Hier by ons is die somer verseker verby. Het al so een
oggend ryp gehad, maar oor die algemeen is die weer lekker koel tot koud. Ek
weet baie mense hou van die warmer weer, maar vir my is die tyd van die jaar
baie lekker. Die dae is dit aangenaam behalwe as die wind baie waai, en in die
aand en oggend kan jy maar so ‘n bietjie warmer aantrek want daar is altyd so
‘n byt in die lug.
Volgende week die tyd is ons weer op die plaas by Su-Hannie
en Bani, en dan ook tyd vir die groot bederf met Esthee wat kom kuier en dan ook
daar by ons sal wees. Lekker om haar weer te sien na nog ‘n jaar daar doer
anderkant die see in Melbourne. Gelukkig weet ek hulle is baie gelukkig daar.
Daar is nogal baie wat ons besig hou hier n die Karoo.By die
huis was dit nogal spannend met die omheining van ons erf, met almal wat wil
voorskryf en op eis wat nie hulle s’n is nie. Gelukkig is dit nou agter die rug
en kan ons nou ontspan.
Met die gesondheid is dit maar rof. Die dae het so halfpad
in ‘n roetine vasgeval. Erge diarieë vroegoggend, dan so ‘n bietjie rustig,
baie winde so van twaalfuur af, dan dalk weer so ‘n uur of twee se blaaskans en
dan weer winde en diarieë tot slapenstyd. Dit is nou net die een simptoom. Met
die ander simptome is die ou pyn ongelukkig die een wat nie meer juis ruskans
gee nie. As dit nie die gewas is nie, is dit die lewer en dan weer die niere.
Ek neem maar net notisie van die een wat die ergste op daardie tydstip is. En
dan raak die ou kragte ook maar minder en raak ek maar so nou en dan
gefrustreerd as ek iets wil doen en ek dit nie kan doen nie.
Gelukkig gee die ou siekte my nogal baie tyd om te skryf. Ek
het nou begin met my laaste werk wat ek voel ek nog moet doen. Hettie het ook
sommer vir my die titel van die boek gegee, “Die openbaring van Openbaring”.
Hierdie is seker vir my die langste wat ek nog gevat het voordat ek kon begin
werk het aan ‘n boek. Die gedagtes is al seker meer as ses jaar by my, maar net
wanneer ek dink ek is reg om te begin, dan word my kaarte eers weer deurmekaar
gekrap en stel ek dit maar uit totdat ek weer rigting kan kry. Nou voel ek dit
is egter tyd en staan ek ook maar verbaas oor die fyn detail wat daar in die
Openbaring is wat ek ook maar vir baie jare gelees het maar nooit die impak
daarvan besef het nie.
Maar dit is nou ook genoeg vir vandag. Tot volgende keer,
seker eers na Esthee se kuier, dan kan ons weer verder gesels.