Vrydag 21 Februarie 2014

Vrydag 21 Februarie 2014

En so is nog ‘n week en ‘n paar dae verby. Die weer was die afgelope paar dae baie lekker vir my. Dit is vandag nogsteeds bewolk en koel, wat verseker lekkerder is as vol son en temperatuur wat hier naby die middel 30’s draai, en dit selfs in die huis. Ons het nogal redelik reën gehad wat die groente natgegooi het so ek het nie nodig gehad om elke dag water te gee nie. Ek was net ontstoke Woensdagoggend gewees. Ek was besig in die kombuis toe sien ek net ons krag is af. Barney het toe al klaar na buite gegaan en die bakkie van die munisipaliteit voorgekeer voordat hulle wegry. Toe ek met hulle praat toe “erken” hulle skielik hulle het na die verkeerde nommer in die straat gekyk en moes nie ons krag afgesit het nie, maar die bure s’n. Die bure is besig om die plek te koop en die huidige eienaar het nie die munisipale rekening betaal lyk my vir die afgelope twee jaar nie, so ten spyte van die feit dat hulle hulle water en elektriesiteit betaal, sou hulle krag afgesit word. Maar nou kom die rassisme in, want die bure is kleurlinge en die man is die hoof van die Afrikaanse skool in die lokasie, so sy krag word nie afgesit nie. ‘n Vrou wat saam met ons in die kerk is en ook besig is om die plek te koop is in dieselfde bootjie maar die munisipaliteit wil niks weet nie en het haar krag afgesit tenspyte van die feit dat sy haar krag rekening op datum betaal het. Maar, dit is maar ons nuwe Suid Afrika. Die rassisme is so erg by ons dat die munisipaliteit die sypaadjies by die swart inwoners in die dorp in standhou, maar die kleurlinge en blankes wat direk langs hulle bly se sypaadjies word nie skoon gemaak nie. Nou lyk die dorp se strate skoon snaaks, en kan jy sien wie waar bly. Gelukkig is ons straat mooi aangesien al die huise in ons blok tuingemaak het op die sypaadjie en die gras instand gehou word.

Sover dit die gesondheid aangaan is dit maar woes. Waar ek vroeër so nou en dan nie nodig gehad het om medikasie te neem vir die pyn nie en ek dalk ‘n middag kon oorslaan, is dit verseker nie die afgelope week die geval nie. Dit is maar seer en moet ek maar ‘n vol dosis pynpille neem driekeer per dag en dan nog gaan lê of loop want dit is te seer om selfs te sit. Gelukkig as dit so seer is dan oorheers dit die gloede en wisselende bloeddruk dat dit nie so erg pla nie. Ek weet nou nie of van die tentakels van die gewas die bloedsomloop na veral die regter nier beperk nie, want dit voel asof iets my niere uit die rug probeer skeur. Maar nou is dit Vrydag en ‘n naweek wat voorlê . Nie dat dit juis ‘n verskil maak vir my nie. Groete

Woensdag 12 Februarie 2014

Woensdag 12 Februarie 2014.


Dit is warm hier in die Karoo, en bedompig. Gister teen vieruur die middag staan die temperatuur op 32C binne die huis. As dit so warm is dan kom ‘n mens nie by alles uit wat jy by wil uitkom nie, want jy is moeg voordat jy nog begin. Vrydagaand het ons by vriende ‘n lekker braai gehad. Die muskiete het gemaak dat ons binne moes gaan sit want hier teen agtuur was daar so baie dat ek bang was iemand sal dalk ‘n bloedoortapping moet kry so baie was daar wat bloed gedrink het. Die naweek was baie rustig. Hettie het gaan uitstal by ons plaasmark, en toe sommer ‘n hele paar kuns studente bygekry. Sy is so opgewonde daar oor. En dan was ons vanoggend gou by die ouetehuis aan om reëlings te maak vir haar klasse wat sy volgende week daar gaan begin vir die ou mense. Hulle is ook nogal opgewonde want dit hou die bejaardes besig. Hettie is so gelukkig dat iemand al die benodighede borg, so dit kos haar ‘n uur ‘n week wat sy so ‘n bietjie tyd kan terugploeg in ander mense se lewens.

En dan was daar Jana. Die kinders het vir haar ‘n epos adres geskep en toe kan sy en oupa lekker kuier sonder dat dit haar geld kos op haar selfoon. En oupa moes toe net vinnig leer dat al het sy basies die geselsie afgesluit, moet oupa nogsteeds laat weet dat hy die boodskap gekry het. En nou moet oupa en ouma maar elke dag vir haar ‘n epos stuur. Dit is hoe sy dit gestel het: Oupa oupa weet oupa en ouma kan eennige tyt iets  stuur. Liefde Jana

Ek self het nie so ‘n lekker naweek gehad nie. Iewers tussen elf uur Vrydagaand en sesuur Saterdagoggend het die gewas besluit om die dunderm of te laat buig, of verstop. Dit was nogal baie eina. Ek was net baie bly dat ek nie saam met Hettie gegaan het nie, want toe kon ek so ‘n bietjie op die bed lê en kyk of die ou derm nie weer reg kom nie. So teen Maandagoggend het ek net gehoor hoe die goed hier deur die derms gaan en teen middagete was dit weer normaal. Ek sukkel maar met ontwaterings probleme as gevolg van die gewas, maar omdat die gewas ook nie sy gifstowwe kon uitskei nie, het ek toe nie so uitgedroog soos gewoonlik die geval is nie. Nou kla ek glad nie meer dat ek so uitdroog nie, want dit is gemakliker om baie toilet toe gaan as om so seer te hê.

Woensdag 05 Februarie 2014

Woensdag 5 Februarie 2014.

Sjoe die tyd het gevlieg. Kan nie glo dat nog ‘n week al weer verby is nie. Maar dit is wat gebeur as jy jouself bewustelik besig hou. Al is dit net met klein goetjies soos varingblare  uitsny wat dood is, en bossies uittrek in die groentetuin. Die res van die tyd skryf ek maar en doen my website oor. En dan gebeur dit soos vanoggend toe ons net ‘vinnig’ winkel toe gaan en eers amper 2 ure later by die huis terug is nie. By die ko-operasie loop ons toe ‘n man raak wat so 28 jaar terug saam met my gewerk het in Durban. En nou bly hy ook hier by ons. En dan is daar nog kliënte wat skakel en vra dat ek nogsteeds vir hulle goed moet kry en aanstuur al weet hulle ek is nie meer in die Baai omgewing nie.

Ons het nogal baie reën die afgelope week gehad. Vrydag en Saterdag goed gereën, so 15mm, en gister gedurende die dag 6mm en gisteraand nog 22mm. Ek was bekommerd gisteraand want dit was ‘n lekker harde storm wat ons hele pad oorstroom het. As die water nog so 10mm gestyg het was dit oor die trap by die stoep en binne in die huis. Maar dit sal sommer baie meer moet reën voordat dit kan gebeur.

Met die siekte gaan dit maar aan soos gewoonlik. Die diarieë is net party dae baie erg, wat maak dat die derm baie seer is. Ek het nou ook uitgevind dat dit nogal baie seer raak wanneer ek op my rug lê met net een kussing onder die kop. Gelukkig het ek al jare terug geleer na die rugoperasie om op my sye te slaap, so dit pla darem nie in die nag nie. Ek sien ook dat as gevolg van die baie gloede, my arms en bene nou sulke donker kolle kry. Dit gebeur glo omdat die are al hoe nader aan die vel kom sodat die liggaam kan afkoel. So behalwe vir die diarieë, pyn en die moegheid was dit nogal ‘n goeie week.