Snaaks om te dink my pa sou more 97 jaar oud wees. Maar
ongelukkig het hy net 66 gehaal. So my kinders ken nie een van hulle oupa’s
nie. Hulle ander oupa is al oorlede to Barney net 18 maande oud was en nie een van die dogters was toe al gebore nie. Hulle kan darem vir Ouma Hannie onthou want dit was hulle enigste grootouer waarmee hulle
grootgeword het.
Met ons hier in die Karoo hou ons maar uit. Dit het skielik
van winter die Vrydag, met sneeu op die hoë pieke, verander na somer, met
temperature van in die dertigs binne drie dae. Vandag is dit weer koel hier op
die plaas met die temperatuur hier by die lae 12’s, terwyl dit eergister seker
33 geslaan het.
Die week kuier ons weer op die plaas en gaan more weer terug
huistoe. Theuns se laaste kleuterskool konsert was Maandagaand, so oupa en ouma
moes kom kyk. Volgende jaar is dit regte skool, so ons kon nie die laaste
kleuterskool konsert mis nie. Dit was net te snaaks om die outjie te sien dans
met sy arm nog om die nek vas, maar gisteraand het hy darem al sonder die “sling”
geslaap. So eersdaags het hy weer vergeet dat die arm met drie penne vasgesit
was vir ses weke.
Die ou lyf weet nie wat hom getref het Saterdag nie. Ek moes
‘n troue waarneem waar die bruid sommer ‘n uur laat was, maar toe ek by die
huis kom was ek poegaai. En so is dit nog die hele week. So dit is regtig nie lekker
om te voel of daar ‘n dolk hier in jou lewer gesteek word nie, en dat jy soos
Sondagaand, so tussen 9 uur en 5 uur Maandagoggend, oor die twintigkeer toilet
toe moes gaan met diarieë nie. Die afgelope paar aande was dit beter, maar die
dae is maar nogsteeds dieselfde. Ek dink ek weet nou al waar elke patroon op
elke teel is in die toilet. En dan maak die diarieë dat jy nie krag het nie. So
ek verkeer maar rustig, skryf so ‘n bietjie, seker meer vertaal, en hou my so
besig.
Gelukkig is die groot skryf werk agter die rug. Vir die wat
wil kan hulle my eboek oor Openbaring – Die openbaring van die Openbaring van
Johannes - die naweek by Amazon Kindle gratis aflaai by http://www.amazon.com/gp/product/B015FUB238?*Version*=1&*entries*=0
. Indien jy wil sien waaroor dit gaan kan jy so ‘n bietjie rondblaai deur die
eerste paar bladsye. Al wat jy moet doen is om die voorblad van die boek te druk. Dit gee jou
so ‘n kort voorskou en sluit die hele indeks in. Albei eboek en gedrukte boek
is op die skakel beskikbaar. Die gedrukte een is nie gratis nie.
Die wat nie weet hoe om die eboek af te laai nie of nie ‘n
eboek leser sagteware het nie, kan my maar net epos by louwrens@shama.org.za en
dan stuur ek die eboek vir julle in PDF formaat. Die boek is eintlik maklik om
te verstaan as jy net die regte begin of sleutel kry, maar baie mense glo ongelukkig eerder wat iemand anders vir hulle opdien as wat hulle self gaan kyk wat daar
staan.
Met al hierdie voorspellings rondom die vier bloedmane en
mense wat voorspel het dat daar ‘n wegraping moet wees en dat dit glo op 24
September sou plaasvind, gee my boek ‘n heel ander opsomming van wat al gebeur
het, en wat nog gaan gebeur. Ons moet onthou dat die Bybel is geskryf vir Christene
en dat dit nie gaan oor fortuin vertellings nie. Ek wonder hoeveel mense wat John
Hagee se boek oor die vier bloed mane gekoop het nou uitgevind het dat hy hulle
met ‘n slap riem gevang het en miljoene dollars gemaak het met sy stories, hom
nou gaan aanvat oor sy leuens. Hy self verklaar dat hy 80 miljoen volgelinge
het, maar nou wonder ek net of daardie 80 miljoen mense weet wat Moses gesê het
oor vals profete. “Maar die profeet wat
so vermetel is om ‘n woord in my Naam te spreek wat Ek hom nie beveel het om te
spreek nie, of wat in die naam van ander gode spreek, dié profeet moet sterwe.
En as jy in jou hart sê: Hoe sal ons die
woord weet wat die HERE nie gespreek het nie? — as die profeet in die Naam van
die HERE spreek, en wat hy gesê het, gebeur nie en kom nie uit nie, dan is dit
die woord wat die HERE nie gespreek het nie; deur vermetelheid het die profeet
dit gespreek; jy mag vir hom nie bang wees nie.”(Deu 18:20-22) Net
vroeër in die hoofstuk word die volk selfs beveel om so ‘n persoon dood te
maak. So dit is nogal moeilik.
Maar ons sal maar seker soos gewoonlik niks doen nie. Die ou
het seker maar dit net met iets anders verwar, en nou kan hy mos nog 80 miljoen
boeke verkoop om te verduidelik wat hy eintlik gesê het. Maar die skrywers en
leraars wat hom en sy gespuis aanvat, is mos maar die wat net jaloers is omdat
hulle nie soveel geld maak nie.
Gelukkig weet ek waar ek gaan wees wanneer ek my kop finaal
neerlê. ‘n Plek waar ek dink nie baie van hierdie geldmakers gaan wees nie.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking