Dinsdag 25 Augustus 2015

Dinsdag 25 Augustus 2015 - Wat is genade?

Vir my is dit die jaar 20 jaar.

Dit is hierdie week 20 jaar gelede wat my lewe van genade begin het. Ek het toe net verneem dat ek dalk 3 jaar oor het as dinge goed gaan, en ‘n jaar as dinge sleg gaan, om te lewe. Al die kanker wat die dokters kon uitsny het hulle gedoen, en chemo kon dalk help om die res in toom te hou. En om te dink alles het begin met ‘n blindederm wat gepla het en die medici wat so per ongeluk op een gewas afgekom het.

En selfs die onkoloog het nie baie hoop gehad en het in sy verslag aan die chirurg gesê: “Soos telefonies met jou bespreek is die verdere hantering van hierdie pasient werkilk problematies. Soos jy goed weet is radioterapie effektief simptomaties vir metastases wat pynlik is, maar dit is nog nooit in die adjuvante situasie getoets nie. Vanweë die problematiese area, nl. die dunderm is bestraling in hierdie area ook potensieël geneig tot komplikasies. Chemoterapie response wissel van 20-40% en daar is geen literatuur beskikbaar oor die adjuvante gebruik daarvan nie. Somatostatien-analoë is uitstekend vir simptomatiese behandeling (maar nie tumor behandeling nie) van gevorderde pasiente. Daar was ‘n reeks beskikbaar van 23 pasiente waarvan 4 van hulle, dit is 17% ‘n krimping van tumor getoon het. Maar meer resente studies toon ‘n 0-9% vermindering in volume van die siekte. Die literatuur se konklusie is dat die anti-tumor refektor van oktreotied nie indrukwekkend is nie.”

Teen die einde van daardie jaar was ek redelik moeg vir chemo, om jou elke dag self in te spuit, meeste kere met Hettie se hande, en elke tweede week onkoloog toe te gaan en daar te gaan sit vir ‘n uur of twee, was nie my idee van lewe nie. Veral nie op 44 jarige leeftyd nie. Dan kan jy net dankie sê vir jou kinders om te sien dat hulle soos kinders glo wat in die Bybel staan, en waar hulle na spesiale dienste gegaan het waar daar vir genesing voor gebid is, en dan vir my ‘n sakdoek bring en op my kom lê, want hulle glo dat die Bybel waar is. As Paulus dit kon doen dan kan ons mos ook so glo.

Dit was die rede waarom ek toe regtig in alle erns die Bybel begin bestudeer het. Om seker te maak dat wanneer ek die dag sterf, ek weet waar ek sal wees na hierdie lewe. Want dit was nie ‘n kwessie van eendag nie, maar dalk is dit vandag, dalk more, maar ek weet daardie dag kom. Ek kon nie vertrou op enige ander persoon om namens my te besluit wat vir my goed is in die lewe nie. Ek moes eienaarskap neem van my eie toekoms.


Verseker glo ek nie meer soos vroeër nie.Maar ek het my kinders sien trou, kleinkinders is gebore en die jongste kleinkind begin al volgende jaar met groot skool, en my lewe is verseker nie meer dieselfde nie.

En dit is alles genade, want as die HERE nie vir my die geleentheid gegee het nie, sou my einde verseker anders gewees het. Maar Hy het my aandag gekry en my toe op ‘n pad gevat wat ek meeste keer net as verbysterend kan beskryf.

Alhoewel die afgelope twee jaar nie ‘n tyd was wat ek vir enige persoon toewens nie, is ek nog steeds gefokus op Hom en wat Hy vandag deur my wil doen. Twee jaar gelede het ek vir die eerste keer weer ‘n Carcinoid krisis ervaar, en moes ek verlede jaar weer ‘n operasie ondergaan het om die dun- en dikderm te omlyn om te maak dat daar ‘n ander pad is vir die voedsel om om die gewas te gaan, want die gewas het gegroei en is so verstengeld met die derms dat dit onmoontlik is om daaraan te werk. So moes hulle toe ook ‘n stuk van die lewer verwyder waarheen die kanker versprei het. Dan het die gewas ook om die hoofbloedvat gegroei wat tussen die dunderm en lewer is, die een wat al jou voedingstowwe na die lewer vat om gesuiwer te word, en is die gewas maar besig om die bloedvat stadig maar seker toe te druk, sodat ek meeste tyd ‘n regter nier het wat baie kla dat hy nie vloeistof kry om sy werk te doen nie. Dit is ook die oorsaak hoekom hulle nie die gewas kan verwyder of kleiner te maak nie. Sodra hulle die aar klamp is dit verby met my.

Die afgelope paar weke is dit ongelukkig so dat ek amper elke dag deur ‘n Carcinoid krisis moet werk, of party dae sommer twee of drie, maar ek kry nogsteeds tyd om dit te vier met die mense wat ek voor lief is en hulle vir my. En dit is vir my genoeg, en is vir my elke dag, net genade. So die week is vir my ‘n baie besonderse week, met ons huweliksherdenking op 26 Augustus (43 jaar), my verjaarsdag op die 27 ste, en dan my nuwe lewe wat hierdie jaar 20 jaar is op die 31 ste, die dag van die eerste operasie. O ja, en dan gaan ek weer Woensdag hospitaal toe. Sal maar sien wat gebeur en of hulle iets kan doen vir my.

En wat kan ek sê?

Dankie HERE.

Die wat belangstel kan hier lees waaroor die soort kanker gaan, en wat ‘n Carcinoid krisis is. Ek kan probeer om dit te verduidelik, maar die medici doen dit nogal goed. Kyk veral na die foto op skyfie 20, en dan sal jy kan sien wat dit aan jou gesig maak. Hettie was baie bekommerd dat ek dalk nie suurstof kry en dat dit die rede is vir my neus so blou word, maar nou verstaan sy ook wat besig is om te gebeur.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking