Dinsdag 25 Augustus 2015

Dinsdag 25 Augustus 2015 - Wat is genade?

Vir my is dit die jaar 20 jaar.

Dit is hierdie week 20 jaar gelede wat my lewe van genade begin het. Ek het toe net verneem dat ek dalk 3 jaar oor het as dinge goed gaan, en ‘n jaar as dinge sleg gaan, om te lewe. Al die kanker wat die dokters kon uitsny het hulle gedoen, en chemo kon dalk help om die res in toom te hou. En om te dink alles het begin met ‘n blindederm wat gepla het en die medici wat so per ongeluk op een gewas afgekom het.

En selfs die onkoloog het nie baie hoop gehad en het in sy verslag aan die chirurg gesê: “Soos telefonies met jou bespreek is die verdere hantering van hierdie pasient werkilk problematies. Soos jy goed weet is radioterapie effektief simptomaties vir metastases wat pynlik is, maar dit is nog nooit in die adjuvante situasie getoets nie. Vanweë die problematiese area, nl. die dunderm is bestraling in hierdie area ook potensieël geneig tot komplikasies. Chemoterapie response wissel van 20-40% en daar is geen literatuur beskikbaar oor die adjuvante gebruik daarvan nie. Somatostatien-analoë is uitstekend vir simptomatiese behandeling (maar nie tumor behandeling nie) van gevorderde pasiente. Daar was ‘n reeks beskikbaar van 23 pasiente waarvan 4 van hulle, dit is 17% ‘n krimping van tumor getoon het. Maar meer resente studies toon ‘n 0-9% vermindering in volume van die siekte. Die literatuur se konklusie is dat die anti-tumor refektor van oktreotied nie indrukwekkend is nie.”

Teen die einde van daardie jaar was ek redelik moeg vir chemo, om jou elke dag self in te spuit, meeste kere met Hettie se hande, en elke tweede week onkoloog toe te gaan en daar te gaan sit vir ‘n uur of twee, was nie my idee van lewe nie. Veral nie op 44 jarige leeftyd nie. Dan kan jy net dankie sê vir jou kinders om te sien dat hulle soos kinders glo wat in die Bybel staan, en waar hulle na spesiale dienste gegaan het waar daar vir genesing voor gebid is, en dan vir my ‘n sakdoek bring en op my kom lê, want hulle glo dat die Bybel waar is. As Paulus dit kon doen dan kan ons mos ook so glo.

Dit was die rede waarom ek toe regtig in alle erns die Bybel begin bestudeer het. Om seker te maak dat wanneer ek die dag sterf, ek weet waar ek sal wees na hierdie lewe. Want dit was nie ‘n kwessie van eendag nie, maar dalk is dit vandag, dalk more, maar ek weet daardie dag kom. Ek kon nie vertrou op enige ander persoon om namens my te besluit wat vir my goed is in die lewe nie. Ek moes eienaarskap neem van my eie toekoms.


Verseker glo ek nie meer soos vroeër nie.Maar ek het my kinders sien trou, kleinkinders is gebore en die jongste kleinkind begin al volgende jaar met groot skool, en my lewe is verseker nie meer dieselfde nie.

En dit is alles genade, want as die HERE nie vir my die geleentheid gegee het nie, sou my einde verseker anders gewees het. Maar Hy het my aandag gekry en my toe op ‘n pad gevat wat ek meeste keer net as verbysterend kan beskryf.

Alhoewel die afgelope twee jaar nie ‘n tyd was wat ek vir enige persoon toewens nie, is ek nog steeds gefokus op Hom en wat Hy vandag deur my wil doen. Twee jaar gelede het ek vir die eerste keer weer ‘n Carcinoid krisis ervaar, en moes ek verlede jaar weer ‘n operasie ondergaan het om die dun- en dikderm te omlyn om te maak dat daar ‘n ander pad is vir die voedsel om om die gewas te gaan, want die gewas het gegroei en is so verstengeld met die derms dat dit onmoontlik is om daaraan te werk. So moes hulle toe ook ‘n stuk van die lewer verwyder waarheen die kanker versprei het. Dan het die gewas ook om die hoofbloedvat gegroei wat tussen die dunderm en lewer is, die een wat al jou voedingstowwe na die lewer vat om gesuiwer te word, en is die gewas maar besig om die bloedvat stadig maar seker toe te druk, sodat ek meeste tyd ‘n regter nier het wat baie kla dat hy nie vloeistof kry om sy werk te doen nie. Dit is ook die oorsaak hoekom hulle nie die gewas kan verwyder of kleiner te maak nie. Sodra hulle die aar klamp is dit verby met my.

Die afgelope paar weke is dit ongelukkig so dat ek amper elke dag deur ‘n Carcinoid krisis moet werk, of party dae sommer twee of drie, maar ek kry nogsteeds tyd om dit te vier met die mense wat ek voor lief is en hulle vir my. En dit is vir my genoeg, en is vir my elke dag, net genade. So die week is vir my ‘n baie besonderse week, met ons huweliksherdenking op 26 Augustus (43 jaar), my verjaarsdag op die 27 ste, en dan my nuwe lewe wat hierdie jaar 20 jaar is op die 31 ste, die dag van die eerste operasie. O ja, en dan gaan ek weer Woensdag hospitaal toe. Sal maar sien wat gebeur en of hulle iets kan doen vir my.

En wat kan ek sê?

Dankie HERE.

Die wat belangstel kan hier lees waaroor die soort kanker gaan, en wat ‘n Carcinoid krisis is. Ek kan probeer om dit te verduidelik, maar die medici doen dit nogal goed. Kyk veral na die foto op skyfie 20, en dan sal jy kan sien wat dit aan jou gesig maak. Hettie was baie bekommerd dat ek dalk nie suurstof kry en dat dit die rede is vir my neus so blou word, maar nou verstaan sy ook wat besig is om te gebeur.

Sondag 16 Augustus 2015

Sondag 16 Augustus 2015 - Die maand van winde

En so is amper nog ‘n maand verby. Ek en Hettie is nou weer gewoont daaraan om alleen te wees, en is dit baie lekker om Barney en Debbie elke nou en dan vir ‘n kuiertjie te sien. Met die twee jong getroudes gaan dit ook sommer baie goed. Nie dat hulle op 40 en 36 meer jonk is nie.

Ons het so ‘n paar dae by Su-Hannie en Bani op die plaas deurgebring. Dit is altyd lekker om daar te wees en net die stilte te geniet. Hier op die dorp is dit ook stil, maar daar is dit net die gedruis van ‘n trekker, dorsmasjien of bakkie so nou en dan. En dan is die honde altyd daar, veral klein Coco om ‘n ogie te hou en kyk waar sy gou by jou kan kom lê en ‘n bietjie hitte te steel. Maar dit is nogal lekker veral omdat sy die ses maande wat die kinders in Engeland gewees het vir Bani se werk by ons gebly het en ons haar help groot maak het.

Ons was by die kinders omdat ek gou by die hospitaal moes uitkom om die dokter te sien en wag nou maar om te hoor wanneer ek weer Bloemfontein toe kan gaan vir ‘n CT scan. Die ou kanker pla maar en weet ek nie wat om die volgende uur te verwag nie. Party dae is dit ‘n lekker rustige dag, en dan is dit weer soos vroeër vandag waar dit voel of iets of iemand al jou krag kom steel het. Die medici moet maar kyk of die derms nie weer oppad is om te blokkeer nie, wat die pyn in die regter nier veroorsaak en of die lewer nog skoon is. Al wat ek weet is wat verlede jaar die uitsondering was het nou die norm geword. Ek kan darem nou die gebruik van die pynstillers anders spasieër en ekstra neem sodat die pyn beter bestuur kan word.

Ons hoop maar dat dit hier in die laaste week van die maand is want dan moet Su-Hannie in elk geval weer Bloemfontein toe gaan om Theuns se gips te vervang. Die arme outjie is verlede week deur hulle nuwe klein Labrador om gehardloop en sy linker arm net by die elmboog gebreek. So hy het so ‘n paar drade gekry verlede week om die bene weer in posisie te hou, en die sal nou op die 26 ste kan uitkom en dan is daar nog 6 weke van gips voor vir hom.

Hettie het Vrydagoggend gaan stap en ‘n baie mooi foto van die mielieland geneem met die berg in die agtergrond. Gistermiddag so ‘n ruk na ons by die huis was het een van die plaaslike mense kom wilde eende skiet vir die pot op die gedeeltes wat al klaar gestroop is en het sy kar se uitlaatpyp die land aan die brand gesteek. Gelukkig het sy kar niks oorgekom nie en het hy vir hulle gaan sê wat gebeur het en het daar net so drie hektaar afgebrand van die land wat alreeds gestroop was. Maar dit is fantasties om te sien hoe vinnig mense kan bid en hoe die HERE die wind laat bedaar sodat hulle vinnig die brand onder beheer kon kry.

Met my boek oor Openbaring gaan dit goed. Ek kry nogal baie tyd om daaraan te spandeer maar dit verg maar baie navorsing om seker te maak dat ek nie goed kwytraak wat mense kan bevraagteken nie. Ek bevraagteken wel baie van dit wat baie mense kwytgeraak het, of dit nou net kommentare is of boeke wat mense geskryf het om hulle interpretasie te verduidelik. Maar dit is baie moeilik om vier verskillende geskiedkundige standpunte in gedagte te hou, vir mense te verduidelik hoekom sekere interpretasies bevraagteken kan word en dan nog jou eie interpretasie daar te stel en te verduidelik hoekom ek dit so interpreteer. Veral wanneer jy probeer om dit vir alle vlakke van mense, van teoloë tot gewone mense in die straat duidelik te maak. Maar ek glo darem ek sal dit kan klaar kry binne die volgende ses na agt weke. Oorspronklik het ek gedink ek sal einde Julie klaar wees, en nou vind ek uit dat ek maar net een hoofstuk in ‘n maand kon skryf, en daat lê nog 13 hoofstukke voor. Maar dan was dit seker ook die moeilikste gedeelte om te verduidelik, so die res sal hopelik vinniger gaan.

So tot volgende keer, groete hier uit die Karoo.