En so is amper nog ‘n maand verby. Ek en Hettie is nou weer
gewoont daaraan om alleen te wees, en is dit baie lekker om Barney en Debbie
elke nou en dan vir ‘n kuiertjie te sien. Met die twee jong getroudes gaan dit
ook sommer baie goed. Nie dat hulle op 40 en 36 meer jonk is nie.
Ons het so ‘n paar dae by Su-Hannie en Bani op die plaas
deurgebring. Dit is altyd lekker om daar te wees en net die stilte te geniet.
Hier op die dorp is dit ook stil, maar daar is dit net die gedruis van ‘n
trekker, dorsmasjien of bakkie so nou en dan. En dan is die honde altyd daar,
veral klein Coco om ‘n ogie te hou en kyk waar sy gou by jou kan kom lê en ‘n bietjie hitte te steel. Maar
dit is nogal lekker veral omdat sy die ses maande wat die kinders in Engeland
gewees het vir Bani se werk by ons gebly het en ons haar help groot maak het.
Ons was by die kinders omdat ek gou by die hospitaal moes
uitkom om die dokter te sien en wag nou maar om te hoor wanneer ek weer
Bloemfontein toe kan gaan vir ‘n CT scan. Die ou kanker pla maar en weet ek nie
wat om die volgende uur te verwag nie. Party dae is dit ‘n lekker rustige dag,
en dan is dit weer soos vroeër vandag waar dit voel of iets of iemand al jou
krag kom steel het. Die medici moet maar kyk of die derms nie weer oppad is om
te blokkeer nie, wat die pyn in die regter nier veroorsaak en of die lewer nog
skoon is. Al wat ek weet is wat verlede jaar die uitsondering was het nou die
norm geword. Ek kan darem nou die gebruik van die pynstillers anders spasieër
en ekstra neem sodat die pyn beter bestuur kan word.
Ons hoop maar dat dit hier in die laaste week van die maand
is want dan moet Su-Hannie in elk geval weer Bloemfontein toe gaan om Theuns se
gips te vervang. Die arme outjie is verlede week deur hulle nuwe klein Labrador
om gehardloop en sy linker arm net by die elmboog gebreek. So hy het so ‘n paar
drade gekry verlede week om die bene weer in posisie te hou, en die sal nou op
die 26 ste kan uitkom en dan is daar nog 6 weke van gips voor vir hom.
Hettie het Vrydagoggend gaan stap en ‘n baie mooi foto van
die mielieland geneem met die berg in die agtergrond. Gistermiddag so ‘n ruk na
ons by die huis was het een van die plaaslike mense kom wilde eende skiet vir
die pot op die gedeeltes wat al klaar gestroop is en het sy kar se uitlaatpyp
die land aan die brand gesteek. Gelukkig het sy kar niks oorgekom nie en het hy
vir hulle gaan sê wat gebeur het en het daar net so drie hektaar afgebrand van
die land wat alreeds gestroop was. Maar dit is fantasties om te sien hoe vinnig
mense kan bid en hoe die HERE die wind laat bedaar sodat hulle vinnig die brand
onder beheer kon kry.
Met my boek oor Openbaring gaan dit goed. Ek kry nogal baie
tyd om daaraan te spandeer maar dit verg maar baie navorsing om seker te maak
dat ek nie goed kwytraak wat mense kan bevraagteken nie. Ek bevraagteken wel
baie van dit wat baie mense kwytgeraak het, of dit nou net kommentare is of
boeke wat mense geskryf het om hulle interpretasie te verduidelik. Maar dit is baie
moeilik om vier verskillende geskiedkundige standpunte in gedagte te hou, vir
mense te verduidelik hoekom sekere interpretasies bevraagteken kan word en dan nog
jou eie interpretasie daar te stel en te verduidelik hoekom ek dit so
interpreteer. Veral wanneer jy probeer om dit vir alle vlakke van mense, van
teoloë tot gewone mense in die straat duidelik te maak. Maar ek glo darem ek
sal dit kan klaar kry binne die volgende ses na agt weke. Oorspronklik het ek
gedink ek sal einde Julie klaar wees, en nou vind ek uit dat ek maar net een
hoofstuk in ‘n maand kon skryf, en daat lê nog 13 hoofstukke voor. Maar dan was
dit seker ook die moeilikste gedeelte om te verduidelik, so die res sal hopelik
vinniger gaan.
So tot volgende keer, groete hier uit die Karoo.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking