Woensdag 15 Junie 2016

Vandag se blog 15 Junie 2016

Daar het regtig nie veel gebeur die afgelope twee weke nie. Ek is bly vir die wat terugvoer gegee het oor my vorige plasing, en ja, jy kan slegs veg teen iets wanneer jy weet wat dit is.

Vir my is dit regtig so ‘n groot voorreg om soos vandag net te kan sit en my nuwe blog te skryf vir die tydperk. Dit is maar koud hier by ons, maar ons het nie sneeu gehad nie. Die afgelope paar dae was ons aanvoelbare maksimum verseker nie bo 4C nie. Die minimum het so by -6C gedraai, selfs al was dit meeste van die tyd bewolk.  Soos vandag is dit so ‘n ligte misreen wat val, en dit hou die temperatuur maar laag. Ek sal nie verbaas wees wanneer die wolke van die berge lig dat daar dalk ‘n paar witkolle gaan uitsteek nie.

Die grootste probleem wat ons nou het is diere. Eergister is hier seker 60 boerbokke van die lokasie se kant af in die dorp ingejaag, so almal wat iets voor in hulle tuine het se blomme dien weer as voeding. Dan is daar elke aand weer beeste wat rondloop en die tuine verniel. Gelukkig is ons tuin voor huidiglik kaal want ons somer plante is alles uitgehaal en nou wag ek maar tot so Oktober voor ek weer saad saai.

Maar nou het ek weer ‘n ander probleem. Die bure is weg sonder dat ons weet waarheen, maar hulle seun is hier by die huis om seker na die diere om te sien maar sit in sy kamer buite en jy sien of hoor hom nie. Nou het hulle hoenders besluit daar is water en kos by erf en tuin agter die huis en vlieg hulle elke dag seker 6 na 10 keer oor die muur om in my tuin te kom kos soek. So ons het nou maar nog 1,2 meter hoë draad gekoop wat ons bo-op die muur gaan sit om te keer dat hulle oor kom. Ek weet hulle sal dan van die ander buurman se erf, wat altyd oplê want lyk my hulle is almal in ‘n hospitaal met swaaideure gebore, seker maar weer probeer om in ons tuin te kom, maar dan kan ek hulle vaskeer in ‘n hoek by my en hul vlerke knip.

En dan is daar nog ‘n kat wat agtergekom het die Jan Frederikies by ons het nes gemaak en ek neem aan hulle het kleintjies, want die kat is weer aanhoudend hier om te kyk hoe hy by die nes kan uitkom.

So die diere maak my maar skoon moeg. En dan is dit nie eers my eie nie. Maar ongelukkig is dit hoe dit gaan. Die met die diere vertel jou mos dis die diere se natuur om so te maak. Ek het al vir Hettie gesê party dae voel ek om die goed vrek te maak, want die mens se natuur is mos ook maar om diere te jag vir kos. Die kat het ek net ‘n probleem mee.

Met die gesondheid is dit maar so-so. Die weer hou my gelukkig baie stil want ek sit maar meeste van die tyd by die verwarmer met of my rekenaar of my tab op my skoot en lees, of sit my oorfone op en luister of kyk na musiek. En dan maak ek so nou en dan vir ons kos, maar meeste kere kyk ek of ek oor ‘n naweek nie genoeg vleis kan gaar kry buite om net in die week warm te maak en saam met groente voor te sit nie.

Die ou dikderm lyk my wil nou weer verstop raak want ek het vanoggend gesien dat die derm so ‘n z vorm het op een plek en dit beteken maar net dat een van die tentakels van ‘n limfnode die derm beetgekry het en besig is om nader te trek aan die limfnode, wat maak dat alhoewel ek voltyds diarieë het, die goed nie kan deurkom nie, behalwe in sulke klein erdwurm groote koeters nie. Maar gelukkig is daar darem nog ‘n spasie om deur te kom. Selfs die ou winde sukkel en bou op totdat daar ‘n ontploffing binne my plaasvind voordat ek van hulle kan ontslae raak.

Maar, ek lewe nog en kan nog tyd saam met my mense spandeer. Dit was juis gister vir ons ‘n mylpaal van 46 jaar vandat ons die eerstekeer saam uitgegaan het. Toe was dit net maanskyn en rose, maar moes ons ook maar oor die jare uitvind dat rose ook dorings het en die maan ook nie elke nag skyn nie.

Voor ons hierheen gekom het was my gebed eendag dat die HERE my tyd sal gee om alleen tyd saam met Hettie te kan kry, en dat dit wat Hy my geleer het oor ‘n tydperk van nou seker die afgelope 30 jaar, ek dit kon neerskryf, en het ek albei wense in vervulling sien gaan. Ek het nou begin om alles wat ek geskryf het en videos van gemaak het, saam te stel as ‘n teologiese kurses vir Jan Alleman. Dit is nog altyd vir my lekker om net vir mense te wys dat jy nie nodig het om teologie te gaan studeer om te weet wat die HERE van ons verwag nie. So dit is my oogmerk met die kurses, dat die ou in die straat ook kan weet wat die Bybel se boodskap is, en dat ons dit elke dag kan gebruik om antwoorde op vraagstukke in ons lewe te kan kry. So dit sal maar in 'n storievorm gedoen word, want mense onthou stories maar nie feite nie.

Ek het weer twee skakels aangeheg van liedere wat vir my soveel in my lewe al beteken het, dat al lyk alles donker om jou, jy nogsteeds op Hom kan vertrou.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking