Vrydag 15 September 2017
Daar het nogal baie gebeur die afgelope maand of wat. Vir myself was dit
sommer ‘n klomp mylpale. Of is dit nou kilometerpale? Daar was eers ons troudag
herdenking van 45 jaar, die volgende dag my verjaarsdag en amptelike aftree
datum volgens verskeie wette op 66, en dan my tweede verjaarsdag op 31 Augustus
wat ek nou al vir 22 jaar vier nadat hulle so “per abuis” hierdie vreemde
kanker in my ontdek het.
Ek het nou die dag weer gekyk na die oorspronklike brief wat die onkoloog
vir die chirurg gestuur het. Gelukkig het ek eers 4 jaar gelede ‘n afskrif daarvan
bekom, nadat ek deur my eerste Carcinoid krises gewerk het en die onkoloog ‘n
afskrif van die oorspronklike verslag wou kry. Gelukkig het ek vir 18 jaar nie
geweet wat daarin gestaan het nie, want dit sou nogal moeilik gewees het om dit
daardie tyd te verwerk het. Die onkoloog het dit as volg gestel: “Soos
telefonies met jou bespreek is die verdere hantering van hierdie pasiënt
werklik problematies. Soos jy goed weet is radioterapie effektief simptomaties
vir metastases wat pynlik is, maar dit is nog nooit in die adjuvante, “my
vertaling (aanvullende)”, situasie getoets nie. Vanwee die problematiese area,
nl. die dunderm is bestraling in hierdie area ook potensieël geneig tot
komplikasies. Chemoterapie response wissel van 20-40% en daar is geen
literatuur beskikbaar oor die adjuvante gebruik daarvan nie.
Somatostatien-analoë is uitstekend vir simptomatiese behandeling (maar nie
tumor behandeling nie) van gevorderde pasiente.”
Verder sit ek darem al van Dinsdag af met ‘n kortbroek vir die eerstekeer
die lente, en begin daar orals tekens van lewe in die tuin kop uitsteek. Ek
hoop nou net die ryp is verby want ons het nog twee weke gelede so ‘n swaar ryp
gehad dat die dakke eers hier van 8:30 in die oggend begin smelt het. Indien
dit weer gebeur is dit soos verledejaar waar daar geen perskes of appelkose aan
enige boom was nie. Nou sien ek hulle verwag maar 16C vir ons vir Saterdag, en
dit maak my bekommerd. Maar, verlede jaar se laaste ryp was eers in November,
so dit kan nog baie maklik gebeur.
Gesondheid by ons is goed en wisselvallig. Hettie gaan goed aan behalwe
vir die water wat nie wil afwerk in die arms en lyf nie. Al die limfnodes is
tydens haar operasie verwyder en nou moet daar nuwe paadjies gevorm word om die
water te dreineer. En dan het sy ook die week besluit sy kan nou maar haar kort
hare vir almal wys en loop sy nie meer met ‘n mus of kopdoek rond nie. Sy het
nou nogal bietjie meer hare gekry, en hulle kartel weer so ‘n bietjie. Net
hulle is baie meer grys as voor die chemoterapie. Maar sy gaan aan en is weer
haar ou self. Sy gun haarself ook baie meer tyd vir haarself en het geleer om
nee te sê vir mense wat net altyd aangeneem het sy sal goed vir hulle doen.
Self is dit nie altyd lekker nie. Ek werk so gereeld amper elke dag deur ‘n
Carcinoid krises waar die are net platval en ek geen energie het nie en dit tot
2 of 3 ure vat voordat ek weer “reg” is. En dan sukkel die gewas nou ook om
seer te word en knyp hy al hoe meer die hoofaar wat deur hom gaan toe. So die
linkerlong begin nou ook in die onderkant plat te val, die derms sukkel om kos
deur te laat of besluit net om alles weg te gooi, en dan met die bloed wat
sukkel om deur te kom vind ek uit dat die hart ook kla. Dit is nou so gewoonlik
een of meer kere per dag wat ek voel dat die hart kla en weet ek nou presies
waar hy sit. Hy raak maar net seer wanneer daar nie genoeg bloedtoevoer na hom
self gaan nie.
Die uitsaaïngs is ook maar seer maar ek raak maar gewoont daaraan. Daar
is kere wat ek moet voel of die goed nog seer is, maar dit is maar gewoonlik
wanneer die ander seerplekke seerder is. Dan met die verandering van die
seisoen is die ou rumatiek ook pynlik en voel ek party dae soos ‘n ou omie met
al die gewrigte en goed wat nie wil buig of regop kom nie.
Dan het ons skielik sommer baie gaste die volgende paar naweke. Hierdie
naweek kom Vienie, Hettie se suster, se seun Andre en Hester by ons oornag en
kuier op pad na sy ma toe. Hy het besluit om sy 60ste verjaarsdag daar te gaan
vier, en dan kom hulle die volgende naweek weer aan op pad terug Pretoria toe.
So dit is omtrent ons nuus. Met die kinders en kleinkinders gaan dit
goed. Theuns oefen hard aan sy golf en het nou die dag sy eerste toernooi aan
deelgeneem, en vir ‘n agtjarige is dit nogal ‘n mylpaal. Dan het Jana weer ‘n
klomp goed gekry vir haar viool en redenaars kompetisies en het sy ook een van
haar eerste solo stukke gespeel. En tussen dit probeer ma nog om haar laaste
jaar LLB te doen. En dan laaste is daar die klein Aussie wat sy ma toegeknoop
het in sy sak. Hy het so ‘n lekker laggie en weet hoe om ma se aandag te kry,
so sy moet maar bontstaan. Ons geniet dit want dan kry ons sommer skielik
oproepe van haar wanneer sy twee of vieruur in die oggend moet opstaan vir hom.
So tot volgende keer geniet die lente. My lied kom van ‘n paar mans wat
ek en Hettie baie van hou om na te luister en te kyk. Dit is ook waar ek hoop
die mense my sal kry die dag wanneer ons nie meer op aarde is nie.
Of dalk is ek hier