Donderdag 15 Januarie 2015

Donderdag 15 Januarie 2015

En daar is die nuwe jaar al weer twee weke aan die gang. Nogal ‘n besige week of wat agter die rug. Jana en Theuns het by Oupa en Ouma kom kuier en geslaap. Die tweetjies het dit terdeë geniet en het saam met Ouma elkeen hul eie skildery gemaak. En nou moet ek erken dat hulle skilderye beter lyk as wat Oupa s’n ooit sal wees. Theuns kon net nie wag dat Mamma moes kom om hulle te kom haal nie. Hy is nie groot op oorslaap by ander mense wanneer net hy en sy sussie oorslaap nie. Hy doen dit baie maklik, maar mis sy ma baie.

Twee dae later het Vienie en Hester, haar dogter, ook kom kuier. Dit was ook ‘n lekker tydjie veral vir die twee sussies om weer bietjie te kuier. Hulle was net verbaas oor hoe klein ons dorpie regtig is, maar het nie baie warm gekry nie. Vir ons is laag na middel dertigs warm, maar vir Hester het sy nie eers gesweet nie. Hier by ons koel dit vinnig in die aand af, maar by hulle hou die klippe baie hitte wat hulle dan in die aand van ontslae raak, so dit koel nie veel af nie. En dan is hulle temperatuur maar ook net so ‘n graad of drie warmer. Sy kom van Postmasburg, so dit is te verstane. Saterdagmiddag het ons so ‘n lekker vinnige storm gehad wat weer ons pad in ‘n rivier verander het en net so vyftien sentimeter van die bure se voordeur af gestop het. Vienie ne Hester kon nie glo hoeveel water in die pad af is nie.

Die gesondheid is maar nie veel anders nie. Dit het darem so half en half in ‘n ritme in begin pas waar die diarieë vroeg in die oggend is en dan verander dit na winde so van negeuur in die oggend en dan weer terug na diarieë in die laat middag, aand en nag. Verder gee die ou gewas my maar ‘n harde tyd met bloedvlooi na die niere en lewer. So elke nou en dan, so drie keer plus per dag, besluit hy net dat geen bloed na die regter nier of lewer sal deurgaan nie, en dit is nogal seer. Gelukkig kan ek dit nogal self regkry deur te buig of net die liggaam of die gewas te manupileer totdat die pyn minder raak. En dan is daar ook natuurlik pynpille.

En verder is ek maar moeg en het nie veel energie nie. Wanneer ek wel krag het kry ek dit darem reg om gras te sny en die bossies uit die tuin te hou. Die groentetuin lyk heel anders die jaar as verlede seisoen. My spinasie het goed opgekom maar toe sommer dadelik besluit om saad te maak voordat die blare groot genoeg was om te oes. Die lemoen pampoene gaan baie goed aan, en die res van die groente doen hulle bes. Die bone het net vroeg begin dra en is al klaar besig om dood te gaan, so ek sal maar kyk of ek dalk ‘n tweede klomp aan die groei kan kry voor die einde van die seisoen.

Volgende week begin ons weer met die sel by ons huis en sien ek nogal uit daarna. Dit sal nou die eerste keer wees van voor my operasie in Oktober dat ons weer bymekaar sal kom waar ek ook teenwoordig is. Met die gesondheid soos dit nou is kan ek nou nie meer Sondae by die dienste uitkom nie, so ‘n mens mis die geleentheid om met ander gelowiges saam te wees. Ek wil so ‘n bietjie kyk na hoe baie van dit wat ons in die Nuwe Testament lees, in die Ou Testament begin is en wat dit beteken het vir hulle in die Bybel se tyd wat dit beteken vir ons vandag.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking