Donderdag 24 Julie 2014

Donderdag 24 Julie 2014

En so kruip die einde van nog ‘n maand aan. Hierdie was ‘n baie koue maand hier by ons, met minimum temperature van -13C tot vanoggend se baie warm 6C. Maar nou maak ons alweer reg vir die volgende koue front wat more of Saterdag ons gaan tref. Van my plante is daar nie veel oor nie. Hierdie koue het sy tol geëis. Ek sal maar sien wat loop uit in die lente, maar ek sal seker eers hier middel Oktober verseker weet want dit is wanneer ons ryp seisoen ophou.

En dan was dit skoolvakansie ook. En dit het beteken dat Jana en Theunis ook kon oorslaap by oupa en ouma. Dit is lekker met hulle wat nou groter word en hulleself ook kan besig hou, maar dit is maar nogsteeds lekker om op oupa en ouma se skoot te kan sit. Nou wonder ek net wie het dit die meeste geniet, ons of hulle.

Die gesondheid is maar baie wisselvallig. Die room wat ek vir die sere op die arms gekry het werk darem. Dit maak dat die sere op die arms nie so groot word nie, en dan saam met die ander buis room is die jeuk baie beter. En dan weet ek dat die ekstra vitamien pille ook weer maak dat ek nie so ‘n groot tekort aan vitamien B3 het nie, wat op sy beurt ook help dat die sere nie so erg is nie. Die bene jeuk maar nog so nou en dan maar dit is glad nie erg nie. Daar is wel baie meer kolle op as op die arms maar sover het dit nog nie sere gevorm nie.

Die ou hart lyk my sukkel maar elke nou en dan om bloed orals te kry. Vanoggend het my hande gelyk of ek met koper gewerk het want hulle was amper heeltemal blou, met strepe op die arms tot so halfpad elmboog toe. Die gewas het ook maar sy nukke. Die afgelope week het dit ‘n hele paar kere gevoel of hy iewers in die buik los skeur. Dit is nogal seer.  En dan lyk dit vir my probeer hy ook die bloedvloei na die regter nier te wil stop. Dan manipuleer ek hom maar so ‘n bietjie en dan is die nier weer gelukkig. Ek neem aan die gewas word maar groter want hy druk nou nogal erg op die lewer wat maak dat die pyn nie sommer wil ophou nie.

En so terwyl ek ‘n bietjie kla is daar ook die ou skaniere in die liggaam wat besig is om uit te werk. Die vingers en al hulle maatjies dink hulle het olie nodig om te beweeg, maar ek weet nou nie waar ek sulke olie kan kry nie. So totdat ek dit kry is dit maar seer om op te staan en om die ledemate te gebruik.

Woensdag 09 Julie 2014

Dis winter

Die winter is verseker hier by ons. Dit is al wat die mense hier in Steynsburg oor praat die afgelope week. Gister is die laagste temperatuur nog hier naby ons by Molteno gemeet van -19.5C. Dit was ook die dag met die laagste maksimum van 4.5C daar. Volgens die radio verslag is dit die koudste tydperk die afgelope 38 jaar. Ek het dieselfde maksimum gemeet maar ons minimum was darem net -8.5C. Ander mense op die dorp het tot by -13C gemeet. Ek weet nie wat die aanvoelbare temperatuur is nie, maar ek weet dit is koud. Soos ek nou hier sit en skryf 4 uur in die middag is dit tans 6C. Ons het nou al geleer om water in bakke in die kombuis te hou oornag want die pype vries elke nag. Vandag het ek eers teen 11:40 water in die kombuis gekry, waar dit ander dae darem so ‘n bietjie vroeër was, al was dit net 10 minute vroeër. Ek sien ook nie kans om met die pype te sukkel wanneer dit so koud is nie. Gelukkig het ons water in die badkamer en waskamer. So ek mag dalk koud wees maar ek weet darem ek is skoon want ek kan elke oggend ‘n warm stort vat. En gelukkig het ons lekker warm klere wat die ergste koue uithou. Ek het so ‘n lekker dons baadjie by Su-Hannie gekry en as ek buite loop winkel toe kan die koue nie deurkom nie. Ek wens sommer ek is ‘n hoender dat ek my hele lyf kan toekry onder ‘n lekker vere kombers.


Met die gesondheid is daar nie baie verandering nie. Ek was net ‘n bietjie moedeloos toe die bene vanoggend ook begin juk hier by die maarmerries rond. Ek het maar net dieselfde room aangesit wat ek vir die arms gebruik en sover is die juk darem weg. Ek hoop maar net dat dit nie die paadjie van die arms gaan volg nie, want dan gaan die mense regtig dink al my varkies is nie tuis as ek in hierdie weer met ‘n kortbroek rondloop nie. Dit is maar wat ek elke nou en dan met die arms moet maak om te verseker dat ek nie juk nie aangesien enige kontak met klere maak dat dit juk.

Dinsdag 01 Julie 2014

Dinsdag 1 Julie 2014

En so is nog ‘n week of wat verby. Die huis is skoon stil met Barney wat vir die volgende week nog huis oppas by sy werkgewers. Gelukkig lyk dit darem of hy dit nog geniet. Hettie se kunsklasse maak haar nogsteeds opgewonde. Dit is vir haar so lekker om te sien hoe die tannies by die ouetehuis vorder. Die een kon nie eers meer haar naam geskryf het nie maar nou kan sy nie net skilder nie, maar selfs weer skryf. Hettie het ook die afgelope week ‘n lesing gegee by Hofmeyr se tuinbouklub, en die was mense nogal ingenome met wat sy hulle gewys het.

Die werk aan die huis is klaar. Die ekstra vertrek maak ‘n baie groot verskil. En dan is daar die “toolshed” buite wat al die gereedskap kan vat, en die dak lyk my heel reg. Ek glo nie daar sal weer water kan lek nie want amper elke naat is geseël.

Met die ou gesondheid is dit maar soos gewoonlik deurmekaar. Die ekstra Niacin saam met die standaard vitamiene pille en die twee rome wat ek aan die arms smeer help darem dat die juk baie beter is. Su-Hannie het ook gister gesê dat sy sommer ‘n verandering sien van Vrydag af. Verder is dit maar soos gewoonlik. Die ou gewas stoei maar erg met al die organe in die buik om vir hom plek te maak, en dit maak dat hulle almal by my kla. Gelukkig kan ek hulle darem stil kry met pynpille. Die enigste ander klagte is dat die ou pens net groter word en die klere al hoe stywer sit. En natuurlik met die gevegte hier binne my maak dit my nogal moeg.

Ek sien ons gaan die naweek so ‘n bietjie koud kry. Saterdag en Sondag se aanvoelbare temperatuur gaan nie een dag oor vriespunt kom nie. So dit lyk vir my soos lekker sop weer, en dalk sal ek nog ‘n rannekoek of twee ook bak.