En so het vier weke verby gegaan voordat ek weer iets laat
weet. Wel, dit voel regtig nie soos vier weke nie, maar wanneer jy nie meer
elke dag moet werk nie, verloor jy partykeer maar tred met watter dag van die
week dit is.
By ons het die lente gekom, al die bome is of was oortrek
van die blomme, en toe weer so ‘n vinnige koue maar gelukkig het dit nie
veroorsaak dat die bome die blomme afgegooi het nie. So die gras slaan so kol
kol groen uit, en die rose wil nou net uitgeplant word. Nou vir die wat weet
hoe groot ons stukkie grond is, sal julle verstaan wanneer ek sê dat ek ‘n
probleem het om 50 rose uit te plant. Maar waar daar ‘n wil is, is daar altyd
‘n weg. So die tuin sal so ‘n bietjie verander en ‘n bruggie of twee kry, en
die tuin sal maar net moet groter word. Ek het alreeds probleme met die wortels
van die rose wat onder uitgroei, so die week wat kom en seker die een daarna
sal Andries maar moet kom werk. (Dit is nou die tuinjong).
Dit is lekker om die lente in die tuin en weer te sien, maar
ongelukkig ervaar ek dit nie in my lewe nie. Om die waarheid te sê is die
winter nog volstoom aan die gang. Dan sukkel ek met diarieë, dan met hardlywige
diarieë, dit is nou wanneer ek so ‘n bietjie verstop is, en so gaan ons maar
aan. Die arms en bene begin al klaar te juk so ek weet nie hoe hulle die somer
gaan lyk nie want ek juk mos op plekke sonder rede. Dan is daar maar altyd die
stryd hier in die ingewande oor wie nou watter parkeer plek het. Die niere kla
dat die gewas hulle plek wil vat, en so ook die lewer. En dan blaas ek op soos
‘n blaasoppie vissie, en dan kla alles oor spasie.
Dan gaan al die kleppe oop wat moet oop en loots ek myself
van die toiletsitplek af en na die spul sit ek en moet ek maar rus, want dan
het al die ou lewe saam met die turbo lading ontsnap. Maar dan word alles weer
rustig en kan ek weer aangaan vir ‘n paar ure, en dan is dit maar weer
dieselfde ou geveg van voor. Partydae raak dit erg as die kleppe nie wil oop
nie en ek vir drie dae moet loop met alles wat net plek soek of net wil uit,
maar die derm wil nie saamwerk nie. Dan is dit nogal moeilik.
Maar dan ontplof alles weer en keer dit weer na die normale
siklus toe terug. Dit is maar net moeilik om so te kyk na alles wat jy wil doen
en weet jy het nie die krag om dit te doen nie. Dan dink jy nog jy kan goeters
doen of saamstap winkels toe, en vind jy uit jou ou enjin wil dit nie doen nie.
En dan wanneer ek by die huis kom voel ek hoe onfiks ek werklik is aangesien
alles, arms, bene voete en hande, net dorings het omdat die spiere suurstof
soek en nie genoeg kry nie.
Dan word die uitsaaïngs
elke dag groter as voorheen, en dit is nou die wat ek kan voel, en wonder ek
maar net wat gebeur met die wat ek nie kan voel nie. Maar genoeg oor die
negatiewe. Ek lewe nog en kan net bly wees dat ek ‘n familie het wat baie
ondersteunend is, en maar net daar is vir my. Gelukkig weet ‘n mens ook dat die
HERE altyd daar is vir jou, en vind ek maar dat ou Paulus seker maar ook soos
ek gevoel het so nou en dan. “Broeders, ek bid julle, word soos ek, want ek is ook soos julle. Julle
het my geen onreg aangedoen nie; maar julle weet dat ek ten gevolge van
krankheid van die vlees die eerste keer die evangelie aan julle verkondig het;
en julle het my beproewing in my vlees nie verag of verfoei nie, maar julle het
my ontvang as ‘n engel van God, ja, as Christus Jesus.” (Gal 4:12-14)
Gelukkig hou ek myself maar besig met skryf, want my kop is
nog 100%, en redenasie is maar my sterkpunt. So dit maak en hou die lewe
interessant. Dan lees ek maar wat ander se opinies is oor hedendaagse kwessies is
veral in die Kerk, en dan vind jy dat mense wat die Bybel so kan aanpas dat dit
hul siening regverdig, maar nie strook met die res van die Bybel nie. En dan
vind ek skielik dat ek ‘n stuk lees, of in die Bybel of kommentare, en skielik
is dit agt bladsye later voordat ek die saak uitgeredeneer het. Maar dit is
maar wie ek is en hang maar nou saam met my agtergrond en opleiding. Ek het dit
nogal baie geniet om na ander persone se programmeering te kyk en te probeer
verstaan. Ek moes eers in hulle kop klim om hulle denkrigting te verstaan, en
dan was dit altyd maklik om veranderings of regstellings te maak. Of om met ‘n
persoon te gaan sit wat weet wat prakties gebeur, en dit dan op ‘n rekenaar te
doen. Dit is maar hoe ek mense standpunte oor Bybelse onderwerpe ook benader,
en vind ek somtyds dat ek nie die persoon se logika kan volg nie, en dan is dit
maar moeilik om dit te weerlê of die foute uit te wys want dit is net ‘n
gebabbel sonder enige denke. Die grootste probleem wat ek gewoonlik vind is
maar die relevante gebruik van die Bybel. Die versie kan baie sê, maar wanneer
jy dit in geheel sien, is dit ‘n perd van ‘n ander kleur. En ons mos deesdae
versie Christene. Ons moet net altyd ‘n versie hê om te deel of om ons
standpunt mee te verdedig.
Die week het Hettie se suster en dié se dogter, nog ‘n Hester, so een dag gekuier hier by ons en
oorgeslaap. Goed om hulle te sien maar Vienie raak maar oud en dit begin te
wys. Ons verwag maar dat wanneer sy nou weer by die ouetehuis in Joubertina kom
dat sy na die siekeboeg sal gaan en nie meer toegelaat word om in haar woonstel
te bly nie. Op 82 moet jy maar aanvaar dat ander mense namens jou besluite moet
neem. Sy besef darem ook nou dat indien sy val sal die mense dit dalk eers die
volgende middag uitvind en kan dit te laat wees. Net vir die wat nie weet nie
sy het al ‘n paar ligte beroertes gehad wat nou deesdae hulle invloed al hoe
meer wys.
Soos gewoonlik sluit ek maar af met ‘n skakel na ‘n lied.
Dit is seker die bekendste Psalm onder alle mense, maar verseker die mooiste
bereiming wat ek in al my jare gehoor het.
Groetnis tot volgende keer.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking