Saterdag 30 April 2016

Saterdag 29 April 2016

So het nog ‘n maand verby gegaan sonder dat ek iets geskryf het. Dit is nie dat ek vergeet het nie, maar daar was baie ander goed om te doen, en dan was die motivering ook nie daar nie.

Vandag is daar twee goed wat ek graag wil uitlig van hierdie ou snaakse kanker. Die eerste punt is dat dit die enigste kanker is wat jou op twee maniere kan laat sterf. Alle ander kankers veroorsaak dat die gewas versprei na jou organe en dan net so vinnig groei dat jy sterf omrede die gewas so groot geword het dat dit die normale werking van jou organe beïnvloed en so beskadig dat dit jou einde beteken. Dit is maar waarom die medici altyd eers probeer om die hoof gewas en sy maatjies te verwyder deur of ‘n operasie of chemo of bestraling. Met Carcinoid kan jy steeds sterf omdat die gewas groter word, en versprei na ander organe en hulle funksies belemmer, maar ook deur dit wat die gewas afskei. Dit is waar die probleem lê, want die grote van die gewas bepaal nie hoeveel van ‘n sekere stof hy afskei nie, maar oor hoe aktief dit is. Daar is al gevind dat mense Carcinoid sindroom het en waar die gewas so klein is dat hulle dit nie kan opspoor nie, en dan soos myne wat so groot is jy kan dit nie mis nie, maar tog nie verskriklik aktief is nie. Dit sal ek later kwalifiseer.

Met Carcinoid is dit ook maar wat met my besig is om te gebeur en dit is ook een van my probleme in die dat dit stadig maar seker besig is om die hoof bloedvat tussen die dunderm wat al jou voeding deurstuur na jou ander organe soos jou lewer en niere, toe te druk. Die gewas werk op ‘n baie interessante manier in die dat dit sekere stowwe vrystel wat veroorsaak dat jou are na die gewas toe groei en hulle normale paadjies verlaat, en dan vorm die gewas self tentakels wat dan al hierdie are, en in my geval die derms ook omrede hulle vol are is, nader trek en so die are of derms toe bind sodat dit nie meer kan werk nie. Dit is wat my probleem was met die laaste operasie waar beide die dun en dikderm heeltemal verstengel en geblok was deur die tentakels, en hulle toe maar moes kyk hoe hulle ‘n lang genoeg dunderm kon kry om die ou hele gemors spul mee te omlyn. Die kortste gedeelte wat jy normaal mee kan lewe en lank genoeg is om te verseker dat jy al die voedingstowwe kan opneem is ‘n dunderm van 120 cm van ‘n normale 6+ meter lange normale dunderm. Myne is ongelukkig korter op 90 cm wat beteken dat ek baie van die voedingstowwe nie verteer nie. Dit beteken dat ek maar meer moet eet om my gewig te behou. Dit beteken ook dat ek meer protiën moet eet om die nodige krag vir elke dag te kry, nie dat ek omgee nie. Nou is my probleem dat die gewas so groot geword het dat sodra ek iets eet, ek weer toilet toe gestuur word om ontslae te raak van dit wat in die derms is aangesien daar nie vir alles plek is nie. Verder het die dokters ‘n groot deel van my lewer verwyder aangesien die kanker daarheen uitgesaai het, maar gelukkig groei die lewer weer self totdat dit weer sy normale grote bereik. En dan kom die volgende uitsaaings maar weer.

Die ander manier hoe die kanker werk is deur oormaat stowwe af te skei, wat jou dood kan beteken. Dit is nie snaakse goed nie, maar stowwe soos seretonin, wat jou “happy” stof is. Indien jy met depressie sukkel is die kanse goed dat jy op medikasie gaan wees wat seretonin bevat. Ek maak net so 70 keer meer as normaal. Dan is daar normale goed soos histamien. Myne was nou baie stil na die operasie want die gewas het meeste van sy stowwe afgeskei in die gedeelte van die dunderm wat hyself verstop het, maar deesdae is hy besig om weer histamien op ‘n manier deur te kry wat vir my aanhoudend sinus gee, gepaard met erge sinus hoofpyn. Dan veroorsaak die ander stowwe wat die gewas afskei ook dat jou hart sommer net skielik vinnig te klop, jou are vergroot, en jou bloeddruk skielik daal. Myne het al binne 5 minute gegaan van 165/105 na 80/60. Dit is een van die grootste faktore wat sterftes aanbetref, en dan gaan pak van die seretonin om jou regter hartklep en veroorsaak dat die hart nie kan sluit wanneer hy pomp nie, en gaan van die bloed weer terug waar dit vandaan gekom het.

Dit is nou die snaakse goed. Die normale simptome is maar “flushing”, waar jy skielik warm word in die nek en gesig en jy later aartjies op die gesig kry wat mense baie keer interpreteer dat jy baie drank gebruik. Ek weet van een geval in Amerika waar die persoon na ‘n dokter toe verwys is vir haar “drank” probleem, alhoewel sy ‘n geheel onthouer was, en die dokter toe uitgevind het sy het Carcinoid sindroom. Die gloede gebeur partykeer 1 of 2 keer per dag, en dan ander kere 10 tot 20 keer per dag. Soos ek nou hier skryf brand my oë so dat ek voel of my koors seker hierby die 39 of 40 moet wees, maar ek weet dit is maar net die gewone gloede. Dan is daar die “explosive” diarieë. Dit kan so wees dat daar baie kere net winde uitkom, maar is nogal ongemaklik, veral wanneer jy terselfde tyd hardlywig is. Wanneer dit dan deurkom, dan klink dit of daar ontploffings in die badkamer is, en of ek myself sopas gelantseer het na die maan. En omdat nie alles verteer is nie, is ons badkamer nooit sonder lugverfriser nie.

Soos enige kanker is pyn maar seker die grootste newe effek, veral wanneer die lewer en niere nie genoeg bloed kry nie, en dan die normale geveg vir spasie wat maar baie eina is.

So hoe voel ek? Dit is ‘n vraag wat ek nie weet hoe om te antwoord nie. Partykeer dink die kop jy kan aangaan maar die liggaam wil nie, en dan voel jy jy kan iets doen en dan doen jy dit en die gevolg is dat jy weer vir dae daarna niks kan doen nie. Dan gaan jy deur ‘n hele paar Carcinoid krisisse ‘n dag, en dan is daar weer dae wat jy nie van so iets eers weet nie. ‘n Carcinoid krisis is wanneer meer as een van die simptome jou saam pak, maar is gewoonlik wanneer jou are vergroot en jou bloeddruk val, gepaard met diarieë. En soos met alle kankers vat die gewas meeste van jou voeding en raak jy al hoe meer moeg, en kan jy al hoe minder doen. So die antwoord verskil meeste kere op ‘n uurlike basis. Ek kan nou reg voel en oor ‘n uur nie lekker nie, en om die waarheid te sê wonder jy dan of dit die einde is of nie. En dan 'n paar uur later is jy weer aan die gang.

Nou met die mondigwording van die ou siekte by my, dit is ontdek in 1995 tydens ‘n nood blindederm operasie, is ek besig om met Kansa en van die oorsese mense te onderhandel om ‘n webtuiste vir mense te skep in Suid Afrika waar ek plaaslike mense kan ondersteun op ‘n pastorale vlak, maar ook kan verwys na die beste mediese verslae van kundiges op die gebied, beide binne Suid Afrika as oorsee. In Suid Afrika het Kansa tot 8 maande gelede nie eers ‘n beskrywing gehad van die kanker nie, en elke keer wat ek nog by ‘n nuwe dokter uitgekom het, vind ek uit dat ek meer weet as hulle. Soos die een my eendag gesê het dat toe hy nog besig was met sy studies by Tukkies die proffie vir hulle gesê het dat indien hulle ‘n Carcinoid geval kry, hulle die universiteit moet skakel en met die proffie praat oor wat om te doen. Met my operasie so 18 maande terug by Universitas wat ‘n opleidingshospitaal is, het van die laastejaar studente vir lang tye by my kom sit sodat hulle ook oor hierdie siekte kon leer.

So ek wil graag terug gee aan ander wat ek nie gehad het nie, en dit is waar om die regte mediese verslae te kry, en dan soos gesê op pastorale vlak die mense te ondersteun. Dan wil ek ook graag help om die siekte by dokters meer bekend te maak, aangesien hulle maar almal werk volgens ondersoekmetodes wat hulle by hul universiteite kry. So is die tweede laaste toets wat gedoen word om kroniese diarieë te identifiseer om ‘n 24 uur 5HIAA protiën toets van jou urine te doen, en dit kan partykeer (20% sekerheid) wys dat jy iewers ‘n Carcinoid gewas het. Ek is nogal goed as spreker al moet ek dit self sê aangesien ek dit al die jare in besigheid en by Bybelskole en gemeentes dit gedoen het, en om ander te motiveer is maar wat jy self in besigheid en bediening oor baie jare geleer het. Jy gaan terugslae kry, maar hoe jy optree wanneer dit gebeur is wat die verskil in ‘n mens se lewe maak.

So ek sal binne kort maar vra of iemand wat goed is met grafiese kuns vir my ‘n logo sal ontwerp met ‘n zebra as hoof onderwerp aangesien dit wêreldwyd as die teken van Carcinoid gebruik word aangesien alle zebras soos zebras lyk, maar elkeen se strepe anders is, presies soos Carcinoid waar elke geval verskil van mekaar. Dit sal nou gratis moet wees want ons kan nog nie met borge praat voordat alles afgehandel is nie. Die naam moet ek nog vasmaak, maar dit sal onder my bediening inskakel aangesien ons daar alreeds as ‘n NPO geregistreer is.


So geniet die res van die langnaweek. Hier by ons het ons net reën en koue gekry, gelukkig nie die sneeu van verder oos van ons nie. Vandag se maksimum is maar hier by 6 grade met ‘n verwagte minimum van so om en by die -4. Gelukkig is daar elektriese komberse. So tot volgende keer, groete.

Dinsdag 05 April 2016

Dinsdag 5 April 2016 Dis herfs, so ook voel die lewe.



En so is ons offisieël in die herfs seisoen in. Hier by ons voel jy dit sommer. In die oggende is dit al klaar koud en van 5 uur in die middag moet jy maar ‘n warm ding soek indien jy wil buite gaan. Voor verlede naweek het ek sommer “boots en all” mee rondgeloop, en dit binne die huis. Verlede week het dit darem weer warmer geword, maar nou raak dit al hoe kouer. Ons is nou net so een en ‘n bietjie weke weg van die dag wat ons kan ryp verwag in die oggende. Ons het darem so net oor die 60mm reën gehad die afgelope drie weke, maar daar is maar nog baie plase wat nog baie droog is. En gisteraand het ons weer 10mm gehad. So karoo skaap se prys sal seker ook opskiet.

Gesondheids gewys gaan dit maar moeilik. Die een dag redelik, en dan weer sommer skielik hier in die dag verander dit soos Saterdag dat jy dink dit is die einde. Die maag het net besluit om hardlywig te wees so alhoewel ek nog so ‘n minimum van 5 keer gaan, winde uitgesluit, is dit maar met moeite. Dit veroorsaak dat die winde nie wil uitkom nie en dan blaas ek op soos ‘n ballon, en wanneer daar wel winde kan uitkom dan klink dit ook soos ‘n ballon wat afblaas. So ek verkies maar ‘n sagte diarieë bo ‘n hardlywige diarieë. Maar dit wys maar heel moontlik ook daarop dat die derm weer vernou en die tentakels van die gewas die derm weer beet het. En dan skielik verander alles en veg jy teen ‘n carcinoid krises waar alles net handuitruk. Die bloeddruk wissel van 160/120 na 60/40 binne minute en doen dit aanhoudend, die are vergroot en daar is nie genoeg bloed om te vloei nie, die maag ontplof, en dit voel of jy nie arms bene en 'n kop het nie.En dan is jy moeg, soos 'n ewige moegheid. Jy weet jy nie of jy weer jou oë gaan oop maak nie. Saterdagaand het ek vir Hettie gesê dat dit seker maar my einde ook kon gewees het, want ek het nie geweet wat my getref he nie. Dit was regtig die eerste keer dat ek geweet het dat hierdie kanker my einde gaan beteken. Maar dan gaan jy maar weer aan soos Sondag. Ek voel verseker nie lekker nie, maar dit is hoe die dag gaan wees en ek kan maar net doen wat my hand vind om te doen. Gister was ek selfs Middelburg toe en was dit so ‘n groot seën dat my maag besluit het sommer vroeg om hom te ledig, en was die dag eintlik baie goed. Vandag kan ek dit nou nie sê nie, maar dit is maar hoe dit gaan. Vandag betaal ek weer vir gister se rondrits.
 
Die ander newe effekte is maar soos gewoonlik. Die arms juk so ‘n paar keer op ‘n dag, die sinus is party dae erg, soos, vandag, die niere kla elke dag, en dan is die ou gewas ook seer. Maar dit is huidiglik se normaal. So wat volgende week of selfs more se normaal is weet ek nog nie.

Dan het ek ook so ‘n kort stukkie geskryf wat ek eersdaags, seker teen Woensdag, weer op my bedieningsblog sal plaas, maar ek wil dit eers nog regkry vir Youtube. Ek werk maar daaraan wanneer Hettie kunsklas gee, of winkel toe gaan of ander klasse gee of klere maak, want dan is alles rustig en stil, en vat ek nie van ons bymekaar wees tyd weg nie. Ek het die opname gemaak Saterdag terwyl sy plaasmark toe was om te gaan help het by die koffietafel. So vandag is ek besig om so ‘n bietjie redigering te doen van Saterdag se video en sal dit seker Woensdagoggend klaar maak en op Youtube sit. Dan is dit tyd vir die Engelse weergawe.

En dan is daar Kerneels, ons kleinhond, ‘n swart en bruin Chihuahua. Hy het nou aangepas by ons leefwyse en begin nou selfs die bure se hoenders jaag wat elke aand oor die muur vlieg en in my tuin kom skrop wat nie ‘n goeie idee is nie. Ek wil self nie hoenders hê nie, maar nou maak die bure se hoenders my die hoenders in. Maar hulle begin nou ook te leer en vlug maar voor my en Kerneels wat dit geniet om hulle te jaag.

So tot later, groete vanuit Steynsburg.