En so is daar sommer ‘n vinnige vier weke al weer verby. Nou
dat ek terugdink daaraan besef ek eers hoe vinnig die tyd verby gegaan het.
Daar het ook nogal baie gebeur in die tyd.
Ons was by Su-Hannie en die kinders vir amper twee weke gewees.
Dit was baie lekker om op die plaas net mooi niks te doen nie. Hettie het wel
gehelp om die kinders reg te kry vir skool dat hulle net na sewe in die oggende
kon ry, en daarna het ek en Hettie onsself besig gehou. Bani was vir werk weg
en was net die naweek daar gewees so tussen twee projekte. Nie ‘n slegte projek
om aan te werk as die kliënt in die Seychelles is nie en jy moet daar gaan werk
nie. Maar ek weet ook dat dit nie lekker is om alleen agter te bly en nou
skielik ma en pa te wees nie. Veral as jy nog met kleiner kinders sit nie. So
dit was eintlik lekker vir oupa en ouma om te gaan help al het oupa nie veel
gedoen of beteken nie.
En dan het ons ook nou aan die einde van Paasfees/naweek
gekom wat ook maar beteken dat ek maar min gedoen het, want dit was mos naweek.
Verlede week en naweek was ek egter besig. Ek moes al my boeke voorberei en
oorplaas na On The Dot wat gebruik word deur CUM, Exclusive Books, Carpe Diem en
meeste van die boekwinkels en uitgewers om hulle eBoeke te stoor en te bestuur.
So ek sal seker binne die volgende paar dae hoor dat alles wat ek so oor die
afgelope 20 jaar geskryf het, beskikbaar is by die boekwinkels se webtuistes om
af te laai. Ek sien nogal uit daarna. Dit is nou al reeds by my eie webtuiste
by www.shama.org.za beskikbaar. Van die
boeke het ek seker so 14 jaar terug begin skryf en ander het ek eers hierdie
jaar klaar gemaak. Dit handel alles maar oor my paadjie met die HERE en wat ek
by Hom geleer het. Al wat ek kan sê is dat dit so ‘n bietjie anders is as die
gewone wat ons van skrywers kry vandag wat mense probeer streel, wat sekerlik
nodig is, maar ek sien nie boeke wat mense uit kan leer of dalk net jou manier
van glo bevraagteken. Dalk so ‘n bietjie kontroversieël, maar dit is wie en wat
ek is.
Ek het sommer ook besluit om as deel van die beskikbaarheid
van die boeke en DVD’s so ‘n bietjie op my ander blog, my “bedieniengs blog”, so
een boodskap per week te plaas. Van hulle is al ouer boodskappe wat ek ook maar
oor jare geskryf het, ander is darem nou onlangs eers neer gepen, terwyl ander
nog net in my kop is. Die blog is by: http://shamaministries.blogspot.com/2015/04/windpomp.html
Met die gesondheid is dit maar soos gewoonlik. ‘n Paar dae
nie so sleg nie en dan ‘n paar dae wat dit maar sleg is. Die maag is nogal
snaaks. Ek het vir Hettie gisteroggend gesê ek het ‘n nuwe uitdrukking wat so
min of meer vertel wat ek deurgaan, en dit is om hardlywig diarieë te hê. Dit
klink verkeerd maar dit is wat die ou gewas met my doen. Verder is die kanker
maar seer en ongemaklik, en dan weer gemeng met moeg en bloeddruk wat nie kan
besluit of dit hoog of laag wil wees nie. Ek moet erken dat die pyn nogal erg
raak met tye. Dan voel dit sommer soos dit die dag gevoel het toe alles verstop
was, en dan raak dit meer draaglik maar ek kry deesdae nie juis meer ‘n
blaaskans nie. Maar dit is die lewe en die pakkie wat ek gekry het om te dra.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking