Maandag 14 Maart 2016

14 Maart 2016 Die oggende raak al hoe kouer.

En daar is ons in die middel van Maart met die skool vakansie om die draai. Dan het groot gedeeltes van ons land baie reën gekry en het droogte geteisterde dele weer in vloede omgeskakel. Maar ons is nie in beheer van dit nie, so moet ons dit aanvaar wat die HERE vir ons gee.

Dieselfde geld maar vir my met my gesondheid. Die een dag beter en dan weer sleg. Ek was nogal baie geïntereseerd in ‘n verslag van ‘n vergadering in die VSA wat spesifiek gehou is vir Carcinoid pasiënte. In die verslag is genoem dat Interferon, ‘n tipe chemo wat baie gebruik word by persone met klein (1mm en kleiner) gewasse, eintlik nie werk nie want die oomblik wat jy stop gaan die gewas maar net weer aan. Myne is so ‘n bietjie groter met afmeetings van 70x32x29 mm, en dit was twee en ‘n half jaar gelede.

By my is die kanker eintlik net ‘n bysaak, maar is dit die newe effekte en fisiese effekte wat dit moeilik maak. En dan die pyn. Ek weet koffie veroorsaak gloede, en ek weet ek is so op die drumpel tussen pellagra en nie op ‘n daaglikse basis. Dan juk my arms en bene en dan nie. Diarieë is ‘n konstante probleem, met gemiddelde besoeke aan die toilet hier om en by die 20 keer per dag. Dan is die grootste probleem vir my die grote van die gewas. As gevolg van sy plasing, om die hoof bloedvaat wat voeding van die dunderm na die lewer neem om ‘n persoon te voed, kan die medici dit nie kleiner maak nie. Hulle het al die metastase na die lewer toe verwyder, maar ek weet ook dat dit al amper twee jaar gelede was, en die lewer is maar weer seer. Dan is daar die feit dat my dunderm maar so 12% van ‘n normale persoon se lengte is, wat weer maak dat ek nie altyd al die voedingstowwe kan op neem nie. Minimum lengte van jou dunderm moet 120cm wees om te verseker dat jy genoeg voeding opneem, maar my is so 30 cm korter.

Nou het die geveg begin oor spasie in die buik. Met die laaste operasie toe hulle die blokkasies in die dun en dukderm omlyn het en die lewer metastase verwyder het, was die ou Proffie se antwoord dat daar darem nog so ‘n klein beweging moontlik is vir die aar om te beweeg. Nou het dit so verander dat elke keer wat ek of iets drink of eet, ek sommer summier toilet toe gestuur word sodat iets kan uitkom om plek te maak vir dit wat ek nou net ingesluk het. En dan voel jy die heel tyd of jy wil oopbars, wat nie ‘n lekker gevoel is nie. Ek sal half kan sê dit voel of jy Eno’s moet drink want jy is nou duk.

So al hierdie goeters in my buik baklei om spasie te kry, want die gewas word maar net groter en groter, en die medici kan dit nie kleiner maak nie. So die niere kla want alles druk teen hulle, en dan kla die lewer, en dan kla die gewas die hele tyd. Die afgelope week het my slaappatroon ook verander aangesien ek nou moet opstaan in die nag om twee of driekeer net van water ontslae te raak sodat die pyn kan verminder. En dan ontwater jy en moet weer water drink en dan moet jy weer gaan plek maak vir die water wat jy nou net gedrink het. En so is dit maar ‘n wilde kringloop. Bo in, onder uit.
En dan is dit die al ewige moegheid wat my bykom. Net buitekant toe en terug terwyl ek ‘n vleisie op die vuur gooi maak dat ek ‘n carcinoid krises ervaar, waar die bloeddruk val, al die bene en arms voel asof hulle nie daar is nie, en gloede kry. So dit is maar my normaal van nou af. More se normaal lyk dalk anders, maar gaan verseker nie beter wees nie, alhoewel dit my darem so nou en dan ‘n blaaskans gee.

Verder gaan dit goed. Die kleinhond wat Hettie gekry het leer sommer baie vinnig. Hy is regtig ‘n plesier, al is my en Hettie se hande vol van klein tandjies bytmerke wanneer hy wil speel. En hy soek haar heeltyd wanneer sy winkel toe gaan of potte toe. Maar hy kom darem tot bedaring.

Ek is nou ook bly die skrywery is nou klaar, en nou gaan ek maar kyk of ek so oor die volgende paar weke die boek oor die uitleg van Openbaring ook op video kan vaslê, en op Youtube plaas by al die ander videos. Ek sal maar so hoofstuk per hoofstuk doen, want dit is nogal ‘n lywige dokument, en as ek eers begin praat dan kan ek mos nie ophou nie. So ek weet nie hoelank dit gaan vat nie. Die opname sal ek maar net in Engels doen want dan kan ek meer mense daarmee bereik. Sal maar sien hoe vêr kom ek daarmee.

Net as ‘n opdatering van die sangeres waarvan ek in my vorige skrywe van gepraat het, is toe verlede week Dinsdag begrawe. Vir die wat dit dalk op my Facebook gemis het, hier is wat haar man daaroor geblog het. http://thislifeilive.com/dust-to-dust/


So tot volgende keer, hou my maar ingedagte en gebede, want ek het dit regtig nodig. Arrie warrie.

Dinsdag 01 Maart 2016

Dinsdag 1 Maart 2016 'n Nuwe maand met nuwe dinge

En so begin ons met ‘n nuwe maand en nuwe dinge wat vir ons wag. Die stukkie is dalk langer as wat ek aan die begin gedink het dit gaan wees, maar toe het ek nogal baie gehad om oor te skryf. Die afgelope twee weke was nogal interessant by ons. Omdat ons nie altyd weet of ons dalk gaan kuier op die plaas nie, en hoe lank dit gaan wees nie, het ons ons lewe so ingerig dat ons baie maklik kan pak en gaan. Dit het natuurlik beteken dat daar nie juis tyd was vir troeteldiere nie, alhoewel beide van ons lief is vir diere.

So het Hettie einde verlede jaar haar kanarie gekry wat net so ‘n bietjie lewe in die huis gebring het. Ek dink maar elke persoon is gemaak om vir iemand of iets te sorg, om so ‘n bietjie liefde aan te betuig. En net toe ons dink dit is nou reg toe sien Hettie die een vroutjie hier op die dorp het Chihuahua hondjies te koop. Ons het nie juis eers dit bespreek nie, maar het toe darem die laaste een gekry. Nou is dit al hierdie beweging in die huis en die diertjie te leer wat is toelaatbaar en wat is nie, waar om toilet toe te gaan en alles wat daarmee gepaard gaan.

Dan was ons ook vir ‘n week op doe plaas met hond en al. Su-Hannie het ‘n klein miniatuur Pincher wat vir sewe maande by ons gebly het toe Bani vir 6 maande op ‘n projek in Engeland moes gaan werk, so die hond is mal oor ons en sit veral by Hettie op die een bank. En toe is daar nou ‘n ander hondjie ook. So die laaste twee dae van die kuier kon Hettie darem redelik rustig sit met ‘n hond aan elke kant sonder dat hulle net oorlog wil maak en dan het Coco maar by my kom sit.

Nou kom ons by die gedeelte wat ek partykeer maar moeilik vind om oor te skryf. Die ou kanker sukkel maar baie en put my vreeslik vinnig uit. Ek kan nie meer lekker diep sit op ‘n bank nie en verkies maar ‘n regop stoel sodat die gewas hom nie vir my vererg en kla dat hy seer kry nie. Die Carcinoid krisisse is nogal intens deesdae en waar ek vroeër jare, seker die vorige 30 jaar al sukkel om te slaap in die aand en nog nooit kon slaap in die nag wanneer ek ‘n middagslapie gevat het nie, het ek sommer twee dae na mekaar in die middag geslaap op die plaas terwyl ek ‘n bietjie gaan lê het om deur so ‘n krisis te gaan. Die laaste nag het ek toe baie min geslaap, maar gelukkig sodra die son kop uitsteek is al die vaak ook verby.

Ek het nou ook op ‘n plek gekom waar dit vir my moeilik is om party dae positief te bly. Ek het geskryf dit wat ek gevoel het die HERE my voor geroep het, ek het die videos op Youtube gelaai sodat mense wat nie van lees hou nie kan sien en leer wat ek oor geskryf het. Noudat dit alles klaar is vind ek maar party dae so ‘n insinking in die emosies, maar dan kom daar weer ‘n dag soos vandag waar ek net gedryf voel om net te skryf en vir mense te kan sê dat dit maak nie saak wat vir jou voorlê nie, die HERE sal jou nooit begewe of verlaat nie. Hy het altyd ‘n doel in jou lewe al voel dit nie so nie. Vir my was vanoggend weer een van daardie dae waar ek net kan terug kyk na my lewe en sien hoe die HERE elke stap van my lewe daar was, en nog steeds is. Ek sien gister op my rekenaar ‘n kort gedeelte van ‘n preek wat Hettie opgeneem het sommer met haar selfoon die laaste keer toe ek by ons gemeentetjie kon optree waar ek met half opgerolde moue staan en praat sonder om eers op te let dat ek seker elke 10 sekondes my arms gekrap het. Dit was die tyd voor die operasie waar hulle die derms moes omlyn en ‘n stuk van die lewer verwyder het wat maar alles saamgewerk het om ‘n Niacin tekort veroorsaak het. Deesdae is dit dalk so nou en dan wat dit nog gebeur maar eintlik is dit baie beter.

Net wanneer jy dink dat jy nou al alles gedoen het, dan kom sit jy maar weer voor die rekenaar en skryf so ‘n stukkie, want wie weet, dalk is daar net iemand wat nodig het om te hoor dat die HERE jou liefhet, en jou nooit sal verlaat nie. Ek is nou nie een wat skryf oor soetsappige goed of “voelgoed” stukkies nie, want vir my is dit nie hoe die lewe is nie, Ja, miskien help die “voelgoed” stukkie vir vandag, maar weet jy ek het gevind dat wanneer jy in daardie verhouding staan soos wat ek met die HERE staan, ek nie nodig het om my te steur aan sulke goed nie. Ek weet mense sal dink dat ek geestelik hoogmoedig is, of dat ek skryf oor goed wat sovele mense al oor geskryf het en elke persoon fout vind met die en daardie manier van interpretasie, maar ek weet dat dit die enigste manier was vir my om seker te maak dat ek saam met Hom in die Nuwe Jerusalem sal wees. Ek het daardie vrede in my wat niemand van my kan wegneem nie. En dan wil ek nie eers na sulke stukkies kyk nie, want dit gaan my nooit ‘n oorwinnaar maak nie. En dit is wat Christenskap vir my beteken. Dat te midde van al hierdie onsekerheid in ons land, al die gemors wat die pers en vermaaklikheidsterre vir ons opdis, ek kan wegdraai daarvan en my oë vestig op die Gewer van elke goeie gawe. Dat ek na Openbaring kan gaan, en sewe keer die woorde kan lees aan elke gemeente “Aan hom wat oorwin” of “aan die wat oorwin”. Maar die beste woorde kom so ‘n paar hoofstukke later “Open 12:11  En hulle het hom oorwin deur die bloed van die Lam en deur die woord van hulle getuienis, en hulle het tot die dood toe hulle lewe nie liefgehad nie.” Indien jy dalk wil lees wat ek oor geskryf het, gaan kyk maar by ons webtuiste se tuisblad waar ek ‘n skakel ingesit het waar al my boeke gratis algelaai kan word by http://www.shama.org.za of klik sommer hier: http://www.shama.org.za/boeke/ . Ek hoop die skakels werk want ek sukkel met hulle vandag.

Dit is my bede vir elke persoon wat hierdie stuk lees, dat jy met oortuiging die woorde van Openbaring 12 sal verstaan en so deel van jou menswees wees, dat dit sal gaan soos wat Jakobus dit vir ons uitlig: “Jak 4:7  Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug.”

Ek het so twee weke terug ‘n epos van Youtube gekry waar hulle my laat weet het dat die een kanaal wat ek ingeteken het voor, ‘n hele nuwe DVD opgelaai het. Ek het gaan inloer en iets opgemerk wat vir my snaaks was oor die paartjie. Die man het gesê dat hy toe vanjaar nie die gewone valentynsdag sal hê nie. Ek het dadelik gewonder of hulle dalk huweliksprobleme het of so iets. En so het my natuur maar oorgeneem en moes ek by die rede uitkom. Wat ek gelees het, het my net weereens laat besef hoe genadig die HERE vir my is. Dit is nou al amper drie jaar wat ek nie meer kan werk as gevolg van die newe effekte van hierdie kanker nie, maar tog het ek en Hettie en die kinders en kleinkinders so ‘n hegte verhouding en kry ek soveel tyd om afskeid te neem van almal wat vir my lief en dierbaar is. Dit is iets wat ek die HERE gevra het drie jaar gelede toe ek die eerste keer seker was dat die kanker dalk weer aktief was, en toe binne vier maande het die HERE my versoek aan gehoor gegee dat ek kon skryf wat Hy vir 20+ jare my geleer het, en dat ek en Hettie tyd kan kry om net alleen saam te kan wees.

Maar terug na die Youtube epos. Ek het gevind dat die vrou, sy is maar 40 jaar oud en het ‘n 2 jaar oue dogtertjie met Downsindroom, in die hospice is aangesien sy servikale kanker het en sterwend is. Haar man het ook so verlede jaar begin met ‘n blog waar hy elke week skryf oor haar toestand ook met die hoop dat iemand dit dalk iewers nodig het om te weet hoe dit voel vir die persoon wat agterbly. Hulle het so 4 jaar gelede ‘n liedjie opgeneem wat deur ‘n skrywer in Nashville geskryf is, en het nooit gedink dat dit hulle geval sal wees binne twee jaar nie. Vanoggend het ek sy jongste blog gelees en gevind dat sy in ‘n koma is en dat haar einde binne ure sal kom, en het dit my weer aangemoedig om vol te hou met dit wat ek twee jaar terug begin het. Dalk het jy net vandag nodig om ‘n aanraking van die HERE te kry deur dit wat ek met jou deel.

Vir die wat graag die liedjie wil na luister en kyk die skakel is : https://www.youtube.com/watch?v=xcpjSMmWUDw . Die opnames wat ook op die DVD opgeneem is, is opgeneem nadat sy haar chemo en bestralings behandeling gestaak het. Dit is alles outydse Christelike musiek, waar tot die dogtertjie op is wanneer mamma Jesus loves me yes I know vir haar sing. Dit is maar ook my geliefde tipe musiek, so dit het so ‘n dubbele “whammie” gehad vir my.


Tot volgende keer. Geniet die tyd wat jy het met jou mense wat en om jou is.