Vrydag 21 Oktober 2016

21 Oktober 2016

En daar arriveer die warm weer skielik vanoggend. Gisteraand ‘n groot reën en hael storm gehad, soveel so dat ons nie stories of musiek kon kyk nie. Vanoggend toe ek gaan kyk het ons darem 22mm gehad, en het die hael nie skade gedoen nie. Hettie het wel vandag by een van haar studente gehoor dat Hofmeyr, waar die vrou bly, baie hael gehad het en sy 14 ruite moes vervang vandag.

Ons het wel nog ryp gehad verlede week en van my rose het seer gekry, maar hulle is darem besig om te herstel. Ons glo die laaste ryp is nou verby en na gister se reën sal my gras vinnig kan groen word.

Met my gesondheid is dit maar soos gewoonlik seer en ongemaklik, en dan weer nie lekker nie. Soos vandag waar ons vroeg Burgersdorp toe was om die dokter te sien vir Hettie en toe eers weer so halfdrie by die huis gekom het, en nou sit ek maar met redelike einas want ek kon nie toilet toe hardloop wanneer nodig nie, en het die gewas en winde nou maar gemaak dat dit regtig moeilik is. Ek het wel uiteindelik van alles ontslae raak, maar om so 10 keer binne ‘n uur by die toilet te wees is nie lekker nie. En dit hou ook nie op nie en is nogsteeds aan die gang. Hoop maar die pynpille sal nou begin om hul werk te doen, anders sal dit maar aangaan tot ons gaan slaap.




Ek het twee van die scans (Scintograaf) van Augustus gewys hierbo wat wys waar die carcinoid heen versprei het. Alles wat swart is is uitsaaïngs. So kan mens dit duidelik sien op die sleutelbene, die pelvis, agter die regter oor en op die nek, ‘n paar op die ribbes en dan op die onderste een kan die rug duidelik gesien word saam met die pelvis. Die kol op die laaste een wat so in die lug hang is die regter nier wat ook maar deurloop. Die eier wat op die eerste scan wys is my blaas wat nog vol van die radioisotope was.

Ons was darem met die skoolvakansie op die plaas en het lekker gekuier met die kinders. Ek het net die Woensdagaand myself aan die brand gesteek in plaas van die vuur vir die tjoppies, maar gelukkig het Su-Hannie baie goeie medisyne daar gehad wat die brandwonde vinnig laat herstel het. Dit is nog net die regter duim wat nog so ‘n seer kol het, maar dit sal ook teen volgende week reg wees. En met die weghardloop het ek nog geval en my ou seer lyf nog bietjie seerder gemaak, maar tyd heel maar al die wonde.

Dit is al vir vandag. Ek vermoed die volgende pos sal seker nie weer ‘n maand vat voordat ek dit plaas nie.

Tot volgende keer.

My video vir vandag is een wat Hettie sommer heeldag na sal luister en is dit al waarin ons ons hoop kan plaas.