Maandag 6 Julie 2015
Ek het in die vorige skrywe gesê dat ek eers na die troue
weer iets sal deel, en nou is dit al ‘n week later voordat ek die tyd en krag
kry om dit te doen.
Die afgelope 4 weke is regtig oorheers deur Barney en Debbie
se troue. Hettie het so hard gewerk om haar serp vir die troue klaar te kry, en
op die dag het dit fantasties gelyk. Sy het dit deur middel van “Irish Crochet”
gedoen, iets wat selfs gesoute tannies hier op die dorp net van kan onthou maar
nooit self probeer het nie. En dan het sy ook die mandjies gehekel en saam met
‘n vriendin die dankie sê boekrolle gemaak het en in die mandjies gepak het.
Dit was ook nogal iets besonders.
Die dag self was dit bitterlik koud. Dit het so van 3 uur
die oggend gereën en was ek bang dat dit later gaan kapok, maar teen tienuur
die oggend was die reën iets van die verlede en het net die koue oorgebly. Die
reën het eers weer 4 uur die middag teruggekeer. Die diens was op die grasperk
van die gasteplaas gehou met die mense wat op bale gesit het. Daar was darem
komberse oor die bale en die mense self het ook elkeen onder komberse gesit.
Dit was regtig iets besonders. Ek moes net my boodskap kortknip want die mense
het regtig koud gekry. Gelukkig het ek wel die voorreg gehad om my seun se
troue te behartig en is een van my begeertes wat ek nog gehad het en voor
geleef het, agter die rug.
Die onthaal was gelukkig in die hase hok gehou wat onder dak
is en goed toegemaak met sink is. Dit het so ‘n mooi atmosfeer geskep. Die kos
was uit die boeke uit want die persoon wat dit gedoen het is opgelei as ‘n
Cordon Bleu chef. Die troukoek het seker agt lae koek gehad en kon net sowel as
voorbeeld in die “Koekedoor” program op Kyknet gebruik word, met elke laag verskillend.
Vir die wat fotos wil sien kan maar na Su-Hannie Greyling,
ons dogter, se Faceboek blad gaan en na die fotos kyk. Sy het ‘n album daar met
al die fotos. Die album se naam is Barney & Debbie Erasmus. Ek hoop die link sal werk: Trou album https://www.facebook.com/suhannie/media_set?set=a.10152942283805849.1073741859.681245848&type=3
Nou is ons weer terug in die normale gang van die lewe.
Hettie het verlede week so ‘n blaaskans gevat met die kunsklasse en begin nou
weer more met die eerste klomp studente by die huis. Dit gee my gelukkig kans
om my volgende uitdaging, hopelik my laaste boek wat ek moet skryf, ook klaar
te kan kry. Hettie het die naam vir my gegee, en gevra ek moet dit maar skryf
want daar is sovele interpretasies van Johannes se Openbaring dat baie mense
eerder boeke oor Openbaring lees en dit glo, as wat hulle werklik die boek lees
en verstaan waaroor alles gaan. Die Left Behind reeks is ‘n tipiese voorbeeld
waar ten spyte van die feit dat die skrywers dit bemark as Christen fiksie,
mense dit glo as die waarheid en wat in die toekoms gaan gebeur. Vir hulle wag
daar egter ‘n baie groot ontnugtering. En die skrywers wou net geld maak. Dit
is hoe die reeks boeke self deur die Christelike pers uitgebeeld word: “In
2007 the Evangelical Christian Publishers Association (ECPA) recognized the
Left Behind Series at its CBA & ECPA Awards Celebration in Atlanta, Georgia
with the ECPA Pinnacle Award. ECPA President Mark Kuyper said, "In many
ways this series established Christian fiction as a significant category in
publishing in general."
Met die gesondheid wil ek net graag duidelik maak wat ek in
my een van vorige skrywes genoem het. Die kanker is in fase 4 wat beteken dat
die dit versprei het na ander organe in die liggaam, en dat dit ook na die
limfkliere versprei het. So in my geval het dit versprei na die lewer en is
daar volgens die doktors ook verskeie limfkliere wat ook kwaadaardig is. Die hoof
gewas self is ook baie groot en soos ek dit nou voel seker hier oor die 70 by
40 mm groot. Ek kan nie bepaal wat sy ander afmeting is nie, maar neem aan dit
is ook al groter as die 30mm wat dit met die vorige duidelike CT scan gewees
het amper 2 jaar gelede, aangesien die gewas maar baie druk teen die regter
nier en ander organe in die buik, wat op hulle beurt weer baie pynlik is.
So ek leef maar so van doelwit na doelwit. Vir nou is my
volgende doelwit die boek wat klaar geskryf moet word en dan moet ek nog die
vertaling ook doen. Daarna weet ek nou nog nie, maar ek glo dat dit dalk ons 43
jarige huweliksherdenking sal wees, en dan dalk die somer. Die tyd sal maar
leer. Soos dit deesdae voel wonder ek baie dae of ek nog die boek klaar gaan
kry, maar gelukkig weet ek dat die HERE my die krag gee en nog sal gee om
hierdie doelwit te kan behaal.
Groetnis hier uit die Karoo.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking