En so begin ons met ‘n nuwe maand en nuwe dinge wat vir ons
wag. Die stukkie is dalk langer as wat ek aan die begin gedink het dit gaan
wees, maar toe het ek nogal baie gehad om oor te skryf. Die afgelope twee weke
was nogal interessant by ons. Omdat ons nie altyd weet of ons dalk gaan kuier
op die plaas nie, en hoe lank dit gaan wees nie, het ons ons lewe so ingerig
dat ons baie maklik kan pak en gaan. Dit het natuurlik beteken dat daar nie
juis tyd was vir troeteldiere nie, alhoewel beide van ons lief is vir diere.
So het Hettie einde verlede jaar haar kanarie gekry wat net
so ‘n bietjie lewe in die huis gebring het. Ek dink maar elke persoon is gemaak
om vir iemand of iets te sorg, om so ‘n bietjie liefde aan te betuig. En net
toe ons dink dit is nou reg toe sien Hettie die een vroutjie hier op die dorp
het Chihuahua hondjies te koop. Ons het nie juis eers dit bespreek nie, maar
het toe darem die laaste een gekry. Nou is dit al hierdie beweging in die huis
en die diertjie te leer wat is toelaatbaar en wat is nie, waar om toilet toe te
gaan en alles wat daarmee gepaard gaan.
Dan was ons ook vir ‘n week op doe plaas met hond en al.
Su-Hannie het ‘n klein miniatuur Pincher wat vir sewe maande by ons gebly het
toe Bani vir 6 maande op ‘n projek in Engeland moes gaan werk, so die hond is
mal oor ons en sit veral by Hettie op die een bank. En toe is daar nou ‘n ander
hondjie ook. So die laaste twee dae van die kuier kon Hettie darem redelik
rustig sit met ‘n hond aan elke kant sonder dat hulle net oorlog wil maak en dan
het Coco maar by my kom sit.
Nou kom ons by die gedeelte wat ek partykeer maar moeilik
vind om oor te skryf. Die ou kanker sukkel maar baie en put my vreeslik vinnig
uit. Ek kan nie meer lekker diep sit op ‘n bank nie en verkies maar ‘n regop
stoel sodat die gewas hom nie vir my vererg en kla dat hy seer kry nie. Die
Carcinoid krisisse is nogal intens deesdae en waar ek vroeër jare, seker die
vorige 30 jaar al sukkel om te slaap in die aand en nog nooit kon slaap in die
nag wanneer ek ‘n middagslapie gevat het nie, het ek sommer twee dae na mekaar in
die middag geslaap op die plaas terwyl ek ‘n bietjie gaan lê het om deur so ‘n
krisis te gaan. Die laaste nag het ek toe baie min geslaap, maar gelukkig sodra
die son kop uitsteek is al die vaak ook verby.
Ek het nou ook op ‘n plek gekom waar dit vir my moeilik is
om party dae positief te bly. Ek het geskryf dit wat ek gevoel het die HERE my
voor geroep het, ek het die videos op Youtube gelaai sodat mense wat nie van
lees hou nie kan sien en leer wat ek oor geskryf het. Noudat dit alles klaar is
vind ek maar party dae so ‘n insinking in die emosies, maar dan kom daar weer
‘n dag soos vandag waar ek net gedryf voel om net te skryf en vir mense te kan
sê dat dit maak nie saak wat vir jou voorlê nie, die HERE sal jou nooit begewe
of verlaat nie. Hy het altyd ‘n doel in jou lewe al voel dit nie so nie. Vir my
was vanoggend weer een van daardie dae waar ek net kan terug kyk na my lewe en
sien hoe die HERE elke stap van my lewe daar was, en nog steeds is. Ek sien gister
op my rekenaar ‘n kort gedeelte van ‘n preek wat Hettie opgeneem het sommer met
haar selfoon die laaste keer toe ek by ons gemeentetjie kon optree waar ek met
half opgerolde moue staan en praat sonder om eers op te let dat ek seker elke
10 sekondes my arms gekrap het. Dit was die tyd voor die operasie waar hulle
die derms moes omlyn en ‘n stuk van die lewer verwyder het wat maar alles
saamgewerk het om ‘n Niacin tekort veroorsaak het. Deesdae is dit dalk so nou
en dan wat dit nog gebeur maar eintlik is dit baie beter.
Net wanneer jy dink dat jy nou al alles gedoen het, dan kom
sit jy maar weer voor die rekenaar en skryf so ‘n stukkie, want wie weet, dalk
is daar net iemand wat nodig het om te hoor dat die HERE jou liefhet, en jou
nooit sal verlaat nie. Ek is nou nie een wat skryf oor soetsappige goed of “voelgoed”
stukkies nie, want vir my is dit nie hoe die lewe is nie, Ja, miskien help die “voelgoed”
stukkie vir vandag, maar weet jy ek het gevind dat wanneer jy in daardie
verhouding staan soos wat ek met die HERE staan, ek nie nodig het om my te
steur aan sulke goed nie. Ek weet mense sal dink dat ek geestelik hoogmoedig
is, of dat ek skryf oor goed wat sovele mense al oor geskryf het en elke
persoon fout vind met die en daardie manier van interpretasie, maar ek weet dat
dit die enigste manier was vir my om seker te maak dat ek saam met Hom in die
Nuwe Jerusalem sal wees. Ek het daardie vrede in my wat niemand van my kan
wegneem nie. En dan wil ek nie eers na sulke stukkies kyk nie, want dit gaan my
nooit ‘n oorwinnaar maak nie. En dit is wat Christenskap vir my beteken. Dat te
midde van al hierdie onsekerheid in ons land, al die gemors wat die pers en
vermaaklikheidsterre vir ons opdis, ek kan wegdraai daarvan en my oë vestig op
die Gewer van elke goeie gawe. Dat ek na Openbaring kan gaan, en sewe keer die
woorde kan lees aan elke gemeente “Aan
hom wat oorwin” of “aan die wat
oorwin”. Maar die beste woorde kom so ‘n paar hoofstukke later “Open 12:11
En hulle het hom oorwin deur die bloed van die Lam en deur die woord van
hulle getuienis, en hulle het tot die dood toe hulle lewe nie liefgehad nie.”
Indien jy dalk wil lees wat ek oor geskryf het, gaan kyk maar by ons webtuiste
se tuisblad waar ek ‘n skakel ingesit het waar al my boeke gratis algelaai kan
word by http://www.shama.org.za of klik
sommer hier: http://www.shama.org.za/boeke/ . Ek hoop die skakels werk want ek sukkel met hulle vandag.
Dit is my bede vir elke persoon wat hierdie stuk lees, dat
jy met oortuiging die woorde van Openbaring 12 sal verstaan en so deel van jou
menswees wees, dat dit sal gaan soos wat Jakobus dit vir ons uitlig: “Jak 4:7
Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle
wegvlug.”
Ek het so twee weke terug ‘n epos van Youtube gekry waar
hulle my laat weet het dat die een kanaal wat ek ingeteken het voor, ‘n hele
nuwe DVD opgelaai het. Ek het gaan inloer en iets opgemerk wat vir my snaaks
was oor die paartjie. Die man het gesê dat hy toe vanjaar nie die gewone
valentynsdag sal hê nie. Ek het dadelik gewonder of hulle dalk huweliksprobleme
het of so iets. En so het my natuur maar oorgeneem en moes ek by die rede
uitkom. Wat ek gelees het, het my net weereens laat besef hoe genadig die HERE
vir my is. Dit is nou al amper drie jaar wat ek nie meer kan werk as gevolg van
die newe effekte van hierdie kanker nie, maar tog het ek en Hettie en die
kinders en kleinkinders so ‘n hegte verhouding en kry ek soveel tyd om afskeid
te neem van almal wat vir my lief en dierbaar is. Dit is iets wat ek die HERE
gevra het drie jaar gelede toe ek die eerste keer seker was dat die kanker dalk
weer aktief was, en toe binne vier maande het die HERE my versoek aan gehoor
gegee dat ek kon skryf wat Hy vir 20+ jare my geleer het, en dat ek en Hettie
tyd kan kry om net alleen saam te kan wees.
Maar terug na die Youtube epos. Ek het gevind dat die vrou,
sy is maar 40 jaar oud en het ‘n 2 jaar oue dogtertjie met Downsindroom, in die
hospice is aangesien sy servikale kanker het en sterwend is. Haar man het ook
so verlede jaar begin met ‘n blog waar hy elke week skryf oor haar toestand ook
met die hoop dat iemand dit dalk iewers nodig het om te weet hoe dit voel vir
die persoon wat agterbly. Hulle het so 4 jaar gelede ‘n liedjie opgeneem wat
deur ‘n skrywer in Nashville geskryf is, en het nooit gedink dat dit hulle
geval sal wees binne twee jaar nie. Vanoggend het ek sy jongste blog gelees en
gevind dat sy in ‘n koma is en dat haar einde binne ure sal kom, en het dit my
weer aangemoedig om vol te hou met dit wat ek twee jaar terug begin het. Dalk
het jy net vandag nodig om ‘n aanraking van die HERE te kry deur dit wat ek met
jou deel.
Vir die wat graag die liedjie wil na luister en kyk die
skakel is : https://www.youtube.com/watch?v=xcpjSMmWUDw
. Die opnames wat ook op die DVD opgeneem is, is opgeneem nadat sy haar chemo
en bestralings behandeling gestaak het. Dit is alles outydse Christelike
musiek, waar tot die dogtertjie op is wanneer mamma Jesus loves me yes I know
vir haar sing. Dit is maar ook my geliefde tipe musiek, so dit het so ‘n
dubbele “whammie” gehad vir my.
Tot volgende keer. Geniet die tyd wat jy het met jou mense
wat en om jou is.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking