En so is nog ‘n paar weke verby. Weer op die plaas gewees
met Su-Hannie wat eksamen geskryf het, Bani wat weer vir werk weg was, en dan
was dit skool konsert en altwee kleintjies se prys uitdelings. Ek was darem by
die konsert, maar die res het Hettie en Su-Hannie alleen gedoen.
Ek het vreeslik baie niks gedoen. Ek het nogal verveeld
geraak om niks te doen nie, so sodra ek moeg was van niks doen het ek gaan lê
tot ek nie meer verveeld was nie en dan het ek verder niks gedoen nie. Eintlik
was dit darem nie so erg nie. Ek het gewerk aan die vertaling van my jongste
boek en weet ek nou dat ek nie volgende naweek klaar gaan wees nie. Dit vat
maar langer om te vertaal want eintlik is dit seker meer oorskryf in Engels as
vertaal. Sekere goed klink reg wanneer jy dit vertaal, maar met meeste goed is
dit maar beter om die hele paragraaf of gedeelte net sommer oor te skryf. En
dan moet ‘n mens ook in die regte bui wees om dit te doen. Ek kan nie skryf as
ek nie reg voel nie. My kop moet by my wees.
Met die gesondheid is dit maar regtig nie meer lekker nie.
Ek weet nie wat hier binne aangaan nie en het al gedink die dokter moes
laasjaar met die laaste operasie vir my ‘n loergaatjie gemaak het dat ek kon sien
wat aangaan. Die ou kragte is net nie meer daar nie. Ek hoef net die tuinslang
rond te skuif van plek na plek om die tuintjie nat te gooi dan is ek pootuit.
Dan vat dit my enigiets van ‘n halfuur tot twee dae voordat ek weer krag het.
Maar, gelukkig hou die HERE nog die kop aan die gang en kan ek darem nog lekker
lees en onderwerpe bepeins en met Hettie bespreek. En dit hou my sommer lekker
aan die gang. Al wat ek weet is dat ek verseker nie meer kan doen wat ek selfs
ses maande terug nog kon doen nie. En toe het ek al gedink ek is oor die muur.
Hettie self is maar besig. Ek is so trots op haar wat nou al
22 kilos gewig verloor het, maar dit het ook maar sy prys. Nou hou dit haar
besig voor die naaldwerk masjiene om nuwe uitrustings te ontwerp en te maak.
Gelukkig kos dit net materiaal en nie modewinkel pryse vir nuwe uitrustings
nie. En dan is ons ook seker dit is goed en ordentlik gedoen, en dit pas vir
haar. Gelukkig het sy al die nodige masjiene plus ’n paar “spares” om haar werk
mee te doen.
Ons sal nou weer vir ‘n week plaas toe gaan volgende maand
maar dan sal ons maar by die huis wees vir die res van die tyd sodat ek maar
rustig kan wees. Die enigste iets wat ek sal kragte voor moet spaar is vir
Kersdag se saam eet by ons. Ek dink nog wat ek graag wil maak net om dankie te
sê vir die kinders en hulle ook van ons kant af ‘n bietjie te bederf. Sal maar
vir Esthee moet skype om met haar ook die dag te kan deel.
Vir die wat verlof het en bietjie kan gaan uitspan geniet
dit, ek weet ek gaan nog my tydjie geniet.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking