Saterdag 13 Junie 2015

Saterdag 13 Junie 2015

Ek kan nie glo dat ek al so lank vir vroulief ken nie. En hierdie jaar op Sondag die 14de val die dae presies soos dit 45 jaar terug gewees het. Ek het nogal ‘n goeie verskoning ook gehad om met haar te praat daardie Sondag toe ek myself gedwing het om met haar te praat. Sien my ouers het  die volgende Sondag hul 30ste troudag herdenking gehad, en ek wou darem wys dat ek ook darem met die teenoorgestelde geslag kan praat en dat ek nie so skaam is soos almal daardie tyd gedink het nie. Wie sou kon dink dat ons twee jaar later getroud sou wees en nou al hierdie jaar 43 jaar self getroud sal wees. Al wat ek weet is dat ek net dankie kan sê dat ons nog steeds die geleentheid het om elke dag met mekaar ons harte te kan deel.

Baie dinge het ook gedurende die afgelope paar weke gebeur. Barney het verjaar, en dit was ook nogal ‘n mylpaal vir hom om veertig te kon word. So ‘n lekker dag gehad dat al is die Karoo maar koud die tyd van die jaar het ons regtig ‘n lekker aand gehad en het ons mans selfs buite gesit om die vleisies gaar te maak. En dit toe ook sommer by hulle nuwe huis waar hulle in gaan bly na hul troue. So nou is daar nog ‘n groot mylpaal vir hom wat voorlê wanneer hy oor twee weke gaan trou. Dink dit is nou nogal tyd. Om te dink dat ons na hierdie ou klein dorpie moes kom sodat hy sy vrou hier kon ontmoet. Van haar kant af het sy ook gedink dat hierdie voorreg nie vir haar bedoel was nie. Maar gelukkig gebeur alles op die regte tyd. En nou het ek nog die voorreg om hulle troue te kan waarneem.

Met my gesondheid is dit maar op en af. Ek weet nie wat om oor ‘n uur te verwag nie. Vir die wat wonder hoe ernstig my geval is, ek is op vlak 4 met 'n telling van T4/M1/N1 soos die medici dit uitdruk. Daar is nie 'n verdere vlak om na te versleg nie. Maar gelukkig kry ek darem nog die geleentheid om by die mense te wees wat my liefhet en waarvoor ek lief is. Ek hou myself maar besig met tuin natmaak, sorg dat die voëls en insekte nie my groente alles opeet nie, en dan skryf ek maar. Ek het nogal ‘n groot verrassing die week gehad toe ek besig was om gras uit te haal wat opgeslaan het in die groente tuin en skielik op hierdie groot soet patats afgekom het. Ek weet ek het patats ingehad, maar hierdie groot patats het blykbaar oorgebly van verlede jaar se oes. Nogal lekker ook gewees.

So op die skryf kant het ek ook die afgeloop week twee persvrystellings uitgestuur van die een boek wat ek geskryf het na aanlyding van vrae wat ek ook maar gehad het oor wat sal gebeur die dag wanneer ek my kop finaal neerlê. Ek wil graag die eerste 2000 kopieë van die eboek gratis weggee. Indien jy een wil kry is die persverklarings hier in Afrikaans en hier in Engels. Dit sal jou neem na die persverklarings en van daar na waar jy die boeke gratis kan aflaai. Vir die wat nie regkom nie, stuur my maar ‘n epos dan sal ek seker maak dat die kassier die werk reg doen en dat jy jou boek kan kry. Laat my net weet of jy Afrikaans of Engels soek, of albei. My epos is louwrens@shama.org.za en jy kan maar vir jou vriende ook hiervan vertel. Ek wil graag kyk hoe lank dit vat om die 2000 kopieë te haal.


Ek groet nou eers tot seker na die troue van Barney, geniet die tyd wat jy nog het om ‘n verskil in ander mense se lewens te maak. Ek weet ek gaan die troue geniet, want dit is nie elke dag wat ‘n pa die geleentheid kry om sy eie kind te trou nie.