

Wat die skryfwerk aangaan is ek klaar met alles wat ek beplan het. Die uitleg van Openbaring is nou klaar in Engels en beskikbaar. Nog net op my webtuiste laai. Al wat ek nou nog wil doen is om ‘n paar plekke in Suid Afrika te kry om “print on demand” te doen, aangesien dit baie duur is om dit oorsee te doen. So die idee is maar om die Engelse weergawes van alles wat ek so oor die jare geskryf het deur CreateSpace, Amazon se “print on demand” te doen, aangesien hulle hul eie kontakte het in meeste Engelssprekende lande, maar nie iemand het om in Afrikaans in Suid Afrika dit te doen nie. Ek kan dit daar ook in Afrikaans laat druk maar posgeld na Suid Afrika toe is duurder as wat die boeke self kos.Gelukkig het ek darem nou deur ander skrywers ook twee plekke gekry wat dit in Suid Afrika doen. So nou moet ek maar hulle pryse kry en sien hoe dit vergelyk met oorsese pryse. Die voordeel van “pod”, (print on demand) is dat ek nie nodig het om ‘n klomp op ‘n slag te druk nie, maar dat ek selfs een op ‘n slag kan druk, wat dit natuurlik baie aantreklik maak om die boeke ook in gedrukte vorm te kan verkoop. Indien iemand weet van plekke wat dit doen in Suid Afrika, laat my maar weet. Dalk is dit iemand wat ek nie van weet nie.

Die algemene Christelike uitgewers in Suid Afrika spesialiseer net in dagstukkies van bekende persone, of selfs sangers wat niks Christeliks in hulle lewens uitstraal nie. Verder is dit net hulle uitgesoekte skrywers wat hulle ondersteun, en, al is die boeke niksseggend, moet dit net die mense laat goed voel, want die mens is mos baie ingesteld op homself en moet net aan sy ego gestreel word. Want dit verkoop boeke. Niemand wil hoor dat daar dalk fout is by hom nie.

Dit is nou volgende jaar se projek.

Hierdie is seker my laaste blog vir die jaar. So vir ‘n ieder en elk wat hier lees wil ek ‘n baie geseënde vakansie tyd toebid, dat ons die 25e sal herdenk as dié dag wat die HERE vir ons Sy Seun gestuur het om vir ons verlossing te kon bewerkstellig. Dat ons almal sal deel hê aan daardie korporatiewe salwing wat die dag vir ons bring. En mag die jaar 2016 vir ‘n ieder en elkeen sal gee wat jy graag vir jou beste vriend sal wil toewens.


Geniet die tyd saam met familie en vriende. Tot weersiens.

Woensdag 18 November 2015

Woensdag 18 November 2015

En so is nog ‘n paar weke verby. Weer op die plaas gewees met Su-Hannie wat eksamen geskryf het, Bani wat weer vir werk weg was, en dan was dit skool konsert en altwee kleintjies se prys uitdelings. Ek was darem by die konsert, maar die res het Hettie en Su-Hannie alleen gedoen.

Ek het vreeslik baie niks gedoen. Ek het nogal verveeld geraak om niks te doen nie, so sodra ek moeg was van niks doen het ek gaan lê tot ek nie meer verveeld was nie en dan het ek verder niks gedoen nie. Eintlik was dit darem nie so erg nie. Ek het gewerk aan die vertaling van my jongste boek en weet ek nou dat ek nie volgende naweek klaar gaan wees nie. Dit vat maar langer om te vertaal want eintlik is dit seker meer oorskryf in Engels as vertaal. Sekere goed klink reg wanneer jy dit vertaal, maar met meeste goed is dit maar beter om die hele paragraaf of gedeelte net sommer oor te skryf. En dan moet ‘n mens ook in die regte bui wees om dit te doen. Ek kan nie skryf as ek nie reg voel nie. My kop moet by my wees.

Met die gesondheid is dit maar regtig nie meer lekker nie. Ek weet nie wat hier binne aangaan nie en het al gedink die dokter moes laasjaar met die laaste operasie vir my ‘n loergaatjie gemaak het dat ek kon sien wat aangaan. Die ou kragte is net nie meer daar nie. Ek hoef net die tuinslang rond te skuif van plek na plek om die tuintjie nat te gooi dan is ek pootuit. Dan vat dit my enigiets van ‘n halfuur tot twee dae voordat ek weer krag het. Maar, gelukkig hou die HERE nog die kop aan die gang en kan ek darem nog lekker lees en onderwerpe bepeins en met Hettie bespreek. En dit hou my sommer lekker aan die gang. Al wat ek weet is dat ek verseker nie meer kan doen wat ek selfs ses maande terug nog kon doen nie. En toe het ek al gedink ek is oor die muur.

Hettie self is maar besig. Ek is so trots op haar wat nou al 22 kilos gewig verloor het, maar dit het ook maar sy prys. Nou hou dit haar besig voor die naaldwerk masjiene om nuwe uitrustings te ontwerp en te maak. Gelukkig kos dit net materiaal en nie modewinkel pryse vir nuwe uitrustings nie. En dan is ons ook seker dit is goed en ordentlik gedoen, en dit pas vir haar. Gelukkig het sy al die nodige masjiene plus ’n paar “spares” om haar werk mee te doen.

Ons sal nou weer vir ‘n week plaas toe gaan volgende maand maar dan sal ons maar by die huis wees vir die res van die tyd sodat ek maar rustig kan wees. Die enigste iets wat ek sal kragte voor moet spaar is vir Kersdag se saam eet by ons. Ek dink nog wat ek graag wil maak net om dankie te sê vir die kinders en hulle ook van ons kant af ‘n bietjie te bederf. Sal maar vir Esthee moet skype om met haar ook die dag te kan deel.


Vir die wat verlof het en bietjie kan gaan uitspan geniet dit, ek weet ek gaan nog my tydjie geniet.

Saterdag 24 Oktober 2015

Saterdag 24 Oktober 2015

Na ‘n week op die plaas is ek en Hettie weer by die huis. Bani (skoonseun) was weg vir besigheid en Su-Hannie het twee vraestelle gehad om te skryf, so toe kon ons bietjie sorg dat sy genoeg tyd kry om te leer. En dan was Theuns se konsert en jaarafsluiting ook Dinsdagaand gewees, hy gaan nou mos graad 1 toe in 2016, maar ek het maar by die huis gebly.

En natuurlik was dit lekker om op die plaas te kuier. Al was die weer nogal lekker lyk dit vir my ek het my liefde vir swem verloor. Hulle swembad is al baie warm met die seil op, seker lag lag hier laat twintigs, maar ek het nie eers lus gevoel om te swem nie. Ons het wel twee middae gesit ek kyk hoe die kleintjies swem maar ek het nie eers gevoel om swemklere aan te trek nie. En al die jare was ek die voorbok as dit by swem gekom het. Maar so het dit maar met meeste goed gebeur.

Gelukkig is die plaas nie kuier nie, want ons is so tuis dat dit half voel of ek daar bly want ek kan maak soos wat ek by die huis maak sonder dat ek voel dat ek moet voorgee dat ek nie seer het of moeg is nie. Almal praat maar van ons kamer as oupa en ouma se kamer. Eintlik is dit seker die gastekamer, maar niemand praat van die gastekamer nie.

Ek het selfs probeer om ‘n bietjie by ander mense te kuier of soos gister saam met Hettie dorp toe te gaan, maar die volgende dag betaal ek maar vir die vorige dag se kapperjolle.

So die gesondheid is maar moeilik. Alhoewel die diarieë baie beter is, is dit maar omtrent al wat beter is. My gemiddelde besoeke is darem nou af na so tussen 8 en 16 keer per dag toilet toe, en die winde is meer beheers. Daar is maar dae wat ek soos ‘n blaasoppie lyk en voel, maar wanneer die winde uit is sien ek vir baie kans, maar het nie die krag om iets te doen nie. Maar dit is maar die pyn wat nou versprei het na die linkerkant van die buik toe ook, die lewer wat maar seer bly en die regter nier wat nou selde nie meer voel of iemand probeer om dit lewendig met ‘n mes uit te sny of net te steek nie. 

En dan kuier ons nogal baie met Esthee oor die foon en internet in Melbourne. Sy is nou besig met ‘n projek om nuwe sagteware by hulle staat(provinsie) se hospitale te implementeer en geniet dit verskriklik baie. Vinnig uitgevind dat dit baie lekkerder is as projekbestuurder as om tegniese skrywer handleiding na handleiding te skryf en te verseker dat die goed werk soos wat die spesifikasies dit uitgestippel het. Nou sien sy ook baie van die platteland in Australië. Die een dorp wat sy nou mee besig is het ‘n rivier wat in die middel van die dorp deurloop. Die rivier is ook die skeidslyn tussen twee state, so die dorp het twee name, een vir die een staat en een vir die ander staat.

Die weer is nou regte Karoo weer. Warm in die dag maar tog koel dit baie af in die aand. Die reen is net skaars.


Tot volgende keer.

Donderdag 01 Oktober 2015

Donderdag 1 Oktober 2015 Dit is nou amptelik lente, voel net nie so nie.


Snaaks om te dink my pa sou more 97 jaar oud wees. Maar ongelukkig het hy net 66 gehaal. So my kinders ken nie een van hulle oupa’s nie. Hulle ander oupa is al oorlede to Barney net 18 maande oud was en nie een van die dogters was toe al gebore nie. Hulle kan darem vir Ouma Hannie onthou want dit was hulle enigste grootouer waarmee hulle grootgeword het.

Met ons hier in die Karoo hou ons maar uit. Dit het skielik van winter die Vrydag, met sneeu op die hoë pieke, verander na somer, met temperature van in die dertigs binne drie dae. Vandag is dit weer koel hier op die plaas met die temperatuur hier by die lae 12’s, terwyl dit eergister seker 33 geslaan het.

Die week kuier ons weer op die plaas en gaan more weer terug huistoe. Theuns se laaste kleuterskool konsert was Maandagaand, so oupa en ouma moes kom kyk. Volgende jaar is dit regte skool, so ons kon nie die laaste kleuterskool konsert mis nie. Dit was net te snaaks om die outjie te sien dans met sy arm nog om die nek vas, maar gisteraand het hy darem al sonder die “sling” geslaap. So eersdaags het hy weer vergeet dat die arm met drie penne vasgesit was vir ses weke.

Die ou lyf weet nie wat hom getref het Saterdag nie. Ek moes ‘n troue waarneem waar die bruid sommer ‘n uur laat was, maar toe ek by die huis kom was ek poegaai. En so is dit nog die hele week. So dit is regtig nie lekker om te voel of daar ‘n dolk hier in jou lewer gesteek word nie, en dat jy soos Sondagaand, so tussen 9 uur en 5 uur Maandagoggend, oor die twintigkeer toilet toe moes gaan met diarieë nie. Die afgelope paar aande was dit beter, maar die dae is maar nogsteeds dieselfde. Ek dink ek weet nou al waar elke patroon op elke teel is in die toilet. En dan maak die diarieë dat jy nie krag het nie. So ek verkeer maar rustig, skryf so ‘n bietjie, seker meer vertaal, en hou my so besig.

Gelukkig is die groot skryf werk agter die rug. Vir die wat wil kan hulle my eboek oor Openbaring – Die openbaring van die Openbaring van Johannes - die naweek by Amazon Kindle gratis aflaai by http://www.amazon.com/gp/product/B015FUB238?*Version*=1&*entries*=0 . Indien jy wil sien waaroor dit gaan kan jy so ‘n bietjie rondblaai deur die eerste paar bladsye. Al wat jy moet doen is om die voorblad van die boek te druk. Dit gee jou so ‘n kort voorskou en sluit die hele indeks in. Albei eboek en gedrukte boek is op die skakel beskikbaar. Die gedrukte een is nie gratis nie.

Die wat nie weet hoe om die eboek af te laai nie of nie ‘n eboek leser sagteware het nie, kan my maar net epos by louwrens@shama.org.za en dan stuur ek die eboek vir julle in PDF formaat. Die boek is eintlik maklik om te verstaan as jy net die regte begin of sleutel kry, maar baie mense glo ongelukkig eerder wat iemand anders vir hulle opdien as wat hulle self gaan kyk wat daar staan.

Met al hierdie voorspellings rondom die vier bloedmane en mense wat voorspel het dat daar ‘n wegraping moet wees en dat dit glo op 24 September sou plaasvind, gee my boek ‘n heel ander opsomming van wat al gebeur het, en wat nog gaan gebeur. Ons moet onthou dat die Bybel is geskryf vir Christene en dat dit nie gaan oor fortuin vertellings nie. Ek wonder hoeveel mense wat John Hagee se boek oor die vier bloed mane gekoop het nou uitgevind het dat hy hulle met ‘n slap riem gevang het en miljoene dollars gemaak het met sy stories, hom nou gaan aanvat oor sy leuens. Hy self verklaar dat hy 80 miljoen volgelinge het, maar nou wonder ek net of daardie 80 miljoen mense weet wat Moses gesê het oor vals profete. “Maar die profeet wat so vermetel is om ‘n woord in my Naam te spreek wat Ek hom nie beveel het om te spreek nie, of wat in die naam van ander gode spreek, dié profeet moet sterwe. En as jy in jou hart sê: Hoe sal ons die woord weet wat die HERE nie gespreek het nie? — as die profeet in die Naam van die HERE spreek, en wat hy gesê het, gebeur nie en kom nie uit nie, dan is dit die woord wat die HERE nie gespreek het nie; deur vermetelheid het die profeet dit gespreek; jy mag vir hom nie bang wees nie.”(Deu 18:20-22) Net vroeër in die hoofstuk word die volk selfs beveel om so ‘n persoon dood te maak. So dit is nogal moeilik.

Maar ons sal maar seker soos gewoonlik niks doen nie. Die ou het seker maar dit net met iets anders verwar, en nou kan hy mos nog 80 miljoen boeke verkoop om te verduidelik wat hy eintlik gesê het. Maar die skrywers en leraars wat hom en sy gespuis aanvat, is mos maar die wat net jaloers is omdat hulle nie soveel geld maak nie.


Gelukkig weet ek waar ek gaan wees wanneer ek my kop finaal neerlê. ‘n Plek waar ek dink nie baie van hierdie geldmakers gaan wees nie.  

Maandag 14 September 2015

Maandag 14 September 2015

En daar is die winter amper verby, met nog so nou en dan ‘n herinnering aan die koue van die winter. Nou moet ek ook sê hier by ons is dit nog nie dae waar jy met ‘n kortmou hemp of broek kan rondloop nie, maar die donskombers het darem nou plek gemaak vir die “tussenweer duvet”, die een wat seker goed genoeg is in die winter vir die mense wat nie in die Karoo bly nie. Dit beteken darem dat jy nie meer die aand sleg hoef te voel as jy vergeet het om die elektriese kombers ‘n halfuur voor slapenstyd aan te sit nie. Die winterslakens is ook nog op die bed, maar orals begin alles darem te wys dat die weer verander. My rose kom ook goed aan, en wil dit lyk of ek so by die 120 steggies aan die groei gekry het van die 140 waarmee ek begin het. Die raad wat iemand op Facebook gesit het om roossteggies in aartappels te laat wortel skiet het gemaak dat ek nou vyf aartappel plante het en lyk dit nie of die vyf rose dit gaan maak nie. Wel ten minste het ek darem ‘n paar aartappels wat ek in ‘n emmer kan gooi en met grond opvul en so teen Januarie se kant darem ‘n emmer vol aartappels gaan hê.

Die week by Su-Hannie was baie lekker gewees. Ons is toe die Woensdag almal Bloemfontein toe, ek na Universitas, en sy na die spesialis om Theuns se gips vir sy arm te vervang. Die outjie het mos sy arm ongelukkig gebreek toe die hond op hom gespring het en moes hulle penne insit om die arm te stabiliseer. Nou het hy nog so ‘n paar weke voor hulle die gips en penne kan uit en afhaal. Vir my kan ek nou vierkeer per dag pynpille vat en nie net driekeer nie. So dit help darem. Al wat hulle wil doen is maar om my onkologie toe te stuur vir chemo, maar wanneer jy vir die dokter sê dat jy bewus is daarvan dat chemo die groei van die Carcinoid kan stop op gewasse van 2mm en kleiner, en dan is die kans maar tussen 0 en 8 persent, en ek met 'n monster van oor die 70 mm by 30mm by 30mm, dan het hulle nie antwoorde nie. O ja, en sodra jy stop met chemo groei die gewas maar weer, en is die newe effekte van die chemo erger as die gewas se newe effekte. So jy maak maar oë toe en sê elke dag dankie vir die HERE dat jy nog lewe, en gaan voort.

Ek was so bederf met my verjaarsdag dat terwyl ek met sus Susan gepraat het op die foon, die visarende sommer laag oor die werf gevlieg het op soek na kos. Op die plaas is die beste ontvangs maar buite die huis so halfpad oppad na die stoor toe. So die tydsbeplanning was sommer baie goed. Hettie was ook in die oorlog daar terwyl ma en dogter gaan stap het, toe sy besluit het om in die rivier haar balans te verloor en nie sommer net eenkeer nie, maar tweekeer te val. Sy loop nou nog met bontkolle op die bene rond. Gelukkig was die sny bokant die oog nie nodig om steke te kry nie, maar sy het maar oes gelyk toe Bani haar gaan haal het na die val.

En so verander die ou siekte ook. Na verlede jaar se operasie was ook so bly dat ek ontslae geraak het van die oormaat histamien in my stelsel, dat ek weer kon ruik en nie gevoel het dat ek gaan versmoor wanneer my mond toe is nie. Wel dit was tot verlede week, en nou is die ou neus weer so toe dat ek elke dag seker twee tot driekeer moet antihistamine tablette moet vat om nie heeldag met sinus rond te loop nie, en te kan asem haal. Dit het maar ‘n impak op die gesondheid want nou raak ek maar redelik vinnig moeg. Verder het die maag darem verbeter en is die winde baie minder, en baie meer voorspelbaar as in die verlede. So saam met elke terugslag is daar darem ook weer iets wat beter gaan.


Met die boek is ek darem amper klaar. Ek kan seker sê ek is klaar, maar ek is nou so halfpad met die een addendum wat nog moet klaar. Gelukkig het ek jare terug al notas gemaak oor die vergelyking van Esegiël en Openbaring, so nou is dit net so ‘n bietjie met woorde inkleur, dan is die gedeelte ook klaar. Maar, dan is die volgende stap daar, en dit is om die hele boek, al 144 A4 bladsye in Engels oor te skryf. Ek hou maar daarvan om self die vertaling te hanteer want dan vertaal ek eerder die gedagte as net die sin of paragraaf. En dan is daar natuurlik baie uitdrukkings wat nie gelykes het in Engels nie, en dan is daar weer gedeeltes wat makliker in Engels uitgedruk kan word as in Afrikaans. So ek het darem nog baie om te doen.

Dinsdag 25 Augustus 2015

Dinsdag 25 Augustus 2015 - Wat is genade?

Vir my is dit die jaar 20 jaar.

Dit is hierdie week 20 jaar gelede wat my lewe van genade begin het. Ek het toe net verneem dat ek dalk 3 jaar oor het as dinge goed gaan, en ‘n jaar as dinge sleg gaan, om te lewe. Al die kanker wat die dokters kon uitsny het hulle gedoen, en chemo kon dalk help om die res in toom te hou. En om te dink alles het begin met ‘n blindederm wat gepla het en die medici wat so per ongeluk op een gewas afgekom het.

En selfs die onkoloog het nie baie hoop gehad en het in sy verslag aan die chirurg gesê: “Soos telefonies met jou bespreek is die verdere hantering van hierdie pasient werkilk problematies. Soos jy goed weet is radioterapie effektief simptomaties vir metastases wat pynlik is, maar dit is nog nooit in die adjuvante situasie getoets nie. Vanweë die problematiese area, nl. die dunderm is bestraling in hierdie area ook potensieël geneig tot komplikasies. Chemoterapie response wissel van 20-40% en daar is geen literatuur beskikbaar oor die adjuvante gebruik daarvan nie. Somatostatien-analoë is uitstekend vir simptomatiese behandeling (maar nie tumor behandeling nie) van gevorderde pasiente. Daar was ‘n reeks beskikbaar van 23 pasiente waarvan 4 van hulle, dit is 17% ‘n krimping van tumor getoon het. Maar meer resente studies toon ‘n 0-9% vermindering in volume van die siekte. Die literatuur se konklusie is dat die anti-tumor refektor van oktreotied nie indrukwekkend is nie.”

Teen die einde van daardie jaar was ek redelik moeg vir chemo, om jou elke dag self in te spuit, meeste kere met Hettie se hande, en elke tweede week onkoloog toe te gaan en daar te gaan sit vir ‘n uur of twee, was nie my idee van lewe nie. Veral nie op 44 jarige leeftyd nie. Dan kan jy net dankie sê vir jou kinders om te sien dat hulle soos kinders glo wat in die Bybel staan, en waar hulle na spesiale dienste gegaan het waar daar vir genesing voor gebid is, en dan vir my ‘n sakdoek bring en op my kom lê, want hulle glo dat die Bybel waar is. As Paulus dit kon doen dan kan ons mos ook so glo.

Dit was die rede waarom ek toe regtig in alle erns die Bybel begin bestudeer het. Om seker te maak dat wanneer ek die dag sterf, ek weet waar ek sal wees na hierdie lewe. Want dit was nie ‘n kwessie van eendag nie, maar dalk is dit vandag, dalk more, maar ek weet daardie dag kom. Ek kon nie vertrou op enige ander persoon om namens my te besluit wat vir my goed is in die lewe nie. Ek moes eienaarskap neem van my eie toekoms.


Verseker glo ek nie meer soos vroeër nie.Maar ek het my kinders sien trou, kleinkinders is gebore en die jongste kleinkind begin al volgende jaar met groot skool, en my lewe is verseker nie meer dieselfde nie.

En dit is alles genade, want as die HERE nie vir my die geleentheid gegee het nie, sou my einde verseker anders gewees het. Maar Hy het my aandag gekry en my toe op ‘n pad gevat wat ek meeste keer net as verbysterend kan beskryf.

Alhoewel die afgelope twee jaar nie ‘n tyd was wat ek vir enige persoon toewens nie, is ek nog steeds gefokus op Hom en wat Hy vandag deur my wil doen. Twee jaar gelede het ek vir die eerste keer weer ‘n Carcinoid krisis ervaar, en moes ek verlede jaar weer ‘n operasie ondergaan het om die dun- en dikderm te omlyn om te maak dat daar ‘n ander pad is vir die voedsel om om die gewas te gaan, want die gewas het gegroei en is so verstengeld met die derms dat dit onmoontlik is om daaraan te werk. So moes hulle toe ook ‘n stuk van die lewer verwyder waarheen die kanker versprei het. Dan het die gewas ook om die hoofbloedvat gegroei wat tussen die dunderm en lewer is, die een wat al jou voedingstowwe na die lewer vat om gesuiwer te word, en is die gewas maar besig om die bloedvat stadig maar seker toe te druk, sodat ek meeste tyd ‘n regter nier het wat baie kla dat hy nie vloeistof kry om sy werk te doen nie. Dit is ook die oorsaak hoekom hulle nie die gewas kan verwyder of kleiner te maak nie. Sodra hulle die aar klamp is dit verby met my.

Die afgelope paar weke is dit ongelukkig so dat ek amper elke dag deur ‘n Carcinoid krisis moet werk, of party dae sommer twee of drie, maar ek kry nogsteeds tyd om dit te vier met die mense wat ek voor lief is en hulle vir my. En dit is vir my genoeg, en is vir my elke dag, net genade. So die week is vir my ‘n baie besonderse week, met ons huweliksherdenking op 26 Augustus (43 jaar), my verjaarsdag op die 27 ste, en dan my nuwe lewe wat hierdie jaar 20 jaar is op die 31 ste, die dag van die eerste operasie. O ja, en dan gaan ek weer Woensdag hospitaal toe. Sal maar sien wat gebeur en of hulle iets kan doen vir my.

En wat kan ek sê?

Dankie HERE.

Die wat belangstel kan hier lees waaroor die soort kanker gaan, en wat ‘n Carcinoid krisis is. Ek kan probeer om dit te verduidelik, maar die medici doen dit nogal goed. Kyk veral na die foto op skyfie 20, en dan sal jy kan sien wat dit aan jou gesig maak. Hettie was baie bekommerd dat ek dalk nie suurstof kry en dat dit die rede is vir my neus so blou word, maar nou verstaan sy ook wat besig is om te gebeur.

Sondag 16 Augustus 2015

Sondag 16 Augustus 2015 - Die maand van winde

En so is amper nog ‘n maand verby. Ek en Hettie is nou weer gewoont daaraan om alleen te wees, en is dit baie lekker om Barney en Debbie elke nou en dan vir ‘n kuiertjie te sien. Met die twee jong getroudes gaan dit ook sommer baie goed. Nie dat hulle op 40 en 36 meer jonk is nie.

Ons het so ‘n paar dae by Su-Hannie en Bani op die plaas deurgebring. Dit is altyd lekker om daar te wees en net die stilte te geniet. Hier op die dorp is dit ook stil, maar daar is dit net die gedruis van ‘n trekker, dorsmasjien of bakkie so nou en dan. En dan is die honde altyd daar, veral klein Coco om ‘n ogie te hou en kyk waar sy gou by jou kan kom lê en ‘n bietjie hitte te steel. Maar dit is nogal lekker veral omdat sy die ses maande wat die kinders in Engeland gewees het vir Bani se werk by ons gebly het en ons haar help groot maak het.

Ons was by die kinders omdat ek gou by die hospitaal moes uitkom om die dokter te sien en wag nou maar om te hoor wanneer ek weer Bloemfontein toe kan gaan vir ‘n CT scan. Die ou kanker pla maar en weet ek nie wat om die volgende uur te verwag nie. Party dae is dit ‘n lekker rustige dag, en dan is dit weer soos vroeër vandag waar dit voel of iets of iemand al jou krag kom steel het. Die medici moet maar kyk of die derms nie weer oppad is om te blokkeer nie, wat die pyn in die regter nier veroorsaak en of die lewer nog skoon is. Al wat ek weet is wat verlede jaar die uitsondering was het nou die norm geword. Ek kan darem nou die gebruik van die pynstillers anders spasieër en ekstra neem sodat die pyn beter bestuur kan word.

Ons hoop maar dat dit hier in die laaste week van die maand is want dan moet Su-Hannie in elk geval weer Bloemfontein toe gaan om Theuns se gips te vervang. Die arme outjie is verlede week deur hulle nuwe klein Labrador om gehardloop en sy linker arm net by die elmboog gebreek. So hy het so ‘n paar drade gekry verlede week om die bene weer in posisie te hou, en die sal nou op die 26 ste kan uitkom en dan is daar nog 6 weke van gips voor vir hom.

Hettie het Vrydagoggend gaan stap en ‘n baie mooi foto van die mielieland geneem met die berg in die agtergrond. Gistermiddag so ‘n ruk na ons by die huis was het een van die plaaslike mense kom wilde eende skiet vir die pot op die gedeeltes wat al klaar gestroop is en het sy kar se uitlaatpyp die land aan die brand gesteek. Gelukkig het sy kar niks oorgekom nie en het hy vir hulle gaan sê wat gebeur het en het daar net so drie hektaar afgebrand van die land wat alreeds gestroop was. Maar dit is fantasties om te sien hoe vinnig mense kan bid en hoe die HERE die wind laat bedaar sodat hulle vinnig die brand onder beheer kon kry.

Met my boek oor Openbaring gaan dit goed. Ek kry nogal baie tyd om daaraan te spandeer maar dit verg maar baie navorsing om seker te maak dat ek nie goed kwytraak wat mense kan bevraagteken nie. Ek bevraagteken wel baie van dit wat baie mense kwytgeraak het, of dit nou net kommentare is of boeke wat mense geskryf het om hulle interpretasie te verduidelik. Maar dit is baie moeilik om vier verskillende geskiedkundige standpunte in gedagte te hou, vir mense te verduidelik hoekom sekere interpretasies bevraagteken kan word en dan nog jou eie interpretasie daar te stel en te verduidelik hoekom ek dit so interpreteer. Veral wanneer jy probeer om dit vir alle vlakke van mense, van teoloë tot gewone mense in die straat duidelik te maak. Maar ek glo darem ek sal dit kan klaar kry binne die volgende ses na agt weke. Oorspronklik het ek gedink ek sal einde Julie klaar wees, en nou vind ek uit dat ek maar net een hoofstuk in ‘n maand kon skryf, en daat lê nog 13 hoofstukke voor. Maar dan was dit seker ook die moeilikste gedeelte om te verduidelik, so die res sal hopelik vinniger gaan.

So tot volgende keer, groete hier uit die Karoo.

Dinsdag 21 Julie 2015

Dinsdag 21 Julie 2015

Die terugvoer van die troue is dat almal dit geniet het, en het verskeie mense vir my gesê dat dit spesiaal was, en dat die koue weer tog dit baie “cozy” laat voel het. Alles was werklik uit die boonste rakke uit. Dan moet ek ook sê dat Su-Hannie se fotos baie goeie terugvoer gekry het, en het een van Hettie se facebook vriende selfs gevra of dit ‘n “photo shoot” vir ‘n tydskrif was.

En so het die kleinkinders ook hulle vakansie oorslaap by oupa en ouma gehad, en het hulle dit so geniet om vir my te help met die rose steggies wat ek geplant het. Altesaam het ek nou so net oor die negentig steggies in, en vertrou dat ek so sewentig sal kry om te groei. Waar ek hulle gaan plant weet ek nie, want my tuin kan verseker nie soveel plante vat nie. Miskien sal ek maar ‘n kwekery moet begin, want die rose is almal die Karoo weer bestand. En dan is daar nog ‘n tannie wat haar rose moet snoei en dan moet ek nog kyk om van die takke steggies te maak. Sy is ‘n bietjie laat want ek hou daarvan om teen op die laaste middel Julie die werkie klaar te hê, maar dan het sy ook baie mooi rose.

En nou het die winter ook sommer gekom. Ons het verlede week ons tweede sneeu kombers gehad, en die keer het van die sneeu twee dae later nog op die berge gelê. Dit het vroeg die oggend, so net na twaalf die nag begin en sommer vinnig geval. Teen die oggend was van die paaie al gesmelt, behalwe in die pas op die pad uit na Burgersdorp/Molteno toe waar die sneeu nog negeuur die oggend die kar se onderstel geraak het. Hettie en twee vriendinne was Burgersdorp toe Vrydag oggend toe hulle dit beleef het.

Hettie het die foto Vrydagoggend geneem.


Van my kant af gaan dit maar soos gewoonlik, partye dae nie so goed nie, en dan ander dae waar dit nie so goed gaan soos op die dae wat dit nie goed gaan nie. Die maag is darem so ‘n bietjie beter aangesien ek nie meer elke dag 25+ kere toilet toe hoef te hardloop nie, maar die pille wil nie meer die pyn so kry dat dit gemaklik is nie. Dit lyk my of die gewas maar kwaai stoei met die res van die ingewande en dat die lewer en regter nier op die verloor kant is. Die twee goed kla maar amper aanhoudend dat hulle seer is, tenspyte van die pyn medikasie. Dit is veral die nier wat regtig seer is en voel of iemand ‘n mes hier agter indruk en dit so lekker in die rondte draai. Nogal seer. Verder is daar maar die gewone moeg wat party dae nogal erg is en maak dat ek sommer gaan lê, maar dan is dit sommer binne ‘n uur weer beter. En dan is dit maar die warm gloede in die gesig en nek, en o ja ek het al genoem, die seer.

Die boek vat so ‘n bietjie langer as wat ek gedink het, want die naslaan werk is maar baie, en om van die punte saam te vat in ‘n bladsy is nogal moeilik. Party van die onderwerpe is sommer ‘n hele hoofstuk lank, terwyl van die ander ‘n mens sommer ‘n hele boek oor kan skryf. En vir my wat gewoont is om baie van die profete se insigte te gebruik, is dit partykeer moeilik om dit in dieselfde volgorde as Johannes se Openbaring oor te skryf. Maar ek gaan maar aan. Net sodra ek dink ek weet nie hoe nie, dan val al die gebeure skielik in orde en dan kan ek maar weer aangaan. Dit is immers vir my die belangrikste boek wat ek al geskryf het en nog sal skryf. Soos ek verlede keer ook uitgelig het is daar soveel stories al die wêreld ingestuur oor die boek, en probeer ek net weer om die mense terug te kry om eerder te glo wat die Bybel vir ons gee, as wat die en daai persoon daaroor geskryf het. Vir my sal my skrywes suksesvol wees as ek mense net weer kan kry om hulle Bybel te gaan lees en nie wat deur mense vir ons opgedis word nie. Maar dan weet ek mense hou daarvan om hulle te stel onder konings en te glo wat hulle koning vir hulle opdis, eerder as om net die HERE as hulle koning te wil hê. Ja ons is maar net soos Israel in Samuel se tyd. Ons luister eerder en lees mense se werk as dit wat vir ons almal beskikbaar is in die Bybel.

Groetnis en seën vir elkeen op sy weg vorentoe. Tot volgende keer.

Maandag 06 Julie 2015

Nou is Barney en Debbie se troue ook agter die rug

Maandag 6 Julie 2015

Ek het in die vorige skrywe gesê dat ek eers na die troue weer iets sal deel, en nou is dit al ‘n week later voordat ek die tyd en krag kry om dit te doen.

Die afgelope 4 weke is regtig oorheers deur Barney en Debbie se troue. Hettie het so hard gewerk om haar serp vir die troue klaar te kry, en op die dag het dit fantasties gelyk. Sy het dit deur middel van “Irish Crochet” gedoen, iets wat selfs gesoute tannies hier op die dorp net van kan onthou maar nooit self probeer het nie. En dan het sy ook die mandjies gehekel en saam met ‘n vriendin die dankie sê boekrolle gemaak het en in die mandjies gepak het. Dit was ook nogal iets besonders.

Die dag self was dit bitterlik koud. Dit het so van 3 uur die oggend gereën en was ek bang dat dit later gaan kapok, maar teen tienuur die oggend was die reën iets van die verlede en het net die koue oorgebly. Die reën het eers weer 4 uur die middag teruggekeer. Die diens was op die grasperk van die gasteplaas gehou met die mense wat op bale gesit het. Daar was darem komberse oor die bale en die mense self het ook elkeen onder komberse gesit. Dit was regtig iets besonders. Ek moes net my boodskap kortknip want die mense het regtig koud gekry. Gelukkig het ek wel die voorreg gehad om my seun se troue te behartig en is een van my begeertes wat ek nog gehad het en voor geleef het, agter die rug.

Die onthaal was gelukkig in die hase hok gehou wat onder dak is en goed toegemaak met sink is. Dit het so ‘n mooi atmosfeer geskep. Die kos was uit die boeke uit want die persoon wat dit gedoen het is opgelei as ‘n Cordon Bleu chef. Die troukoek het seker agt lae koek gehad en kon net sowel as voorbeeld in die “Koekedoor” program op Kyknet gebruik word, met elke laag verskillend.

Vir die wat fotos wil sien kan maar na Su-Hannie Greyling, ons dogter, se Faceboek blad gaan en na die fotos kyk. Sy het ‘n album daar met al die fotos. Die album se naam is Barney & Debbie Erasmus. Ek hoop die link sal werk: Trou album https://www.facebook.com/suhannie/media_set?set=a.10152942283805849.1073741859.681245848&type=3

Nou is ons weer terug in die normale gang van die lewe. Hettie het verlede week so ‘n blaaskans gevat met die kunsklasse en begin nou weer more met die eerste klomp studente by die huis. Dit gee my gelukkig kans om my volgende uitdaging, hopelik my laaste boek wat ek moet skryf, ook klaar te kan kry. Hettie het die naam vir my gegee, en gevra ek moet dit maar skryf want daar is sovele interpretasies van Johannes se Openbaring dat baie mense eerder boeke oor Openbaring lees en dit glo, as wat hulle werklik die boek lees en verstaan waaroor alles gaan. Die Left Behind reeks is ‘n tipiese voorbeeld waar ten spyte van die feit dat die skrywers dit bemark as Christen fiksie, mense dit glo as die waarheid en wat in die toekoms gaan gebeur. Vir hulle wag daar egter ‘n baie groot ontnugtering. En die skrywers wou net geld maak. Dit is hoe die reeks boeke self deur die Christelike pers uitgebeeld word: “In 2007 the Evangelical Christian Publishers Association (ECPA) recognized the Left Behind Series at its CBA & ECPA Awards Celebration in Atlanta, Georgia with the ECPA Pinnacle Award. ECPA President Mark Kuyper said, "In many ways this series established Christian fiction as a significant category in publishing in general." 

Met die gesondheid wil ek net graag duidelik maak wat ek in my een van vorige skrywes genoem het. Die kanker is in fase 4 wat beteken dat die dit versprei het na ander organe in die liggaam, en dat dit ook na die limfkliere versprei het. So in my geval het dit versprei na die lewer en is daar volgens die doktors ook verskeie limfkliere wat ook kwaadaardig is. Die hoof gewas self is ook baie groot en soos ek dit nou voel seker hier oor die 70 by 40 mm groot. Ek kan nie bepaal wat sy ander afmeting is nie, maar neem aan dit is ook al groter as die 30mm wat dit met die vorige duidelike CT scan gewees het amper 2 jaar gelede, aangesien die gewas maar baie druk teen die regter nier en ander organe in die buik, wat op hulle beurt weer baie pynlik is.

So ek leef maar so van doelwit na doelwit. Vir nou is my volgende doelwit die boek wat klaar geskryf moet word en dan moet ek nog die vertaling ook doen. Daarna weet ek nou nog nie, maar ek glo dat dit dalk ons 43 jarige huweliksherdenking sal wees, en dan dalk die somer. Die tyd sal maar leer. Soos dit deesdae voel wonder ek baie dae of ek nog die boek klaar gaan kry, maar gelukkig weet ek dat die HERE my die krag gee en nog sal gee om hierdie doelwit te kan behaal.


Groetnis hier uit die Karoo.

Saterdag 13 Junie 2015

Saterdag 13 Junie 2015

Ek kan nie glo dat ek al so lank vir vroulief ken nie. En hierdie jaar op Sondag die 14de val die dae presies soos dit 45 jaar terug gewees het. Ek het nogal ‘n goeie verskoning ook gehad om met haar te praat daardie Sondag toe ek myself gedwing het om met haar te praat. Sien my ouers het  die volgende Sondag hul 30ste troudag herdenking gehad, en ek wou darem wys dat ek ook darem met die teenoorgestelde geslag kan praat en dat ek nie so skaam is soos almal daardie tyd gedink het nie. Wie sou kon dink dat ons twee jaar later getroud sou wees en nou al hierdie jaar 43 jaar self getroud sal wees. Al wat ek weet is dat ek net dankie kan sê dat ons nog steeds die geleentheid het om elke dag met mekaar ons harte te kan deel.

Baie dinge het ook gedurende die afgelope paar weke gebeur. Barney het verjaar, en dit was ook nogal ‘n mylpaal vir hom om veertig te kon word. So ‘n lekker dag gehad dat al is die Karoo maar koud die tyd van die jaar het ons regtig ‘n lekker aand gehad en het ons mans selfs buite gesit om die vleisies gaar te maak. En dit toe ook sommer by hulle nuwe huis waar hulle in gaan bly na hul troue. So nou is daar nog ‘n groot mylpaal vir hom wat voorlê wanneer hy oor twee weke gaan trou. Dink dit is nou nogal tyd. Om te dink dat ons na hierdie ou klein dorpie moes kom sodat hy sy vrou hier kon ontmoet. Van haar kant af het sy ook gedink dat hierdie voorreg nie vir haar bedoel was nie. Maar gelukkig gebeur alles op die regte tyd. En nou het ek nog die voorreg om hulle troue te kan waarneem.

Met my gesondheid is dit maar op en af. Ek weet nie wat om oor ‘n uur te verwag nie. Vir die wat wonder hoe ernstig my geval is, ek is op vlak 4 met 'n telling van T4/M1/N1 soos die medici dit uitdruk. Daar is nie 'n verdere vlak om na te versleg nie. Maar gelukkig kry ek darem nog die geleentheid om by die mense te wees wat my liefhet en waarvoor ek lief is. Ek hou myself maar besig met tuin natmaak, sorg dat die voëls en insekte nie my groente alles opeet nie, en dan skryf ek maar. Ek het nogal ‘n groot verrassing die week gehad toe ek besig was om gras uit te haal wat opgeslaan het in die groente tuin en skielik op hierdie groot soet patats afgekom het. Ek weet ek het patats ingehad, maar hierdie groot patats het blykbaar oorgebly van verlede jaar se oes. Nogal lekker ook gewees.

So op die skryf kant het ek ook die afgeloop week twee persvrystellings uitgestuur van die een boek wat ek geskryf het na aanlyding van vrae wat ek ook maar gehad het oor wat sal gebeur die dag wanneer ek my kop finaal neerlê. Ek wil graag die eerste 2000 kopieë van die eboek gratis weggee. Indien jy een wil kry is die persverklarings hier in Afrikaans en hier in Engels. Dit sal jou neem na die persverklarings en van daar na waar jy die boeke gratis kan aflaai. Vir die wat nie regkom nie, stuur my maar ‘n epos dan sal ek seker maak dat die kassier die werk reg doen en dat jy jou boek kan kry. Laat my net weet of jy Afrikaans of Engels soek, of albei. My epos is louwrens@shama.org.za en jy kan maar vir jou vriende ook hiervan vertel. Ek wil graag kyk hoe lank dit vat om die 2000 kopieë te haal.


Ek groet nou eers tot seker na die troue van Barney, geniet die tyd wat jy nog het om ‘n verskil in ander mense se lewens te maak. Ek weet ek gaan die troue geniet, want dit is nie elke dag wat ‘n pa die geleentheid kry om sy eie kind te trou nie.

Woensdag 27 Mei 2015

Woensdag 27 Mei 2015

En so het nog ‘n maand verby gevlieg. Ek kan amper nie glo dat dit al ‘n maand later is nie, maar dit beteken ook darem dat ek besig was, en dat ek aan die gang was die tyd.

Esthee se kuier was baie lekker gewees. Ek het die Maandag saam Bloemfontein toe gery om haar by die lughawe te gaan haal. Dit is nou iets wat ek seker nie moes gedoen het nie want dit het my hele week omver gegooi. Waar ek die vorige week nogal ‘n baie rustige week gehad het, was die ou gewas maar goed aan die gang, en het hy nie tussen wakkertyd en slaaptyd onderskei nie. Dit was nogal moeilik want die ding het mos nie ‘n verstand om mee te redeneer nie. Hy doen net wat hy wil, en al wat ek kan doen is om pynpille te vat om die pyn te kan beheer. Sou lekker gewees het indien ek met hom kon debateer sodat hy kon insien dat indien hy aangaan om te groei en dit moeilik te maak vir my, dit op die ou einde ons albei se lewens gaan kos. En wat maak hy dan?

Gelukkig was die tyd by Su-Hannie hulle op die plaas baie lekker. Daar was ook geleentheid om hulle nuwe lapa in te wy. Kan net sien dat hulle die plek nog baie gaan gebruik. Daar was genoeg tyd om saam te kuier, en so ‘n bietjie van Esthee se kos te proe. Dit was so lekker dat ek sommer al die oorskiet gevries het en saam huis toe gebring het. So ek en Hettie kon toe verlede week die res van die vleisie eet en terug dink aan die kuier. En nou is sy en Francois al weer amper twee weke terug in Melbourne.

Gedurende die kuier was ons ook een dag na ons huisie toe en het ons toe saam met Barney en Debbie gaan eet op die dorp. Die diens was nou nie juis van die beste nie, maar dan is Steynsburg maar ook ‘n klein dorpie. Ek het gewonder of die kok nie eers gou slaghuis toe moes loop om die vleis te gaan koop nie.

Verder is alles maar goed aan die gang. Hettie is uitgenooi om volgende week met die maandelikse mark op ‘n plaas net buite die dorp van haar en haar studente se kunswerke te kom uitstal. Sy sien nogal uit daarna aangesien dit net eksta blootstelling vir haar is. En dan is sy maar aan die gang met klas gee hier by die huis en ook een keer per week waar sy van die ouetehuis mense leer om te skilder.

Die weer is nogal warm vir die tyd van die jaar. Die oggende vroeg is dit maar koud, maar dan word dit redelik lekker in die dag behalwe as die wind waai. Gelukkig het ons nog nie verlede jaar se kouefronte hier oor ons gehad nie. Dit is so lekker dat ons selfs verlede Saterdag by Barney se nuwe blyplek buite kon sit terwyl ons die vleisie gebraai het. Hy het ‘n lekker plekkie wat goed weggesteek is waar die koue nie sommer kan pla nie.

Met die gesondheid oor die algemeen is dit maar dieselfde. Die winde het nou darem besluit om so elke nou en dan te konsolideer, so dit is nie meer elke 2 minute toilet toe hardloop nie. Wanneer hulle wel kom dan klink dit nogal aardig. En dan weet ek amper nie of dit net winde is en of daar iets by is nie. Al wat regtig toeneem is die moegheid en krampe. Omdat die gewas baie keer die oorspronklike dunderm blokkeer, volg die kos maar die kortpad wat deur die omlyning gaan en kan die stukkie derm nie die nodige vitamines en voeding opneem nie. En dan met die groei van die gewas veroorsaak hy baiemaal dat die bloed nie van die dunderm na die lewer en niere kan vloei nie wat maar maak dat die organe nogal erg kan pyn omrede hulle nie bloed het om te funksioneer nie.


Verder hou ek myself maar besig met skryf en wat ek voel ek nog kan doen elke dag. Soos vandag wat ek so ‘n bietjie tyd in die tuin wil spandeer om die gras en bossies uit die groente tuin te haal. Ek glo ek sal die bietjie werk darem kan doen want die stukkie grond is maar skaars 2m . So tot volgende keer, geniet jou lewe en onthou om die beste van elke dag te maak.

Dinsdag 28 April 2015

Dinsdag 28 April 2015 Nog 'n nuwe dag met nuwe dinge

Hier by ons is die somer verseker verby. Het al so een oggend ryp gehad, maar oor die algemeen is die weer lekker koel tot koud. Ek weet baie mense hou van die warmer weer, maar vir my is die tyd van die jaar baie lekker. Die dae is dit aangenaam behalwe as die wind baie waai, en in die aand en oggend kan jy maar so ‘n bietjie warmer aantrek want daar is altyd so ‘n byt in die lug.

Volgende week die tyd is ons weer op die plaas by Su-Hannie en Bani, en dan ook tyd vir die groot bederf met Esthee wat kom kuier en dan ook daar by ons sal wees. Lekker om haar weer te sien na nog ‘n jaar daar doer anderkant die see in Melbourne. Gelukkig weet ek hulle is baie gelukkig daar.

Daar is nogal baie wat ons besig hou hier n die Karoo.By die huis was dit nogal spannend met die omheining van ons erf, met almal wat wil voorskryf en op eis wat nie hulle s’n is nie. Gelukkig is dit nou agter die rug en kan ons nou ontspan.

Met die gesondheid is dit maar rof. Die dae het so halfpad in ‘n roetine vasgeval. Erge diarieë vroegoggend, dan so ‘n bietjie rustig, baie winde so van twaalfuur af, dan dalk weer so ‘n uur of twee se blaaskans en dan weer winde en diarieë tot slapenstyd. Dit is nou net die een simptoom. Met die ander simptome is die ou pyn ongelukkig die een wat nie meer juis ruskans gee nie. As dit nie die gewas is nie, is dit die lewer en dan weer die niere. Ek neem maar net notisie van die een wat die ergste op daardie tydstip is. En dan raak die ou kragte ook maar minder en raak ek maar so nou en dan gefrustreerd as ek iets wil doen en ek dit nie kan doen nie.

Gelukkig gee die ou siekte my nogal baie tyd om te skryf. Ek het nou begin met my laaste werk wat ek voel ek nog moet doen. Hettie het ook sommer vir my die titel van die boek gegee, “Die openbaring van Openbaring”. Hierdie is seker vir my die langste wat ek nog gevat het voordat ek kon begin werk het aan ‘n boek. Die gedagtes is al seker meer as ses jaar by my, maar net wanneer ek dink ek is reg om te begin, dan word my kaarte eers weer deurmekaar gekrap en stel ek dit maar uit totdat ek weer rigting kan kry. Nou voel ek dit is egter tyd en staan ek ook maar verbaas oor die fyn detail wat daar in die Openbaring is wat ek ook maar vir baie jare gelees het maar nooit die impak daarvan besef het nie.


Maar dit is nou ook genoeg vir vandag. Tot volgende keer, seker eers na Esthee se kuier, dan kan ons weer verder gesels.

Dinsdag 07 April 2015

Dinsdag 7 April 2015 Paas naweek is verby

En so is daar sommer ‘n vinnige vier weke al weer verby. Nou dat ek terugdink daaraan besef ek eers hoe vinnig die tyd verby gegaan het. Daar het ook nogal baie gebeur in die tyd.

Ons was by Su-Hannie en die kinders vir amper twee weke gewees. Dit was baie lekker om op die plaas net mooi niks te doen nie. Hettie het wel gehelp om die kinders reg te kry vir skool dat hulle net na sewe in die oggende kon ry, en daarna het ek en Hettie onsself besig gehou. Bani was vir werk weg en was net die naweek daar gewees so tussen twee projekte. Nie ‘n slegte projek om aan te werk as die kliënt in die Seychelles is nie en jy moet daar gaan werk nie. Maar ek weet ook dat dit nie lekker is om alleen agter te bly en nou skielik ma en pa te wees nie. Veral as jy nog met kleiner kinders sit nie. So dit was eintlik lekker vir oupa en ouma om te gaan help al het oupa nie veel gedoen of beteken nie.

En dan het ons ook nou aan die einde van Paasfees/naweek gekom wat ook maar beteken dat ek maar min gedoen het, want dit was mos naweek. Verlede week en naweek was ek egter besig. Ek moes al my boeke voorberei en oorplaas na On The Dot wat gebruik word deur CUM, Exclusive Books, Carpe Diem en meeste van die boekwinkels en uitgewers om hulle eBoeke te stoor en te bestuur. So ek sal seker binne die volgende paar dae hoor dat alles wat ek so oor die afgelope 20 jaar geskryf het, beskikbaar is by die boekwinkels se webtuistes om af te laai. Ek sien nogal uit daarna. Dit is nou al reeds by my eie webtuiste by www.shama.org.za beskikbaar. Van die boeke het ek seker so 14 jaar terug begin skryf en ander het ek eers hierdie jaar klaar gemaak. Dit handel alles maar oor my paadjie met die HERE en wat ek by Hom geleer het. Al wat ek kan sê is dat dit so ‘n bietjie anders is as die gewone wat ons van skrywers kry vandag wat mense probeer streel, wat sekerlik nodig is, maar ek sien nie boeke wat mense uit kan leer of dalk net jou manier van glo bevraagteken. Dalk so ‘n bietjie kontroversieël, maar dit is wie en wat ek is.

Ek het sommer ook besluit om as deel van die beskikbaarheid van die boeke en DVD’s so ‘n bietjie op my ander blog, my “bedieniengs blog”, so een boodskap per week te plaas. Van hulle is al ouer boodskappe wat ek ook maar oor jare geskryf het, ander is darem nou onlangs eers neer gepen, terwyl ander nog net in my kop is. Die blog is by: http://shamaministries.blogspot.com/2015/04/windpomp.html

Met die gesondheid is dit maar soos gewoonlik. ‘n Paar dae nie so sleg nie en dan ‘n paar dae wat dit maar sleg is. Die maag is nogal snaaks. Ek het vir Hettie gisteroggend gesê ek het ‘n nuwe uitdrukking wat so min of meer vertel wat ek deurgaan, en dit is om hardlywig diarieë te hê. Dit klink verkeerd maar dit is wat die ou gewas met my doen. Verder is die kanker maar seer en ongemaklik, en dan weer gemeng met moeg en bloeddruk wat nie kan besluit of dit hoog of laag wil wees nie. Ek moet erken dat die pyn nogal erg raak met tye. Dan voel dit sommer soos dit die dag gevoel het toe alles verstop was, en dan raak dit meer draaglik maar ek kry deesdae nie juis meer ‘n blaaskans nie. Maar dit is die lewe en die pakkie wat ek gekry het om te dra.

So ons gesels weer.

Dinsdag 10 Maart 2015

Dinge is aan die gang hier by ons.

Dinsdag 10 Maart 2014

Ek was maar baie stil die afgelope paar weke dat selfs Hettie vir my sê vanoggend dat ek lanklaas iets bygevoeg het. So ja, dit is waar, maar dan is dit seker tyd om iets by te voeg.

Die hele blog gaan maar oor my stryd teen hierdie snaakse kanker, so dit is ook maar wat in my lewe elke dag aangaan. Die een dag voel jy beter net om die volgende paar dae weer ‘n bietjie woes te voel. Ek moet erken dat ek nogal aangepas het met die huidige omstandighede en is dit nie meer so snaaks om 20 keer op ‘n dag toilet toe te gaan nie. Ek raak nou bekommerd wanneer dit nie gebeur nie, want dit kan verrassings inhou vir my wanneer ek gaan slaap. Gelukkig gebeur dit net so gemiddeld een maal per week, maar is dit regtig nie lekker om half een in die nag te moet stort nie.

Baie mense hier in die dorp vra my altyd hoe ek so vrolik en opgewonde kan lyk terwyl ek eintlik nie lekker voel nie. Hulle sien die gesig is maarder as vroeër en die wange het sulke lekker slote in waar vroeërjare dimpels was. En dan let hulle maar ook op dat ek nie elke keer saam met Hettie winkels toe gaan nie en dat sy al die swaar sakke dra. Ek weet nog en is nog steeds gedurende hierdie hele tydperk besig om ‘n droom wat ek het, na te streef. Sonder ‘n droom sou ek seker baie lank terug al boedel oorgegee het, maar die wat my regtig ken weet daardie woorde bestaan nie in my woordeskat nie. In my jonger dae was my bynaam by my een wergewer, Computer Sciences, Louwrens “no problem” Erasmus.

Ek glo maar dat indien jy net die donkerkant van die lewe raaksien dit jou hele lewe beïnvloed. So dit is sommer een rede waarom ek glad nie nuus kyk op TV nie, want dit ontstel my net te veel om te sien hoe die politici (en dit sluit alle partye in) hierdie pragtige land en lewens standaard van ons deur hulle gaaie trek vir hulle eie voordeel.

Ek glo nie net maar daarin dat ‘n persoon nog ‘n droom moet hê nie, maar ook om iets daadwerklik daar rondom te doen. Soos baie mense weet is my grootste droom om mense te help op hulle paadjie saam met die HERE. Dat ons nie sal twyfel in die HERE wanneer dinge nie gaan soos ons gedink het dit sal uitwerk nie. Dit is ook wat my staande hou. Om nie maar van versie na versie of dagstukkie tot dagstukkie te lewe nie, maar om die hele verlossingsboodskap in al sy fasette te kan ken. Anders is ek ‘n versie of prentjie Christen en nie ‘n dissipel nie.

Nou het ek ‘n epos verlede week gekry van On The Dot met die volgende gegewens: “Hi Amina, Please see below and attached, another new publisher. Kindly contact Louwrens with ftp details once set up, or if there are any queries on our side. Warm regards Ulandy”.  On The Dot is die stoorplek van alle eboeke wat by al die boekwinkels in Suid Afrika se webtuistes gekoop kan word. So my eboeke sal eersdaags beskikbaar wees by :Carpe Diem, CUM, Exclusive Books, Future Managers, Kalahari, Kobo, Kwarts, Leisure Books, Little White Bakkie, Myafrikaans, Mybooks, Oxford Univeristy Press en PNA. En dan wag ons net vir die samesmelting van Kalahari en Takealot om die DVD’s wat ek oor van die boeke gemaak het, ook te kan bemark. Dit sal volgens hulle seker so teen middel Mei kan geskied.

In die tussen tyd gebruik ek maar die goeie tye om my tuin in stand te hou, en mense wat ek  al ‘n lang paadjie mee saamloop se vrae oor Christenskap te beantwoord. En voor ek vergeet, ook vir Hettie te help met die huis, kos, en alles wat sy graag nog wil doen om inligting vir haar te kry en op haar rekenaar te sit sodat sy kan sien hoe om snaakse goed soos arm brei te doen.


Tot weersiens hier. Seëngroete vir jou van ons kant af.

Woensdag 18 Februarie 2015

Woensdag 18 Februarie 2015

En so is nog ‘n paar weke verby. Nie dat daar juis iets gebeur het nie, behalwe die ou normale lewe. Dit is maar opstaan in die oggend, ontbyt maak vir almal, dit is nou te sê as Barney nie sommer self gou vir hom gemaak het voor hy werk toe gaan nie, stort, en die gewone aktiewiteite.

Ek moet erken dat ‘n mens baie maklik in ‘n patroon vasval in die lewe, maar gelukkig gee dit stabiliteit, want jy hoef nie elke dag ‘n nuwe patroon te volg nie. Die weer hier by ons, en ek glo by baie ander persone ook, het nog nie gehoor van hierdie patroon nie, want jy weet nooit wat om te verwag nie. Hier in die Karoo is Februarie gewoonlik ‘n baie warm maand. Dit was ook hierdie maand sover so gewees met maksimums wat ek gemeet het van so 38,5 grade, maar dan was daar ook skielik twee herfs naweke waar die maksimum maar 19 was. So dit is maar deurmekaar.

Met die gesondheid is dit maar dieselfde, die een dag goed en dan weer nie so goed nie. Dit is nou die nie so goeie dae wat lyk my nou die oorhand wil kry. Die gewas het besluit dat hy na die operasie nie meer so ‘n groot invloed op my lewe gehad het behalwe die pyn nie, en nou lyk dit my dat my histamien vlak weer die hoogte in geskiet het wat erge sinus veroorsaak. So ek is nou weer besig om my reuk te verloor want die ou neus bly verstop. So ek het gister weer begin om anti-histamien tablette te gebruik om die alewige sinus weer onder beheer te kry. Gelukkig is die dermititus nog onder beheer en is daar net so ‘n paar plekkies wat wys, maar dit jeuk darem nog nie baie nie, net so nou en dan.

Verder is dit maar net die pyn, maag en die alewige moegheid wat maar konstant daar is. Gisteraand moes Hettie maar oorneem toe ek wou koffie maak vir ons want die bloeddruk, wat een van die bydraende faktore is vir die moegheid, het so skielik gedaal dat ek moeite gehad het om ‘n koppie vas te hou. Dit het regtig gevoel of ek sopas 50 “pullups” na mekaar gedoen het.


So, tot volgende keer, geniet dit wat jy doen.

Dinsdag 03 Februarie 2015

Dinsdag 3 Februarie 2015

Die tyd het nogal vinnig verby gegaan. Ek wou al verlede week weer geskryf het maar dit het toe nie gebeur nie.

Daar het regtig nie veel gebeur hier by ons nie, en dit is dalk die rede hoekom ek niks kon skryf nie. Ons het toe vir een keer weer ons selbyeenkoms aangebied maar die gesondheid het net te veel gepla, so ons het dit maar ook gestop. Dit help nie ek hardloop toilet toe terwyl ek besig is om te praat nie. Dit is maar ‘n verleentheid wat nie nodig is nie. Dit is ook maar seker een van die redes wat ek nie by die skryf kon uitkom nie aangesien ek te gereeld badkamer toe moes hardloop.

Dit het my toe sommer ook laat besluit dat ek so ‘n bietjie moet rekord hou van my besoeke aan die badkamer elke dag. Die resultate was selfs vir my verstommend. Wanneer ek praat van die feit dat die gewas diarieë veroorsaak dink ek meeste mense aanvaar dat jy dalk so vier of in uiterste gevalle ses of sewe keer die toilet besoek. Dit is egter nie by my die geval nie. Die gewas hou maar aan al is daar niks meer om uit te kom nie en jaag hy my maar nogsteeds badkamer toe want ek weet nooit of dit net winde is en of dit dalk substansie het wat moet uit nie.

Die meeste mense wat ek hier by ons daaroor gepraat het se monde hang oop as hulle hoor hoeveel keer ek op ‘n dag gaan. Die minste wat ek oor ‘n week gemeet het was dat ek op een dag in totaal 25 keer daar was waarvan daar net 4 keer wel iets was om uit te kom, na verlede Saterdag waar ek 45 keer moes gaan waarvan 12 keer iets was wat kon uitkom. Maar dan was daar ook dae waar ek 35 keer gegaan het en 19 keer wel iets was wat moes uit. Die totale vir ‘n week was besoeke 224, en 78 keer het die maag wel gegaan. ‘n Verdere probleem wat ek maar het is dat die besoeke nie die pyn se vlak weerspieël nie. Baie van die dae wat ek dalk minder gegaan het, het ek baie meer pyn gehad het as van die dae wat ek baie meer gegaan het.

Maar dit is maar wat die kanker so moeilik maak. Dit veroorsaak maar ook dat ek nou baie minder winkel toe kan gaan of selfs net ‘n bietjie bossies uittrek. Een baie groot nagevolg hiervan is natuurlik moegheid. Daar is vele kere wat ek net ‘n skinkbord vol koppies van die wasmasjien na die kombuis dra en dan eers weer vir ‘n ruk moet rus.

Maar dit is nou eers genoeg van die ou siekte.

Hettie is weer aan die gang met haar kunsklasse, en dan het sy nou nog ‘n ander lekkerte ontdek, pottebakkery. Een van die vrouens in die omgewing doen pottebakkery en het nou ‘n groepie vrouens op ‘n Donderdag by haar wat sy leer. En geniet vroulief dit nou baie. Ek is baie bly dat sy ook so ‘n bietjie iets anders kan leer want die klasgee eis ook maar sy tol op haar, want dit is bontstaan om almal touwys te maak.

Wat die tuin aanbetref het ons sakke vol perskes weggegee. En dit nogal die Kakamasperske wat so lekker inlê. Daar was net te veel. Nou is daar nog die Nectarines (kaalgat perskes) wat moet ryp word wat net so baie gedra het die jaar, en dan is daar die groente. Die boontjies, boerpampoen en mielies is darem al geoes. Die res kom mooi aan. Een van die dae sal ek moet bontstaan vir die pattypans as hulle in volle gang is.

Tot volgende keer, geniet die lewe, veral met die mense naaste aan jou

Donderdag 15 Januarie 2015

Donderdag 15 Januarie 2015

En daar is die nuwe jaar al weer twee weke aan die gang. Nogal ‘n besige week of wat agter die rug. Jana en Theuns het by Oupa en Ouma kom kuier en geslaap. Die tweetjies het dit terdeë geniet en het saam met Ouma elkeen hul eie skildery gemaak. En nou moet ek erken dat hulle skilderye beter lyk as wat Oupa s’n ooit sal wees. Theuns kon net nie wag dat Mamma moes kom om hulle te kom haal nie. Hy is nie groot op oorslaap by ander mense wanneer net hy en sy sussie oorslaap nie. Hy doen dit baie maklik, maar mis sy ma baie.

Twee dae later het Vienie en Hester, haar dogter, ook kom kuier. Dit was ook ‘n lekker tydjie veral vir die twee sussies om weer bietjie te kuier. Hulle was net verbaas oor hoe klein ons dorpie regtig is, maar het nie baie warm gekry nie. Vir ons is laag na middel dertigs warm, maar vir Hester het sy nie eers gesweet nie. Hier by ons koel dit vinnig in die aand af, maar by hulle hou die klippe baie hitte wat hulle dan in die aand van ontslae raak, so dit koel nie veel af nie. En dan is hulle temperatuur maar ook net so ‘n graad of drie warmer. Sy kom van Postmasburg, so dit is te verstane. Saterdagmiddag het ons so ‘n lekker vinnige storm gehad wat weer ons pad in ‘n rivier verander het en net so vyftien sentimeter van die bure se voordeur af gestop het. Vienie ne Hester kon nie glo hoeveel water in die pad af is nie.

Die gesondheid is maar nie veel anders nie. Dit het darem so half en half in ‘n ritme in begin pas waar die diarieë vroeg in die oggend is en dan verander dit na winde so van negeuur in die oggend en dan weer terug na diarieë in die laat middag, aand en nag. Verder gee die ou gewas my maar ‘n harde tyd met bloedvlooi na die niere en lewer. So elke nou en dan, so drie keer plus per dag, besluit hy net dat geen bloed na die regter nier of lewer sal deurgaan nie, en dit is nogal seer. Gelukkig kan ek dit nogal self regkry deur te buig of net die liggaam of die gewas te manupileer totdat die pyn minder raak. En dan is daar ook natuurlik pynpille.

En verder is ek maar moeg en het nie veel energie nie. Wanneer ek wel krag het kry ek dit darem reg om gras te sny en die bossies uit die tuin te hou. Die groentetuin lyk heel anders die jaar as verlede seisoen. My spinasie het goed opgekom maar toe sommer dadelik besluit om saad te maak voordat die blare groot genoeg was om te oes. Die lemoen pampoene gaan baie goed aan, en die res van die groente doen hulle bes. Die bone het net vroeg begin dra en is al klaar besig om dood te gaan, so ek sal maar kyk of ek dalk ‘n tweede klomp aan die groei kan kry voor die einde van die seisoen.

Volgende week begin ons weer met die sel by ons huis en sien ek nogal uit daarna. Dit sal nou die eerste keer wees van voor my operasie in Oktober dat ons weer bymekaar sal kom waar ek ook teenwoordig is. Met die gesondheid soos dit nou is kan ek nou nie meer Sondae by die dienste uitkom nie, so ‘n mens mis die geleentheid om met ander gelowiges saam te wees. Ek wil so ‘n bietjie kyk na hoe baie van dit wat ons in die Nuwe Testament lees, in die Ou Testament begin is en wat dit beteken het vir hulle in die Bybel se tyd wat dit beteken vir ons vandag.

Donderdag 01 Januarie 2015

Nuwejaarsdag 1 Januarie 2015

En so is nog ‘n jaar verby en het ‘n nuwe jaar begin. Ons het saam met Su-Hannie en Bani gaan vakansie hou in Gonubie, by hulle gekuier oor Kersfees, en verlede Vrydag huiswaarts gekeer. Watter lekker tyd was dit gewees. So nou en dan vergeet om iets te doen, maar dit was maar ook goed. Ek sien nou my voete is besig om te vervel waar my sandale nie gekom het vroeër in die somer nie, want wie spuit nou sonbrand middel op hul voete. Nie ek nie. Maar, nou weet ek dat dit ook gedoen moet word. Of soos Hettie wat besluit het sy wil so ‘n bietjie kleur op die bo arms en rug kry en dan onder die wind staan terwyl die kleintjies gespuit word en dan vind dat sy soos ‘n luiperd kolle gebrand het soos die wind die sonbrandmiddel na haar gedra het. So sy gaan so kol kol vel af. Maar dit was ‘n fees. O, en dan indien iemand vir Piet Pompies ken, sê maar vir hom die oom wat in die hoek tafel langs hulle gesit het die middag toe ons almal pannekoek geëet het in Gonubie, weet darem nou wie hy is.

Ek wil graag vandag so op nuwejaar die woorde van ‘n liedjie gebruik wat vir my baie beteken het die afgelope tyd en nog elke dag baie beteken om vir almal die jaar ‘n goeie jaar toewens. Die eerste vers is regtig my bede vir ‘n ieder en elkeen wat hier lees.

The sun comes up, it's a new day dawning
It's time to sing Your song again
Whatever may pass, and whatever lies before me
Let me be singing when the evening comes

Bless the Lord, O my soul
O my soul
Worship His holy name
Sing like never before
O my soul
I'll worship Your holy name.

En vir die wat dalk soos ek ook besef dat die einde nader staan die laaste gedeelte van die lied:
And on that day when my strength is failing
The end draws near and my time has come
Still my soul will sing Your praise unending
Ten thousand years and then forevermore

[Chorus x2]
Bless the Lord, O my soul
O my soul
Worship His holy name
Sing like never before
O my soul
I'll worship Your holy name

Jesus, I'll worship Your holy name
Lord, I'll worship Your holy name

Sing like never before
O my soul
I'll worship Your holy name
Jesus, I'll worship Your holy name
I'll worship Your holy name
Die lied kan aanlyn geluister word by: www.youtube.com/watch?v=r3K3roEF36k

Miskien voel ek maar so ‘n bietjie morbied vandag maar wanneer jy soos ek laasnag so diarieë gehad het dat jy skaars kon slaap, dan laat dit maar mens net wonder hoe lank die liggaam nog gaan uithou en aanhou. En dan help medisyne nie eers nie want jy het nog steeds seker 20 of meer keer die toilet laat spoel tussen 12 en 4 uur in die nag.


So vir elkeen wil ek regtig ‘n baie goeie jaar toewens en dat julle ‘n baie goeie 2015 sal ervaar en dat die HERE julle elkeen sal koester.