En daar is ons in die middel van Maart met die skool
vakansie om die draai. Dan het groot gedeeltes van ons land baie reën gekry en
het droogte geteisterde dele weer in vloede omgeskakel. Maar ons is nie in
beheer van dit nie, so moet ons dit aanvaar wat die HERE vir ons gee.
Dieselfde geld maar vir my met my gesondheid. Die een dag beter
en dan weer sleg. Ek was nogal baie geïntereseerd
in ‘n verslag van ‘n vergadering in die VSA wat spesifiek gehou is vir
Carcinoid pasiënte. In die verslag is genoem dat Interferon, ‘n tipe chemo wat
baie gebruik word by persone met klein (1mm en kleiner) gewasse, eintlik nie
werk nie want die oomblik wat jy stop gaan die gewas maar net weer aan. Myne is
so ‘n bietjie groter met afmeetings van 70x32x29 mm, en dit was twee en ‘n half
jaar gelede.
By my is die kanker eintlik net ‘n bysaak, maar is dit die
newe effekte en fisiese effekte wat dit moeilik maak. En dan die pyn. Ek weet
koffie veroorsaak gloede, en ek weet ek is so op die drumpel tussen pellagra en
nie op ‘n daaglikse basis. Dan juk my arms en bene en dan nie. Diarieë is ‘n
konstante probleem, met gemiddelde besoeke aan die toilet hier om en by die 20
keer per dag. Dan is die grootste probleem vir my die grote van die gewas. As
gevolg van sy plasing, om die hoof bloedvaat wat voeding van die dunderm na die
lewer neem om ‘n persoon te voed, kan die medici dit nie kleiner maak nie. Hulle
het al die metastase na die lewer toe verwyder, maar ek weet ook dat dit al
amper twee jaar gelede was, en die lewer is maar weer seer. Dan is daar die
feit dat my dunderm maar so 12% van ‘n normale persoon se lengte is, wat weer
maak dat ek nie altyd al die voedingstowwe kan op neem nie. Minimum lengte van
jou dunderm moet 120cm wees om te verseker dat jy genoeg voeding opneem, maar
my is so 30 cm korter.
Nou het die geveg begin oor spasie in die buik. Met die
laaste operasie toe hulle die blokkasies in die dun en dukderm omlyn het en die
lewer metastase verwyder het, was die ou Proffie se antwoord dat daar darem nog
so ‘n klein beweging moontlik is vir die aar om te beweeg. Nou het dit so
verander dat elke keer wat ek of iets drink of eet, ek sommer summier toilet
toe gestuur word sodat iets kan uitkom om plek te maak vir dit wat ek nou net
ingesluk het. En dan voel jy die heel tyd of jy wil oopbars, wat nie ‘n lekker
gevoel is nie. Ek sal half kan sê dit voel of jy Eno’s moet drink want jy is
nou duk.
So al hierdie goeters in my buik baklei om spasie te kry,
want die gewas word maar net groter en groter, en die medici kan dit nie
kleiner maak nie. So die niere kla want alles druk teen hulle, en dan kla die
lewer, en dan kla die gewas die hele tyd. Die afgelope week het my slaappatroon
ook verander aangesien ek nou moet opstaan in die nag om twee of driekeer net
van water ontslae te raak sodat die pyn kan verminder. En dan ontwater jy en
moet weer water drink en dan moet jy weer gaan plek maak vir die water wat jy
nou net gedrink het. En so is dit maar ‘n wilde kringloop. Bo in, onder uit.
En dan is dit die al ewige moegheid wat my bykom. Net
buitekant toe en terug terwyl ek ‘n vleisie op die vuur gooi maak dat ek ‘n
carcinoid krises ervaar, waar die bloeddruk val, al die bene en arms voel asof
hulle nie daar is nie, en gloede kry. So dit is maar my normaal van nou af.
More se normaal lyk dalk anders, maar gaan verseker nie beter wees nie,
alhoewel dit my darem so nou en dan ‘n blaaskans gee.
Verder gaan dit goed. Die kleinhond wat Hettie gekry het
leer sommer baie vinnig. Hy is regtig ‘n plesier, al is my en Hettie se hande
vol van klein tandjies bytmerke wanneer hy wil speel. En hy soek haar heeltyd
wanneer sy winkel toe gaan of potte toe. Maar hy kom darem tot bedaring.
Ek is nou ook bly die skrywery is nou klaar, en nou gaan ek
maar kyk of ek so oor die volgende paar weke die boek oor die uitleg van Openbaring
ook op video kan vaslê, en op Youtube plaas by al die ander videos. Ek sal maar
so hoofstuk per hoofstuk doen, want dit is nogal ‘n lywige dokument, en as ek
eers begin praat dan kan ek mos nie ophou nie. So ek weet nie hoelank dit gaan
vat nie. Die opname sal ek maar net in Engels doen want dan kan ek meer mense
daarmee bereik. Sal maar sien hoe vêr kom ek daarmee.
Net as ‘n opdatering van die sangeres waarvan ek in my
vorige skrywe van gepraat het, is toe verlede week Dinsdag begrawe. Vir die wat
dit dalk op my Facebook gemis het, hier is wat haar man daaroor geblog het. http://thislifeilive.com/dust-to-dust/
So tot volgende keer, hou my maar ingedagte en gebede, want
ek het dit regtig nodig. Arrie warrie.
Ai tog my ou Boetta. Ek begeer so om jou te kan sien... Mag die HERE jou krag gee elkedag om standvasitg net deur Sy Genade te kan lewe. Liefde, Pieter
AntwoordVee uitWeet jy dit is maar hoe dit gaan. Omdat 'n mens nie anders kan nie, kan jy net aan Hom vashou elke dag. Elke dag dan vind jy 'n rede hoekom jy nog hier is, en dit gee jou weer krag om die volgende dag weer kan te begin en aan te hou.
AntwoordVee uit