Dinsdag 25 Maart 2014

Dinsdag 25 Maart 2013 Nog tien dae is verby

Voor ek my oë kon uitvee is daar sommer 10 dae verby. Daar was soveel wat gebeur het, maar elke keer wanneer ek iets wou neer pen het dit net nie gebeur nie. Ons weer het verseker verander. In die oggende en aande kan jy sommer voel dat daar so ‘n koeligheid in die lug is, en wanneer die wind waai soos vandag, weet jy verseker dit is nie meer somer nie. Vriende van ons het verlede week Donderdag selfs tekens van ryp op hulle rose gehad.

Die groente is amper alles uit behalwe die spinasie. Gelukkig het ek nou soveel groente dat ek amper ‘n vegatariër kan word en dan sal ek nog oorleef tot volgende somer. Ek sal net moet onthou om volgende seisoen die vrugte en van die groente te spuit sodat die vrugtevlieg nie weer al die perskes vir hulleself vat nie. Die arbeie wat ons by Su-Hannie gekry het begin nou ook te dra, en is dit nogal lekker om elke dag ‘n arbei te kan eet. Hulle is nog nie genoeg om ‘n bak vol te maak nie, so ons eet hulle maar so vars van die plant af. En dan het ons ook ‘n lekker kuier by Su-Hannie en Bani gehad en was dit lekker om weer die kleinkinders te sien, veral met Jana se verjaarsdag Sondag. Sy was sommer vroeg by ouma en oupa op die bed, soos wat haar gewoonte maar is.

Iets waaroor ek baie opgewonde is, is dat ek dink my boek wat ek so oor die jare aan geskryf het, staan nou einde se kant toe. Dit het my ook nogal besig gehou maar het in die laaste paar maande ook darem my aandag weggevat van die gesondheid. Ek kyk nou maar so elke dag of ek nog iets kan byvoeg, maar ek kan nou eerlikwaar nie dink dat ek nog onderwerpe kan dek nie. Maar net wanneer ek dink ek is nou reg dan gebeur dit soos gister dat ek nog skielik iets ontdek wat ek nie van geweet het nie. Ek het begin om die boek te skryf so agtien jaar gelede. Die boek is nou so net oor die 250 A4 bladsye en het as tema Jeremia 30 verse twee en drie. “So spreek die HERE, die God van Israel: Skryf vir jou in ‘n boek al die woorde wat Ek met jou gespreek het; want kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek die lot van my volk Israel en Juda sal verander, sê die HERE; en Ek sal hulle terugbring in die land wat Ek aan hulle vaders gegee het, en hulle sal dit in besit neem.” So die boek handel oor ons as Christene, hoe ons een word en bly, en wat vir ons wag die dag wanneer ons ons laaste asem uitblaas. Volgende week sal ek seker aan die Engelse weergawe werk om dit in lyn met die Afrikaanse weergawe te bring.

Ek wens ek kon so opgewonde gewees oor die gesondheid. Dit is maar een van die redes hoekom daar nie iets die afgelope 10 dae gepos is nie. Ek is seker as ek ‘n binnebrand enjin was het ek  iewers ‘n gat in die verkoelingstelsel gehad. Ek loop skaars 10 meter dan oorverhit ek. Ek neem aan dit gaan dalk die winter help dat ek nie baie koud gaan kry nie, maar ongelukkig gaan dit gepaard met bloeddruk wat nie kan besluit of dit hoog of laag moet wees nie, en ‘n hart wat by tye voel of hy uit die borskas wil klim, en dan die ewige moegheid. Gelukkig reageer die pyn darem op die pille, so dit is onder beheer. Net jammer ek kan nie meer vir Hettie ‘n lekker drukkie gee nie want die ou gewas is in die pad en kry dan seer.

Woensdag 12 Maart 2014

Woensdag 12 Maart 2013

En so is nog ‘n week verby. Die weer het hier by ons al klaar verander. Selfs as die son lekker skyn, voel ‘n mens die herfs is in die lug. Ons het nou nie so baie reën gehad soos ander plekke nie maar Hettie spot my vanoggend en sê sy aanvaar my verskoning dat die “land” te nat is om groente te pluk aangesien ek vasval sodra ek in die groente tuin kom. Nou weet ek net nie hoe groot die pattypans gaan wees wanneer ek weer tussen hulle kan inkom nie. Ek sien net die spinasie is so groot soos wat ek nog nie gesien het nie. Maar, dit is baie lekker om jou eie groente te kan pluk en sommer genoeg te hê om sommer die hele winter ook elke dag van jou eie groente te kan eet.

Met die gesondheid is dit maar soos gewoonlik op en af. Daar was maar dae die week dat ek nie lekker gevoel het nie, en ander wat weer aanvaarbaar was. Ek het so ‘n tinteling oor my hele liggaam gehad wat net in vlae gekom en gegaan het sonder ophou. En wanneer dit gebeur het was ek so moeg dat ek nie my arms kon oplig nie, soos wanneer ‘n mens iets swaar gedra het en jou arms niks wil doen nie. Dit het nou Sondag regtig kop uitgesteek en dit wil net nie ophou nie. Vroeër was dit daar maar nie so aanhoudend nie. En dan is daar die ou omval storie wanneer ek opstaan nadat ek op my hurke gesit het. Elke keer moet ek maar net gryp na iets naby my tot ek weer bloed in my kop kry.

Ek is maar besig om uit te vind wat die oorsaak is, maar dit is moeilik aangesien daar nie baie inligting oor carcinoid sindroom beskikbaar nie. Ek het wel een onkoloog gekry wat gesê het dat hy het gevind dat amper elke persoon verskillende simptome getoon het. Daar is selfs mense waar hulle nie enige gewas kon opspoor maar tog het die persoon gereageer op medikasie wat in toets fases is in Amerika om die simptome meer aanvaarbaar vir die pasiënt te maak. Dan is daar weer dokters wat glo dat daar eers uitsaaïng na die lewer moet wees of dat daar limfnodes moet wees voordat die toestand sal oorgaan tot vol carcinoid sindroom, en dan weet hulle ook nog nie wat al die newe effekte is van die gifstowwe wat die gewas afskei nie.

Die dokters sukkel maar om die tipe kanker te identifiseer omdat baie nie weet hoe om dit te doen nie. So is carcinoid sindroom die laaste siekte op die lys wat hulle gebruik in die VSA om die oorsake van diarië mee te diagnoseer. Ongelukkig is dit in baie gevalle te laat vir die pasient, en baie kere word carcinoid eers gedurende nadoodse ondersoeke gevind. Ek het so ‘n ruk terug statistiek gesien wat wys dat 5 gevalle per 100,000 die norm is voor dood, maar as nadoodse identifiserings ingesluit word styg die syfer na 65 per 100,000.

So het ek maar geleer om van dag tot dag te leef. Wanneer ek my oë oopmaak in die oggende is ek dankbaar dat ek nog ‘n dag gekry het om saam met my geliefdes te lewe, want ek weet verseker nie wat die volgende dag gaan oplewer nie.

Woensdag 05 Maart 2014

Woensdag 5 Maart 2014

Sjoe maar die tyd vlieg. Ek wou nog begin om nuus deur te gee toe was dit al weer naweek, en nou trek ons al weer by Woensdag. Verlede week was daar nie veel nuus by ons nie. Hettie is maar lekker besig met haar kunsklasse. Sy is nou al Dinsdag en Woensdagoggende besig, en dan ook die hele dag Saterdag. Maar, sy geniet dit vreeslik, en die studente net so. Elke week is daar nog nuwe mense wat bykom, en lyk dit vir my sommer ander dae ook. Die mense by die ouetehuis geniet dit ook baie. Elke week is daar nog mense wat kom kyk of hulle ook iets kan doen, veral omdat dit hulle niks kos nie want al die benogdighede word deur mense geborg. Hettie moet net sê wanneer die geld op is dan sal dit aangevul word. Dit is nog lekker om op so ‘n plekkie te bly waar mense nog vir mense iets doen.

Ek hou myself besig met die tuin, en om te skryf. Dit is nogal lekker om vars groente in die tuin te gaan pluk, al skrik jy elke nou en dan as jy op ‘n patty pan afkom wat vir twee of drie dae weggekruip het en nou soos ‘n groot pampoen lyk. Of soos Vrydag waar ek net vir ‘n paar minute spinasie gepluk het, maar dit ‘n uur en ‘n half geneem het om reg te kry vir die vrieskas. Ek moet juis vandag nog skorsies gaan pluk en ek is seker daar is amper ‘n sak vol. En dan is daar nog die komkommers wat ek al Maandag of selfs verlede week moes hanteer het, om nie eers te praat van die butternuts nie.

Ek het ook gister ‘n groot verrassing gekry toe ek na my Disa saadbakkie kyk en sommer ‘n hele paar groen spikkeltjies gesien het. Op die stadium lyk dit of ek so agt of meer plantjies het maar hulle is maar baie klein, seker net ‘n speld se puntjie groot. Nou is dit tyd om hulle te pamperlang want hulle vrek sommer baie maklik. Die plantjies wat verlede jaar opgekom het het sommer net gevrek omdat hulle water verander het van Jeffreys se water na dit wat ons hier kry.

Die gesondheid is maar baie wisselvallig. Die een dag soos vandag kan ek nogal redelik aangaan sonder erge pyn en moegheid, maar dan is daar dae soos gister en Maandag wat ek maar liewer wil vergeet van. Dit help darem dat my pynmedikasie verdubbel is en dat dit nie veel juis newe effekte het nie. Dan behalwe vir die pyn is dit is maar net die gloede, bloeddruk en moegheid wat my vang, en is die emosies ook nogal vlak deesdae. Ek wens party dae dat ek net ‘n bietjie binne in my lyf kan kyk wat maak dat ek so erge pyne kry in die rug, of dalk is dit die niere, maar al wat ek weet is dat dit nogal baie seer is. 

Nou is dit gelukkig tyd om ‘n bietjie te ontspan en eers ‘n lekker koppie koffie saam met vroulief te geniet voordat ek my skorsies gaan pluk.