En so is nog ‘n paar weke verby. Nie dat daar
juis iets gebeur het nie, behalwe die ou normale lewe. Dit is maar opstaan in
die oggend, ontbyt maak vir almal, dit is nou te sê as Barney nie sommer self
gou vir hom gemaak het voor hy werk toe gaan nie, stort, en die gewone
aktiewiteite.
Ek moet erken dat ‘n mens baie maklik in ‘n
patroon vasval in die lewe, maar gelukkig gee dit stabiliteit, want jy hoef nie
elke dag ‘n nuwe patroon te volg nie. Die weer hier by ons, en ek glo by baie
ander persone ook, het nog nie gehoor van hierdie patroon nie, want jy weet
nooit wat om te verwag nie. Hier in die Karoo is Februarie gewoonlik ‘n baie
warm maand. Dit was ook hierdie maand sover so gewees met maksimums wat ek
gemeet het van so 38,5 grade, maar dan was daar ook skielik twee herfs naweke
waar die maksimum maar 19 was. So dit is maar deurmekaar.
Met die gesondheid is dit maar dieselfde, die
een dag goed en dan weer nie so goed nie. Dit is nou die nie so goeie dae wat
lyk my nou die oorhand wil kry. Die gewas het besluit dat hy na die operasie
nie meer so ‘n groot invloed op my lewe gehad het behalwe die pyn nie, en nou
lyk dit my dat my histamien vlak weer die hoogte in geskiet het wat erge sinus
veroorsaak. So ek is nou weer besig om my reuk te verloor want die ou neus bly
verstop. So ek het gister weer begin om anti-histamien tablette te gebruik om
die alewige sinus weer onder beheer te kry. Gelukkig is die dermititus nog
onder beheer en is daar net so ‘n paar plekkies wat wys, maar dit jeuk darem
nog nie baie nie, net so nou en dan.
Verder is dit maar net die pyn, maag en die
alewige moegheid wat maar konstant daar is. Gisteraand moes Hettie maar oorneem
toe ek wou koffie maak vir ons want die bloeddruk, wat een van die bydraende
faktore is vir die moegheid, het so skielik gedaal dat ek moeite gehad het om
‘n koppie vas te hou. Dit het regtig gevoel of ek sopas 50 “pullups” na mekaar
gedoen het.
So, tot volgende keer, geniet dit wat jy doen.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking