Donderdag 11 September 2014

11 September 2014

Die weer hier in die Karoo kan lekker vinnig verander. Nog nie eers 2 weke na die sneeu van Augustus nie, en ons het al ‘n paar dae van by die 30C agter die rug. Tog is daar nog so ‘n koel wind wat die aanvoelbare temperatuur so ‘n bietjie laer dwing.

Die afgelope week of wat het daar nie veel nuwe goed by ons gebeur nie. Een gebeurtenis wat bo alles uittroon is dat Carel kom kuier het vir so ‘n paar dae. Dit was weer lekker om soos in ons kinderdae saam te kon kuier as broers. Baie dankie, dit was so lekker. En so is ook nuwe herinneringe daar geskep toe ons saam na die Visrivier tonnel se beheerstasie hier by ons is, en oud President Paul Kruger se geboorte plaas kon besoek. Weereens net baie dankie.

Die gesondheid is maar op en af. Die probleem wat nou al hoe meer kop uitsteek is die dat die niere baie seer raak wanneer ek sit. Dit is nogal moeilik om te verduidelik wat gebeur, maar omrede ek vroeër jare baie gesukkel het met my blaas en niere voor die eerste gewas verwyder is, voel dit of die niere seer is soos gedurende daardie tyd wanneer daar refux was terug in die niere in. Gelukkig weet ek darem ek kan opstaan en ‘n draai gaan stap om ontslae te raak van die pyn. Dit is seker maar die gewas wat of teen die niere druk en dan weer minder druk sodra ek weer regop kom, of dat die gewas bloed verhoed om by die niere uit te kom. Dit is nie iets nuuts nie, maar waar dit vroeër dalk een of twee keer per week gebeur het, is dit nou sommer ‘n hele paar keer per dag.

Die een ding waaroor ek baie bly is, is dat ek nou met kort moue kan rondloop sonder om koud te kry. Dit doen wondere vir die arms. Saam met die Niacin (Vit B3), sukkel ek nie meer so met die juk gedurende die dag nie. Vroeg oggende is dit nogsteeds ‘n probleem maar dit is maar moeilik om aan te leer om met jou arms bo op die duvet te slaap sodat hulle nie te warm word nie en natuurlik dat niks aan die voorarms raak nie. Dit is maar iets wat ek of moet aanleer of aan gewoont raak.

Ons sien nogal uit na die volgende paar weke om weer op die plaas te gaan kuier. Eers is dit Theuns se konsert by die skool wat ons moet gaan bywoon, en dan is dit weer Burgersdorp se fees so ‘n paar weke later. En dan nog so tussen al die goed gaan daar nog ander familie ook kom kuier gedurende die skoolvakansie. Nogal baie lekker vooruitsigte.

1 opmerking:

  1. Dankie Louw, dit was baie lekker om net te kon gesels oor alles. Ons herinneringe van ons jeug was nog altyd iets wat vir my baie besonders was. Die swaarkry dae, die goeie tye, die dae van saamwees. Die dae toe ons met Pieter gespeel het. Wonderlike dae!
    Baie dankie aan julle vir die gasvryheid, lekker eet, dankie Barend wat maar net daar was. Ek bid vir julle en hoop ons kry weer n geleentheid vir nog 'n kuiertjie. Lief julle. Carel.

    AntwoordVee uit