Hier by ons begin die weer te verander. Soos ek hier sit
vandag weet ek nie of dit warm of koud is nie, want die oggende is die
temperatuur al klaar hier by 4 of 6 grade C. Dit sit so ‘n byt in die
oggendlug, en dan is daar so ‘n skraal windjie wat so regdeur jou probeer waai.
So dit lyk of ons op pad is vir ‘n vroeë winter wat ook koud gaan wees.
Gelukkig het ons redelik reën gehad en is daar in die
distrik plekke wat oor die 600mm reën van Januarie af gehad het. Van die plaas
damme, gronddamme, in die omgewing het ook maar meegegee en is selfs ‘n
gedeelte van die dorp oorspoel toe die wal van ‘n dam net bokant die dorp uiteindelik
meegegee het.
Met Hettie gaan dit fisies baie goed. Haar operasie se wonde
het fantasties genees, maar sy het ook ‘n plaaslikke persoon gehad wat haar
gehelp het. Die dame wat by die ouetehuis werk, het gespesialiseer in wond
behandeling voor sy hier by ons aangekom het, so dit was nooit eers ‘n probleem
om te dink wat moet ons maak nie. Sy was maar net altyd daar en het Hettie
onder hande geneem en selfs vandag nog kom sy so elke nou en dan in om te kyk
of ons nog olie aansit om die wond beter te laat lyk. Hettie het haar eerste
chemo agter die rug en volgende Maandag is dit haar tweede een. Volgens die wat
weet is dit dan wanneer die hare begin uitval en het sy klaar gesê dan steek sy
maar die knipper voor in en trek hom agter uit. Sy het dit moeilik gehad vir
die eerste paar dae maar deesdae voel sy redelik goed. Sy hou tot my dop sodat
ek nie probeer om te veel goed te doen op ‘n dag nie, so alles is reg. Dit is
maar ‘n moeilike tyd wat vir haar voorlê, maar ons weet gelukkig dat ons krag
nie uit ons self is nie, maar uit die HERE wat alle krag besit. Die mense in
die dorp kan nie glo dat ons, maar meer net sy, die dorp volloop van winkel na
winkel elke dag. Volgens hulle moet ons albei in die bed wees en siek lyk.
Ongelukkig is dit nie een van ons twee se kenmerke nie.
Self is dit maar moeilik. Dan het ek ‘n paar goeie dae, en
dan skielik kom daar net ‘n insinking en is ek regtig niks werd nie. Dan sit ek
maar soos nou in die sitkamer sommer met die rekenaar op my skoot en skryf. En
gelukkig het ek nogsteeds daardie gawe van die HERE waar Hy soveel goed vir ‘n
mens net oopmaak. En dit partykeer sonder dat ek eers vra dat Hy my sal wys hoe
om gedeeltes te interpreteer.
So het ek dan vroeër vandag ook klaar gemaak met my jongste
stuk oor die boek van Romeine. Daar is sovele mense wat sovele verskillende
teologiese standpunte daar uitgehaal het oor die eeue dat dit maar moeilik was
om daaroor te skryf. Vir die een is die een gedeelte belangrik en vir die ander
een is dit weer ‘n ander gedeelte, en dan kyk ek maar op die Christelike forums
op die internet en staan jy verstom hoeveel verskille daar uit een sin kan
uitvloei. En dan wonder ek maar net stilweg hoe is dit moontlik om almal te kry
om te glo in die boodskap van geregtigheid wat die Bybel vir ons skets as ons
nie eers oor een sin kan saamstem nie.
So ek het maar die boek op my webtuiste gesit en sal seker
later die week begin met die vertaling daarvan in Engels. Gewoonlik is dit op
die ou einde ‘n oorskryf eerder as ‘n vertaling, want om idiome te vertaal is
partykeer maar moeilik. U kan dit hier gratis aflaai.
So, die naweek is ons weer op die plaas en ry ons Maandag
vroeg deur Bloemfontein toe om agtuur daar te wees vir Hettie se volgende chemo
en vir my CTscan. Dan slaap ons oor en sal ek Dinsdag middag uitvind wat hulle
beoog met my, of hulle iets kan doen of nie. Al wat hulle maar kan doen is
probeer om die gewas kleiner te kry sodat hy minder seretonin en histamien in
my ligaam pomp, en dalk kyk of die regterkant se hartklep nog reg funksioneer
en of dit die oorsaak is van my moegheid. Indien hulle net so ‘n bietjie meer
spasie kan maak sal dit ook help, want dit is nogal ongemaklik om na elke
maaltyd eers toilet toe moet gaan om plek te maak vir dit wat jy nou net geëet
het, en om die pyn so ‘n bietjie te laat daal, so van ‘n nege na ‘n sewe sal nogal
baie help. En dan is daar die uitsaaïng
na die kop wat maak dat my regteroor doof is, en dat die kliere by my kake
altyd seer is, so asof ek pampoentjies het. Gelukkig het dit darem nie die
nagevolge van pampoentjies nie, want dit moes ek deurgaan toe die kinders van
die skool af met pampoentjies huis toe gekom het.
Hettie het ook vir my ‘n stut gemaak wat ek nou kan gebruik
in die kar sodat my nek nie so seer word nie. Die ou RA is seker een van die
pynlikste goed wat ‘n mens kan kry, veral wanneer dit jou amper ‘n uur in die
oggende vat om aan die gang te kom, en die vingers nie meer goed wil vashou of
vat nie. Of die skaniere, die heupe en die knieë wat so seer is dat ek
partykeer wonder wat nou die ergste pyn veroorsaak, die RA of die kanker. Ek
weet nie meer nie.
Gelukkig kan ons nog die lewe saam verder gaan, en is ons
daar vir mekaar. So tot ons weer gesêls, groete vanuit Steynsburg.
Die lied wat ek vandag na verwys pas so by dit wat ek en
Hettie voel is partykeer nodig om werklik te weet wie jou verlosser is.