Dinsdag 28 April 2015

Dinsdag 28 April 2015 Nog 'n nuwe dag met nuwe dinge

Hier by ons is die somer verseker verby. Het al so een oggend ryp gehad, maar oor die algemeen is die weer lekker koel tot koud. Ek weet baie mense hou van die warmer weer, maar vir my is die tyd van die jaar baie lekker. Die dae is dit aangenaam behalwe as die wind baie waai, en in die aand en oggend kan jy maar so ‘n bietjie warmer aantrek want daar is altyd so ‘n byt in die lug.

Volgende week die tyd is ons weer op die plaas by Su-Hannie en Bani, en dan ook tyd vir die groot bederf met Esthee wat kom kuier en dan ook daar by ons sal wees. Lekker om haar weer te sien na nog ‘n jaar daar doer anderkant die see in Melbourne. Gelukkig weet ek hulle is baie gelukkig daar.

Daar is nogal baie wat ons besig hou hier n die Karoo.By die huis was dit nogal spannend met die omheining van ons erf, met almal wat wil voorskryf en op eis wat nie hulle s’n is nie. Gelukkig is dit nou agter die rug en kan ons nou ontspan.

Met die gesondheid is dit maar rof. Die dae het so halfpad in ‘n roetine vasgeval. Erge diarieĆ« vroegoggend, dan so ‘n bietjie rustig, baie winde so van twaalfuur af, dan dalk weer so ‘n uur of twee se blaaskans en dan weer winde en diarieĆ« tot slapenstyd. Dit is nou net die een simptoom. Met die ander simptome is die ou pyn ongelukkig die een wat nie meer juis ruskans gee nie. As dit nie die gewas is nie, is dit die lewer en dan weer die niere. Ek neem maar net notisie van die een wat die ergste op daardie tydstip is. En dan raak die ou kragte ook maar minder en raak ek maar so nou en dan gefrustreerd as ek iets wil doen en ek dit nie kan doen nie.

Gelukkig gee die ou siekte my nogal baie tyd om te skryf. Ek het nou begin met my laaste werk wat ek voel ek nog moet doen. Hettie het ook sommer vir my die titel van die boek gegee, “Die openbaring van Openbaring”. Hierdie is seker vir my die langste wat ek nog gevat het voordat ek kon begin werk het aan ‘n boek. Die gedagtes is al seker meer as ses jaar by my, maar net wanneer ek dink ek is reg om te begin, dan word my kaarte eers weer deurmekaar gekrap en stel ek dit maar uit totdat ek weer rigting kan kry. Nou voel ek dit is egter tyd en staan ek ook maar verbaas oor die fyn detail wat daar in die Openbaring is wat ek ook maar vir baie jare gelees het maar nooit die impak daarvan besef het nie.


Maar dit is nou ook genoeg vir vandag. Tot volgende keer, seker eers na Esthee se kuier, dan kan ons weer verder gesels.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking