Dinsdag 10 Maart 2014
Ek was maar baie stil die afgelope paar weke
dat selfs Hettie vir my sê vanoggend dat ek lanklaas iets bygevoeg het. So ja,
dit is waar, maar dan is dit seker tyd om iets by te voeg.
Die hele blog gaan maar oor my stryd teen
hierdie snaakse kanker, so dit is ook maar wat in my lewe elke dag aangaan. Die
een dag voel jy beter net om die volgende paar dae weer ‘n bietjie woes te
voel. Ek moet erken dat ek nogal aangepas het met die huidige omstandighede en
is dit nie meer so snaaks om 20 keer op ‘n dag toilet toe te gaan nie. Ek raak
nou bekommerd wanneer dit nie gebeur nie, want dit kan verrassings inhou vir my
wanneer ek gaan slaap. Gelukkig gebeur dit net so gemiddeld een maal per week,
maar is dit regtig nie lekker om half een in die nag te moet stort nie.
Baie mense hier in die dorp vra my altyd hoe
ek so vrolik en opgewonde kan lyk terwyl ek eintlik nie lekker voel nie. Hulle
sien die gesig is maarder as vroeër en die wange het sulke lekker slote in waar
vroeërjare dimpels was. En dan let hulle maar ook op dat ek nie elke keer saam
met Hettie winkels toe gaan nie en dat sy al die swaar sakke dra. Ek weet nog
en is nog steeds gedurende hierdie hele tydperk besig om ‘n droom wat ek het, na
te streef. Sonder ‘n droom sou ek seker baie lank terug al boedel oorgegee het,
maar die wat my regtig ken weet daardie woorde bestaan nie in my woordeskat
nie. In my jonger dae was my bynaam by my een wergewer, Computer Sciences,
Louwrens “no problem” Erasmus.
Ek glo maar dat indien jy net die donkerkant
van die lewe raaksien dit jou hele lewe beïnvloed. So dit is
sommer een rede waarom ek glad nie nuus kyk op TV nie, want dit ontstel my net te
veel om te sien hoe die politici (en dit sluit alle partye in) hierdie pragtige
land en lewens standaard van ons deur hulle gaaie trek vir hulle eie voordeel.
Ek glo nie net maar daarin dat ‘n persoon nog
‘n droom moet hê nie, maar ook om iets daadwerklik daar rondom te doen. Soos
baie mense weet is my grootste droom om mense te help op hulle paadjie saam met
die HERE. Dat ons nie sal twyfel in die HERE wanneer dinge nie gaan soos ons
gedink het dit sal uitwerk nie. Dit is ook wat my staande hou. Om nie maar van
versie na versie of dagstukkie tot dagstukkie te lewe nie, maar om die hele
verlossingsboodskap in al sy fasette te kan ken. Anders is ek ‘n versie of
prentjie Christen en nie ‘n dissipel nie.
Nou het ek ‘n epos verlede week gekry van On
The Dot met die volgende gegewens: “Hi Amina, Please see below and attached,
another new publisher. Kindly contact Louwrens with ftp details once set up, or
if there are any queries on our side. Warm regards Ulandy”. On The Dot is die stoorplek van alle eboeke
wat by al die boekwinkels in Suid Afrika se webtuistes gekoop kan word. So my eboeke
sal eersdaags beskikbaar wees by :Carpe Diem, CUM, Exclusive Books, Future
Managers, Kalahari, Kobo, Kwarts, Leisure Books, Little White Bakkie,
Myafrikaans, Mybooks, Oxford Univeristy Press en PNA. En dan wag ons net vir
die samesmelting van Kalahari en Takealot om die DVD’s wat ek oor van die boeke
gemaak het, ook te kan bemark. Dit sal volgens hulle seker so teen middel Mei
kan geskied.
In die tussen tyd gebruik ek maar die goeie
tye om my tuin in stand te hou, en mense wat ek al ‘n lang paadjie mee saamloop se vrae oor
Christenskap te beantwoord. En voor ek vergeet, ook vir Hettie te help met die
huis, kos, en alles wat sy graag nog wil doen om inligting vir haar te kry en
op haar rekenaar te sit sodat sy kan sien hoe om snaakse goed soos arm brei te
doen.
Tot weersiens hier. Seëngroete vir jou van ons
kant af.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking