Woensdag 01 Junie 2016

Woensdag 1Junie 2016

En so begin nog ‘n nuwe maand vir almal. Ek sien vanoggend op my facebook dat dit vandag 6 jaar terug was wat ek en Hettie met ons nuwe begin in Port Elizabeth begin het en in South End ingetrek het. Skielik moes ek weer leer sodat ek kon kwalifiseer as finansieële adviseur, en het die HERE ons werklik baie geseën met besigheid. Dit het maar gebeur omdat die staat nie meer by klein blanke besighede produkte en dienste kon koop nie, en almal in die rekenaarbedryf dink mos al dat jy op 50 nie meer daar hoort nie.So na tien jaar en baie probeerslae in verskillende rigtings het ek besluit om heeltemal van rigting te verander, en by PPS aangesluit as adviseur. En so het die HERE my ook natuurlik geseën met die studies, want om op amper sestig weer te begin leer was nogal ‘n aanpassing. Ek was toe al darem so ‘n paar maande aan die gang, maar ons kon toe regtig weer ons lewe geniet, behalwe vir goed wat so nou en dan snaaks was vir ons. Min het ons in daardie dae gedink dit is die Carcinoid wat al hierdie snaakse goed laat gebeur het. Die oorspronklike gewas was dan toe al 16 jaar gelede uitgehaal en het ons almal geglo dat dit verby was want hulle het net ‘n klein gedeelte gelos wat met chemo behandel was, en al die toetse daarna was negatief.

Gedurende die afgelope week of wat by Su-Hannie en Bani, het ek gesien daar was weer ‘n nuwe konferensie in Amerika spesifiek oor Carcinoid en Carcinoid sindroom. Ek het toe gekyk wat die program behels het en het dit geboekmerk sodat ek daarna kan kyk sodra ek by die huis is.

By die huis het ek het toe begin kyk waaroor alles gegaan het, en het toe een sessie van ‘n vroeëre seminaar baie interessant gevind wat deur een van die min chirurge gelewer is wat spesialiseer in die tipe kanker. Ek het al hoevele kere vir Hettie gesê ek moet vir die dokter vra om vir my ‘n loergaatjie te maak sodat ek kan sien wat hier binne my aangaan, en toe kry ek die video wat al my vrae beantwoord. Vir die wat wil kyk het ek ‘n gedeelte van die video op youtube gelaai en kan julle daarna kyk by https://youtu.be/ePzp1SAYViA Dit is so 11 minute lank en 45mb groot. Daar is baie fotos van hoe die pasiënte binne lyk, so dit is nie vir mense wat nie van operasies hou nie. Daar is heelwat detail wat gewys word.

Ek het ook ‘n foto uit ‘n gedeelte van die video geneem wat ek graag wil deel.


Die foto wys met die geel pyl na waar ‘n limf node is. Dit is nou die ding wat lyk soos ‘n spinnekop met al die lang pote of voelers. Hoe hy werk is dat die “voelers” alles waarmee hulle in aanraking kom na die node toe intrek en dit daar vashou. By my is dit ook presies waar een van die nodes sit, maar die probleem met die ding is dat albei bloedweefsels, die een wat alles van die dunderm na die lewer vat en die een wat weer bloed verskaf na die dunderm, binne die node is. Die dokter het ook later in die video gesê hulle is maar vier chirurge in Amerika wat kans sien om so ‘n limf node uit te haal, aangesien die kans op oorlewing maar baie skraal is aangesien hulle basies blind daar werk want hulle weet nie waar enige een van die bloedvate is nie. Sny een van hulle raak en hy verloor sy pasiënt. Hy noem hulle luiperde aangesien hulle so ligvoets moet werk wanneer hulle daar sny.

By my is daar ‘n hele paar sulke nodes en het hulle al meer as 80% van die dunderm binne in die nodes ingetrek en met die laaste operasie kon hulle slegs 90cm derm kry wat hulle kon gebruik om al die verstoppings mee te omlyn. So hulle het die stukkie derm direk van die eerste gedeelte van die dunderm, die duodenim, na die dikderm toe geneem, en dit is waarom ek so met diarieë sukkel want ek het nou “short bowel syndrome”. So die kos kan maar self besluit watter paadjie dit wil volg, en dit veroorsaak maar van die pyn. Op die video wys die ou ook wat gebeur sodra hy na aan die gewas aan die derm vat. Die derm self begin te “flush” en sy kleur verander. En dit gebeur elke keer wat jy eet of iets drink, want dan skei die gewas sy oormaat seretonin af, wat die grootste kenmerk van die kanker is. En jy blaas op.

So dit is ‘n vinnige lesing oor Carcinoid kanker en wat ek geleer het van myself.

Hoe voel ek deesdae? Redelik moeg omdat ek nie genoeg voeding opneem met die kort derm nie. Dit help ook nie om meer te eet nie, want daar is nie plek vir meer kos nie. Selfs Su-Hannie het nou die dag by hulle opgemerk dat haar pa se bene maarder raak en nie meer so sterk en vris lyk soos sy gewoond aan was nie. Dan vergroot die ou buik gedeelte die hele tyd. Dit is maar omdat die derms bly opblaas soos die kos deur beweeg en die derms “flush” wat maak dat ek seker 15 keer op ‘n dag winde moet gaan los in die badkamer. En dan weet ek nooit of dit net ‘n wind is en of daar dalk diarieë saam is nie. Die medici verwys daarna as “explosive” diarieë, en ek glo nie ek hoef iets verder daaroor te sê nie. In Amerika het mense selfs ‘n applikasie geskryf wat saam met Google maps werk wat vir jou wys waar alle publieke badkamers is vir Carcinoid pasiënte sodat jy weet waar om vinnig een te kry.

Verder lyk dit of die uitsaaïngs na die longe ook meer aktief raak, want ek raak deesdae sommer vinnig uit asem en het pyn in die longe selfs al staan ek net op van my stoel in die sitkamer en loop kombuis toe en terug, so 16 treë, dan moet ek eers sit en rus voor ek verder kan sit en lees of skryf op die rekenaar. Op die oorspronklike CT scan van so amper 3 jaar gelede was daar verskeie limf nodes maar was hulle kleiner as 15mm, so dit het nie toe aandag nodig gehad nie. Ek weet nie hoe groot hulle vandag is nie, maar ek is maar kort van asem. Dit kan natuurlik ook wees dat die hart nie altyd saam werk nie, want die bloeddruk is dan hoog, en dan laag wanneer jy deur ‘n Carcinoid krises werk. Dan is die ou gewrigte en bene seer, wat maar ook een van die uitsaaings is. Ek het seker so vier of vyf jaar gelede al vir Hettie gevra om al my kortbroeke lussies aan te sit sodat ek ‘n belt kan dra want die rek het die heupe baie seer gemaak, iets wat ek ook nie geweet het deur een van die uitsaaings van die kanker veroorsaak word nie. So ek voel maar die kragte raak min, maar ek is bly vir elke dag en elke geleentheid wat ek nog van die HERE kry om saam met my familie te spandeer.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking