Die winter is verseker hier by ons. Dit is al
wat die mense hier in Steynsburg oor praat die afgelope week. Gister is die
laagste temperatuur nog hier naby ons by Molteno gemeet van -19.5C. Dit was ook
die dag met die laagste maksimum van 4.5C daar. Volgens die radio verslag is
dit die koudste tydperk die afgelope 38 jaar. Ek het dieselfde maksimum gemeet
maar ons minimum was darem net -8.5C. Ander mense op die dorp het tot by -13C
gemeet. Ek weet nie wat die aanvoelbare temperatuur is nie, maar ek weet dit is
koud. Soos ek nou hier sit en skryf 4 uur in die middag is dit tans 6C. Ons het
nou al geleer om water in bakke in die kombuis te hou oornag want die pype
vries elke nag. Vandag het ek eers teen 11:40 water in die kombuis gekry, waar
dit ander dae darem so ‘n bietjie vroeër was, al was dit net 10 minute vroeër.
Ek sien ook nie kans om met die pype te sukkel wanneer dit so koud is nie. Gelukkig
het ons water in die badkamer en waskamer. So ek mag dalk koud wees maar ek
weet darem ek is skoon want ek kan elke oggend ‘n warm stort vat. En gelukkig
het ons lekker warm klere wat die ergste koue uithou. Ek het so ‘n lekker dons
baadjie by Su-Hannie gekry en as ek buite loop winkel toe kan die koue nie
deurkom nie. Ek wens sommer ek is ‘n hoender dat ek my hele lyf kan toekry
onder ‘n lekker vere kombers.
Met die gesondheid is daar nie baie verandering
nie. Ek was net ‘n bietjie moedeloos toe die bene vanoggend ook begin juk hier
by die maarmerries rond. Ek het maar net dieselfde room aangesit wat ek vir die
arms gebruik en sover is die juk darem weg. Ek hoop maar net dat dit nie die paadjie
van die arms gaan volg nie, want dan gaan die mense regtig dink al my varkies
is nie tuis as ek in hierdie weer met ‘n kortbroek rondloop nie. Dit is maar
wat ek elke nou en dan met die arms moet maak om te verseker dat ek nie juk nie
aangesien enige kontak met klere maak dat dit juk.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking