So het nog ‘n maand verby gegaan sonder dat ek iets geskryf
het. Dit is nie dat ek vergeet het nie, maar daar was baie ander goed om te
doen, en dan was die motivering ook nie daar nie.
Vandag is daar twee goed wat ek graag wil uitlig van hierdie
ou snaakse kanker. Die eerste punt is dat dit die enigste kanker is wat jou op
twee maniere kan laat sterf. Alle ander kankers veroorsaak dat die gewas
versprei na jou organe en dan net so vinnig groei dat jy sterf omrede die gewas
so groot geword het dat dit die normale werking van jou organe beïnvloed en so beskadig dat dit jou
einde beteken. Dit is maar waarom die medici altyd eers probeer om die hoof
gewas en sy maatjies te verwyder deur of ‘n operasie of chemo of bestraling.
Met Carcinoid kan jy steeds sterf omdat die gewas groter word, en versprei na
ander organe en hulle funksies belemmer, maar ook deur dit wat die gewas
afskei. Dit is waar die probleem lê, want die grote van die gewas bepaal nie
hoeveel van ‘n sekere stof hy afskei nie, maar oor hoe aktief dit is. Daar is
al gevind dat mense Carcinoid sindroom het en waar die gewas so klein is dat
hulle dit nie kan opspoor nie, en dan soos myne wat so groot is jy kan dit nie
mis nie, maar tog nie verskriklik aktief is nie. Dit sal ek later kwalifiseer.
Met Carcinoid is dit ook maar wat met my besig is om te gebeur
en dit is ook een van my probleme in die dat dit stadig maar seker besig is om
die hoof bloedvat tussen die dunderm wat al jou voeding deurstuur na jou ander
organe soos jou lewer en niere, toe te druk. Die gewas werk op ‘n baie interessante
manier in die dat dit sekere stowwe vrystel wat veroorsaak dat jou are na die
gewas toe groei en hulle normale paadjies verlaat, en dan vorm die gewas self
tentakels wat dan al hierdie are, en in my geval die derms ook omrede hulle vol
are is, nader trek en so die are of derms toe bind sodat dit nie meer kan werk
nie. Dit is wat my probleem was met die laaste operasie waar beide die dun en
dikderm heeltemal verstengel en geblok was deur die tentakels, en hulle toe
maar moes kyk hoe hulle ‘n lang genoeg dunderm kon kry om die ou hele gemors
spul mee te omlyn. Die kortste gedeelte wat jy normaal mee kan lewe en lank
genoeg is om te verseker dat jy al die voedingstowwe kan opneem is ‘n dunderm
van 120 cm van ‘n normale 6+ meter lange normale dunderm. Myne is ongelukkig
korter op 90 cm wat beteken dat ek baie van die voedingstowwe nie verteer nie.
Dit beteken dat ek maar meer moet eet om my gewig te behou. Dit beteken ook dat
ek meer protiën moet eet om die nodige krag vir elke dag te kry, nie dat ek
omgee nie. Nou is my probleem dat die gewas so groot geword het dat sodra ek
iets eet, ek weer toilet toe gestuur word om ontslae te raak van dit wat in die
derms is aangesien daar nie vir alles plek is nie. Verder het die dokters ‘n
groot deel van my lewer verwyder aangesien die kanker daarheen uitgesaai het, maar gelukkig groei die lewer weer self
totdat dit weer sy normale grote bereik. En dan kom die volgende uitsaaings maar weer.
Die ander manier hoe die kanker werk is deur oormaat stowwe
af te skei, wat jou dood kan beteken. Dit is nie snaakse goed nie, maar stowwe
soos seretonin, wat jou “happy” stof is. Indien jy met depressie sukkel is die
kanse goed dat jy op medikasie gaan wees wat seretonin bevat. Ek maak net so 70
keer meer as normaal. Dan is daar normale goed soos histamien. Myne was nou
baie stil na die operasie want die gewas het meeste van sy stowwe afgeskei in
die gedeelte van die dunderm wat hyself verstop het, maar deesdae is hy besig
om weer histamien op ‘n manier deur te kry wat vir my aanhoudend sinus gee,
gepaard met erge sinus hoofpyn. Dan veroorsaak die ander stowwe wat die gewas
afskei ook dat jou hart sommer net skielik vinnig te klop, jou are vergroot, en
jou bloeddruk skielik daal. Myne het al binne 5 minute gegaan van 165/105 na 80/60.
Dit is een van die grootste faktore wat sterftes aanbetref, en dan gaan pak van
die seretonin om jou regter hartklep en veroorsaak dat die hart nie kan sluit
wanneer hy pomp nie, en gaan van die bloed weer terug waar dit vandaan gekom
het.
Dit is nou die snaakse goed. Die normale simptome is maar
“flushing”, waar jy skielik warm word in die nek en gesig en jy later aartjies
op die gesig kry wat mense baie keer interpreteer dat jy baie drank gebruik. Ek
weet van een geval in Amerika waar die persoon na ‘n dokter toe verwys is vir
haar “drank” probleem, alhoewel sy ‘n geheel onthouer was, en die dokter toe
uitgevind het sy het Carcinoid sindroom. Die gloede gebeur partykeer 1 of 2
keer per dag, en dan ander kere 10 tot 20 keer per dag. Soos ek nou hier skryf
brand my oë so dat ek voel of my koors seker hierby die 39 of 40 moet wees,
maar ek weet dit is maar net die gewone gloede. Dan is daar die “explosive”
diarieë. Dit kan so wees dat daar baie kere net winde uitkom, maar is nogal
ongemaklik, veral wanneer jy terselfde tyd hardlywig is. Wanneer dit dan
deurkom, dan klink dit of daar ontploffings in die badkamer is, en of ek myself
sopas gelantseer het na die maan. En omdat nie alles verteer is nie, is ons
badkamer nooit sonder lugverfriser nie.
Soos enige kanker is pyn maar seker die grootste newe effek,
veral wanneer die lewer en niere nie genoeg bloed kry nie, en dan die normale
geveg vir spasie wat maar baie eina is.
So hoe voel ek? Dit is ‘n vraag wat ek nie weet hoe om te
antwoord nie. Partykeer dink die kop jy kan aangaan maar die liggaam wil nie,
en dan voel jy jy kan iets doen en dan doen jy dit en die gevolg is dat jy weer
vir dae daarna niks kan doen nie. Dan gaan jy deur ‘n hele paar Carcinoid
krisisse ‘n dag, en dan is daar weer dae wat jy nie van so iets eers weet nie. ‘n
Carcinoid krisis is wanneer meer as een van die simptome jou saam pak, maar is
gewoonlik wanneer jou are vergroot en jou bloeddruk val, gepaard met diarieë.
En soos met alle kankers vat die gewas meeste van jou voeding en raak jy al hoe
meer moeg, en kan jy al hoe minder doen. So die antwoord verskil meeste kere op
‘n uurlike basis. Ek kan nou reg voel en oor ‘n uur nie lekker nie, en om die
waarheid te sê wonder jy dan of dit die einde is of nie. En dan 'n paar uur later is jy weer aan die gang.
Nou met die mondigwording van die ou siekte by my, dit is
ontdek in 1995 tydens ‘n nood blindederm operasie, is ek besig om met Kansa en
van die oorsese mense te onderhandel om ‘n webtuiste vir mense te skep in Suid
Afrika waar ek plaaslike mense kan ondersteun op ‘n pastorale vlak, maar ook
kan verwys na die beste mediese verslae van kundiges op die gebied, beide binne
Suid Afrika as oorsee. In Suid Afrika het Kansa tot 8 maande gelede nie eers ‘n
beskrywing gehad van die kanker nie, en elke keer wat ek nog by ‘n nuwe dokter
uitgekom het, vind ek uit dat ek meer weet as hulle. Soos die een my eendag
gesê het dat toe hy nog besig was met sy studies by Tukkies die proffie vir
hulle gesê het dat indien hulle ‘n Carcinoid geval kry, hulle die universiteit
moet skakel en met die proffie praat oor wat om te doen. Met my operasie so 18
maande terug by Universitas wat ‘n opleidingshospitaal is, het van die
laastejaar studente vir lang tye by my kom sit sodat hulle ook oor hierdie
siekte kon leer.
So ek wil graag terug gee aan ander wat ek nie gehad het
nie, en dit is waar om die regte mediese verslae te kry, en dan soos gesê op
pastorale vlak die mense te ondersteun. Dan wil ek ook graag help om die siekte
by dokters meer bekend te maak, aangesien hulle maar almal werk volgens
ondersoekmetodes wat hulle by hul universiteite kry. So is die tweede laaste
toets wat gedoen word om kroniese diarieë te identifiseer om ‘n 24 uur 5HIAA
protiën toets van jou urine te doen, en dit kan partykeer (20% sekerheid) wys
dat jy iewers ‘n Carcinoid gewas het. Ek is nogal goed as spreker al moet ek
dit self sê aangesien ek dit al die jare in besigheid en by Bybelskole en
gemeentes dit gedoen het, en om ander te motiveer is maar wat jy self in
besigheid en bediening oor baie jare geleer het. Jy gaan terugslae kry, maar
hoe jy optree wanneer dit gebeur is wat die verskil in ‘n mens se lewe maak.
So ek sal binne kort maar vra of iemand wat goed is met
grafiese kuns vir my ‘n logo sal ontwerp met ‘n zebra as hoof onderwerp
aangesien dit wêreldwyd as die teken van Carcinoid gebruik word aangesien alle
zebras soos zebras lyk, maar elkeen se strepe anders is, presies soos Carcinoid
waar elke geval verskil van mekaar. Dit sal nou gratis moet wees want ons kan
nog nie met borge praat voordat alles afgehandel is nie. Die naam moet ek nog
vasmaak, maar dit sal onder my bediening inskakel aangesien ons daar alreeds as
‘n NPO geregistreer is.
So geniet die res van die langnaweek. Hier by ons het ons
net reën en koue gekry, gelukkig nie die sneeu van verder oos van ons nie.
Vandag se maksimum is maar hier by 6
grade met ‘n verwagte minimum van so om en by die -4. Gelukkig is daar
elektriese komberse. So tot volgende keer, groete.