Dinsdag 31 Desember 2013

29 en 31 Desember 2013

Sondag 29 Desember 2013.

Vanoggend het ons diens gehou by Eben en Nita se huis. Dit was regtig baie lekker gewees om met die mense te kon praat oor die verbond. Dit is nog steeds vir my verbasend hoe mense wat al ‘n lang pad met die HERE stap, nog nooit geleer het wat die verbond vir ons beteken nie, en ook nie weet dat almal in Christus deel word van die verbond nie.

By die huis het ek en Hettie ‘n bietjie buite gesit terwyl ek vir ons ‘n vleisie op die vuur gesit het vir middagete. Dit was nogal lekker aangesien dit redelik bewolk is vandag. Ek was net nie voorberei vir die haelstorm wat ons gehad het nie. Dit het geklink of dit klippe reen. Die wereld was besaai met hael van golfbal grote en groter. Gelukkig het die groentetuin oorleef. Die pampoene het darem nie skade aan die blomme of vrugte gehad nie, net so ‘n paar blare is afgeslaan of gate in geslaan.

Met die ou gesondheid is dit nie so lekker vandag nie. Die regter nier is maar seer, en dan het ek vandag sooibrand gekry voor ete, iets wat ek regtig nie aan gewoont is nie. En dan is daar die ou seer in die buik. Vandag is dit nogal seer, maar ek onthou nou skielik ek het nog nie my pynpille gedrink vanmiddag nie. So dit verklaar ook maar hoekom ek seer het. Iets wat ek ook deesdae oplet is hoe die gloede nou uiting gee aan hulleself. Daar begin nou oral op die bene, hande en arms sulke donker kolle uitslaan op die vel. Ek het altyd gewonder hoe lyk dit wanneer ek lees dat die vel kolle kry van die gloede. Nou weet ek.

Dinsdag 31 Desember 2013.

En so kom nog ‘n jaar aan sy einde. Daar het soveel gebeur in hierdie jaar dat ek nie eers lus voel om dit in gedagte te roep nie. Ma is gister ‘n jaar gelede oorlede, Barry is begin Februarie huis toe, en so kan ek aangaan. Vir myself moet hierdie jaar nou klaar kry, want hopelik is volgende jaar dalk beter. Dit is maar moeilik om so van Carcinoid krisis na krisis te lewe. Veral as dit jou nie ‘n blaaskans geen tussen die aanvalle nie.

Gister was dit maar erg. Ek het skielik gedink aan ‘n paar maande gelede waar ek dalk een keer ‘n week na pynpille gegryp het om verligting te kry, tot waar ek deesdae is waar ek nie kan wag vir die tyd om verby te gaan sodat ek weer die volgende klomp pille in my keelgat kan afgooi nie. Dit is nou te sê as ek kan opstaan sonder om eers weer gou na iets te gryp sodat ek nie omval nie. Ek het darem gister Su-Hannie se aarbeiplantjies wat sy ons gegee het in die grond gekry. Barney het vir ons die gras geplant wat saam met die aarbeie gekom het.

Ons sou vanaand na ‘n braai toe gegaan het maar ek het dit sommer vroeg al gekanseleer. Ek het nie eers kans gesien om saam met Hettie winkel toe te gaan nie, so hoe sal ek nog kans sien om uit te gaan. Hettie het maar laat weet deur iemand anders dat ons dit nie sal maak nie aangesien daar geen selfoon diens beskikbaar is van gister middag af al nie. Die weerlig het glo iets by Queenstown uitgeslaan en nou is daar ‘n groot gebied wat geen diens het nie. So vandag is ‘n dag om te rus en uit te sien na môre wanneer ek dalk beter sal voel.


Ek wil dan ook sommer vir almal wat hier lees ‘n baie goeie jaar toewens vir 2014, en dat ons altyd ons oë op Hom sal hou wat lewe gee en waarheen ons terugkeer as ons tyd op aarde verby is, ons wat in Jesus is en glo.

Saterdag 28 Desember 2013

Saterdag 28 Desember 2013


En so het ‘n week verloop sonder enige nuwe skrywes vir die dagboek. So wat het die week in my lewe aangegaan? Sondag is ons na die diens toe en is ek toe sommer skielik gevra om die diens te lei. Dit was so lekker om sommer so uit die vuis uit te kon deel met die mense oor die verbond. Môre gaan ek bietjie verder en gaan ons ook nagmaal vier. Dit behoort ‘n fees te wees.

Maandag was ons maar besig by die huis, en Dinsdag is ons saam met Su-Hannie na hulle plaas toe vir Kersfees. Dit was sommer baie lekker om die tyd saam daar deur te bring. Ek weet ek het nou nie veel gedoen nie, maar ek was darem saam met Bani na die bome toe om te sien hoe die nuwe boompies aangaan, en na die braaikuikens toe wat seker so oor twee weke geslag sal word.


Ek het nou ook uitgevind dat die oggende gewoonlik vir my redelik maklik is om deur te kom, maar ai tog daarna. So op Kersdag  het ek maar ‘n bietjie sleg gevoel en was daar amper nie ‘n minuut wat ek nie gloede gehad het nie. Maar gelukkig is daar darem pynpille wat help om die pyn onder beheer te hou. En dan is ek ook sommer bederf deur al die telefoonoproepe wat dit regtig spesiaal gemaak het. Die res van die week was dit maar soos gewoonlik. Nou goed en dan voel ek sommer weer woes vyf minute later. Gister het Su-Hannie ons toe weer na ons huis toe gevat, en vandag is so ‘n tipiese Karoo somersdag. 

Saterdag 21 Desember 2013

Saterdag 21 Desember 2013

Ek het die afgelope paar dae nie by die dagboek uitgekom nie. Die grootste rede is maar dat daar redelik baie is om te doen, en ek nie altyd lekker voel sodat ek alles gedoen kan kry nie. Donderdag was ek maar bietjie siekerig met diarieë. Dit het nogal my kragte getap. Gister was die maag darem beter, maar het nogsteeds baie gekramp. En dan is daar die ou bloeddruk wat so op en af is. En natuurlik saam met die bloeddruk is dit ook die hardkloppings. En saam met die hardkloppings is dit die gloede. Gister is Hettie maar alleen winkel toe aangesien ek maar meeste van die dag net gesit het. Verder het ek voor die kamera gaan sit en begin aan opnames wat ek maak vir volgende jaar se Bybelskool wat ek gaan aanbied. Ek het klaar twee studente wat wil kom, maar die opnames wil ek graag op on webtuiste sit sodat ander persone ook daarin kan deel.

Ek is nogsteeds verbaas oor die gasvryheid van die gemeenskap. Net waar jy kom groet almal en wil hulle eers ‘n bietjie kuier. Soos Hettie vanoggend vir my sê dat toe ons hier gekom het was ons gewoonlik binne 20 minute weer by die huis, maar deesdae vat dit sommer ‘n uur om eers weer by die huis te kom. Nogal lekker gesels vanoggend by die tuisnywerheid waar Hettie so ‘n paar van haar waterverf skilderye gaan sit het.

Woensdag 18 Desember 2013

Woensdag 18 Desember 2013.

Vanoggend is Hettie en ek gou winkel toe om die nodige rantsoen by ons “spens” te gaan koop. Dit is vir my nog steeds ‘n aanpassing om te ervaar dat almal wat jy sien jou groet en sommer net in die middel van die pad staan en gesels. Maar dit is wat lekker is van so ‘n klein dorpie. Soos die Italiaanse vrou wat so skuins agter ons bly wat net wil praat en kla dat sy die huis so vyf jaar gelede gekoop het maar nie besef het dat dit nie een nie maar vyf standplase insluit, en nou het sy ‘n baie groot area het om instand te hou.

Met die gesondheid is dit weer een van daardie dae wat ek maar so van pynpil na pynpil leef. Ek is baie bly dat ek dit darem kan gebruik. Ek wens net daar was ‘n pil vir die gloede, maar so ‘n pil is nog nie ontwerp nie.


