Dinsdag 05 April 2016

Dinsdag 5 April 2016 Dis herfs, so ook voel die lewe.



En so is ons offisieël in die herfs seisoen in. Hier by ons voel jy dit sommer. In die oggende is dit al klaar koud en van 5 uur in die middag moet jy maar ‘n warm ding soek indien jy wil buite gaan. Voor verlede naweek het ek sommer “boots en all” mee rondgeloop, en dit binne die huis. Verlede week het dit darem weer warmer geword, maar nou raak dit al hoe kouer. Ons is nou net so een en ‘n bietjie weke weg van die dag wat ons kan ryp verwag in die oggende. Ons het darem so net oor die 60mm reën gehad die afgelope drie weke, maar daar is maar nog baie plase wat nog baie droog is. En gisteraand het ons weer 10mm gehad. So karoo skaap se prys sal seker ook opskiet.

Gesondheids gewys gaan dit maar moeilik. Die een dag redelik, en dan weer sommer skielik hier in die dag verander dit soos Saterdag dat jy dink dit is die einde. Die maag het net besluit om hardlywig te wees so alhoewel ek nog so ‘n minimum van 5 keer gaan, winde uitgesluit, is dit maar met moeite. Dit veroorsaak dat die winde nie wil uitkom nie en dan blaas ek op soos ‘n ballon, en wanneer daar wel winde kan uitkom dan klink dit ook soos ‘n ballon wat afblaas. So ek verkies maar ‘n sagte diarieë bo ‘n hardlywige diarieë. Maar dit wys maar heel moontlik ook daarop dat die derm weer vernou en die tentakels van die gewas die derm weer beet het. En dan skielik verander alles en veg jy teen ‘n carcinoid krises waar alles net handuitruk. Die bloeddruk wissel van 160/120 na 60/40 binne minute en doen dit aanhoudend, die are vergroot en daar is nie genoeg bloed om te vloei nie, die maag ontplof, en dit voel of jy nie arms bene en 'n kop het nie.En dan is jy moeg, soos 'n ewige moegheid. Jy weet jy nie of jy weer jou oë gaan oop maak nie. Saterdagaand het ek vir Hettie gesê dat dit seker maar my einde ook kon gewees het, want ek het nie geweet wat my getref he nie. Dit was regtig die eerste keer dat ek geweet het dat hierdie kanker my einde gaan beteken. Maar dan gaan jy maar weer aan soos Sondag. Ek voel verseker nie lekker nie, maar dit is hoe die dag gaan wees en ek kan maar net doen wat my hand vind om te doen. Gister was ek selfs Middelburg toe en was dit so ‘n groot seën dat my maag besluit het sommer vroeg om hom te ledig, en was die dag eintlik baie goed. Vandag kan ek dit nou nie sê nie, maar dit is maar hoe dit gaan. Vandag betaal ek weer vir gister se rondrits.
 
Die ander newe effekte is maar soos gewoonlik. Die arms juk so ‘n paar keer op ‘n dag, die sinus is party dae erg, soos, vandag, die niere kla elke dag, en dan is die ou gewas ook seer. Maar dit is huidiglik se normaal. So wat volgende week of selfs more se normaal is weet ek nog nie.

Dan het ek ook so ‘n kort stukkie geskryf wat ek eersdaags, seker teen Woensdag, weer op my bedieningsblog sal plaas, maar ek wil dit eers nog regkry vir Youtube. Ek werk maar daaraan wanneer Hettie kunsklas gee, of winkel toe gaan of ander klasse gee of klere maak, want dan is alles rustig en stil, en vat ek nie van ons bymekaar wees tyd weg nie. Ek het die opname gemaak Saterdag terwyl sy plaasmark toe was om te gaan help het by die koffietafel. So vandag is ek besig om so ‘n bietjie redigering te doen van Saterdag se video en sal dit seker Woensdagoggend klaar maak en op Youtube sit. Dan is dit tyd vir die Engelse weergawe.

En dan is daar Kerneels, ons kleinhond, ‘n swart en bruin Chihuahua. Hy het nou aangepas by ons leefwyse en begin nou selfs die bure se hoenders jaag wat elke aand oor die muur vlieg en in my tuin kom skrop wat nie ‘n goeie idee is nie. Ek wil self nie hoenders hê nie, maar nou maak die bure se hoenders my die hoenders in. Maar hulle begin nou ook te leer en vlug maar voor my en Kerneels wat dit geniet om hulle te jaag.

So tot later, groete vanuit Steynsburg.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking