Dit is nogal ‘n hele rukkie gelede wat ek laas iets gedeel
het. Om die waarheid te sê het ek glad nie in Februarie iets gedeel nie, maar
tog was daar baie goed wat gebeur het. Ons was al weer terug by ons huis, weer
op die plaas by Su-Hannie hulle, en is al weer terug by ons huis. En dan gaan
ons Sondag alweer plaas toe.
Hettie se operasie wonde is so 99% gesond, so dit is baie
goeie nuus. Ons was toe Maandag by onkologie en hulle wil baie goeters doen.
Vir Hettie sal sy volgende Maandag uitvind wanneer haar chemo begin. Sy moet
seskeer gaan is dit elke drie weke uit mekaar. So dit is dan 18 weke van chemo.
Daarna volg ‘n maand van bestraling van Maandag tot Vrydag, elke dag vir die
maand. So indien hulle nou begin hoop ons sy sal so teen einde Augustus of
begin September seker klaar wees met die storie, en dan is dit maar verdere
toetse om te sien dat hulle alles kon dood kry. Haar kanker was baie agressief,
so alhoewel hulle alles kon verwyder, weet hulle nie hoeveel nog in die bloed
en beenmurg gebêre is nie.
Self moet ek ook weer onder die mes deurloop om “debulking”
te doen van die gewas sodat my lewens kwaliteit kan verbeter. Dit sal baie goed
wees as hulle die klok so ‘n paar jaar kan terug draai vir my. Maar, dan is
daar die Rheumatiod Arthritus wat maar baie moeilik is. Die rug is so swak dat
hulle bang is dat van die werwels kan breek en net so met die nek. Daaraan kan
hulle nou nie juis iets doen nie. Wanneer dit sal wees sal ek nog oor moet
besluit aangesien Hettie nou die grootste prioriteit is. Vir my kan ek maar
seker aangaan totdat sy klaar is en dan sal ek gaan sodat sy my dan weer kan
bystaan. Om albei dieselfde tyd behandeling te kry sal nie werk nie, want wie
gaan na wie kyk.
Dan het Esthee en Francois so ‘n verrassing gekry toe klein
Lars 4 weke vroeg sy opwagting gemaak het. Hy is te oulik en nou op 3 weke weeg
hy al 3 Kg. Maar hy gee hulle soveel vreugde en dit is iets wat ek en Hettie
nie gedink het ooit sal gebeur nie. Esthee en Francois het net so ‘n groot
verrassing gehad toe sy verlede jaar in Julie uitgevind het sy is swanger.
Daar is een groot ligpunt en dit is dat dit Januarie begin
reën het en dat jy nie kan glo hoe die natuur verander het nie. Waar verlede
Desember net grond was, staan die gras kniehoogte, en damme soos by Smithfield
wat vir seker 5 maande leeg was loop oor. Die groot dam op die plaas het baie
water bygekry en hopelik sal die boorgate ook begin herstel. Dit het ook gemaak
dat ons darem nie nou meer elke dag moet sukkel met die lokasie se bokke en
beeste in die tuine op die dorp nie, want daar is weiding in die veld. Ons het
hier so net oor die honderd millimeter gehad en op die plaas trek hulle oor die
200 mm. Daar is van die plase in die omgewing wat meer as 400mm gemeet het. Die
een boer het nou die dag vir Barney gesê dat sy pa wat nou al 92 jaar oud is,
sê dit was nog nooit so droog nie, maar ook dat dit nog nooit so baie gereën
het wat hy van weet nie.Almal verwag egter ‘n baie koue winter met baie sneeu.
So ons sal maar sien.
Die video wat ek graag deel vandag is een wat nogal baie na
aan my hart lê. Dit is ‘n ou lied, maar pragtige opname.
Hierdie opmerking is deur 'n blogadministrateur verwyder.
AntwoordVee uit