Vrydag 24 Oktober 2014

Wat n moeilike 2 weker

En so is dit Vrydag. Meer as twee weke na die vorige skrywe. Maar, wat 'n tydjie was dit nie en is ons nog steeds midde hierdie geveg.

Dit het alles begin met 'n naweek van die ou maag wat nie tot ruste wou kom nie. Die Maandag het ek gedink my lewe staan vir my einde se kant toe. Teen elfuur is ons hospitaal toe en daar 'n klomp inspuitings gekry. Die het toe nogal gehelp, die pyn het minder geraak en ek het ook kalmer geword. Maar soos dit gewoonlik is het die pyn terug gekeer hier by sesuur die aand en het ek besluit ek sal maar terug gaan Dinsdagoggend.

Dinsdag is ons toe saam met Su-Hannie sommer na haar dokter toe aangesien ons in elk geval twee dae later sou gaan vir die somerfees en naweek. Nog medikasie en nog 'n swaar dag later is ek toe by hulle opgeneem vir waarneming en is besluit dat daar 'n algehele obstruksie in die derm is. So is ek toe verwys na Pelonomi in Bloemfontein vir 'n operasie om die obstruksie te verwyder.

Nou moet ek 'n lansie breek vir hulle peroneel. Almal was so behulpsaam en het my bederf. Hulle was hulpvaardig, die dokters fantasties en vriendelike personeel. Net skoonmaak is nie groot nie. Dit is maar 'n worsmasjien en 'n vinnige een daarby. Na 'n paar x-strale, CTscan en dreineeringspyp deur die neus, het ek sommer vinnig beter gevoel.

Die plan was om Maandag te opereer en dan teen Vrydag te kon huistoe gaan. Dit was totdat die narkotiseer Sondag met my kom gesels het. Ek was sy eerste carcinoid geval so hy was nogal skrikkerig. Maandagoggend hoor ek toe ek word oorgeplaas na Universitas aangesien dit die enigste plek is waar ICU ingerig is om my geval te kan hanteer. Die proffies wil self die narkose hanteer, aangesien ek 'n carcinoid krisis kan beleef gedurende die operasie en dit kan noodlottig wees. Selfs met die regte omstandighede en medikasie is die mortaliteits indeks nogsteeds hoog by 15 - 16 persent.

So nou is dit die wagspeletjie speel tot Maandag. Die gewas het ook redelik gegroei die afgelope jaar aangesien hy nou ook om die dukderm is. So hulle gaan nou 'n omlyning doen van beide die dun en dukderm om verby die verstoppings to kom.

Vir die mense wat wonder of ek nie bekommerd is oor wat sal gebeur nie, nie eintlik nie. Ek weet waar ek sal heengaan as dit dalk die einde is, en die HERE staan my nogsteeds by van die eerste keer wat ek kanker gekry het 30 jaar gelede, so hoekom sal Hy nou ophou? Hy gebruik my nogsteeds selfs hier in die hospitaal deur vir mense hier te bid vir herstel, vir pyn en net om hulle te ondersteun. En die ergste is hulle kom na my toe. Indien jy gelei voel om vir my te bid vir die operasie, baie dankie.
En die somerfees? Sal maar volgende jaar kyk.

Hierdie is die eerstekeer wat ek 'n skrywe epos vanmy foon af en hoop alles werk.

Donderdag 09 Oktober 2014

Donderdag 9 Oktober

En so het daar sommer ‘n rukkie verloop sedert die vorige skrywe. Ons het baie lekker gekuier by Su-Hannie en Bani, Theuns se konsert geniet, en is al weer amper drie weke by die huis. Gelukkig is volgende naweek al weer oppad en dan kuier ons weer daar. Die keer is dit die Somerfees se beurt.

En so het die oorslaap partytjie van die jeuk en al die ander goeters (newe effekte) oorgesit in ‘n uitspan by my. Dit lyk nie of dit vinnig ‘n blaaskansie gee nie, maar dit is my paadjie. Dit is hoekom ek so stadig is om te skryf, want die gesondheid is nie lekker nie. Met die terug kom van Su-Hannie hulle af was ek te bly om by die huis te kom want elke klippie op die grondpad en duikie in die teerpad het gevoel of iemand ‘n dolk hier in die ingewande steek. Dan voel ek verstop en dan is dit diarieĆ« wat weer terug is, so ek weet nie altyd wat die dag gaan gebeur nie.

Nou wil dit ook lyk of die res van die lyf ook wil begin jeuk. Gisteroggend was dit die bene, voete en bo-arms se beurt. Dit was nogal erg maar gelukkig werk die Mylocort room daarvoor, en was dit binne ‘n uur of wat onder beheer.

Dinsdag was ons vir die dag saam met bvriende Cradock toe. Dit was nou nogal ‘n lekker uitstappie, en het ons so kuier kuier terug gekom en eers gemmerbier gedrink op Hofmeyr, en sommer daar wildspastei gekry vir aandete. Die weer was nogal regte Karoo weer, warm (38C)  en toe later winderig. Gister het ek dit rustig geneem want so ‘n dag uit maak my nogal moeg. Dit was net lekker om in die natuur te wees en vir die arende  en al die verskillende plantegroei te kyk.

Vandag was dit die groentetuin se beurt. So meeste van die groente is in want dit wil nou begin lyk of die ryp oor is vir die jaar. So ‘n week of wat laas ryp gehad, so ons vertrou maar dat die somer oppad is.