En so het nog ‘n nuwe lewensjaar vir ons almal begin. ‘n
Jaar wat baie verrassings nog gaan inhou, maar ook ‘n jaar waar elkeen van ons
anders gaan eindig as wat die jaar mee begin het. Hoekom? Elke dag bring nuwe
goed vir ons voort, en sal ons heel moontlik besluite neem en wanneer ons terug
kyk met die inligting tot ons beskikking dan, ons dalk heel ander besluite sou
neem. Indien ons nie groei hierdie jaar nie, is ons of alreeds dood of besig om
te sterf, want waar daar lewe is, moet daar groei wees.
Vir ons was dit ‘n baie rustige tyd gewees, lekker by
vriende en familie gekuier, en baie keer net rustig verkeer. Veral met die
temperatuur hier in die Karoo was dit partykeer al wat ons kon doen, want met
temperature van 40+ elke dag vir meer as twee weke na mekaar, was dit regtig
moeilik om iets te doen. Waar Desember gewoonlik ‘n maand is waar alles groei
het ek net in die begin van die maand my grasperkie eenkeer gesny, en toe nooit
weer tot verlede week nie, en toe was dit net om die gedeeltes waar my blomtuin
en groente tuin was wat ek elke dag moes natgooi. Ten spyte daarvan was my
sweet corn ‘n mislukking want ek het 4 koppe van 22 plante gekry, en dan was
die grootste kop 10cm lank. Hettie was juis vanoggend by Oom Willem se
begrafnis hier by die ouetehuis wat verlede week oorlede is nadat hy sonsteek
opgedoen het. Sy was ook vanoggend by die gebedsgeleentheid wat gereël was vir
reën, beide vir nog en om dankie te sê vir dit wat ons die afgelope twee dae
gehad het. Sy het dit baie geniet. Sy sê jy kon die HERE se teenwoordigheid
voel, veral toe die manne wat daar was die Onse Vader gesing het, en geharde
boere die trane afgevee het. Die vrouens het glo ook gesing maar die mans het
hulle vêr oorheers.
Gelukkig kon ek my vertaling van my boek oor Openbaring na
Engels klaar kry, en het ek ook die tyd gebruik om die video opnames wat ek
gemaak het van my boek oor die verbond na YouTube op te laai vir mense om na te
kyk en te geniet en hopelik te leer. Ek het dit as ‘n “playlist” op gestel en
bestaan uit 9 individueele videos, en dit is in ‘n spesifieke volgorde opgesit
aangesien jy nie sommer sal verstaan wat in nommer 9 aangaan as jy nie die
voorafgaande gedeelte gekyk het nie. Die playlist is by https://www.youtube.com/playlist?list=PL4uenUs3KsehcBxvUCAL0exc9F5H0zTce
en sluit goed in soos my eie getuienis, en begin met ‘n inleiding wat ek eers
verlede week opgestel het. So mense wat wil sien hoe ek nou lyk kan maar gaan
kyk. Gedeeltes is opgeneem voor my operasie in 2014 en dan is daar so ‘n paar
stukke aangesit na my operasie, en sal mense sommer kan sien dat ek so 20kg
verloor het gedurende die tyd. Dit gee ook die redes waaroor ek skryf en
spesifiek oor die redes hoekom ek so skryf oor die verbond en soos my laaste
boek oor Openbaring.
Wat die gesondheid aangaan wil ek nie graag baie uitwei nie
aangesien dit maar nie goed is nie. Dinge wat 2 maande nog die uitsondering
was, is nou ‘n daaglikse gebeurtenis, en pyne wat darem beheerbaar was met
medikasie is nou so dat die medikasie nie meer help nie. Die gewas druk so
stadig maar seker die hoofbloedvat na die lewer en ander organe heeltemal toe
en waar die regternier en lewer so elke nou en dan gekla het is dit nou ‘n
aanhoudende klaery en het die linkernier maar besluit dat hy ook kan begin kla.
So gaan geniet maar die videos, wys dit vir jou vriende as
jy wil en saamstem, of ignoreer dit maar indien jy anders geleer is, die keuse
is joune. Ek is aan die einde van my paadjie hier op aarde en het klaar my
keuse gemaak en geboekstaaf. Lekker dag verder.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking