Maandag 14 September 2015

Maandag 14 September 2015

En daar is die winter amper verby, met nog so nou en dan ‘n herinnering aan die koue van die winter. Nou moet ek ook sê hier by ons is dit nog nie dae waar jy met ‘n kortmou hemp of broek kan rondloop nie, maar die donskombers het darem nou plek gemaak vir die “tussenweer duvet”, die een wat seker goed genoeg is in die winter vir die mense wat nie in die Karoo bly nie. Dit beteken darem dat jy nie meer die aand sleg hoef te voel as jy vergeet het om die elektriese kombers ‘n halfuur voor slapenstyd aan te sit nie. Die winterslakens is ook nog op die bed, maar orals begin alles darem te wys dat die weer verander. My rose kom ook goed aan, en wil dit lyk of ek so by die 120 steggies aan die groei gekry het van die 140 waarmee ek begin het. Die raad wat iemand op Facebook gesit het om roossteggies in aartappels te laat wortel skiet het gemaak dat ek nou vyf aartappel plante het en lyk dit nie of die vyf rose dit gaan maak nie. Wel ten minste het ek darem ‘n paar aartappels wat ek in ‘n emmer kan gooi en met grond opvul en so teen Januarie se kant darem ‘n emmer vol aartappels gaan hê.

Die week by Su-Hannie was baie lekker gewees. Ons is toe die Woensdag almal Bloemfontein toe, ek na Universitas, en sy na die spesialis om Theuns se gips vir sy arm te vervang. Die outjie het mos sy arm ongelukkig gebreek toe die hond op hom gespring het en moes hulle penne insit om die arm te stabiliseer. Nou het hy nog so ‘n paar weke voor hulle die gips en penne kan uit en afhaal. Vir my kan ek nou vierkeer per dag pynpille vat en nie net driekeer nie. So dit help darem. Al wat hulle wil doen is maar om my onkologie toe te stuur vir chemo, maar wanneer jy vir die dokter sê dat jy bewus is daarvan dat chemo die groei van die Carcinoid kan stop op gewasse van 2mm en kleiner, en dan is die kans maar tussen 0 en 8 persent, en ek met 'n monster van oor die 70 mm by 30mm by 30mm, dan het hulle nie antwoorde nie. O ja, en sodra jy stop met chemo groei die gewas maar weer, en is die newe effekte van die chemo erger as die gewas se newe effekte. So jy maak maar oë toe en sê elke dag dankie vir die HERE dat jy nog lewe, en gaan voort.

Ek was so bederf met my verjaarsdag dat terwyl ek met sus Susan gepraat het op die foon, die visarende sommer laag oor die werf gevlieg het op soek na kos. Op die plaas is die beste ontvangs maar buite die huis so halfpad oppad na die stoor toe. So die tydsbeplanning was sommer baie goed. Hettie was ook in die oorlog daar terwyl ma en dogter gaan stap het, toe sy besluit het om in die rivier haar balans te verloor en nie sommer net eenkeer nie, maar tweekeer te val. Sy loop nou nog met bontkolle op die bene rond. Gelukkig was die sny bokant die oog nie nodig om steke te kry nie, maar sy het maar oes gelyk toe Bani haar gaan haal het na die val.

En so verander die ou siekte ook. Na verlede jaar se operasie was ook so bly dat ek ontslae geraak het van die oormaat histamien in my stelsel, dat ek weer kon ruik en nie gevoel het dat ek gaan versmoor wanneer my mond toe is nie. Wel dit was tot verlede week, en nou is die ou neus weer so toe dat ek elke dag seker twee tot driekeer moet antihistamine tablette moet vat om nie heeldag met sinus rond te loop nie, en te kan asem haal. Dit het maar ‘n impak op die gesondheid want nou raak ek maar redelik vinnig moeg. Verder het die maag darem verbeter en is die winde baie minder, en baie meer voorspelbaar as in die verlede. So saam met elke terugslag is daar darem ook weer iets wat beter gaan.


Met die boek is ek darem amper klaar. Ek kan seker sê ek is klaar, maar ek is nou so halfpad met die een addendum wat nog moet klaar. Gelukkig het ek jare terug al notas gemaak oor die vergelyking van Esegiël en Openbaring, so nou is dit net so ‘n bietjie met woorde inkleur, dan is die gedeelte ook klaar. Maar, dan is die volgende stap daar, en dit is om die hele boek, al 144 A4 bladsye in Engels oor te skryf. Ek hou maar daarvan om self die vertaling te hanteer want dan vertaal ek eerder die gedagte as net die sin of paragraaf. En dan is daar natuurlik baie uitdrukkings wat nie gelykes het in Engels nie, en dan is daar weer gedeeltes wat makliker in Engels uitgedruk kan word as in Afrikaans. So ek het darem nog baie om te doen.