Dit bring my by die volgende stukkie inligting wat ek wil deurgee vandag. Die behandeling wat ‘n persoon kan kry vir die kanker is maar redelik dieselfde prosedure as enige ander kanker. Die eerste opsie is om soveel as moontlik van die kanker verwyder. Dit het hulle met my gedoen 18 jaar gelede. Vir my kan hulle ongelukkig niks verder verwyder nie. Dan kan hulle met chemo toedienings die gewas se groei vertraag. Dit beteken dat jy ses keer daagliks jouself moet inspuit, asook elke week nog by die onkoloog moet uitkom. Dit vertraag net die groei van die gewas by tussen 30 en 50% van gevalle. Ek het dit in die verlede gehad en is verseker nie lekker nie. En dit was nie eers so intensief soos hulle dit vandag doen nie. Ek is ook maar een van die meer as 70% wat dit nie voor gehelp het nie. En dan is daar die opsie wat ek moes volg, en dit is om maar verder voort te gaan met pyn medikasie.

Dinsdag 17 Desember 2013

Vandag is ‘n baie lekker dag. Die son skyn, dit is warm maar baie aangenaam, en daar is nie ‘n briesie wat trek nie. Vanaand wil ek bietjie met die mense deel wat ons as Christene kan verwag om te ontvang wanneer ons ons kop neerlê. Ons is mos oorwinnaars en die Bybel is baie spesifiek oor wat oorwinnaars kan verwag.
Met die gesondheid is dit maar redelik. Die ou gloede is maar aan die gang, en so ook die ou pyn en ongemak wat die gewas en limfkliere veroorsaak. Verder is daar nog ook die ou moegheid wat elke nou en dan sy verskyning maak wanneer die ou hart uit my bors wil klim soos vanoggend by die bank. Ek probeer ook nog uitvind wat die pyn in die niere veroorsaak aangesien hulle skoon was met die CT skandering, maar tog is hulle elke nou en dan baie seer. Dit mag ook seker wees dat die serotonin wat die gewas afskei hulle ook maar oortyd laat werk of selfs die pynpille.


Vir die mense wat nie die siekte ken nie, gaan ek maar elke dag so ‘n ietsie deurgee. Carsinoid is ‘n kanker wat meestal in die buik voorkom. Dit is ‘n stadig groeiende kanker, wat veral gevind word in die blindederm, dunderm en longe. Meeste gevalle word nooit by mense gediagnoseer nie omdat dit ‘n redelike raar kanker is. Carcinoid Sindroom is wanneer die gewas van so ‘n grote is dat dit ‘n oorvloed serotonin afskei wat newe effekte vir die persoon het, soos diarieë, gloede “flushing”, wisselvallige bloeddruk, asma tipe aanvalle, en vinnige hardklop. Carcinoid Krisis is wanneer die persoon meer as een van die newe effekte op dieselfde tyd ondervind, en dit is ook die oorsaak vir die meeste sterftes.

Maandag 16 Desember 2013

Maandag 16 Desember 2013

En daar begin die week sommer met ‘n vakansie dag. Gelukkig lyk dit darem of van die “helde vereering”  of soos ek dit sien afgodaanbidding nou van gerus kan word. Ek weet daar is baie mense wat voel dat hy ‘n held is, maar soos dit aangegaan het die afgelope tien dae is hy tot afgod status verhoog. Ek gee nie om vir die wat in voorvader geeste glo dat hulle so aangaan nie, maar wanneer ek as Christen die TV op ‘n Christelike stasie sit en DSTV met elke kans dit in my keel afdruk, dat raak dit so ‘n bietjie te erg. Maar genoeg daarvan.

Met my gaan dit nogal goed. Die pyn is draaglik vandag en die gloede is minder. Al wat ek oor verbaas is dat ek so verskriklik gloede kry as ek iets drink. Gister het ek op ‘n keer gedink dit is die kaffieën in die koffie wat dit veroorsaak. Dit is wat al die webtuistes ook meld. Maar toe drink ek rooibostee, en daar gebeur dit toe ook. En toe besluit ek maar op vrugtesap, en daar gebeur dit weer. En vanoggend drink ek sommer skoon water. En daar is dit weer erg. So nou moet ek maar verlief neem daarmee dat ek maar gloede gaan kry wanneer ek iets drink. Maar, my twee liter vloeistof moet ek drink elke dag.

Sondag 15 Desember 2013

Vanoggend is ons na Eben en Nita se huis toe vir Kerk. En daar is dit toe net ons vier. So kon ons saam praat oor alles wat die HERE al vir ons almal gedoen het, en kon ek ook so ‘n bietjie deel oor hoe ons as Christene behoort te lewe, asook hoe en wat is uitverkiesing en hoe dit werk.

Ek moet sê ek voel vandag nogal goed. Die gloede en bloeddruk is baie beter vandag, so dit help ook. Die pyn is nog daar, maar die pille help darem om dit amper aanvaarbaar te maak.
Dit was gister nogal lekker om al die boeties en sussies se stemme op een slag te hoor. Ek hoop hulle het die troue geniet, en ek hoop Gert en Hantie sal baie gelukkig saam wees.

Saterdag 14 Desember 2013

Vandag het ons so ‘n lekker warm Karoo dag. Die temperatuur is seker nie veel hoër as 34 nie, maar sodra jy in die son kom kan dit net sowel 40+ wees. Met middagete het Hettie vir ons ‘n bottel van haar spesiaale aarbei konfyt uitgehaal wat ons toe met plaatkoekies geniet het. Wat dit spesiaal maak is die Van der Hum likeur wat bygegooi word. Sjoe dit is baie lekker. Gesondheids gewys gaan dit eintlik ‘n bietjie beter vandag. Daar is maar die normale seer plekke soos hier regs in die buik waar die gewas sit wat my nogal laat dink dat iemand iets sonder verdowing van hier onder die ribbekas tot daar gelyk met die naeltjie wil indruk. En die ou derm wat seer is na etes. En dan die twee kliere, een links en die ander een regs tussen die ribbes onder die arms. Gelukkig is die gloede so ‘n bietjie stiller. Ek het ook gisteraand op die een webtuiste uitgevind dat die toetse wat hulle so oor die afgelope tien jaar in Amerika gedoen het, wys dat persone wat ‘n hoë protiën dieet volg minder simptome toon as die wat dit nie doen nie. Hulle aanbeveling is dat jy tweekeer meer protiën moet eet as wat ‘n normale persoon eet. Dit help glo om van die oorskot seretonien wat die gewas maak, te neutraliseer. En dit is die goed wat die gloede veroorsaak. So nou het ek ‘n rede om my vleisie te geniet.

Vrydag 13 Desember 2013

Nou maak ek eers weer vandag tyd om ‘n bietjie te skryf. Die afgelope paar dae was maar woes. Die limf kliere maak dat ek hardlywig is en dat die derm verstop. Dit is baie ongemaklik en het ek nou eers op die internet gesien dit is wat hulle maar maak. Nou weet ek ook hoekom die chirurg my gevra het of ek nog ope lyf het. Dan is daar die ou vriende, “flushing” en bloeddruk wat my nie alleen wil los nie. Dit is nou wat die medici carciniod krisis noem as al die goeters saam gebeur. En dit gaan nou al vir die afgelope 9+ dae aanhoudend aanmekaar. Een ding wat ek nou geleer het die afgelope paar maande is dat ek seker 2 keer meer weet as die meeste mense wat die siekte het. Vir my help dit om te weet wat my aangaan, aangesien ek dan weet wanneer iets gebeur hoekom dit gebeur en wat jy kan doen om beter te voel.

Dinsdag 10 Desember 2013

Vandag was ons al redelik besig. Ons het nou eers ons eie gordyne in ons kamer opgehang, en is besig met die sitkamer se kant gordyne en dan is dit die badkamer en kombuis se beurt. Ek doen baie met Barney en Hettie se hande. So voor dit en gedurende dit is ons gou twee keer dorp toe en terug. Gelukkig is dit net so 300 meter heen en weer. En dan is daar nog die storie by FNB stadium. Ek wonder hoeveel mense het geluister na wat Mbeki se broer kwyt geraak het op die lug. Hy het gesê dat hulle nie glo daar is ‘n hemel of hel nie. Mandela het hom nou by die voorvaders gevoeg en nou moet hulle hierdie groot fees vier om seker te maak dat hy tevrede is met hulle anders gaan hulle nie goed leef vorentoe nie. ‘n Baie hoë persentasie van die swart Christene glo ook maar in hul voorvaders. Ek weet dit is so want selfs terwyl ek ‘n jaar lank skoolgehou het op Sterkspruit het die ouers van een van my leerlinge haar uit die Christelike skool gehaal omdat een van die onderwysers die meisie gevra het om haar toordokter halsbandjie aftehaal. Baie van die leerlinge was omgekrap omdat die Bybel glo teen hul tradisie diskrimineer. Gelukkig weet ons as Christene ook dat die groot afvalligheid moet kom, voor die einde kom.

Vanaand moet ek weer ons groepie Pinkster mense lei by die week se bymekaar kom. Dit is nogal lekker om die boodskap van die Bybel met mense te kan deel. Vanaand wil ek so ‘n bietjie kyk na wie ontvangklik is vir die Woord van die HERE.

Maandag 9 Desember2013

Vandag nogal baie gedoen. Winkel toe gegaan, Hettie gehelp om die mat in die gang uit te haal. Daar was so ‘n ou mat in die gang en toe ons dit oplig was dit baie jare se stof wat daaronder gelê het. Die mat was vasgekap met spykers, so al die stof wat deur gestrap het, het op die vloer gelê. Dit was omtrent ‘n klomp stof. En nou het ek my nog vererg vir Tony wat die bure se tuinjong is, die ou wat net ‘n paar bossies afsteek en dan geld wil kry om te gaan suip. Net toe ek wil begin skryf vir vandag toe sien ek hom hier in ons gedeelte van die tuin ook besig om die bloubossie af te steek. Dit moes hy nou nie doen nie aangesien ek net Vrydag ure spandeer het om al die bossies met Roundup te spuit om hulle dood te kry. Die goed groei met ranke onder die grond so as jy nou een op die grond afsteek, dan steek sy maatjie more kopuit. En dan wil hy nog met my terug praat. En ek het hom verlede week ook weggejaag oor dieselfde storie. Ek glo nie hy sal sommer weer iets hier probeer doen nie. Ons moet maar ons gedeelte van die tuin toe kry sodat hy my nie verder kan  bemoei nie.

Met die gesondheid is dit maar wisselvallig. Dan voel ek goed, en vyf minute later dan is ek weer sleg. Dan het ek nie pyn nie en dan het ek weer baie pyn. Dan kry ek gloede en dan nie. So ek moet maar gewoont raak aan die wisselvalligheid en aangaan.

Saterdag 7 Desember 2013

Vandag is nie veel anders as gister nie. Die gloede is maar daar en verdwyn so ‘n bietjie as ek staan of loop, maar is erg sodra ek op ‘n gemaklike stoel gaan sit. Soos ek nou hier by die kombuistafel sit is dit ook redelik, maar kry ek nou weer pyn in die regter nier en voel my buik of ek ‘n hele skaap by myself opgeëet het. En dan is daar die liewe ou bloeddruk. Sodra ek opstaan van ‘n sittende posisie dan gaan al die bloed na my voete toe en moet ek maar vashou om nie om te val nie, en dan ‘n paar sekondes later is dit weer so hoog dat ek my hartklop in die ore voel. Ek glo nie ek gaan baie vanmiddag doen nie, dalk net die toilet klap regmaak en tuin natgooi. Ek hoop regtig die ou gloede wil my net ‘n breuk gee.

Sondag 15 Desember 2013

Vrydag 6 Desember 2013

Ek moet erken dat ek vandag nie baie lekker voel nie. Ek het gister nogal gewoel en werskaf om ‘n bietjie gras te saai by die agterdeur om van die los grond weg te kan kom. Dit het my toe ook laat sleg voel aangesien ek die hele aand erge gloede gehad het. Nou vanoggend sommer in die bed terwyl ek en vroulief lê en tee drink, het die gloede hulle verskyning gemaak. Na ontbyt het ek die ou “bloubossie” wat hier by ons groei met Roundup gespuit. Die goed is en groei soos onkruid met diep lote onder die grond. Hoop maar dit gaan werk. Daarna het ek maar weer ‘n bietjie vertikaal verkeer om te kyk of ek van die gloede (flushing), kan wegkom, en weer bloed kan kry in my kop. Die gloede veroorsaak dat die ou bloeddruk so ‘n bietjie nie weet wat aangaan nie.

Agtergrond Geskiedenis

Daar is die eerste keer in 1986 ‘n kwaadaardige gewas uit my blaas verwyder. Geen van my ouers het enigsins met kanker gesukkel nie, so dit was vir my nogal ‘n groot skok toe ek dit gehoor het.

In 1995 het ek ingegaan vir ‘n nood blindederm operasie en tydens die operasie is daar toe op ‘n carcinoid gewas afgekom aan die dunderm, asook carcinoid in die blindederm. Carcinoid is ‘n kanker met bepaalde simptome en groei redelik stadig in vergelyking met ander kankers. Dit is toe verwyder saam met ‘n verdere 90cm van die derm. Ek het toe eers uitgevind dat ek vir ‘n lang ruk al die simptome van carciniod sindroom gehad het sonder dat dit opgetel is. Ek het elke oggend gesukkel met diarieë, het met elke bietjie inspanning baie gesweet, so nou en dan gevoel of ek gaan versmoor of ‘n hartaanval kry van pyn in die slukderm omgewing, en warm gloede gekry. Ek het eers nou uitgevind dat die pyn in die bors ook een van die gevolge is van carcinoid sindroom. Gelukkig weet ek al teen die tyd dat ‘n glas koue water onmiddelik help daarvoor.

Ek is toe 8 weke later in vir ‘n laparoptomieoperasie waartydens hulle toe ‘n groot aantal limfnodes verwyder het wat almal kwaadaardig was. Daar is ook ‘n gedeelte van ‘n ander gewas gelos wat aan ‘n bloedvaat en dunderm verbind was. Dit kon nie verwyder word sonder om noodlottig vir my te wees nie. So dit was alles so 18 jaar gelede.

Oor die vorige seker 6 jaar was daar sporadies krampe in die buik, winde wat vasgesteek het in die dunderm, pyn in die bors en dan weer warm gloede. Die stoelgang is nie so los soos vroeër nie, maar veroorsaak erge brandboude, en ek is baie vinnig moeg. Die simptome het maar meer intens en gereeld geword oor die afgelope paar jaar en veral die steek in die sy wat herinner aan miltsteek het die afgelope jaar baie toegeneem en by tye baie lank gevat om weg te gaan.

Die een Sondag in Augustus 2013 het dit egter baie skielik toegeneem tot so ‘n mate dat ek by ‘n dokter moes uitkom. Net voor die voorval het ek ‘n baie lae emosioneële punt bereik en is dit opgevolg met ‘n baie positiewe gevoel nadat ek twee belangrike toetse by my werk geslaag het wat nuwe deure vir my sou oopmaak.

So ‘n paar weke later het ek by die onkologie eenheid by die Provinsiale Hospitaal in Port Elizabeth uitgekom, waar ek pynmedikasie gekry het, en verwys is na die chirurg vir verdere ondersoek. By die chirurg is ek aangesê om ‘n CT skandering te laat doen.

Ons het in die tussentyd verhuis na Steynsburg want Su-Hannie, my jongste dogter en haar man Bani, het gesorg dat ons ‘n bietjie nader aan hulle is en ons meer gereeld kon kuier, en ek nie nodig het om my te bekommer oor blyplek en allerhande ander goed nie.

Met die volgende afspraak by die chirurg moes ek eers weer lank wag want my lêer het iewers langs die pad verlore geraak. (Ai, die nuwe Suid Afrika tog.)

Uiteindelik het ons die resultate van die skandering gekry. Soos ek te wagte was het die stukkie van die gewas wat hulle agtienjaar vroeër moes los, gegroei tot ‘n gewas van so 70mm lank en wissel in deursnit tussen 31 en 29mm. Saam met die gewas is daar weer “multiple” limfkliere wat kwaadaardig is, asook twee ander kliere, een onder elke arm. Die gewas het nou om die dunderm gegroei wat gemaak het dat ‘n deel van die dunderm verkalk het, en omring nou vier bloedvate in die buik.

Dit is waar ek huidiglik is. My doel is om elke dag, as ek kan, ‘n aantekening te maak van hoe ek voel en basies as ‘n dagboek te boekstaaf, dit wat ek ervaar en dit wat met my gebeur.