Met die laaste skrywe het ek gewag vir die operasie. Nou
is dit ook agter die rug maar nog lank nie verby nie. Die Maandagoggend is ek
toe midde in hierdie moeilike verdowing geopereer. Hulle het toe so min as
moontlik verdowingsmiddels gebruik aangesien hulle glad nie morfien kan gebruik
nie.
Op die ou einde was dit toe 'n epidural met al hul
snaakse goed by.
Al wat ek weet is dat ek baie seer gehad het. Net deur
asem te haal het die buik die derms in 'n spasma laat saamtrek. Die staf was
nogal raadop maar toe die sjirurg vir hulle die rede gee was hulle baie meer
simpatiek teenoor my.
So wat het hulle gevind? Beide derms was totaal verstop
aangesien die gewas alles wat hy in die hande kan kry met sy tentakels nader
trek en keer dat daar enige iets deur hul laat gaan. Op die ou einde het die span
'n gedeelte van 90cm gekry wat hulle toe kon gebruik om 'n nuwe paadjie te maak
om by die dukderm uit te kom. Die kos kan nog steeds die normale paadjie neem,
maar daar is 'n skoon pad wat dit ook kan neem. Die paadjie is nou net baie
korter as normaal maar hy kan dalk ook 'n bietjie groei. Die een probleem
waarmee dit my los is dat die hoofaar van die dunderm na die lewer wat alles
vervoer sal moet sukkel om voeding in die hande te kry omrede hy buite hierdie
omlyning is. Die dikderm kom hulle gelukkig los sny en die verdunning verwyder.
Die res was egter nie wat ons wou hoor nie. Die are na
die niere loop ook deur die gewas en is ook besig om toe geknyp te word, so die
niere gaan maar met tye seer word, soos vandag. En dan is daar die metastatis na die lewer.
Hoe erg hierdie uitsaaing is sal ons eers teen 19 November weet.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking